Bestaan nie-rassigheid nog?

  • 4

Hetsy billik of verwerplik, daar is toenemende stemme uit die bruin gemeenskap wat opgaan oor hoe problematies die ANC sy beleid toepas ten opsigte van dié gemeenskap.

Daar word gesê of gevoel die ANC se beleid niks sê van bruines se eie stryd teen apartheid en die verdediging, beskerming en verskansing van die begrip “nie-rassigheid” nie. Dat die ou apartheidspatrone van verdeling, toe elkeen veronderstel was om ʼn identiteit te hê of toe elkeen op sy plek moes gewees het, weer toegepas word.

Teen dié agtergrond van die politieke problematiek, die twyfelagtigheid en hindernis oor die begrip “bruin” as apartheidterm, nie as ʼn spesifieke kultuur, ras of etniese konstruk nie, plaas dit ʼn mens in ʼn ietwat hobbelrige posisie om dié gemeenskap intellektueel of wetenskaplik te begrond.

Ras kan nie wetenskaplik of biologies bepaal word nie. So, daar is nie iets soos ras nie; net die menslike ras. Dus die rede hoekom onderdruktes in die verlede aktief aan die ondermyning van rasseteorieë deelgeneem het.

Persoonlik is ek nie sentimenteel oor die begrip kultuur nie want dit is ʼn soepel begrip. Hoe word kultuur geverifieer? Is daar ʼn spesifieke formule of  ʼn definisie van kultuur? Kultuur manifesteer deesdae meer as ʼn globale konstruk as ʼn stabiele faktor.

Daar word reeds vanuit die geledere van die konsekwente non racialists of UDF-aktiviste geargumenteer dat bruines in elk geval vir jare die geleentheid gemis het om as ʼn tipiese kultuurgroep soos die Xhosas of Zoeloes te gedy.

Die bruin werkersklas en spesifiek diegene van die Wes-Kaapse platteland sal nie hiermee saamstem nie.

Etnisiteit is ook ʼn baie breë begrip sonder spesifieke grense, maar tradisioneel word taal en kultuur as vereistes aanvaar om etnisiteit te konstrueer.

Wat etnisiteit betref, skiet die bruines weer te kort. Konsensus ontbreek oor wat ʼn bruin taal of etnisiteit is.

Verbeel jou die bruines word bekyk en begrond as ʼn politieke begrip.

Neem byvoorbeeld bruines se deelname aan die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR), die Driekamerparlement en die destydse (pro-apartheid) Kleurling Federale Party (KFP) se steun vir apartheid in ag.

Dit het die sentiment versterk dat ʼn beduidende getal bruines kollaborators van die apartheidsregering was.

Richard van der Ross het dié sentiment met die stigting van die Arbeidersparty (AP) in 1965 as uitdrukkingsmiddel van die onderdruktes teen apartheid verwerp, maar die AP se latere deelname aan die Driekamerstelsel van 1984 tot 1994 het dié sentiment verder internaliseer.

Wat ook problematies is, só sê sommige UDF-aktiviste, is dat bruines se rol in die anti-apartheidstryd gering geag of heeltemal ontken word.

Miskien is daar ʼn saak te maak van sommige bruines se gevoel dat die eens generiese term van swart binne die kongresbeweging wat met die stigting van die UDF in 1983 traksie begin kry het, net ʼn “moment” was en dat dit na bewering vervang is met “etniese chauvinisme”.

Dit is ook ʼn regverdige vraag om te vra of nie-rassigheid dood is, en of dit ooit bestaan het, want die Suid-Afrikaanse samelewing het in ʼn mismoedige sin agteruitgegaan. Tot so ʼn mate dat minderhede toenemend neerslagtig voel omdat hulle besef hul word vanweë ras of etnisiteit uitgesluit en tot ʼn ekonomiese sukkelbestaan gereduseer.

Minderhede voel ellendig, ten spyte van die feit dat die Grondwet nie-rassigheid as ʼn waarde van demokrasie neerlê, omdat hulle voel die samelewing is terug by die ANC se vroeë wortels as ʼn swart nasionalistiese party wat ras as basis gebruik om net Africans te bevoordeel.

Oudpres Kgalema Motlanthe het op ʼn keer bevestig dat nie-rassigheid nog steeds ANC beleid is, maar wel toegegee dat die party dit nie geïnternaliseer het nie. Ook dat nie-rassigheid nie meer in die ANC se houdings en uitsprake gereflekteer word nie.

Die vraag is nou: hoe gaan minderhede dié gevaarlike verskynsel aanspreek?

  • 4

Kommentaar

  • Indien 'ras' nie bestaan nie, hoe weet die regering wie kom in aanmerking vir regstellende aksie, en na wie verwys Ramaphosa as hy praat van 'my people'?

  • Gustaf Claassens

    Indien daar nie iets soos ras bestaan nie, moet antropologie nie langer as as 'n vak regoor die wêreld doseer word nie. Denke dat ras 'n vergissing is, is in lyn met die nuutste stanpunte (modegier) dat daar OOK NIE meer iets soos geslag is nie.

    Politieke oortuiginge bepaal uiteraard die mense se sieninge hieroor. As dit nie vir Lloyd bestaan nie, beteken dit nie dat dit nie vir ander wel bestaan nie. Elkeen gaan sy siening hieroor hê en gaan sy/haar besluit vestig op 'feite' wat sy/haar siening oor die aangeleentheid is. Wat wel duidelik is, is dat daar 'n 'andersheid' bestaan. In die verband word daar gepraat en verwys na etniese groeperinge. Dit manifesteer in dinge soos voorkoms, godsdiens, kulturele gebruike, taal, politieke sienswyses ensomeer. Daar IS DUS 'n andersheid tussen mense en dis op hierdie andersheid wat mense hulleself oriënteer of nie oriënteer nie. Individueel word besluit op assosiasie of dis- assosiasie.

    As ras nie bestaan nie, is dit goeie nuus want dan kan die wêreld se probleme in 'n japtrap of dan minstens 80% makliker opgelos word. Probleem is, gaan vertel dit vir die lande en mense daarbuite. Voeg nasionaliteit by hierdie werklikheid en mens kan 'hoor' dat die pot begin 'prut.'

    Hierdie is 'n gesprek wat nie sommer-so opgelos sal word nie. Dis 'n lang debat. Intussen moet ons, as 'n begin, net eers probeer om by onsself te begin. Goeie maniere en respek vir mekaar en mekaar se andersheid kan ons ver bring voordat ons by die moeilik en ingewikkelde saak kom......... iets wat eintlik nie so hoef te wees nie. Wat van die eenvoudige gesegde van "leef en laat leef........."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top