Bhisho/King William's Town

  • 0

Bhisho-omgewing (bron: http://led.co.za/municipality/amathole-district-municipality)

Die ander dag toe ek en ’n (Engelse) girl filterkoffie gedrink het, gesels het oor die letterkunde en geluister het na klassieke musiek, het ek dit weer gesê. Dit nadat ek dit seker ’n miljoen keer in Afrikaans gesê het. Die gevoel was egter dieselfde; net in ’n ander taal.

Ons sit in ’n koffiewinkel iewers in King William’s Town – my aangenome tuiste sedert 2004. Ek vertel haar oor my liefde vir Yeats, James Baldwin, DH Lawrence, Antjie Krog, Bessie Head ens. Sy deel my liefde vir Yeats en laat val haar smaak vir Beethoven en Mozart. Toe kom die vraag wat my gewoonlik soos koue water in die gesig tref. Net daar het ek dit weer vir die soveelste keer gesê; net in Engels dié keer.

Dit is ’n vraag (en daarna die antwoord) wat my herinner aan die talle nagritte wat ek al met my kar onderneem het. Dit is om laatnag iewers in die Transkei op ’n gelapte pad tussen die beeste en varke te ry.

Dié vraag laat my hard nies dat die dolosse in my ruggraat weer in ’n ry loop kraal toe. Anderkant die niesery kom die hoofpyn. Klein en krapperig en dun gesny.

"Hoe ervaar jy  Bhisho/King Williams Town?"

Toe ek haar moes gaan aflaai, was ek rigtingloos. So asof ek vir die afgelope amper ses jaar in die blindederm van ’n groot enjin vertoef. Geen polisie wat in jou kleresakke vir dagga krap nie; so asof wanbedrywighede nie hier bestaan nie. Die provokasies en oorrompelings hier is baie skraal. Waar die frekwensie van al die radiostasies nie altyd so duidelik en lekker werk nie. En vra my hoekom, sal ek sê vra liewer die liewe Heer.

Geen rumoerige koffiewinkels met interessante siele nie. Geen boekwinkels en geen boekwurms nie, wat vir hierdie gemeenskap miskien (?) geen gemis is nie. G’n wonder CNA het onlangs sy deure gesluit nie. Seker omdat ’n intellektuele mark hier stadig aan die kwyn is. Miskien nooit bestaan het nie.

Waar die reuk van olie en oop enjins soos vrot voete ruik. Hier kompeteer ou verroeste en blink gepoleerde motors vir beperkte spasie. En elke keer as jy jou motorsleutels draai, knak die apartheidsinfrastruktuur verder ineen. Die tragiese storie van ’n hoofstad wat vir ’n verdrukte meerderheid saamgeflans is, maar nou almal se sorge moet dra. ’n Hoofstad wat nooit weer rustig sal (en kan) slaap nie.

Waar die meeste mense die naam Diego Garcia verwar met dié van ’n gewilde sokkerspeler, afkomstig uit Suid-Amerika of iewers in Europa. En waar, as jy dit sou waag om te sê dit is ’n klein eilandjie in die Indiese Oseaan, jy beskuldig sou word dat jy aan die gekskeer is. Want kyk, so ‘n naam kan net aan ’n sexy sokkerspeler behoort.

En daar sê ek dit toe weer: min dinge – soos King William’s Town/Bhisho – gee my hoofpyn.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top