Alles is duur, maar Xavier Nagel verkoop boeke. Hoekom? Naomi Meyer het hom gevra.

Die boekebedryf kry swaar. Maar jy versprei onafhanklik boeke. Hoekom?
Die boekbedryf kry swaar omdat die tradisionele modelle nie meer so effektief is nie – ons lewe in tye wat ek vrek opwindend vind. Daar's baie uitdagings om onafhanklik te wees, veral in Suid-Afrika, maar die eerlike antwoord hoekom ek dit doen, is omdat ek nie anders kan nie ...

Jou boekwinkel Bibliophilia is lieflik en boheems; buite die deur hang tekkies aan wasgoeddrade. Hoe het jy hier beland?
Ek het vir lank gedroom van my eie boekwinkel, en omdat die bottom line nie die oorwegende faktor in my besluit was nie, het ek die vryheid gehad om iets anders te probeer. Die reaksie van Bibliophilia se klante op die versameling in die winkel laat my elke dag minder soos ‘n freak voel.
Nog verder terug in die verlede: Wat is jou agtergrond? Hoe lank is jy al in die boekebedryf?
Ek is boekbefok – boeke is my lewe. Tydens skoolvakansies het ek my familie frustreer, want daar was niks lekkerder vir my as om in my kamer te lê en lees nie. Toe ek joernalistiek gestudeer het, het ek eerder dae in tweedehandseboekwinkels en biblioteke gespandeer as om klas by te woon. Ek werk al vir die afgelope twintig jaar op een of ander manier in die boekbedryf. Begin by Facts & Fiction in Menlyn, Pretoria. Toe Exclusive Books in Centurion voor ek in die laat negentigs Kaap toe getrek het en by Exclusive V&A Waterfront, Tyger Valley en Kaapstad-lughawe gewerk het. Van 2007 het ek as vryskut verkoopsverteenwoordiger in die Wes-Kaap begin werk. Ek het al vir Pan Macmillan en Protea gewerk. Op die oomblik werk ek vir Lapa, UKZN Press en Wits. Ek het in 2008 Love Green Food onder my imprint Xlibris Publishing uitgegee en sedertdien was daar drie kinderprentjieboeke: Feeling Sheepish, Helga’s Big Splash en Tando die Tandmuis van Muizenberg wat in Afrikaans en Engels was.

Sal jy enigiemand se boeke help verkoop en versprei? Wat is die kriteria wat maak dat jy iemand se boek sal help versprei?
Sommige boeke is moeiliker om te verkoop en te versprei as ander, maar dit het meer te doen met die hedendaagse mark as enige inherente eienskappe. Ek hou daarvan om betrokke te raak met boeke waar die skrywers hulle huiswerk gedoen het.
Kan mense wat boeke wil skryf, jou privaat kontak? Of gesels jy eintlik eerder met boekwinkels?
Ek praat met enigiemand wat vir boeke lewe.

Van watter boeke hou jy? Wat lees jy graag self?
Lees is vir my soos asemhaal – noodsaaklik vir oorlewing. 'n Paar jaar gelede het ek gevoel dat ek my tyd as tiener gemors het deur in boekwinkels en biblioteke te lewe, maar vandag is my werk my lewe en andersom. Partykeer hou ek daarvan om net deur 'n mooi koffietafel boek te blaai, ander kere is dit digbundels of prentjieboeke of geskiedenis of 'n biografie. 'n Paar plaaslike titels wat ek onlangs gelees en geniet het, was Bokveld Binnekort, Chokers en Survivors, Incredible Tretchikoff, Worst Person Ever van Douglas Coupland en Roger Ballen se boek oor Die Antwoord.
Is daar enige boeke wat jy op die oomblik aan die bemark is of boekgeleenthede waarvan ons lesers kan kennis neem?
Ek is bevoorreg om saam met George Claassen aan sy nuwe boek, Kwakke, Kwinte en Kwale, te werk, wat ek ook gaan uitgee. Die bekendstelling vind tydens die Woordfees plaas.
Wat maak jou moedeloos van die boekewêreld?
Wat my moedeloos maak omtrent die boekwêreld, is dieselfde ding wat my moedeloos maak omtrent die wêreld – hoe materialisme die maatstaf van waarde word.
Wat maak jou opgewonde van die bedryf?
Nuwe boeke en die feit dat die landskap van die bedryf besig is om te verander.
Wat is jou grootste droom – en dit hoef niks met boeke te doen te hê nie?
Om eendag die moed, deursettingvermoë en guts te hê om self 'n boek te skryf.
Vir nog inligting, besoek Xavier Nagel Agencies se webwerf.
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.

