Biblioteke en skole afbrand: dom verset, of slim manipulasie?

  • 8

Verlede week is die regsbiblioteek van die Universiteit van KwaZulu-Natal deur protesterende studente afgebrand.

Vir heelparty kommentators was dit die laaste strooi. Baie wat voorheen nog simpatie met die studente gehad het, het nou kritiek begin uitspreek.

Die reaksie was vir my interessant. Dis asof die uitbrand van boeke tot groter ontsteltenis gelei het as enige van die ander protesaksies oor die afgelope jaar of so. Of meer as ander gruwels waardeur ons land getref word – soos kindermishandeling, geweld teen vroue, armoede wat daartoe lei dat mense in haglike omstandighede ’n bestaan moet probeer maak, sterftes aan voorkombare siektes, erge korrupsie, ens.

Om eiendom deur vuur te vernietig was tog van die begin af deel van die protesaksies. Onthou die beeldmateriaal van die studente wat Rhodes se standbeeld afbreek, en die enkele student wat besig is om ’n vuurtjie aan die gang te hou by die voet van die standbeeld?

Tydens die #FeesMustFall-optog na die Uniegebou in 2015 is verskeie brande gestig. In die tydperk onmiddellik daarna het heelparty universiteitskampusse onder vuur deurgeloop. By UCT is portrette verbrand. Die visekanselier se kantoor is met ’n petrolbom bestook. By Stellenbosch is ’n gedeelte van die administrasiegebou aan die brand gesteek. By die Mafikeng-kampus van NWU is twee geboue verbrand, en die kampus gesluit as gevolg van die gewelddadige protes. By Fort Hare het studente twee ingange na die kampus aan die brand gesteek. By UWK is twee geboue, waaronder ’n residensiële gebou, deur brande vernietig. Ook TUT en CPUT het deurgeloop onder brande wat tot aansienlike skade gelei het.

Daar was nog altyd brande gestig. Dit was tog net ’n kwessie van tyd voordat iemand ’n biblioteek aan die brand sou steek.

By ander kampusse was daar ook skade aangerig, alhoewel dit nie deur brande gebeur het nie.

Dis nie net universiteitsgeboue wat deurgeloop het nie. In Limpopo is meer as 20 skole deur brande vernietig en ’n aantal ander moes sluit nadat vandale verwoesting gesaai het.

Ook die vernietiging van skole is nie nuut nie. Ook tydens die 1976- en 1985-proteste is daar gereeld skade deur brande en ander metodes aan skole aangerig.

Dis ook nie uniek aan Suid-Afrika nie. Tussen Junie en Augustus hierdie jaar is na raming 120 skole in Kenia afgebrand in protes teen skoolhervorming.

In 2013 is die historiese Ahmed Babu Instituut in Timboektoe deur rebelle afgebrand. Hierdie biblioteek was die tuiste van ongeveer 20 000 manuskripte wat dateer uit so ver terug as die 13de eeu, en was die vernaamste rekord van Afrika se ontwikkeling oor daardie tydperk. Die regering van Mali het die verwoesting van daardie biblioteek toe probeer gebruik as regverdiging om die rebelle te jag en dood te maak.

Ek onthou nie dat die Afrikaanse media hulle veel hieraan gesteur het nie. ’n Soortgelyke brand in Europa sou vir dae die voorblaaie van die koerante gehaal het.

Om opvoedingsinstansies en die metodes van rekordhouding aan te val is ’n voorkeurmetode om uit te lok, en skynbaar ook hoogs suksesvol. Ten minste was daar geen lewensverlies nie, anders as die 2001-brande by koshuise in Kenia en Nigerië, waar honderde skoliere hulle lewens verloor het.

Ons het ook nog nie gesien dat die vlag verbrand word nie, ’n ander gewilde vorm van provokerende protes.

Die narratief en spekulasie oor die redes hoekom ’n biblioteek afgebrand word, wissel tussen die twee uiterstes van óf ’n sinlose reaksie van ’n onnadenkende massa aan die een kant, óf die revolusionêre dekolonialisering van gewraakte koloniale instellings aan die ander kant.

Hoekom, inderdaad, sou enigeen hul beste kans om aan armoede te ontkom, deur opvoeding, in gevaar stel of vernietig?

Ek vermoed dis ’n oorvereenvoudiging van ’n komplekse probleem om die geweld wat op kampusse afspeel, af te maak as bloot ’n funksie van “mob mentality”. Die oorgrote meerderheid van protesterende studente sou nie die vernietiging van eiendom goedkeur nie. Die meeste studente wil eintlik maar net hulle studies voltooi en met hul lewens aangaan. Om dit te doen, het hulle toegang tot boeke en rekenaars nodig, en hulle het nodig om iewers te slaap.

Dis egter nie die agenda van die radikale minderheid nie. Ek meen dit is nie per toeval dat biblioteke, administrasiegeboue, koshuise en rekenaarsentrums geteiken is nie. Alreeds ooreiste bronne word doelbewus nog verder onder druk geplaas.

Ek twyfel ook of dekolonialisering as ’n projek daai minderheid regtig interesseer. Destabilisasie op sigself, as ’n doel en nie net as ’n middel tot ’n doel nie, is ’n groter waarskynlikheid.

Ons probleem, in ’n neutedop, is die volgende: ons het jongmense grootgemaak met ’n ongelooflike “sense of entitlement”. Hulle verwag om met ’n graadsertifikaat waarop die ink nog nie eers droog is, in ’n topposisie aangestel te word teen die hoogste moontlike vergoeding. Hulle verwag om die nuutste, duurste en beste van alles te besit, en om onbeperkte krediet te verkry wanneer hulle hulle vingers klap. Die realiteit is dat daar nie genoeg werk is vir die gegradueerdes nie, en dat hulle beter af sou wees om ’n ambag aan te leer, want dis waaraan ons land ’n tekort het. Ons jongmense is egter geleer dat dit ’n skande is om met jou hande te werk.

Verwagtinge sal dan noodwendig teleurgestel word, maar die oorgrote meerderheid studente glo nog steeds dat hulle spesiaal is en dat hulle nie deel van die statistieke sal word nie. Dus, vir die siniese, alreeds ontnugterde minderheid word die projek om vervreemding te bring tussen die hoopvolle student en ’n simpatieke publiek. Hoe minder simpatie studente ontvang, hoe meer ontvanklik is hulle om geradikaliseer te word.

Dit gebeur alreeds. Die een of twee studente (of dalk is hulle nie eers studente nie -niemand verwag van die protesteerders om studentekaarte te wys nie, of hoe?) wat bereid is om ’n brand te begin, word in die publieke oog deel van die massa, en almal word oor dieselfde kam geskeer. Met elke inflammatoriese opmerking in sosiale media, of hoofstroommedia, word die vervreemding groter. Terselfdertyd kry die radikale minderheid simpatie van hulle minder radikale medestudente.

Het ons nie ’n plig om dieper te kyk en die moeiliker vrae te vra, in stede daarvan om die kneejerk-reaksie waarop die radikale minderheid staatmaak, te toon nie?

Wat is die moeiliker vrae?

Dis vrae soos hierdie: Watter toekoms is daar vir ons jongmense? Die ekonomie is in ’n benarde posisie, en die President en sy lojale gevolg is skynbaar vasbeslote om dit oor die afgrond te stoot. Daar is dreigende watertekorte, hongersnode, geen werksgeleenthede nie, krimpende internasionale geleenthede as gevolg van die migrasiekrisis, disfunksionele semistaatsinstellings, en meer. Daar is rassespanning tussen groepe wat teen hierdie tyd eintlik al moes leer saamwerk en saamleef het. Watse hoop is daar? Hoe verander ons die ek-mentaliteit van soveel jongmense in ’n medemenslikheid wat ander in ag neem?

Solank as wat daar nie vir ons jongmense hoop is nie, sal hulle geradikaliseer word. Dis ons plig om seker te maak dat die hoopvolles nie ook tot radikaalheid forseer word nie. Om dit te doen, kos egter van ons almal, hoe moeilik dit ook al mag wees, om met die radikale minderheid in gesprek te tree.

Deur te luister kan al twee kante dalk iets leer. Die alternatief is ondenkbaar.

  • 8

Kommentaar

  • As biblioteke afgebrand word, word die beskawing afgebrand. Te veel studente wat grade swot wat nie tot werk lei nie. Waarom nie opname maak in watter sektore daar wel mense met grade nodig is en net beurse aan daardie studente uitgee nie? As jy etiek of politieke wetenskap wil swot moet jy self betaal.
    Daar is ook ’n gebrek aan opvoeding by die ouerhuise oor hoe jy dit wat belangrik soos biblioteke met eerbied behandel.

  • Bravo! Dis hoog tyd dat daar sinvol gereageer word in plaas van die afgesaagde verdoeming van die 'barbare'.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    In die teks het ek tevergeefs gesoek na die uitdruklike veroordeling van die vernietigingsmanie. Daar is 'n terloopse verwysing na 1976 en 1985 maar daar word nie gesê dat die ANC/UFD die vernietiging van alles wat opgebou is, gepropageer het nie. Die ANC en PAC het met voorbeeldstelling mense geleer dat geweld die aangewese manier is om resultate te behaal en dus probleme op te los. Die "vryheidsvegters" se nalatenskap is met ons en sal in die huidige politieke opset moeilik uitgeroei word.

  • Avatar
    Annatjie Kruger

    Wie presies is die "ons" waarvan die skryfster van die artikel praat? Wanneer ek met 'n student in gesprek gaan tree, sal my advies wees, kry vir jou 'n ambag. Daarmee sal jy vir jouself 'n werk kan gee. "Artisans" is 'n "spesie" wat aan die uitsterf is. Maar ons kinders word gebreinspoel dat 'n loodgieter, passer-en-draaier, baksteenlêer, ensovoorts minderwaardig is en dus benede hulle. Hierdie houding van "ek is op alles wat ek sien geregtig" word deur die regering en die media geskep. Ek het na hoeveel gesprekke op die radio geluister waar simpatiek uitgespreek word in guns van die studente, maar nie een van daardie omroepers het die moeite gedoen om die werklikheid aan die studente te probeer verduidelik nie. 'n Duidelik voorbeeld hiervan is die jongste harekwessie in die media. NIE EEN ENKELE KOERANT het 'n berig geskryf wat die situasie vanaf die prinsipaal of onderwyser se kant af weerspieël nie. Nee al wat hulle gedoen het was om 'n groep (en as ek die skryfster moet glo 'n klein groepie) radikale jong "dames" wat besluit het dat hulle hul "reg" gaan uitoefen en daarop aandring dat hulle hul hare kan dra soos hulle wil, aan te hits. Nie die regering of die media nie het aan hierdie jong "dames" probeer verduidelik dat 'n reël of regulasie deel van 'n gestruktureerde gemeenskap is. NEE die prinsipaal en onderwysers is uitgekryt. Dit was dieselfde met die studente. Die volgende moes aan die studente verduidelik word: 1. Dit is nie moontlik om universiteite sonder geld te bestuur nie. 2. Die belastingbetaler kan nie aanhou betaal nie. 3. Die groep wat aandring daarop om alles gratis te kry, word groter by die dag, terwyl die groep belastingbetalers al minder en minder word. 4. Universiteitsonderrig is 'n voorreg nie 'n reg nie, en hartseer soos die lewe nou maar eenmaal is, is daar hoogs intelligente persone wie ongelukkig te arm is om aan 'n universiteit te studeer. Daardie persoon moet dan maar gaan werk en deeltyds studeer. Die wêreld is vol hoogs suksesvolle mense wat juis dit gedoen het. 6. Om 'n besigheid (wat 'n universiteit ook maar is) suksesvol te kan bestuur, moet pryse ongelukkig van tyd tot tyd opgaan. Werkers van besighede verwag salarisverhogings, ensovoorts. 7. Dat daar op hierdie aards niks maar niks MAAR NIKS is wat gratis is nie. As jy gratis onderrig kry, is dit omdat daar iewers 'n arme sot is wat sy as afwerk en kreun onder die belasting wat net al hoër word. 8. Dit is nie die ryk man wat gaan betaal vir die universiteitsonderrig van arm studente nie, dit is die middelman - ek en jy - die rykman het 'n rits regsgeleerdes en ouditeure wat sal verseker dat hy nie meer belasting hoef te betaal nie. 9. Zuma en Kie moes ook aan die studente verduidelik het, dat as hulle gratis onderrig ontvang, gaan dit beteken dat daar minder vir hom en sy kade gaan wees. Hoekom gaan Bettina Wyngaard nie na die studente en tree in gesprek met hulle nie? Seker omdat dit, net soos in my geval, nie haar werk is om dit te doen nie. Maar Zuma en sy trawante sowel as die media kan 'n groot rol speel in die opvoeding van die massa, deur 'n paar realiteite en lewenswaarhede aan hulle te verduidelik.

    • Avatar
      Michelle Brits

      Baie dankie Annatjie. Jy praat die waarste waarheid. Ons het 'n regering met verstand nodig.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Annatjie Kruger, dankie vir jou realistiese uiteensetting. Selfs die domste student behoort te kan insien dat die eis dat werkers teen hoër vergoeding ingekontrakteer moet word en die eis dat klasgeld afgeskaf, verlaag of nie verhoog moet word nie, teenstrydig is. Dit maak akademies geen sin dat die Universiteit Kaapstad nou verplig word om werkers soos skoonmakers in diens te neem en dosente uit diens te stel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top