Besselsen: "Vir my is dit kabaret"

  • 0

Gertjie Besselsen, een van die gewilde groep Mr Cat and the Jackal se voormanne, lei ook deesdae dié groep se syprojek, Besselsen. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Gertjie. Hoe’s dinge?

Lekker, man. Ek sit in Van Hunks met ’n Guinness, so dinge lyk goed.

Foto: Verskaf

Moerse geluk met die vrystelling van die eerste amptelike Besselsen-EP. Dis interessant dat julle Besselsen uit die staanspoor bekendstel as die “Afrikaanse side-project van Mr Cat and the Jackal”. Hoe lank speel julle al met die idee om in Afrikaans te skryf en op te neem? Of eerder, wat het julle voorheen verhoed om dit te doen? Watter voordele vind jy in jou werk met die twee tale onderskeidelik? Met ander woorde – wat wen en verloor ’n mens met die een of die ander?

Die skryf van Afrikaanse musiek kom al ’n lang pad aan. Die eerste keer wat ek in Afrikaans perform het, was in [die toneelstuk] Die kortstondige raklewe van Anestasia W in 2011. En daar het ek besef dit sal werk. So ons het nog altyd geweet die projek is aan die kom. Just a matter of time, soos die Engelsman sou sê. Tog het ons geweet ons wil dit apart hou van MCATJ.

Ek het grootgeword met Engelse musiek. Rock en metal bands. So om in Engels te skryf het vir my meer natuurlik gevoel. Maar so met die jare saam het Afrikaans net meer en meer begin sin maak … ook met twee belangrike produksies wat ons gedoen het – vir Slegs vir almal (geskryf deur Hennie Aucamp) en Die vlammende fez (met gedigte van ID du Plessis) het ek al die musiek getoonset, en so het ons outomaties ’n moerse klomp materiaal wat basies net daar lê. Intussen het ek gewerk aan ’n paar van my eie werke se toonsettings. Ek stel dit so as “toonsettings”, want in Afrikaans is dit meer asof ek poësie skryf en dit na die tyd toonset. Wanneer ek in Engels skryf, loop die musiek en die lirieke baie meer hand aan hand. So toe besluit ons om die show Aucamp op die planke te bring, wat ’n samestelling van ons bestaande werke was, en soos die oorspronklike Besselsen-materiaal begin meer raak teenoor die ander digters (alhoewel ons hulle nie sal uitwerk nie), het ons besluit om die projek “Besselsen” te bestempel … dis klassiek, soos Beethoven of Bach … Besselsen.

Afrikaans kom soveel meer natuurlik, noudat ek my pen daarvoor oopgemaak het, en die hele projek het ’n meer gemaklike gevoel en aanslag – dit is wie en wat ons is – teenoor MCATJ, wat meer serebraal is. Songs word stories met aparte karakters ens, en dit is nie noodwendig wie ons is nie, dis ’n verbeeldingswêreld.

Besselsen is onlangs vir ’n Kanna-toekenning benoem vir jul musiekproduksie by die KKNK. Dis bedonnerd – geluk! Vir die produksie het jy, as ek reg verstaan, self verskeie tekste van Hennie Aucamp en ID du Plessis getoonset vir dié “kleinskaalse kabaret”. Twee van hierdie snitte, “Hartstog Boulevard” (Aucamp) en “As jy moeg word” (Du Plessis) verskyn ook op die EP. Waar het jou liefde vir, en wil om te werk met, hierdie digters ontstaan? Hoe werk die toonsettingsproses by jou – hoor jy byvoorbeeld vroeg al die tempo en aanslag in jou gedagtes, of is dit ’n gestoei om die siel van die musiek en die woorde te laat saamsmelt?   

Ja, kan jy glo! Dit het ek nou nogal nie sien kom nie! Dankie. Oukei, daar hardloop ek die vraag bietjie vooruit. Dit kom van die teater se kant af … Ons is nog altyd betrokke met teaterproduksies, en komponeer vir teater is iets wat ons al jare doen.

In terme van die proses van gedigte toonset is dit ’n baie natuurlike proses. Die gedig self gee vir my als wat ek nodig het. Die trant – grappig, aggressief, dromerig of wat ook al – sal die gevoel van die musiek bepaal, en die ritme van die gedig spring gewoonlik reguit van die blad af op my kitaar – veral met werke van Aucamp wat so liries geskryf is. Daar is wel die gedigte wat bietjie van ’n stoeigeveg vereis, ja.

Oor na die oorspronklike snitte op die EP, en eerstens “Die ware verlede”. Daar’s in jou lirieke ’n soort sardoniese selfkritiek teenwoordig – soos ook dikwels in Mr Cat-liedere die geval is. Onder meer sing jy: “Ek onthou nie my speelgroepie nie/ en ook nie my Sub A-klas/ Maar ek kan my indink dat dit moes fraai wees/ Al die kindertjies van dieselfde ras”. Kom dit vir jou natuurlik om hierdie soort temas aan te raak – so half ’n kollektiewe en individuele skuld (en ontkenning daarvan) wat tromp-op geloop word? Of is dit ’n geval van opsetlik daar beweeg waar die hoofstroom Afrikaanse sangers nou nie eintlik sal beweeg nie? Is daar ’n soort terapie, of heling, of bloot oukeierig-word in musiek skep oor kwessies soos dié? Of is dit eintlik maar steeds protes?

Vir my is dit kabaret. Dis die aanslag. Dis tongue-in-cheek. In Afrikaans voel dit net weer eens nader aan my, en vat dit soms ’n meer persoonlike aanslag aan, maar dit is nog steeds ’n spieëlbeeld van die samelewing. Maar ook, ja, ek beweeg definitief in die teenoorgestelde rigting as die hoofstroomsangers se kak tematiek … en dit kom baie natuurlik vir my.

“1924-2003” is ’n heerlike lied wat donker waarhede met ’n ligte aanslag takel. Dis ook meer in ’n tipe storytelling effek om hierdie waarhede aan te roer. Hoe werk hierdie tegniek vir jou, in terme van wat jy wil oordra en hoe, in teenstelling met byvoorbeeld ’n eerstepersoonsvertelling? Waarmee is jy meer gemaklik? Tog, later slaan dit oor na eerste persoon, met die minder-as-vleiende opmerkings oor die oupa. Ek merk op jy’t spesifiek in die SoundCloud-beskrywing gesê alle karakters is fiktief. Waarom het jy gevoel jy moet dit darem net uitklaar in hierdie spesifieke lied?

Ja hel, daai blerrie treffer … Dit is vir my belangrik dat die metafoor in die lied raakgesien word, en dat mense nie dink dis ’n feitelike storie oor my eie oupa en ek wat dink hy was ’n doos nie … dis nie die punt nie. Dis ’n kollektiewe oupa. Dis ’n generasie. Dit is die situasie waarbinne hulle grootgeword het, en die tipe mentaliteit wat in daai tydsgees geheers het … dit was moeilike tye. Maar ek weet mense luister nie regtig nie … hulle sal daar sit deur die hele song en aan die einde gaan: “Ja, my oupa was ook ’n doos” (#faceplantemoji).

Die EP is betreklik kort, met vier snitte. Amper elke groep het deesdae ’n unieke, eie filosofie oor die beste manier van musiek uitreik – volledige, harde albums versus digitale snitte sporadies loslaat. Wat verkies jy, en waarom het Besselsen (in hierdie stadium) op die korter, digitale EP besluit? Wat verloor ’n mens met so ’n benadering, en wat wen ’n mens? Hoe sal Besselsen in die toekoms hiermee wil omgaan?

Tyd en geld is maar altyd die hooffaktore. Ek verkies definitief die volledige langspeelplaat, Dark side of the moon style, maar ons werk met ’n strategie tussen al die musiek deur. Ek wou graag net iets daar hê om die Besselsen-projek bekend te stel. Ek wil shows book. Ons het ’n show by KKNK, maar daar is niks van ons aanlyn nie. Dit was basies ’n twee-dag recording, en so live as moontlik. Ons het in studio gegaan en die tunes gejam soos ons dit live speel. Sien, ons is tans besig met die pre-production van ’n nuwe MCATJ album – hy’s klaar geskryf. Ons wil dit eers vrystel, dalk ook sporadies, maar ons sal nog sien.

Met ’n nuwe album kom toer en baie gig. Besselsen kan dan naam bou intussen. Op die rug van die nuwe MCATJ wil ons dan volgende jaar ’n volledige Besselsen-album vrystel. Ons probeer bietjie afwagting skep … Dit gee my ook tyd om aan nog ’n paar tunes te werk.

Met Besselsen is jy nou amptelik ’n rolspeler op die Afrikaanse musiekfront, na (en tydens) Mr Cat & the Jackal se jare lange bestaan. Hoe beskou jy die Afrikaanse toneel en bedryf, as iemand wat vir so lank half buite dit gestaan het, en nou half binne staan? Wat dink jy kan en moet verander, en hoe sien jy jouself en Besselsen as deel van daardie verandering?

Sjoe, ’n rolspeler … nice. Ek dink ek staan nog op die drumpel van régtig die Afrikaanse musiekbedryf betree. Tot dusver was als nog binne die vaandel van teater, en daarbinne, soos jy reeds weet, is ons baie gemaklik. Wat interessant is van die Afrikaanse teaterindustrie is dit is baie klein, maar word baie lojaal ondersteun. Daar is trusts en organisasies wat sorg vir die vooruitgang en volhoubaarheid van Afrikaanse kunste. Sulke dinge bestaan nie in die Engelse alternative rock wêreld van MCATJ nie. Dit is dalk omdat Afrikaans so ’n klein taal is dat dit bedreig voel, en daarom so baie ondersteuning vir vooruitgang sien. Mense kan so patrioties wees oor die taal. Mense kom sê vir my dankie na vertonings … nie vir die goeie musiek nie, maar vir die feit dat ek Afrikaans sing. Dit is vir my bietjie vreemd.

Mense sê ook vir my daar is nie op die oomblik iemand wat dieselfde tipe eerlike Afrikaanse rock ’n roll maak nie … wat blykbaar herinner aan die Voëlvry-beweging. Of dit waar is, nou ja. Tog, met die ondersteuning van die bedryf is daar nie ’n buzz oor die scene nie. Jammer ek meng nou so my taal, maar ek weet nie hoe om dit anders te stel nie. Word of mouth is nog steeds jou sterkste bemarking, maar mense praat nie meer oor bands en shows soos byvoorbeeld in die Fokofpolisiekar/MK-dae nie. Met die internet en Facebook deesdae word mense bombardeer deur informasie. Om mense se aandag te trek met jou band se poster of live show is baie moeiliker as 10 jaar terug. Maar ek glo als werk soos golwe, en die live musiek-industrie sal weer opstaan … Nie dat hy heeltemal lê nie.

Soos hier bo genoem, is jy al ’n meer-as-gesoute musikant, met sekerlik honderde gigs, toere en dies meer agter die rug. Wat staan vir jou uit as hoogtepunte as jy terugkyk na die tyd tot dusver? Enige voorvalle wat jy eerder sal wil vergeet? Enige agter-die-skerms-stories so belaglik dat niemand dit glo wanneer jy dit oorvertel nie?

Ja, daar is baie stories … van gou deur ry Joburg toe om Ramfest te speel en dadelik terug te ry Kaap toe om betyds te wees vir ons slot by die Kaapstad-Ramfest ... Tot ’n vrou wat óf vir ons haar tiete wil wys óf ons wil moer – was moeilik om vas te stel – maar dit was in Hartebeespoortdam en lyk my die water daar affekteer die mense sleg … In elk geval, sy wou hê ons moet Juanita du Plessis speel – en sy was omtrent ons enigste audience member (behalwe vir die kitchen staff). Ongelukkig is Juanita nou nie juis in ons repertoire nie. Later is ons amper gemoer oor die skoene wat ons dra. Harties, man…

Hel, wasbak-lasagna in Bloemfontein, want die eienaar van Mystic kan nie ophou tequila gooi nie. Moerse gehore by ‘Koppi en ander feeste soos Park Acoustics. Ure op die pad. ’n Toer in Engeland waar die inwoners met jou wil praat oor die Boereoorlog as hulle hoor waar jy vandaan is … die fokken Engelse, lol. Ons is al ’n paar keer op Mosambiek toe vir die feeste daar, en dit bly altyd ’n hoogtepunt. Dit is ’n voorreg om so baie ongelooflike mense regoor die land te ontmoet en saam met hulle te kan kuier.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Gertjie Besselsen, en vir Besselsen, in so verre jy dit kan beheer?

Ek dans hier rond met ’n moerse klomp hooi op my vurk. MCATJ, Besselsen … dan is ek betrokke by Taleswapper en Champions of the Sonarverse saam met DJ Invizable ook. Ek gee klas by AFDA en ons het ’n workshop-spasie in Maitland waar ek sweis en bou. Meestal teaterstelle, maar ook TV- en film art department stuff … ’n ou moet maar sy potjie krap.

Wat is die sin van die dood?

Ek dink dis belangrik om te weet mens se tyd is beperk. Dit dryf mens. As ons geweet het ons gaan vir altyd lewe, sou almal net hier rondgelê het en fokkol doen.

Foto: Verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top