
Meryl Streep by die Golden Globe-toekennings (Bron: Youtube)
Toe Meryl Streep hierdie week haar Golden Globe in ontvangs neem, het sy ’n herrie ontketen. Hoekom? Sy het die inkomende president, Donald Trump, tydens haar toespraak gekritiseer.
Van die kommentators het haar keuse gekritiseer. Dit was die verkeerde geleentheid. Sy’s ’n aktrise, sy moenie kommentaar lewer oor politiek nie. Dis nie haar plek om die president te kritiseer nie. Aan die ander kant weer was daar heelparty kommentators wat haar reg om kritiek uit te spreek, ondersteun het. Dis natuurlik ook glad nie die eerste keer dat ’n kunstenaar die platform wat aan hulle gebied word, gebruik om protes aan te teken nie. Jane Fonda het teen Viëtnam protesteer. Die Dixie Chicks het teen George W Bush se bewind protesteer. ’n Onlangse voorbeeld van Suid-Afrikaanse protes was met die Spear of the Nation-skildery, ook Zapiro op gereelde basis met sy spotprente.
Dwarsoor die wêreld word die reg van kunstenaars, digters, skrywers en satiriese tekenaars om deur hul kuns kommentaar te lewer op hul samelewing, onderdruk. Gedurende apartheid was werke van ons voorste skrywers verbied omdat dit krities teenoor die regering van die dag was. In Sjina, Angola, Sirië en Iran, om maar ’n paar voorbeelde te noem, word kunstenaars vervolg omdat hulle kritiek uitgespreek het teen die regime van hulle land, of teen sosiale toestande.
Meryl Streep hoef ten minste nie bekommerd te wees dat sy in hegtenis geneem sal word nie. Nog nie. Haar vryheid van spraak word nog erken. Ek vermoed egter dat die Amerika wat sy ken, vanaf 20 Januarie 2017 baie anders gaan begin lyk, met die wesenlike moontlikheid dat vryhede wat as vanselfsprekend aanvaar word, ingeperk sal word.
Streep se toespraak het een belangrike ding gedoen: dit het die vraag of kunstenaars betrokke moet wees by hulle samelewing, weer na vore gebring.
Dis nie ’n nuwe vraag nie. Ovidius, die Romeinse digter en politikus, het in die sop beland oor sy politieke uitsprake en sy “liberale” oortuigings. Ovidius het pornografie geskryf en hiermee die keiser se morele wetgewing oortree. Sy pornografie het bestaan daaruit dat hy vroue se enkels in sy gedigte beskryf, asook huweliksontrou. Vermoedelik hieroor is hy in 8 nC deur keiser Augustus verban. Ek vermoed as enige van ons hedendaagse rymkletsers na sy tyd verplaas sou word, hulle terstond onthoof sou word.
Is kunstenaars veronderstel om deur hul kuns net die estetiese in hul samelewing te weerspieël, om hulle af te sonder van die ongeregtighede? Is hulle veronderstel om op een of ander manier hulself as verhewe bo die alledaagse van hul samelewing te beskou, selfs as die alledaagse tot onreg lei? Of is hulle taak om deur hulle kuns aktief mee te doen daaraan dat ongeregtighede aan die lig gebring word, juis sodat skoonheid en estetika bevry kan word in ’n verligte samelewing?
Adam Small het op ’n stadium verkies om hom te onttrek aan openbare diskoers, om sy digterlike stilte in protes te gebruik. Toe hy sy stilte verbreek, het hy verkies om ’n rubriek te skryf vir ’n Engelse koerant wat doelbewus afwyk van die politiese.
Sommige kunstenaars verkies om, uit vrees of dalk omdat hulle tevrede is met die regime, hul stilswye te handhaaf.
Ek wil aan die hand doen dat daai stilswye dalk meer skade as goed doen. Nie net vir die kunstenaar self nie, maar ook vir hul samelewing. Stilswye help nie slagoffers nie, dit gee die oortreders meer mag om voort te gaan met hul oortredinge.
Joernaliste het nodig om te skryf oor die wandade van politici. Satirikusse het nodig om spotprente te teken om die absurdheid van situasies uit te lig. Digters en skilders en skrywers en beeldhouers het nodig om deur hulle kuns kommentaar te lewer op hul samelewing. Wat kunstenaars uitsonder, is juis hulle vermoë om op ’n ander manier te kyk na situasies, en om daai alternatiewe lens oop te gooi vir die publiek om daarin te deel. Ons het as samelewing nodig om die alternatiewe Weltanschauung te ervaar, want dit gee gehalte aan ons lewens en keuses. Ons uiteenlopende lewensuitkyke dra by tot die simfonie van ons bestaan.
Ons kan nie wag vir politici om die regte ding te doen nie. Ons kan nie wag vir kiesers om vanself te besef hulle keuses kan hul samelewing verdoem nie. Ons kan beslis nie ons kuns skep om die publiek se oor te streel en net dit te sê wat hulle gunstig sal ontvang nie. Ons kan nie stilbly en ons waarheid versmoor omdat dit nie populêr is en ons negatiewe kommentaar wil vermy nie.
Ons is nie kunstenaars in isolasie nie. Ons identiteite is nie eksklusief verbind aan kunstenaar-wees nie. Ons is ook burgers, met verwagtinge van hoe die samelewing waarin ons lewe, behoort te lyk. Ek wil selfs so ver gaan as om voor te stel dat ons ’n plig het om te werk daaraan om daai samelewing ’n realiteit te maak. Ons het ’n plig om ons samelewing beter te maak vir almal wat daarin woon.
Stilbly gaan dit nie laat gebeur nie.


Kommentaar
Vele sosiaal betrokke kunstenaars eis eintlik maar vryheid van spraak vir opswepende pamfletskrywery. Baie min van hul preke is kuns of gefundeerde argumente. Hul goeie reg, maar moenie dit kuns (of wetenskap) noem nie.
Daar is 'n ou gesegde: "Blaf saam met die honde, hardloop saam met die hase!"
Ek is bevrees dat veel van die hedendaagse kuns en joernalistiek maar só voorkom!
Gee Trump 'n regverdige kans! Die media moet gaan kyk wie se agenda hulle dryf?
Dit is duidelik dat Bertina anti-Trump is maar dit is haar goeie reg. Verkies dat kunstenaars se waar hulle staan want dan kan mens beter onderskei tussen kuns en gemors. Die liberaliste se tyd is verby.
Kunstenaars moet betrokke raak. Ek stem saam. Hulle moet egter besef dat hulle nie altyd reg is nie. Hulle kommentaar kan ook eensydig wees, of soos in Meryl Streep se geval, baie selektief.
Sy voorspel dinge van 'n president wat nog nie in sy amp is nie, en dit klink basies of the VSA in George Orwell se toekoms gaan verval.
Haar vrese is nie heeltemal onrealisties nie, want Donald se beeld wat die media beskryf, gee duidelik aanduiding daarna.
Sy is egter selektief deur nie die huidige president te kritiseer vir sy aanvalle op persoonlike regte nie. Onder sy leiding het inteligensiedienste se regte net uitgebrei en die publiek s'n is meer ingekort. Hy het bestaande oorloë uitgebrei en die VSA by ten minste drie nuwes betrek. Meryl Streep was doodstil daaroor.
Verkeerd!
Streep het die verkeerde persoon op n verkeerde platform aangeval. Die uiteinde van die saak was dat almal haar toespraak onthou het en vergeet watter films en akteurs het pryse gewen. Dis nie die plek vir ’n politieke toespraak nie. Sy is duidelik ook een van daai bedorwe liberale Hollywood sterre.
Reg of verkeerd het sy daarin geslaag om ’n ongemak in my te skep. Sy is ’n wonderlike aktrise maar haar gedempte tirade het haar silwer spieëltjie gekraak. So jammer dat sy ’n pragtige geleentheid moes gebruik om haar voete vol modder te kry.
Vryheid van spraak hoort uiteraard tuis in enige demokrasie (oor die grense daarvan sal daar altyd 'n debat wees) en Meryl Streep het die reg om te sê hoe sy voel ... met inagneming dat daar, soos die ou mense altyd sê, 'n tyd en plek vir alles is.
My enigste vraag hieroor is: Waarom nou eers na die Trump-voorval verwys terwyl die insident twee jaar gelede al plaasgevind het? Meer belangrik, hoekom bly sy gerieflik stil terwyl Obama byna geen van sy belangrike beloftes nagekom het nie (sien die sluiting van Guantanamo Bay - om van martelings onder sy bewind nie eers te praat nie) en terwyl hy ook vir agt jaar tydens sy bewind besig was om hospitale en begrafnisse in die Midde-Ooste te bom en boonop oral ingemeng het om regerings omver gewerp te probeer kry; lande wat nie lus was of is vir Amerika se nukke en grille nie. As Meryl Streep DIT nie wil vra nie, wil ek nog die een ook vra: Hoe op Gods aarde is of kan Obama met hierdie "Frankenstein rekord" die Nobel prys vir VREDE waardig wees? Is die regte ding nie om dit terug te gee nie?
Ja, Streep bly een van die wêreld se beste aktrises, dalk DIE beste (ekself is 'n "fan" met groot bewondering vir haar talent) maar skynheiligheid, dubbele standaarde en om oneerlik met jouself te wees laat maar 'n slegte reukie of hoe Meryl? Mens sou graag ook wou hê dat Streep by die personeel van die Withuis gaan kers opsteek hoe haar geliefde vriendin, Hillary Clinton, personeel tydens hulle verblyf daar behandel het en hoe haar optrede teenoor mense in die algemeen, veel te wense oorgelaat het. Haar oorlogsugtigheid en optrede in Bengazi waar Amerika 'n ambassadeur verloor het, is saam met haar e-pos skandale doelbewus dinge wat gerieflikheidshalwe deur Streep geïgnoreer word. Oor Bernie Sanders (my man!) se geval wil mens amper nie eers praat nie. Hoe Hillary en haar "cronies" partystrukture aangewend het om Bernie uit te werk ... Weer niks van Me Streep hieroor nie. Gelukkig was daar wel 'n aktrise met durf in die persoon van Susan Sarandon wat haar sterk in die openbaar uitgespreek het teen Hillary se agterbakse manier van dinge doen ...
Subjektiewe bevooroordeeldheid is 'n normale karaktertrek by enige mens maar ten spyte van Meryl se vermoë as aktrise, het sy hierdie toets gedop; jammer Meryl 3 uit 10 vir jou. En nee, nie vir wat sy oor Trump gesê het nie, maar oor haar onwilligheid en oogklap-benadering en stilswye rondom Hillary. Obama self? Eintlik ook 'n goeie akteur met sterk demagogiese vermoëns maar baie, baie lig in substansie ...
En Trump: Hy is soos 'n missiel wat se gelei-stelsel buite werking is en kan enige kant toe gaan ... Wat hom wel anders maak is dat hy nie skrik vir groot finansiële korporasies nie, nie iemand is vir 'small talk' in wandelgange nie, nie al die propaganda en "leuens" wat die CIA en FBI opdis summier net aanvaar nie. Omdat Trump dikwels doen/sê voor hy dink weet mens nie regtig wat op ons wag nie. Net die tyd sal leer.