Bibi Slippers kook uit The South African Vegan Cookbook deur Leozette Roode

  • 2

Foto's: Bibi Slippers

Die Engelse benamings word by elke foto behou, sodat die gereg maklik is om in die boek na te slaan.


The South African Vegan Cookbook
Leozette Roode

Human & Rousseau
ISBN: 9780798177108

In 2010 het ek ná ’n tweejaarverblyf in die buiteland na Suid-Afrika teruggekeer met ’n stapel vegan-kookboeke onder die arm, en ’n ferm oortuiging dat ’n plantgebaseerde dieet die mees etiese manier was om in die 21ste eeu jou liggaam te voed. My etiese oortuiging het nie getaan nie, maar die gesukkel om die vreemde bestanddele wat in die kookboeke genoem word, in die hande te kry, gekombineer met die gesukkel wat uiteet en sosialiseer afgegee het, het my binne ’n jaar laat terugkeer na my “gewone” vegetariese dieet, wat eiers en suiwel ingesluit het.

Einde 2017, nadat ek Yuval Noah Harari se Sapiens gelees het, het ek besluit om terug te klim op die vegan-wa. Die tyd was ryp, die wêreld aan die verander, Suid-Afrika ook aan die bykom. Dié keer gaan dit heelwat makliker: daar is baie meer restaurante wat veganvriendelik is (of selfs uitsluitlik vegankos bedien); die konsep van plantgebaseerde kos skrik nie meer vriende, familie of geliefdes af nie; en die meeste van die bestanddele wat in die ingevoerde kookboeke genoem word, kan deesdae met ’n bietjie moeite in plaaslike supermarkte of spesialiteitswinkels opgespoor word. Nogtans was ek besonder opgewonde om op Instagram te sien dat Human & Rousseau ’n vegankookboek spesiaal vir die Suid-Afrikaanse mark uitgee: The South African Vegan Cookbook deur Leozette Roode is ’n welkome toevoeging tot enige versameling vegan- en vegetariese kookboeke, veral omdat die bestanddele bekend is en sommer maklik in enige Checkers, Woolworths of Pick n Pay se rakke te vinde is. Jy kan hierdie een gerus op sy baadjie takseer: die helder, vars en heilsame dis op die voorblad gee ’n goeie aanduiding van wat binne-in is – maar dis ook nie net “bokkos” (soos my pa sou sê) nie. Die veganbraairesepte en veganalternatiewe vir Suid-Afrikaanse gunstelinge soos melktert en piesangbrood beteken dat vegans nie meer droëbek om die vuur hoef te sit of wye sirkels om die tafels by ’n kerkbasaar hoef te stap nie.

Die boek word afgeskop met ’n vinnige oorsig van Leozette se eie reis tot by ’n plantgebaseerde dieet, en ’n Vegan 101-afdeling waarin sy verduidelik wat dit beteken om vegan te eet, en waarom mense besluit om dit te doen. Daar is ook ’n nuttige lys van webtuistes en Facebook-bladsye waar addisionele inligting oor plantgebaseerde kos te vind is, en ’n reeks algemene vrae oor die veganleefstyl met Leozette se antwoorde daarby. Sy lys ook die kombuisgereedskap wat jy nodig het om die resepte te maak, asook veganvriendelike vleis- en kaas-alternatiewe, jellie, wyn, mayonnaise, sjokolade en koekies.

Die resepte is in tydsgrepe verdeel: resepte vir vroegoggend, snack-tyd, ligte middagetes, teetyd, braaityd, vroegaand, aandete en laatnaghappies. Die kosfotografie is helder en aanloklik, en maak dit duidelik dat vegan-geregte allesbehalwe saai is.

Foto van die Overnight Oats

Uit die ontbytkosse het ek die Chocolate Peanut Butter & Coffee Smoothie (bl 26) gemaak, en sommer herhaaldelik die Chocolate Overnight Oats (40). Ek gaan nie maak asof enigeen van hierdie geregte naastenby so mooi soos Leozette s’n gelyk het nie, maar dis heerlik, en boonop báie maklik.

Nog ’n foto van die Overnight Oats

Uit die ligte middagetes het ek die Earthy Brown-rice Medley gemaak – ook werklik maklik en met geen eksotiese bestanddele nie. Ek probeer altyd gaar bruin rys in die yskas hê om net dinge by te gooi vir middagetes soos dié, so ek het sommer die lensies in die resep met die geblikte soort vervang om tyd te bespaar, en my gaar rys saam met die res van die groente in die pan gebraai. Ek sien uit daarna om ook nog die lasagne en die Mediterreense pesto-pasta te probeer – die foto’s van dié geregte lyk heerlik!

By die teetydresepte het ek besluit om alles uit te haal en sommer ingespring met die Thyme, Cinnamon & Orange Sponge Cake (98).

 

 

Die koek

Leozette se koek

My koek

Die feit dat my koek nie ’n rasende sukses was nie, het waarskynlik nie soveel met die resep te doen as met die feit dat ek nie resepte baie goed volg nie. Ek sou graag wou sien wat ’n meer gesoute bakker met dié resep uitrig – maar my koek sou kon kwalifiseer om in die annale van die webwerf CakeWrecks.com opgeneem te word. My bure het wel daarvan geëet en hulle leef nog, dus is alles nie verlore nie. Diegene wat suiker vermy, of gewoond is aan supergesonde veganresepte wat nie van geraffineerde suiker gebruik maak nie, sal hierdie resep dalk te soet vind. Ek sien uit daarna om die skons en sjokoladetert te probeer maak (sodra ek van die mislukte koekbakkery herstel het).

Crispy Baked Tofu

My poging tot Crispy Baked Tofu (136, in die vroegaand-afdeling) was ook ’n flop – die tofu het aan die pan vasgeplak, en uiteindelik meer soos roereier gelyk as soja-repies. Lewensles: As die resep vra vir Maizena en baksproei, moenie dink jy kan daarsonder wegkom nie.

 

Die proses om die nachos te maak.

Nachos

Nachos met kaserige sous

Nachos met bone en suurroom

Die vegan-nacho’s was egter ’n groot treffer. Die kaassous is vreeslik lekker, en vir iets wat nie kaas bevat nie, werklik baie kaserig! Die suurroom was bietjie te veel – ek sal daardie sousreseppie halveer as ek weer die nacho’s maak – maar verder het ek behoorlik gesmul aan hierdie dis, en genoeg van die bonemengsel oorgehou om vir my ook die avo-en-bone-roosterbrood (36) te maak. In hierdie afdeling is daar ook ’n burgerresep wat sommer Quorn se Hot and Spicy patties uit die boks gebruik (132) – ek gaan dit beslis nog maak, en wil ook my hand aan die Mac and Cheese Bake (128) waag.

My twee gunstelinggeregte uit die boek is beide uit die afdeling getiteld “Let’s wine and dine” – en hierdie kos is so geurig dat selfs jou vleisetende skoonma waarskynlik sal swig. Die Vegan Butter “Chicken” with Quorn is so lekker dat ek dit nou al drie keer gemaak het.

Vegan Butter "Chicken"

Dis ’n wonderlike, vertroostende gereg met diep geure en verskillende lae smake, en die Quorn-vleisalternatief kan mens by enige Pick n Pay vind. Die Rosemary Mushroom Risotto (162) is Master Chef-waardig.

Ek het ook die Rainbow Rolls with Marinated Tofu (166) gemaak, maar ek dink nie ’n kombuisleek soos ek kan uit die verduideliking in die boek begryp hoe om ’n ryspapierrolletjie behoorlik te vou nie. Myne het dus glad nie aanloklik gelyk nie, maar hulle was baie smaaklik. Ek sal maar vir ’n klassie gaan om uit te vind hoe mens ’n rolletjie soos ’n kosstilis vou.

Die Engelse uitdrukking “the proof of the pudding ...” is hier van toepassing: die resep vir Oreo Peanut Butter Truffles (180) het ek ook al drie keer gemaak, en werk toe gevat, vir die bure uitgedeel en na ’n piekniek geneem om mense te beïndruk. En hulle wás beïndruk! Weer eens soet genoeg om jou diabetes te gee as jy jou aan die hele bak vol sou vergryp, maar weer eens ’n bewys dat vegans hulself nie al die lekker dinge in die lewe hoef te ontsê nie.

As jy nie ’n groot kosmaakgeesdriftige is nie, koop vir jou The South African Vegan Cookbook net om na die mooi prentjies te kyk, en vir die naslaangids agterin wat vir jou sê waar jy kan gaan uiteet as jy vegan is, of vegans vir ete moet uitneem. Maar moenie verbaas wees as die prente jou kombuis toe lok nie – as jy weer sien, bedryf jy dalk ’n vegan-kos-Instagram, of lewer jy vegan-roosmarynkoeke by die tuisnywerheid af. (Wat?! ’n Meisie mag tog seker droom.)

  • Foto’s: Bibi Slippers
  • 2

Kommentaar

  • Sonja Grobler

    Soek lankal 'n vegan-resepteboek vir Suid-Afrika. Nou kan ek dalk van vegetaries skuif na vegan toe. Baie dankie.

  • Jinne Bibi ... jy het my mond skoon aan die water. As 'n Vegan is ek ook al moeg vir my eie disse. Ek gaan beslis hierdie kookboek bekyk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top