Bidsprinkaan roep digte teks tot lewe

  • 0

Deur: André P Brink, verwerk deur Saartjie Botha
Regie: Janice Honeyman
Rolverdeling: Elton Landrew, Gys de Villliers, Lee-Ann van Rooi, Crystal-Donna Roberts en Gideon Lombard
Stelontwerp: Wolfie Brits
Musiek: Gys de Villiers
Klankontwerp: Pierre Theron

“Elke mens het sy eie wind wat net syne is, en as jy sterf, kom daardie wind en waai jou spore van die aarde af, asof jy nooit daar was nie …”

Bidsprinkaan, die verhaal van Kupido Kakkerlak, verwerk deur Saartjie Botha van die roman deur André P Brink, is vergestalt uit ware gebeure van ’n Khoi-swerwer wat deur kontak met sendelinge bekeer is en dan ook self as sendeling optree, maar konstant in konfrontasie is met die landskap en geskiedenis van sy eie mense en geloof.

Die teaterstuk, onder regie van Janice Honeyman, slaag daarin om die uiters digte teks tot lewe te roep, met sensitiwiteit en nuanse. Brink se roman is vervleg met betekenislae en verwysings, maar Botha slaag daarin om die kern van die roman vas te vang. Die bekwame rolverdeling het die Fugard-verhoog omskep in die vlaktes van die Karoo. Die kyker word dan meegevoer na die land van Heitsi-Eibib, van die goeie god Tsui-Goab en die bose Gaunab, die bidsprinkaan en die stapels klippe wat die verloop van die geslagte en reisigers uitbeeld.

Kupido se persoonlike reis van grootword en soeke na betekenis en die konstante dryf na iets anders speel af teen die politieke agtergrond van ’n jong land onder koloniale bewind met onderstrominge van die worteling van Europese kultuur in die Afrika-landskap. Die soeke na identiteit en betekenis binne die ruimte waarin ons leef, is een van die sterkste knelpunte. Die definisie van kultuur en die konfrontasie tussen vreemde gelowe en verwysingsraamwerke word telkens ondersoek. Maar op geen stadium verval die stuk in weemoed en smart nie. Humor en die magiese kwaliteit van die verhaal sorg vir balans teen die wreedhede van die wêreld.

Botha se verwerking van die teks is uitstekend. Die gebruik van derdepersoonsvertelling maak dit moontlik vir die teks om verskillende perspektiewe duidelik oor te dra. So kan die interne struweling van sendeling Read, waar hy in sy eie oortuigings begin twyfel teenoor die aksies van sy medekoloniale broeders, in teenstelling met sienige Kupido se vrou Anna Vigilant, duidelik blootgelê word. Die anderse wêreldvisie van die smous Serfaas Zuurvogel beïnvloed ook Kupido se ontwikkeling, maar die pad wat hy loop is eensaam en folterend. As Kupido sy laaste brief aan God skryf, eggo die woorde van ’n lewe in konflik, op soek na betekenis en vryheid. As Kupido eindelik die Arend gewaar, is dit ’n omhelsing van sy wese en totale ontsnapping na die wêreld van sy drome.

“Voor hulle uit, hoog bo, lê die blink sterstreep om vir hulle die pad te wys. Soontoé. Soontoé.”

Tegnies is die produksie van besonderse gehalte. Elton Landrew as Kupido neem die gehoor op ’n persoonlike reis, wonderlik ondersteun deur die veteraanakteur Gys de Villiers en nuwelinge Lee-Ann van Rooi, Crystal-Donna Roberts en Gideon Lombaard in verskeie rolle. Die kombinasie van fisieke teater met die stelontwerp van Wolfie Brits en die klanklandskap geskep deur Gys de Villiers en Pierre Theron maak Bidsprinkaan ’n magiese ervaring in die teater.

Bidsprinkaan konfronteer die kyker met perspektiewe, en forseer jou om opinies te herbesin en te oorweeg. Die verhaal weergalm in die hede, en is ’n besonderse ondersoek na die stand van die Suid-Afrikaanse psige. Bidsprinkaan is ’n uiters suksesvolle en afgeronde verhoogproduksie wat die kyker uitdaag en lank sal laat dink.

Bidsprinkaan is ’n koproduksie tussen die Suidoosterfees en die Woordfees.

4, 5, 6 Maart | 20:15 | Oude Libertas Amfiteater | R100, R120, R80

Lees nog inligting oor Bidsprinkaan.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

Klik hier om ’n onderhoud met Janice Honeyman oor Bidsprinkaan te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top