Bidsprinkaan: Van die boek tot die verhoog

  • 0

In die middagetensuur van ’n repetisie waar dit druk gaan, kry ek kans om gou met Janice Honeyman ’n geselsie aan te knoop oor haar nuutste produksie, Bidsprinkaan, te sien by die Suidoosterfees. Die repetisieruimte is netjies versier met ’n wye verskeidenheid musiekinstrumente, geskep uit alles van swembadpype tot ou waterbottels. Ons kry ’n geselsplekkie onder ’n koelteboom in die NG Kerk se werf en ek spring weg met ’n vraag oor hoe Bidsprinkaan van epiese teks tot verhoogproduksie gekom het.

Janice Honeyman (foto: Artslink)

Wyle Jakes Gerwel het Saartjie Botha, verantwoordelik vir die verwerking van die roman, ’n tydjie terug genader met die versoek om André P Brink se Bidsprinkaan vir die verhoog te verwerk. Honeyman is toe genader om die regie van die produksie te behartig. Die produksie word vanjaar tot eer van Gerwel op die planke gebring.

Honeyman meen dat, ten spyte van die epiese statuur van dié Brink-teks, dit tog uiters delikaat is. Die teks raak groot onderwerpe aan, en Honeyman verwys na die strewe vir ’n fyn balans tussen “food for thought” en om nie prekerig (“reverential”) voor te kom nie. Dit is dus vir haar noodsaaklik dat die akteurs geloof moet hê in die teks en die storie wat hulle vertel.  

Sy sê die roman kan relatief gemaklik in ’n teks vir teater omskep word, omdat dit so sterk steun op die element van storievertelling. Dit skep dus ruimte vir storieteater. Hiermee saam kom dan egter die uitdaging om die essensie van die diggeweefde Brink-teks in ’n teks vir die teater te omskep. As gevolg van die aard van die roman vereis dit van Honeyman en haar geselskap om veral te skaaf aan die karakterisering van die derdepersoonverteller, aangesien dit juis in hierdie element van die roman is dat ’n groot deel van die narratief van die verhaal lê.

Bidsprinkaan vertel ’n storie uit Suid-Afrika se geskiedenis vanuit ’n unieke perspektief, sê Honeyman. Dit is juis hierom dat sy meen dié stuk veral relevant is vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor. Sy ondersteun sterk die uitgangspunt dat geen mens/volk vorentoe kan beweeg as hul nie weet waarvandaan hul kom nie. Sy meen dus dat Bidsprinkaan ’n soort blik op “waar ons vandaan kom” is. Honeyman beklemtoon die belangrikheid daarvan dat Suid-Afrikaners moet ruimte skep vir die integrasie van ander se tradisies en dit waarin ander glo. Werke soos hierdie vorm alles deel van, en vertel van, wat sy noem die tapisserie van ons land. Met groot oorgawe beskryf sy hoedat hierdie tapisserie vir elke verhaal ruimte laat. Wanneer die stories bymekaar kom, word dit ’n kunswerk van kleur en tekstuur.

Verder sê Honeyman dat dit altyd vir haar ’n groot plesier is om met Saartjie Botha saam te werk. Sy gee ook graag eer en erkenning aan haar geselskap wat altyd “paraat, gereed en gewillig” by repetisies opdaag. Die grootste uitdaging van die produksie was om ’n styl te kies waarin hul die stuk sou vertolk, maar haar puik geselskap het selfs dit vergemaklik.

Uiteindelik sê Honeyman eenvoudig dit: dat haar doelstelling is om ‘n gehoor te verryk met hierdie wonderlike storie. Die geselstyd is verstreke en repetisies moet weer begin.

Bidsprinkaan is wel by die Suidoosterfees en Woordfees te sien.

Suidoosterfees 2013: Bidsprinkaan @ SOF Lion of Africa theatre @ Die Fugard - R120

Donderdag 31 Januarie, 18:00 – 19:15
Saterdag 2 Februarie, 10:30 - 11:45
Sondag 3 Februarie, 20:00 - 21:45


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top