afgeluister by ’n apu
eendag het die berge net begin loop
hul rotswortels losgewikkel
en in die pad geval
som het glad uit die grond geglip
som het stede saamgesleep
die samekoms in Peru
is deur die water oorvertel
tussen valleie en oor kontinente heen
sodat alklip reeds in haar murg
van die ontmoeting geweet het
Apu Pitusiray het die Heilige Vallei
vir hul aankoms voorberei
die apus in die omte het ’n vlakte oopgevou
die Willkamayu het nadergeseil
die Himalajas en Alpe het afvaardigings gestuur
Hoerikwaggo en Kilimandjaro is ook ingeroep
konsultante uit die Kaukasus
diplomate uit die Maluti’s
’n handvol werwels uit die Cordilleras
die Rockies, die Andes, die Sierra Nevada
die Atlasberge, Ruwenzori, Kiso, Kabir Kuh, Uraal
Hindu Kush en Titiwangsa,
akwatiese verteenwoordigers uit elke see
die sametrekkers het hul pad
deur die aardkors oopgekloof
oseane is rondgegooi
hul kielwater het kusstede platgekam
mense is soos anchovies verstrooi
’n planeetwye geroggel en ’n geruk was dit
’n boaardse gebewe van tektoniese plate
soos ’n skare grys engele
wat sterf van die koue
op die warmste somersdag van die eeu
die bergtrop het vermeerder
hul droogte by die Willkamayu geles
en saam neergeploeg
– nog ’n skokgolf om die bol –
hul plastieklywe het die skemer vol gesit
toe die son vergaan
het hulle brandstof vir die middel geskenk
bosse en huise en velde en landerye
enigiets wat ontvlam en na verwoesting ruik
Papito Pitusiray het die offervuur aangesteek
die pieke het saamgedrom
om die hitte teen hul yskoppe te voel
om hul weerkaatsings in die vlamme te bekyk
om die oerstorie van vertering
voor hul grot-oë te sien dans
die geween het in hul klipskote aangegroei
hulle het gedreunsing met die akoestiek van klowe
die aarde het vir oulaas gebewe
soos die dag toe die eerste berg uit die see verskyn het
en dit was voldoende
die grondgesante het gaan slaap
en in die donkerdag opgestaan
hul roet afgeskud,
mekaar se groete geëggo
en die stiller tog huis toe aangepak
Lees al die Mondig-gedigte hier:


Kommentaar
En Olimpus in vermomming?
Briljant ...
Great!