Titel: Betsie, Meneer Tier en die Blou Maan
Outeur: Sally Gardner
Uitgewer: Lapa
ISBN:9780799391121
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
’n Verhaal geskryf vir jong lesers van omtrent ses tot tien jaar wat handel oor ’n jong meisiekind, Betsie Glorie, wat saam met ’n tier op ’n avontuur gaan. Saam vaar hulle in Meneer Tier se sirkus-skip om ’n padda terug na ’n prinses te verander. Jonger kinders wat nog nie kan lees nie sal die verbeeldingryke storie kan geniet as iemand dit vir hulle voorlees, om nie eens te praat van Nick Maland se gedetailleerde illustrasies nie.
Die verhaal speel af in ’n wêreld wat nêrens op die wêreldkaart gevind kan word nie. Daar bly Betsie saam met haar pa, Alfonso Glorie, in hulle roomyskafee. Betsie en haar pa gaan saam met Meneer Tier op ’n avontuur om prinses Aldi terug in ’n prinseste toor. Die enigste manier waarop dit gedoen kan word, is om roomys van ’n wens-skenkende plant, genaamd Goebelopsbessies, onder die strale van ’n blou maan te maak. Vir hierdie avontuur moet hulle na die Goebelopseiland vaar waar die reus, Iwan die Versigtige, prinses Aldi se nare half suster, Olga, en miniatuur sirkusakrobate (Goebelgopsers) woon.
Alhoewel die storielyn redelik lig en speels is met oplossings wat soms uit ’n hoed uitgetrek word, is daar swaar onderwerpe en lewenslesse wat aangespreek word. Een so ’n voorbeeld is Betsie se familiedinamika. Betsie en haar pa bly in ’n roomyskafee, terwyl haar ma, Mila, wat ’n meermin is, in die see bly. Die idee word geskep dat Betsie se ouers geskei is, maar dat hulle wel ’n goeie verhouding vir Betsie se onthalwe het.
Hierdie afleiding kan vanuit die volgende uittreksel afgelei word;
Haar ma, Mila, was ’n meermin. Sy het ongelukkig nie goed gevaar op grond nie...Betsie se pa, Alfonso Glorie, het sy bes gedoen om sy meerminbruid gelukkig te hou. Maar daar is so ’n groot verskil tussen die see en sypaadjies...dat Betsie se pa en Betsie se ma besluit het dit is beter as die branders hulle skei (6).
Die idee is dat Mnr Glorie ouerskap oor Betsie het en dat Mila vir Betsie kom kuier:
Haar ma kom gereeld by haar kuier en op warm dae gaan swem hulle saam in die see...Op Woensdae kom kuier Betsie se ma...So sit hulle totdat pappa vir mamma kom optel en haar terug kafee toe dra (7,9—10).
Hierdie situasie word ook vanuit Betsie se perspektief uitgebeeld deur met die leser te praat oor hoe Betsie oor haar ouers se egskeiding voel:
...dit is nogal hartseer dat Betsie se ma nie by hulle kan bly nie. Maar dit is regtig ook nie so vreeslik hartseer dat Betsie ongelukkig voel nie, of dat sy voel niemand het haar lief nie (8).
Dit is ’n oulike manier waarop die skrywer die onderwerp van egskeiding aan die jong lesers bekendstel. Dit word sensitief benader en die emosies wat kinders kan voel in hierdie tipe familiedinamika word mooi verduidelik. Dat sy wat Betsie is dalk hartseer kan voel, omdat sy haar ma mis. Maar dit word duidelik gestel dat beide haar ouers haar wel lief het. Dit is ook goed vir jong lesers wat se ouers nie geskei is nie. Dit kan hulle bewus maak van verskillende familiedinamikas en help begrip gee vir ’n persoon in so situasie.
Ander lewenslesse wat in die jeugroman aangespreek word, is mededeelsaamheid. Dit word weerspieël in die verhaal van prinses Aldi wat deur haar halfsuster Olga in ’n padda verander is, omdat sy nie die koninkryk wou deel nie. Prinses Aldi verduidelik dit aan Betsie as die “te veel ja’s” probleem (79—80). Sy vertel vir Betsie dat Olga altyd gekry het wat sy wou hê en dus bederf is. Daar word ook verder aan Betsie en die jong lesers verduidelik wat die doel is van die antwoord, nee. Byvoorbeeld; “al die ja’s in die wêreld maak niemand gelukkig nie. Nie eens ’n prinses nie. Die woord ‘nee’ maak die woord ‘ja’ soveel meer spesiaal. Want sonder ’n ‘nee’, besef jy nooit hoe gelukkig jy eintlik is nie” (80).
Weereens word daar op ’n eenvoudige manier met die jong lesers gekommunikeer om waardevolle insig met hulle te deel en te verduidelik. Saam met hierdie lewenslesse is daar ook heelwat onrealistiese aspekte. Soms is dit heel kreatief, maar ander kere wonder ’n mens of die skrywer nie aan ’n meer komplekse klimaks of ontknoping kon gedink het nie. Daar word ook dikwels nie heeltemal verduidelik hoe dinge gebeur nie. Dit mag dalk wees omdat dit wel vir ’n jonger leserskring geskryf is, maar dan waag ’n mens die kans dat jy die intelligensie van ons jong leseres onderskat.
Die taalgebruik is redelik eenvoudig en verstaanbaar, met hier en daar ’n woord wat die jong lesers sal uitdaag. Woorde soos "pluiskeil", "kajuit", "towerspreuk", "vlymskerp" en "kleedrepetisie" is voorbeelde.
Nuutskeppings vorm ook deel van die roman se verbeeldingryke storielyn en illustrasies. Dit dra by tot die speelsheid van die verhaal en skep ook die gevoel van ’n lewendige taal wat altyd aan die verander is. Mense soek altyd nuwe maniere om hulself uit te druk.
Ten slotte word daar ook gebruik gemaak van verwysings na die buiteruim en hoe dit werk. Die maan wat opkom en al "kleiner" word soos dit hoër in die lug opklim en die son wat vaak raak wanneer dit sak (98, 108). Daar word selfs ’n prettige grappie gemaak oor Neil Armstrong, die eerste man op die maan, wat die maan gesteek het met sy vlag:
Los net die vlag uit,’ sê die maan. ‘Dit het behoort aan die laaste kêrel wat hier was. Hy is nie ’n baie vriendelike vent nie. Hy het ’n groot ruimtepak gedra en nooit eens gevra of hy ’n skerp vlag in my mag druk nie (110).