Beleidskrisis verdeel DA in wit en swart

  • 2

Die erge verdeeldheid binne die DA en Mmusi Maimane se bedanking as partyleier het sy oorsprong in dié party se gebrek aan ’n duidelike beleid oor sleutelkwessies soos ras, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie wat jammerlik op ’n rasseverdeeldheid tussen wit en swart uitgeloop het.

Die DA se beleidsonsekerheid was ’n groot dilemma vir Maimane, want die party is koersloos sonder enige werkbare idees of beleid om antwoorde vir die komplekse politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings na apartheid te bied.

Boonop het die DA die afgelope jare Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde met uiteenlopende ideologiese uitgangspunte getrek. Dit het enorme druk op Maimane se leierskap geplaas om verskillende belangegroepe met uiteenlopende agtergronde binne dié party gelukkig te hou.

Hiervoor (bedoelende vir dié beleidstekort), het ek vroeër vanjaar in ’n Engelse nasionale koerant geskryf, gaan Maimane nog ’n duur prys betaal. Dit het gevolg nadat die jong en onervare voormalige beleidshoof van die DA, Gwen Ngwenya (30) uit dié invloedryke pos in dié party bedank het. Dit nadat Ngwenya gefaal het om enige nuwe DA-beleid te formuleer.

Wel, Maimane het nou dié hoogste prys betaal deur as partyleier en parlementslid te bedank.

Om Ngwenya aan te stel was ’n taktiese fout van Maimane, omdat sy, wat ’n nuwe DA-beleid oor SEB moes opstel, eintlik ’n klassieke liberalis is wat teen SEB en regstellende aksie gekant is.

Op sy beurt staan Maimane ’n verbreking met die DA se ou wit liberale tradisie voor. Dit bots lynreg met Ngwenya se kredo en gevolglik het sy ook na die Mei-verkiesing as DA-LP bedank. Dié paradigmaskuif is geïllustreer deur Maimane se aankondiging in Oktober 2016 dat die DA voortaan gaan “verswart” sodat alle partystrukture, van tak tot nasionale vlak, teikens moet stel vir die “werwing en ontwikkeling van uitmuntende swart kandidate vir openbare ampte”.

Dié aankondiging was die voorloper vir die DA se skuif van ’n klassieke liberale party na ’n sosiaal-demokratiese party en Maimane se benadering tot ras.

Maimane se stelling dat “as jy nie sien dat ek swart is nie, sien jy my nie” is tekenend daarvan dat hy die (klassieke) liberale tradisies van die DA direk gekonfronteer het.

Dit het die DA in twee groepe – die een swart (sosiaal-demokrate) en die ander wit (klassieke liberale) – verdeel wat nou verbete om die siel van die DA veg. Die slagoffer van dié stryd was ironies genoeg Maimane self.

Maimane en sy mede- swart sosiaal-demokrate in die DA het die ideologiese oorlog verloor, nadat die klassieke liberaal en kolonialis Helen Zille tot die invloedryke pos van voorsitter van die federale raad verkies is.

Zille word as leier van die “regse element” onder swart DA-lede beskou, waarna Herman Mashaba verwys het toe hy op 21 Oktober sy bedanking as uitvoerende burgemeester van Johannesburg en DA-lid aangekondig het.

Dit beteken die slagordes tussen die wit en swart DA-lede is nou opgestel, want Zille het vroeër aangekondig dat indien sy verkies sou word, sy die DA terug sal neem na die “ou dae”.

“I cannot reconcile myself with a group of people who believes race is irrelevant in a discussion of inequality and poverty in South Africa. The election of Helen Zille as chairperson of the federal council represents a victory for people in the DA who stand diametrically opposed to my beliefs and value system, and I believe of those of most South Africans of all backgrounds,” het Mashaba gesê.

Die spanning wat nou hoogty vier in die DA, is ook voorafgegaan deur die swakker vertoning van die DA in die Mei-verkiesing en selfs daarna in die mees onlangse munisipale tussenverkiesings waaraan die party landwyd deelgeneem het.

Is Zille veral op ’n missie om die klassieke liberale waardes van die DA en sy voorgangers soos die Progressiewe Party en die Progressiewe Federale Party te herstel? Uit onderhoude in die media is dit duidelik dat sy hoofsaaklik doenig is om drie kernpunte in die DA te herstel, naamlik:

1. Klassieke liberalisme

Ideologieë het veral die gang van die geskiedenis van die 20ste eeu beïnvloed, in so 'n mate dat kommunisme deur die Russiese Revolusie van 1917 tot gevolg gebring is wat tot die vorming van die Sowjetunie gelei het.

Nazisme, waarin rassesuiwerheid en rassehoogwaardigheid fundamenteel was, was die ideologie wat Hitler en Nazi-Duitsland gevolg het.

Die voormalige Sowjetunie was bekend daarvoor om kommunisme te versprei, onder die slagspreuk “Workers of the world unite”. Gevolglik het dit in konflik gekom met wat toe bekend was as die Weste, wat eintlik liberalisme was, die dominerende globale ideologie.

Weens die tekortkominge wat 'n menigte ideologieë soos liberalisme ervaar het, het akademici reeds in die 1950’s begin spekuleer oor die toekoms van ideologieë, tot so ’n mate dat die Amerikaanse sosioloog, skrywer en joernalis Daniel Bell aangevoer het dat die ekonomie oor die politiek geseëvier het.

In die laat 1980’s het die Amerikaanse politieke wetenskaplike en skrywer Francis Fukuyama selfs aangevoer dat liberalisme uiteindelik oor alle ideologieë getriomfeer het.

Dit was wel so, veral in die 1970’s wat gekenmerk is deur ekonomiese krisisse aan beide kante van die Atlantiese Oseaan. Toe het liberalisme hom toenemend binne die hoofstroom bevind. Liberalisme is verder uitgebou deur privatisering asook om belasting vir die rykes te sny.

Vandag is liberalisme wêreldwyd onder druk en veral verantwoordelik vir die opkoms van populisme en regse nasionalisme omdat dit gepropageer was onder die dekmantel van “daar is geen alternatief nie”. Verder is liberalisme gekombineer met kapitalisme dodelik omdat dit bydra tot groter wordende ongelykheid en sosiale uitsluiting van arm mense, tot so ’n mate dat dit verantwoordelik is vir die ekonomiese krisis van 2008, die opkoms van rykdom en mag soos vervat in die Panama-dokumente, die verval van openbare onderwys en gesondheid, die opkoms van Donald Trump, rassisme en etniese chauvinisme, asook die mislukking van linksgesindes.

Hier in Suid-Afrika, en verder op die Afrika-vasteland, het liberalisme ’n problematiese geskiedenis, veral omdat dit op kleurblindheid geskoei is wat nie strook met ons koloniale en apartheidswerklikheid nie. Dit ontken of ignoreer ras en klas, terwyl die historiese benadeeldes reeds deur middel van ras en klas benadeel is. In die hele Afrika word liberalisme verafsku omdat dit as ’n Westerse projek beskou word wat groeps-/kultuurregte miskien.

Liberalisme staan staatsinmening teen en sorg dat die markte seker maak elkeen verdien wat hom of haar toekom. Vakbonde word geringskat en kompetisie definieer menslike verhoudings. Armes wat nie kompeterend is nie, word gemarginaliseer.

Miskien moet die DA liewer ’n vorm van moderne liberalisme probeer. Dit is vriendelik teenoor staatsinmenging en fokus veral op die herstel van ekonomiese onregte.

Wat het van Maimane se Afrika-liberalisme-projek geword? Hy het destyds dinamies daaroor gepraat, maar blykbaar is dié projek nooit begin nie. Met Maimane se vertrek uit die DA blyk so ’n projek vergesog te wees.

2. Wit reaksionêre Afrikaanse kiesers

Die DA se hersieningspaneel bestaande uit Tony Leon, voormalige DA-leier, Ryan Coetzee, oud-DA- strategiese hoof, en die bankier Michiel le Roux, wat veronderstel was om ’n verslag saam te stel om dié party te hernuwe, het onder meer voorgestel die DA moet weer na wit reaksionêre Afrikaanse kiesers vry.

Dit volg nadat ongeveer 300 000 wit Afrikaanse kiesers die DA verlaat het en vir die prowit Vryheidsfront Plus in die Mei-verkiesing gestem het.

Die vraag is hoe die DA dit gaan doen. Watter beleid en beleidsboodskappe gaan hy formuleer om die wit Afrikaners terug te wen? Hoekom sou wit Afrikaanse kiesers vir die DA so spesiaal wees? Hoekom sou die mening van die konserwatiewe Hermann Giliomee so belangrik wees dat die DA paniekbevange agter wit Afrikaanse kiesers moet aanhardloop?

Dit moet gevra word veral in die lig daarvan dat die DA hom spesifiek daarop toespits om die ANC as regering te vervang en dat die plafon onder sy wit Afrikaanse en bruin kiesers reeds bereik is.

Dit sal heel interessant wees hoe die DA dié turksvy sal aanpak, aangesien minderheidspolitiek in die konteks van ons apartheidsverlede en huidige Wes-Kaapse politiek problematies is.

3. Wes-Kaapse bruin kiesers

Die DA gaan hom ook blykbaar daarop toespits om veral Wes-Kaapse bruin kiesers se steun terug te wen nadat ’n beduidende aantal bruin kiesers vir Patricia de Lille se Good-beweging gestem het omdat hulle ontevrede was oor hoe die DA vir De Lille behandel het toe sy nog DA-burgemeester vir Kaapstad was.

Ek wonder, soos daar gesê word: Is dit om bruin mense soos altyd as stemvee te misbruik net om die DA-meerderheid in die Wes-Kaap te behou? Dit sal interessant wees, omdat statistiek toon dat swart mense, en nie meer bruin mense nie, teen 2030 die meerheid in die Wes-Kaap gaan vorm.

Die onmiddellike uitdaging vir die DA is om nuwe leiers te kies en nuwe beleid te formuleer – veral oor hoe om ekonomiese ongeregtigheid te herstel – omdat die party homself in ’n beleidskrisis bevind. Dit sal die toekoms van die DA bepaal – of dit gaan oorleef of disintegreer. Tans lyk dit of die DA nader aan die VF Plus en verder weg van ’n sosiaal-demokratiese party is.

  • 2

Kommentaar

  • Ek is van menig dat daar te veel afleidings en aannames gemaak word weens die ras kleur van die twee groepe wat genoem is. Vir my sou sit logies sin maak om eenvousig die beste man/vrou vir die pos te kies ongeag kleur. Maimane het n stelling gemaak "die DA moet verswart" wel dit is die verkeerde aanslag. Na my mening sou "almal is gelyk en ons wil he wat die beste is vir alle rasse en groepe en die ekonomie is" die beste uitgangspunt gewees het. Om eenvoudig af te lei dat die party teruggaan op sy ou weë bloot oor die mense wat hier genoem is, is bloot verkeerd. Die huidige leiers ( na Maimane) sou sekerlik kennis geneem het, en behoort groot genowg te wees om te weet dat ras gegronde politiek beperkings het as jy jou steun op wit en gekleurde kiesers bou. Ek dink ons moet hulle kans gee en kyk waarmee kom hulle vorendag. Artikels soos die se waarde le daarin dat die leiers hopelik kennis neem van die standpunte, en nie dieselfde foute weer maak nie. Net die tyd sal egter leer.

  • Avatar
    Marina Pretorius

    Om Helen Zillle n kolonialis te noem is tog seker n growwe veralgemening. Die feit dat sy dit gewaag het om n tweet oor die 'voordele' van kolonialisme te stuur en haar bydrae tot politieke verandering te negeer is aspris (mischievous). Die skrywer wil ten alle koste liberalisme definieer (nogal n moeilike taak in die Suid-Afrikaanse opset). Hy slaag nie werklik daarin nie. Op die ou einde is dit net nog n sinnelose poging om definisies te skep en dan praktiese voorbeeldente gebruik om gapings in sy redenasies toe te plak. Maimane was nie die leier wat ons verwag het nie. Hy kon nie die DA se standpunte verwoord nie. Op die ou einde kom dit neer op leierskap en die vermoë om n verskeidenheid van strome binne n politieke party te verstaan en hulle behoeftes te verwoord. Dit verg pragmatisme, iets wat nie teenwoordig was in Maimane nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top