Binyavanga Wainaina se "Hoe om oor Afrika te skryf"

  • 1

Die Keniaanse (en veral pan-Afrikaanse) skrywer Binyavanga Wainaima is verlede week in die ouderdom van 48 oorlede. Sy satiriese essay “How to write about Africa” het in 2005 in die tydskrif Granta verskyn; daar is byna onmiddellik daarna verwys as ’n ikoniese, grond-omdolwende teks. Hierdie vertaling deur Jean Meiring het kort daarna, ook in 2005, in Die Burger se By-bylaag verskyn. Met die vergunning van die redakteur van Die Burger plaas LitNet die vertaling as huldeblyk aan Wainaina.

***

’n Klompie wenke: Sonsondergange en hongersnood tref immer die kol. Span altyd die woord Afrika of Donkerste of Safari in die titel in. Die boek se prikkelteks kan gerus die woorde Zanzibar, Masai, Zoeloe, Zambesi, Kongo, Nyl, Groot, Hemelruim, Skadu, Trom, Son of Vergange bevat. Ook nuttig is woordjies soos Guerrillas, Tydloos, Primordiaal en Stam. Let tog ook daarop dat die woord People op Afrikane dui wat nie swart is nie, terwyl The People swart Afrikane aandui.

Moet tog nooit die foto van ’n welaangepaste Afrikaan op jou boek se voorblad plaas nie – wrintie ook nie innit nie – tensy genoemde Afrikaan die Nobelprys ingepalm het. ’n AK-47, ribbene wat uitsteek, kaal borste: gebruik húlle. As jy nou werklik ’n Afrikaan móét insluit, maak tog net seker dié is in Masai- of Zoeloe- of Dogon-kledy uitgevat.

As dit by die skryfslag kom, praat tog van Afrika as één land. Dis warm en stowwerig met swiepende grasvelde, en tamaai troppe diere, en lang, maer mense wat hongersnood in die gesig staar. Of dis warm en sweterig met piepkort mensies wat ape verslind. Moet tog nie gepootjie word deur eksie-perfekte beskrywings nie. Afrika is groot: vier-en-vyftig lande, 900 miljoen mense wat té besig is om van die hongerte om te kom, té behep met oorlogvoer en emigreer om jou boek te lees. Die vasteland is vol woestyne, oerwoude, hooglande, savanna-gebiede en baie ander dinge, maar jou leser gee mos nou nie daarvoor om nie. So hou tog jou beskrywings romanties en meesleurend en algemeen.

Maak seker jy toon hoedat Afrikane musiek en ritme diep-diep in hul siele berg, en dinge eet wat geen ander mense eet nie. Moenie rys en bief en koring noem nie. Aapbrein is ’n Afrikaan se gunstelingdis – en moenie bokvleis, slang, wurms en gormajorre en allerlei wildsvleis vergeet nie. Wees verseker jy wys hoe hulle dié kosse kan eet sonder om te ril, en beskrywe tog hoe hulle leer om dit selfs te geniét – jy gee immers om.

Onderwerpe wat buite orde is: doodgewone gesinstonele; liefde tussen Afrikane (tensy daar ’n dood betrokke is); verwysings na Afrika-skrywers of intellektuele; die noem van skoolgaande kinders wat nié ly aan Ebola-koors of Frambesia tropica of moeite het weens verminking van die vroulike geslagsorgane nie.

Skryf tog die hele boek in ’n gedempte stemmetjie, so half kop-in-een-mus met die leser. Maak jou toon ’n trieste ek’t-tog-soveel-meer-verwag een. Moet tog nie vergeet om reeds op die eerste bladsy jou liberale CV aan die groot klok te hang nie. Vertel ook vroeg-vroeg hoe diep jou liefde vir Afrika lê, hoe jy jou hart hier verloor het en dat jou lewe sonder háár ondenkbaar is. Afrika is die enigste kontinent wat jy veroorloof is om te sê jy’t lief – maak hiervan gebruik.

As jy tot die Adamsgeslag behoort, stu jouself haar warm maagdelike woude in. As jy ’n vrou is, moet jy Afrika hanteer soos ’n man wat gedurig in bosklere die sonsondergang in verdwyn. Afrika is daar om bejammer te word, aanbid te word of om oor regeer te word. Watter van dié invalshoeke jy ookal kies, maak tog seker jy laat die sterk indruk agter dat Afrika, sonder jou tussentrede en jou belangrike boek, op die drempel van die afgrond wankel.

Jou Afrika-rolverdeling mag die volgende insluit: kaal vegters; lojale diensknegte; waarsêers en sieners; en wyse Metusalems wat in heerlike afsondering leef. Of korrupte politici; swaapagtige toergidse met ’n streep vroue en houvroue; en snolle by wie jy geslaap het.

Die Lojale Dienskneg tree altoos soos ’n sewe-jarige op en het die voordeel van sterk leiding erg nodig. Hy is sku vir slange, bedrewe met kinders, en trek jou altyd in die verwikkelde sages wat in sy huis afspeel in.

Die Oeroue Wyse is altyd lid van ’n edele stam (nie van ’n geldgierige een soos die Gikoejoe, die Igbo of die Sjona nie). Hy’t leepoë en is één met die aarde. Die Moderne Afrikaan is ’n dikke wat steel en in die visumkantoor sy brood verdien. Hy weier volstrek om aan opgeleide westerlinge wat Afrika op die hart dra werkspermitte uit te reik. Hy’s teen ontwikkeling gekant en gebruik altyd sy posisie om die pad klipperig te maak vir pragmatiese en goedgesinde ekpats wat nie-regeringsorganisasies of wettige bewaringsgebiede wil oprig. Of hy’s ’n slimmerd met ’n graad van Oxford wat in ’n reeksmoordenaar ontaard en dan in ’n deftige snyerspak in die politiek beland. Hy’s ’n kannibaal wat aan Cristal-sjampanje teug, en sy moeder is ’n skatryk sangoma wat die land se hef ferm in haar hand het.

Onder jou karakters moet jy tog altyd Die Afrikaan wat van die Honger Vergaan insluit. Sy bewandel amper-kaal die vlugtelingkamp – met ’n uitgestrekte bakhand vir die opskep van die weste se hulp. Op haar kinders se ooglede en hoepelpense sit vlieë vasgeplak. Haar borste hang pap en leeg. Sy moet heeltemal hopeloos voorkom. Sy kan geen verlede of geskiedenis hê nie. Sulke onnodighede bederf die drama van die oomblik. Kreune is in orde. Sy moet nooit in die onderhoud iets oor haarself uiter nie, behalwe natuurlik woorde oor haar (woordelose) swaarkry. Maak tog ook seker dat daar ’n warm en moederlike vrou is wie se lag rinkel en wat oor niks anders as jou welstand begaan is nie. Noem haar gerus Mama. Haar kinders is die pad byster – de laaste een. Dié kwajongens behoort om jou hoofkarakter te woel sodat hý in ’n goeie lig staan.

Jou held kan vir hulle klasgee, bad, kosgee. Hy karwei hope babas rond, en het al met Die Dood kennis gemaak. Jou held is jý (dis nou as jy nie-fiksie pen), of ’n aanvallige, tragiese internasionaal bekende akteur of sanger of aristokraat, wat tans na diere omsien (indien jy jou hand aan fiksie waag).

Slegte karakters uit die weste kan die volgende insluit: die bloedjies van konserwatiewe Britse politici; Afrikaners; werknemers van die Wêreldbank. As jy die onderwerp van uitbuiting deur buitelanders te berde bring, noem tog die Chinese en Indiese handelaars. Pak die blaam vir Afrika se ellende vierkantig op die weste se skouers. Maar moet tog net nie té spesifiek oor dit als wees nie.

Vee jou kwashale wild en wragtig. Moet net nie dat jou Afrika-karakters lag nie. Ook mag hulle nie swoeg om hul kinders deur die skool te kry nie. En dis taboe dat hulle hul lewens in heel gewone omstandighede slyt. Laat hulle iets van Europa of Amerika hier in Afrika belig. Afrika-karakters moet kleurryk wees, eksoties, groot, maar binne leeg. Hulle moenie praat nie. Daar moenie konflik of ontknopings in hul verhale wees nie. Ook nie diepte of koddighede om die eenduidige saak waaroor dit als gaan te verduister nie.

Beskryf tog in fyn besonderhede naakte borste (jonk; oud; behoudend; onlangs verkrag; groot; klein) of verminkte genitalië, of vergrote genitalië. Of sommer enige tipe genitalië. Of lewelose lyke. Of – en dít vat die koek – naakte, lewelose lyke. En veral verrottende, naakte, lewelose lyke. Onthou net, enigiets wat jy skryf waarin die mense vuil en triestig lyk, sal beskryf word as die “ware Afrika” , en dié woorde wíl jy tog op jou stofomslag hê. Moenie skroom nie: Jy probeer immers om húlle te help om hulp van die weste te bekom. Die allergrootste moenie-doenie as jy oor Afrika die pen opneem is om wit mense te wys wat dood is of swaarkry.

Maar die keersy van die munt is dat diere tog as volronde, komplekse karakters behandel moet word. Hulle klets (of runnik ’wyl hulle hul maanhare pronkerig skud) en húlle het name en ambisies én begeertes. Ook beskik hulle oor gesinswaardes: Al gesien hoe leeugoed hul kleintjies onderrig? Ook olifante gee om, en is stoere feministe of waardige patriarge. So ook gorillas. Moet tog nooit as te nimmer enigiets skuins sê van ’n olifant of ’n gorilla nie. Olifante mag nou wel mense se eiendom aanval, hul landerye platloop, of die mense self doodmaak, maar jý moet altoos die olifant se kant kies. Groot katte brul in fênsie universiteitsaksente. Hiënas egter is ’n aanvaarbare skyf en hul aksente kom êrens-êrens uit die Midde-Ooste. Stofpoepertjie-Afrikane wat in die oerwoud of in die woestyn woon kan met ’n lekker dosis humor uitgebeeld word – behalwe natuurlik as hulle teen ’n olifant, sjimpansee of gorilla te staan kom. Mensig, dán is hulle die boosheid self.

Ná wêreldbekende aktiviste en noodlenigingswerkers, is bewaringskundiges Afrika se Baie Belangrike Persone. Moet hulle tog nie die harnas in jaag nie. Jy gaan nie juis hond haaraf maak as hulle jou nie na hul 30 000-hektaar wildsplaas of “bewaringsgebied“ nooi nie, want dís ál waar jy die wêreldberoemde aktivis te woord kan staan. Dikwels laat ’n boek met ’n heldhaftige bewaarder op die voorblad die geldlaaie klingel.

Enigeen wat wit is, maar met ’n gawe sonbrand, wat in khaki getooi is, en wat eens op ’n tyd ’n troetel-bok of ’n plaas gehad het, is ’n bewaarder – iemand wat Afrika se ryke nalatenskap bewaar. As jy met hom of haar ’n onderhoud voer, moet tog nie vra hoeveel befondsing hulle van elders ontvang nie. Moenie vra hoeveel munt hulle self uit hul bokke slaan nie. Moet ook nooit vra hoeveel hul werknemers betaal word nie.

Lesers sal afgehaal wees as jy nie die lig in Afrika noem nie. En die sonsondergange. Die Afrika-sonsondergang mag jy nie mis nie. Dis altyd groot en rooi. Die hemel is altyd wyd en oop. Groot, oop ruimtes en wild is noodsaaklik: Afrika is tog die Land met Groot, Oop Ruimtes. As jy die saak van bedreigde flora en fauna opneem, maak tog seker jy noem ook dat Afrika oorbevolk is.

As jou hoofkarakter tyd in ’n woestyn of oerwoud saam met inheemse mense (enigeen kort) verwyl, is dit in die haak om te noem dat Afrika erg deur Vigs en Oorlog (let op hoofletters) ontvolk is. Êrens in dié allegaartjie sal jy ook ’n Tropicana-nagklub moet hê, waar huursoldate, bose Afrikane wat pas met hul alies in die geld geval het, en prostitute, en guerrillas, en ekspats rinkink.

Sluit altyd jou boek af met Nelson Mandela wat iets sê oor reënboë en die inheemse renaissance. Dis tog omdat jy omgee.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Monica Hammes

    En lees beslis sy boek One day I will write about this place. Wat 'n verlies is sy afsterwe nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top