Ben kraai koning

  • 0

Foto: Canva

Ben kraai koning

Terwyl ek en my broer my pa se windpompe op sy plaas Dwaalfontein in die Groot-Karoo nagaan, sien ons ’n kraaines op die houtplatform van ’n windpomp. My broer klim met die staaltrappies boontoe. “Hier’s ’n kraaikuiken in die nes!” roep hy uit. Hy sit dit in sy baadjiesak en klim af. Die kuiken se veertjies is nog sag. Hy is groot genoeg om met die hand groot te maak. Ons besluit om Ben, soos my broer op sy naam besluit het, huis toe te neem en groot te maak. In die kajuit van die bakkie sit ek in my noppies met die klein kraai op my skoot, terwyl ons huis toe ry. Ben sit my met groot oë en aanstaar.

By die huis aangekom, draf ek kaalvoet stoorkamer toe om die regte kartonboks te kry. Ek kry net die regte grootte, groot genoeg om later die uitgegroeide Ben se huis te wees. Ek knip ’n stuk ogiesdraad vierkantig, groot genoeg om oor die boks te span. Nou eers hoenderhok toe. Ek versamel genoeg sagte donsvere vir Ben se bed wat ek in die boks sit. ’n Leë kondensmelkblik sny ek met die blikskêr kleiner. So-ja, Ben kan sy waterbakkie bykom. Om ’n stewige tak van die blomperskeboom wat ek maklik kan bykom, maak ek die boks vas. Ben sit in die boks op sy bed. Hou die bekkie oop vir kos.

Op ’n mik van die stokoue, groot moerbeiboom langs die leidam is die beste wegkruipplek tussen die lowergroen blare om mossies in te wag en met my windbuks te klits. Dit neem nie lank voor twee mossies neerstort nie. Met my knipmes sny ek een mossie in klein stukkies op en sit dit in die boks. Ben sukkel om dit in sy bek te kry. Ek haal hom uit en voer hom. Ek gaan voort om Ben te voer tot hy self kan vreet. Hy groei vinnig en spog met ’n drag blinkswart en wit vere.

Die algemene opvatting van die boere in ons omgewing is dat net swart kraaie geleer kan word om te praat. So sê my pa ook. Vasbeslote om die teendeel te bewys, begin my kraai se spraaklesse. Hy is aan my genade oorgelewer. Ek sê: “Haai, haai, howzit?” en: “Hallo, ou Ben.” Oor en oor. Ek verbeel my ek is sy sub A-onderwyser. Ek herhaal die sêgoed, tydig en ontydig. Hoewel hy op sy sy gaan lê ter verdediging van my harde skreeuery, weet hy hy kry kos en skoon water voor elke les. Een oggend kry hy “haai, haai, haai” uit. Ek is verstom. ’n Paar dae later groet hy homself met: “Hallo, ou Ben.” Sy pratery is ’n groot aardigheid vir al die plaasbewoners. Hulle dink Ben is baie beleefd om na hulle welstand met “haai, haai, howzit?” te verneem.

Die nuus oor my pratende kraai versprei vinnig per riemtelegram en plaastelefoon. Die eerste Saterdag na Ben se pratery by my ooms en tantes bekend geraak het, stop hulle voertuie die een na die ander op die werf. Ek por Ben aan om te praat. Hy stel my nie teleur nie. Die mense lag tog te lekker. Ek word op die skouer geklop. Ons vier my en Ben se sukses met sjokoladekoek, koeksisters en kleinkoekies. Die grootmense drink tee. Ben kry mossievleis.

Toe ek sien Ben is volwasse, haal ek hom uit die boks en sit hom op die grasperk neer. Hy gee sy eerste paar wankelrige treë. Dit gee my hoendervel. Saans word hy in sy boks gesit. Sy vlerke word al sterker. Met ligdag loop ek kraal toe om te help koeie melk. By my terugkeer is ek net-net betyds om Ben kort entjies te sien vlieg. Asof hy die baas van die plaas is, paradeer en vlieg hy oral rond.

Ben het ’n onnutsige streep. Een middag slag ’n werker ’n skaap in die agterplaas. Tydens die proses haal hy die derms van die karkas uit en sny stukkies afvalvleis af vir die werfkatte. Die katte verdring mekaar om die smaaklike happies op te raap. Ben vlieg van iewers af en stryk tussen die katte neer. Hy kry ’n kat wat hom wil voorspring, aan die stert beet en gee dit ’n pluk. “Haai, haai, haai,” raas Ben. Die katte skrik en hardloop weg. Ben pik ’n stukkie vleis op en vlieg dak toe waar hy dit opvreet.

Hy het my broer se fluit waarmee hy sy hond geroep het, perfek nagemaak terwyl hy in die perskeboom sit. Dié het van agter die opstal gehardloop om na sy baas te soek. Ben het menige oggend heerlik in die perskeboom gesit en gesels. Ons bejaarde tuinwerker Frank Mbalula het van vele jare se pyprokery chronies gehoes. Ben hoes net so. Papegaai se Moses.

My ma het die gewoonte gehad om voor sy gaan slaap, haar bril op die vensterbank van die slaapkamer voor ’n oop venster neer te sit. Ben het dit vroeg een oggend, terwyl my ouers nog geslaap het, beetgekry en iewers in die tuin begrawe. Ons kon dit eers na ’n lang soektog opspoor waar Ben dit onder fyn gruisklippies weggesteek het. Ek onthou die dag toe daar skape in die klipkraal naby die huis gedoseer is. Een van die werkers het sy pyp op die kraalmuur gelos. Ben het dit opgepik en daarmee weggevlieg. Op die nok van die opstal se sinkdak het die rakker dit neergesit. ’n Rukkie lank het hy daarmee gespeel, dit net daar gelos en op ’n ander missie vertrek. Die werker moes op die dak klim om sy pyp terug te kry.

My broer en sy vriend wat saam met hom op Grootfontein Landboukollege was, het een naweek saam met twee meisies van Middelburg op die plaas gekuier, vertel hy. Die vriend en sy meisie het die Saterdagmiddag na ete in ’n spaarkamer gaan rus. Die blindings voor die venster was dig toe. Hulle was nog besig om te lê en vry, toe Ben, wat intussen op die vensterbank buite die kamer gaan sit het, “haai-haai-haai”. Hulle dog dis my pa wat met hulle raas en het verskrik weerskante van ’n enkelbed afgerol.

Ek is in standerd ses hoërskool toe in Bloemfontein, waar ek in die seunskoshuis gebly het. My geliefde kraai kon ek net al om die ses weke sien. Hy het dan aangevlieg en vraend voor my kom sit.

Eindelik het die natuur seker maar te sterk geroep en Ben het vir altyd weggevlieg. Ek wonder of hy met sy gepraat vir wilde kraaie konsert gehou het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top