
“Beroof deur wou” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Beroof deur wou
’n Geelbekwou het my beroof van my toekoms saam met jou.
Ek, ou Frans, het nog altyd gewen, en jy was die een saam met wie ek dit vier. Of dit nou my heel eerste vyftig meter resies was in sub A, of interskolerugby in matriek, of beste wynmaker op universiteit. Daar is niemand anders saam met wie ek dit wou vier nie. Ek wankel sedert jy weg is.
Ons albei het in Kaaps-Hollandse plaashuise grootgeword, waar jy agter toe deure huil. Julle was ons bure, die wynpryse was goed en die lewe was lekker.
Mart-Mari.
Binne sekondes het jou naam ’n vloekwoord geword. Niemand wil dit voor my sê nie. Bang ek bars uit in trane of ek jaag weer weg op my motorfiets. My mense troos my vandat jy weg is met ’n hand op die skouer en staar blinkoog saam met my die verte in, praat dan oor onbenullighede.
“Dit gaan lekker reën die winter.”
“Ja-wat.”
Niemand wil sien hoe ek huil nie, want Frans is mos die een wat altyd lag. Frans, die grapgat. Niks kan vir Frans onderkry nie. Elke oggend wanneer ek my oë oopmaak, voel dit of ’n voorry my wind uitslaan. Dan stap ek alleen die wingerde in.
Tussen rye stokke met skilferbasse en dun kronkeltakke, kaal gepluk, gaan sit ek plat op die grond en probeer ons gesprekke onthou. Hier kan ek met jou praat. Hier kan ek hardop jou naam sê sonder dat almal om my verstyf. Nooit het ek geweet verdriet maak ’n man se kop deurmekaar nie. Ek weet jy gaan nou vir my lag, maar dis hier waar ek jou nog kan voel.
As jy nou hier was, sou jy sê: “Jy’s simpel, Frans, hoe kan mens iets voel wat nie meer daar is nie?”
Já, hier tussen jou weggooistokke. Enige ander boer sou die moeite spaar en liewer ’n duurder graad-een-stok plant. Tog het jy hierdie tweedegraadse wingerdstokke drie jaar gelede geplant. Jy het bly sê die stokke se dikte en die wortels se lengte is eersteklas. Jy is nie enige ander boer nie. Jy het hulle natgegooi en gekoester. Toe die stokke later bot, het jy opgewonde vir my ’n e-pos oor die water gestuur.
Dalk was dit jou vrouehand se koestering. Dié dat hulle vanjaar hulle eerste oes gelewer het. Nou is hulle welsynstokke.
Jy is lief vir boer, veral in hierdie deel van die wêreld. Is jy net so lief vir die plek waar jy nou is?
Na universiteit is jy reguit plaas toe. Jy kon nooit verstaan hoekom ek so lank oorsee rondreis nie.
Toe jy, groentjie, uit Elsenburg julle familieplaas by jou pa oorneem, het van die ander boere in die kontrei geterg en gespot: “’n Vrou hoort in die kantoor, nie op ’n trekker in die wingerdland nie.”
Ek wou nog sê.
Ek is jammer ek was nie dié eerste paar jaar hier om daardie egoïstiese wynboere te bliksem nie. In jou e-posse het jy nooit vertel hoe moeilik dit is vir ’n dinamiese vrou om ’n boerdery te bedryf tussen ’n klomp uit-die-oude-doos wynprodusente nie. Al het jy tussen hulle grootgeword. Dit was jou pa wat my pa vertel het, en ag, jy weet, my pa praat nie baie nie. Die aanlyn ding kon hy nog nooit kop nie. My ma was die een wat my toe vertel het. Gesê dit gaan swaar met jou. Jy wil nie eers meer Agrimark toe gaan nie.
Nou kan ek bieg: Dit het my besluit om terug te kom aangehelp.
Ons jongdroom was om saam ’n wynkelder te bou en die beste Shiraz te maak wat die Boland al ooit geproe het. Ons jongdroom was ’n belofte dat ek nooit alleen sal wees nie. Noudat ek jou e-posse oor en oor lees, slaan die besef my. Jy was so bitter alleen. Jou e-posse het korter en korter geraak.
Liefste Frans-man
Dit gaan goed in die Boland. Die seisoen het begin draai. Ons gaan dalk hierdie jaar vroeër begin pars. Die eende het weer vir die volgende paar maande by die dam kom kuier. En dan het jy afgesluit: Frans, mis jy nie die Boland se kleigrond nie? Liefde en groete, MM.
Ek het nooit geweet wat dit is om te mis nie. Seker omdat ek altyd gedink het alles wag vir my by die huis. Dit is hoe vol ek van myself was. Ek het nooit besef verloor slaan die lus vir lewe uit jou uit nie. Mens moet eers verloor voor jy mis en eensaamheid leer ken.
Ek hoor nog jou stem.
“Frans, kom ons gaan die naweek Langebaan toe.”
“Wat van pizza op die dorp vanaand?”
“Vertel weer van daardie dorpie in Spanje wat in die kloof gebou is.”
Jy wou nog altyd die wêreld sien. Ek wou jou so graag Toskane toe vat. Hulle koester die hele wynmaakproses deur alles met die hand te doen. En die boer wat vir sy wingerde Mozart speel. Hy glo die stokke hou van klassieke musiek en produseer dan beter. Van al die plekke, raai ek, sou jy dit die meeste geniet. Naas die Boland, natuurlik.
Jy het dikwels gewonder na watter naamgenoot in die Bybel jy aard. Marta of Maria. Jy is albei. Jy het altyd geweet wanneer jy soos Marta moet hard werk en wanneer jy soos Maria net moet stil word voor God. Jy het ’n gawe gehad om die seisoene te verstaan, so ook het jy elke deel van jou lewe in ’n seisoen gesien.
“Dit sal weer reën, Frans. Die son sal weer skyn.”
Die dag toe ek besef jy is onvervangbaar, onthou ek goed. Jy het weer oor seisoene gepraat.
Dit was my eerste jaar terug op die plaas. My eerste pars agter die rug. Die laaste parswaens Cabernet Sauvignon was op pad kelder toe. Ons het vir oulaas tussen die wingerde geloop. Ons albei se bakkies het ge-idle, want ons wou net vinnig vir mekaar kom geluk sê met ’n goeie oes voor ons moet regmaak vir die Oesaf-dans. Jou arms en bene bruin gebrand na twee maande op ’n trekker in die son. Die laaste paar weke se spanning was weg. Jy was rustig en gelate.
Jy het gesê: “Winter is die seisoen waar ’n wingerdstok net kan wees sonder om te streef en die nat grond kan geniet voor hy hom weer regmaak vir die harde voorbereiding van vrug dra. So het elkeen sy eie seisoen.” Van onder jou breë sonhoed het jy opgekyk na my.
Die strale van die son in jou groen oë. Alles van jou het alles binne my aan die brand gesteek. Ek het jou rol in my lewe misken. Nie besef wat jy regtig vir my beteken nie. Jy was altyd daar vir my met of sonder al my wenne. Net daar in die wingerd, terwyl ons bakkies idle, het ek besef ons jarelange vriendskap was maar net die fondament vir soveel meer.
Al wat ek by die Oesaf-dans wou doen, is om jou agter die landbousaal vas te druk. Liedjie na liedjie het ons op die dansbaan gedraai. Ons het al baie gedans, maar dié keer was anders. Ek het jou nie agter die landbousaal gesoen nie. Ek het nie eers vir jou gesê dat ek nou anders voel nie. Ek was arrogant om te dink daar is altyd ’n môre. Hoekom haas? Ons moet eers die kelder opbou. Ek wou eers my huis klaar bou. Ek wou eers vir jou uitwys ek het grapgat-Frans in Europa gelos. Môre. Volgende week. Eendag.
Ek wou nog.
Wil jy weet dit het sestig millimeter gereën dié week? Of maak dit nie meer saak waar jy nou is nie?
Wanneer die reën vir ’n paar uur sterk val, bel jy gewoonlik op die landlyn en vra of ek die waterval teen die berg deur die kombuisvenster kan sien.
“Nog nie,” is jy teleurgesteld.
“Jip, hy val sterk,” giggel jy kinderlik en sê, “net volgende week, Frans, klim ons op en gaan dans onder die waterval.”
Volgende week het nooit gekom nie.
Sedert daardie dag. Dit het begin reën. Die laatslaper-geelbekwou, wat nog nie ’n warmer tuiste vir die winter gaan soek het nie, het nóg een van jou kuikens gegaps. Jy was net mooi gatvol vir die voël wat elke week vir hom een van jou kuikens vang. Jy wou die roofdier se nes afbreek en sodoende dwing om te migreer. Plaas jy na die werkers geluister het. Plaas dat ek jou kom help het. Soms is ek kwaad omdat jy op daardie leer geklim het in die reën. Soms verwyt ek myself, maar ek blameer die blerrie geelbekwou wat nou êrens in die noordelike halfrond roof.
Jy het geval.
Sedertdien dink ek baie: Ons was nog al die jare in dieselfde seisoen; dit was ek wat gekies het om te migreer. Jy wou plaas toe om te begin bou aan die droom en ek wou oorsee gaan rondrits. Vir wat? My jongmenslewe geniet? En toe kom ek terug om rustig te raak en te bou aan ons toekoms. Tóé los jy my alleen met jou welsynstokke. Die stokke wat nou in die winter lekker kan versamel terwyl ek swoeg om elke dag sterk te staan teen die wind wat deur die gate waai wat jy gelos het.
Ek wou nog vir jou vertel.
Wihan en Susan is weer swanger. Dié keer gaan hulle die babatjie hou. En my niggie is nou skoon van borskanker. Derek en die manne wil Desember Mosambiek toe, onthou jy, ek en jy wou die N7 opvat Windhoek toe.
Die Here weet ons het nog só baie planne gehad.
Jy is die een wat goed is met woorde en diep dink. Hierdie is moeilik vir my. Ons paadjies was nog altyd gelyk en maklik. Ek weet nie of ek kans sien vir hierdie afdraaipad waarop ek nou struikel nie. Op geen tydstip in my lewe het ek gedink sulke pyn bestaan nie. Tot die dag dat ek jou lewensloos langs die leer sien lê het.
Ek wens ek kan jou volg.
Pleks ek het jou daai aand agter die landbousaal gesoen. Ek kan myself skop. Want eendag het nooit gekom nie. Al wat ek oor het van jou, is ’n visielose kelder, ’n halfgeboude huis en die liefde wat jy hier gelos het.
Ek is só bitter jammer jy kan nie oud word nie. Jy sou soos jou ouma die plaas platgeloop het op negentig. Vir jare wou ek dit nie erken nie, maar ek het altyd myself êrens in daardie prentjie gesien.
Wanneer ek saggies werk met die perde of saam met die laaities krieket speel, het jy altyd gesê ek sal ’n goeie pa maak. Nou is dit nie meer moontlik nie. Aan die toekoms wil ek glad nie meer dink nie. Dit het sy sin en opwinding verloor. Boonop maak dit te seer, want jy gaan dit nooit sien nie.
Ek mis jou. Ek mis jou meer as dié lewe. Die Here hoor my hart, ek wens ek kan jou net nog een keer in die oë kyk. Want ek wou nog vir jou sê: Trou met my.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

