Beer Adriaanse oor Buurtwag: "Ons benadering was om net toneel vir toneel ons alles te gee"

  • 0

Die skrywer, regisseur en musikant Beer Adriaanse se reeks Buurtwag is een van die dae op kykNET te sien, en hy swoeg al lank om dié droom ’n realiteit te maak. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Beer. Hoe's dinge?

Goeiedag, Henry. Dinge is goed as mens in ag neem die postproduksie-blues ry my soos daai vreemde oranje aap in die Chicken Licken-advertensies. Ek heg vir jou ’n prentjie aan:

BeerApieweb.jpg

Sover ek verstaan, is die skietproses vir Buurtwag afgehandel. Lekker – hoe het dit vir jou afgeloop? Enige onverwagse pluspunte en/of minuspunte? Hoe sou jy die benadering en gevoel op stel beskryf, en dink jy dit was optimaal vir wat jy wou regkry?

Dit is inderdaad. Ons moet nog ’n paar extreme close-ups van eende gaan kry en hier en daar ’n dreindeksel en ’n CCTV-kamera om ons kunstige sy ook ten toon te stel, maar die akteurs is almal klaar met hulle deel. Die skietproses was die maklikste moeilike ding wat ek al ooit aangepak het. Ek was al betrokke by potensieel meer rampspoedige projekte (soos die Avontoer), maar in my hoedanigheid as "ambiance manager" van die toere het ek nooit regtig die omvang van die risiko gekop nie. Met Buurtwag was die risiko in groot rooi letters in kontrakte dikker as my voorarm uitgespel en dit het telkemale gevoel asof enigiets wat skeefloop, direk sou lei tot die dood, die tronk of kreatiewe ballingskap. Dit het merendeels te doen gehad met die feit dat ons omtrent die helfte van die reeks buite en in die nag moes skiet en ’n Kaapse winter gekies het as ons produksietydperk. Daar was ook karre, vuurwerke, elektriese kabels in reënpoele, vuurwapens, skaatsplanke, aggressiewe hadedas, beurtkrag, vlieënde flatscreen-televisies en gereelde besoeke van die SAPD. Maar die span wat ons bymekaar geskraap het, sou baie meer as die bogenoemde kon oorleef. Dit was ’n relatief jong en onervare span (insluitend ek self), maar met daai jonkheid kom ook my gunsteling-soort domastrante durf wat sulke projekte moontlik maak.

Met plaaslike produksies is daar altyd ’n hele arsenaal verskonings oor hoekom Suid-Afrikaanse films en reekse nie so goed is nie. Daar is nie genoeg geld nie, daar was nie tyd nie, ons kon nie ’n goeie kamera kry nie, ons het net ’n opwenflits gehad om die hele toneel mee te belig, ens ens ens. Ons benadering was om alle moontlike verskonings te vergeet en net toneel vir toneel ons alles te gee. In hierdie verband was ons baie gelukkig met ons DOP, Nicol Dippenaar, wat meer van filmskiet hou as wat Hunter S Thompson van geweerskiet gehou het, asook met die rolverdeling wat aan boord gekom het. Die pro's, soos Johan Botha, Albert Maritz, Deon Lotz, Joanie Combrinck, Martelize Kolver, Joe Vaz en Leon Kruger, bring ’n aansteeklike professionaliteit na ’n stel toe wat mens nie anders kan as om te probeer eer deur ook jou werk beter te maak nie. In ons geval was ons baie gelukkig dat die nuwe gesigte ook met vuur en vlam en streepsakke vol talent opgedaag het. Albert Pretorius, Beáte Opperman, Karli Heine, Adam Heyns en Richard September was almal nuwe medewerkers vir my. Ek kon nie vir ’n beter span vra nie.

beergroot3
Beer Adriaanse (heel regs) saam met van Buurtwag se akteurs en bemanning.
Foto: Adam Heyns

Die enigste negatiewe ding van die skiettydperk is dat mens soms tot 16 bladsye per dag moet skiet. Met films (plaaslike films) mik mens gewoonlik vir so vier bladsye per dag, en internasionaal kan mens soms wegkom met ’n halwe bladsy per dag. Dis egter maar die stand van sake en ons is eintlik net dankbaar ons is die geleentheid gegun om dit te doen. My vervaardigers, Nouvanaand, is gelukkig dapper bittereinders wat gesorg het dat nie al produksie se uitdagings my op stel bereik nie. Sonder hulle sou ek hierdie reeks met ’n Blackberry in my sitkamer moes geskiet het. 

Dis sekerlik ’n lang pad wat jy moes stap sedert Die Buurtwag as kortfilm opslae gemaak het in 2012, tot nou, met die vervaardiging van die reeks. Hoe presies het dit gekom dat die kortfilm die saadjie vir die reeks geword het? Wat was die grootste uitdagings daaraan verbonde om dit uit te bou tot ’n reeks, en wat is die voor- en nadele vir jou in terme van die kortfilm-versus-reeks-episodes om ’n storie te vertel?

Die Buurtwag-konsep was aanvanklik vir ’n vollengtefilm, maar toe die Silwerskerms destyds vir kortfilms vra, het my vriend Porra gesê ek moet een inskryf en toe is Buurtwag die beste een in my ideeboks. Met die uitbou van die kortfilm na ’n reeks was ek redelik gelukkig dat die konsep van die begin af hom daartoe geleen het om langformaat te wees. Die voordele van ’n reeks is dat ek ’n paar nuwe karakters kon skep en ek kon vir elkeen van die ou kortfilmkarakters ’n storie uitdink. Die grootste uitdaging met die reeks skryf is dat dit skryf behels en skryf kom nie vir my maklik nie. Dis ’n geween en ’n gekners van tande en ek sukkel om myself op daai stoel te hou. 

Vir die kortfilm was jy teksskrywer; nou is jy teksskrywer en regisseur. Hoe verskil die druk wat ’n mens ervaar in terme van dié rolle? Daar is seker ’n groter mate van vryheid om jou idees te laat leef, maar ook beperkinge in ander opsigte? Sien jy jouself in die eerste plek as skrywer of regisseur en hoe sal jy dit in die toekoms wil benader?

Die druk van skryf is ’n alleen tipe druk en as jy nie mense het om jou idees en storielyne mee te bons nie, kan dit nogals ’n sielsmergelende affêre word. Die skryf het egter makliker geraak toe ek besef ek gaan self die reeks se regie behartig, want toe kon ek die herskryf amper as ’n tipe kortpad inspan om my bloot aan my idees te herinner. ’n Tipe snelskrif. Dit sou nie noodwendig so goed gewerk het as ’n ander regisseur die teks moes interpreteer nie. Omdat die skryf-en-herskryf-proses so lank geduur het, het ek ’n ysberg vol kennis oor die storielyne en die karakters gehad wat nie noodwendig op die bladsy was nie, maar wat ek op die dag kon gebruik. Ek het iewers gelees dat ’n goeie draaiboekskrywer se teks so goed moet wees dat die regisseur nie anders kan as om die teks presies te interpreteer soos die skrywer dit bedoel het nie. Iemand soos Paddy Chayefsky, wat die ongelooflike film Network geskryf het, se draaiboeke was so dig en sterk dat regisseurs eintlik in sy diens was en nie andersom nie. Dis nogals iets om na te strewe.

Om ná vier maande se nood-herskryf skielik regie te doen is min of meer soos om uit jou grot gepluk te word en die kaptein van ’n skip te raak wat deur die Bermuda-driehoek moet vaar. Ek is egter ’n volslae ekstrovert, so die samewerking op ’n filmstel pas my soos ’n Ace Ventura-handskoen. Daar's niks lekkerder as om vyfuur die oggend ’n klomp passievolle kreatiewes langs ’n dam te kry en saam-saam vuur by die gode te probeer steel nie. Ek sien myself as ’n skrywer wat so gou as moontlik weer my eie regie wil doen.

Beergroot2
Melany Fuma, kontinuïteitsbeampte, en Beer Adriaanse op stel.
Foto: Adam Heyns

Die akteurs wat deelneem aan Buurtwag is, soos die geval met die kortfilm was, nogal ’n droomspan, met onder andere Deon Lotz en Albert Pretorius in die line-up. Hoe moeilik was die casting-proses vir die reeks, en hoe belangrik is nommerpas-korrekte casting in die algemeen om ’n storie reg te vertel, of dit nou vir ’n reeks, ’n kortfilm of ’n vollengtefilm is?

Die casting-proses was maklik, omdat ons baie van die kortfilm se akteurs weer genooi het. Dit was egter ook baie moeilik, omdat hulle almal baie gewilde akteurs is en hulle beskikbaarheid baie beperk was. Hulle is ook natuurlik baie meer werd as wat huidige begrotings toelaat. Ons moes ons skedule erg aanpas, maar dit was die moeite werd. Ek glo casting kan ’n film/reeks/kortfilm maak of breek, maar mens moet ook nie bang wees om soms buite die boks te cast nie. As jy iets in ’n akteur sien wat nie tot dusver ten toon gestel is nie, maar jy glo dit is in hulle, sal ek altyd probeer om ’n kans te vat. So heerlik soos dit is om met betroubare pro’s te werk, so verfrissend kan dit wees om iemand nuuts te vind en in te span. Dis maar soos kookkuns. As jy net volgens die resep gaan, kan jou dis redelik vervelig uitkom, en as jy die resep heeltemal ignoreer gaan jou dis heel moontlik oneetbaar wees.

Jou moeder is die bekende skrywer Wilna Adriaanse, so ek neem aan daar was nog altyd skrywery in jou nabye omgewing. Hoe het die skryfkiem by jou posgevat, en hoe het dit oor die jare ontwikkel? Jy was ook ’n lid van die rockgroep Zinkplaat – in hoe ’n mate het liedjieskryf daar jou woord- en storievaardighede help slyp, en in watter ander formate sal jy nog graag jou pen wil inlê?

My ma het eintlik eers in 1999 begin skryf toe ek reeds koshuis toe getrek het, so ek het nie grootgeword met die idee dat skryf ’n regte werk is nie. Ons is wel van baie kleins af aangemoedig om te lees en ons huis was altyd vol boeke. Ek het so baie gelees dat my skoolpunte daaronder gely het, want ek het storieboeke in die klas gelees. Ek het ook op hoërskool, as ek naweke huis toe gaan, besef skryf is nie ’n stokperdjie nie, maar ’n voltydse werk, omdat my ma elke dag van die week en naweek geskryf het en tot in die middernagure voor die rekenaar gesit het. Ek dink dit het my laat besef dat as ek ooit skryf sou oorweeg, ek baie vinnig oor my luiheid sou moes kom.

Ek het van laerskool af altyd beter gedoen in opstelle as in wiskunde of aardrykskunde en ek dink my eerste poging tot ’n roman was ’n ninja-trilogie wat ek op my ouma se tikmasjien gepleeg het. Ek het ook die illustrasies vir dié een-eksemplaar gekramde roman gedoen.

beergroot4
Van die Buurtwag-manne en Beer kyk na kringtelevisie-beeldmateriaal.
Foto: Adam Heyns

Met Zinkplaat was ek baie gelukkig om iemand soos Bertie Coetzee te hê wat byna ons hele twee eerste albums alleen geskryf het en toe ook heel bereid was om die res van ons in die band deel van die proses te maak met ons volgende albums. Sommige van ons liedjies was solo-pogings, maar by verre die meeste van ons beste werke was viermansamewerkings. Die grootste ding wat ek met ons liedjieskrywery geleer het, is dat mens onopregte werk van ’n myl af kan ruik en dat as dit nie uit jou hart uit kom nie, jy eerder aandele in ’n spookasemfabriek moet koop.

Laastens sal ek baie graag nog eendag ’n grafiese roman wil aanpak. Ek is nie seker of ek het wat dit vat om ’n regte roman te skryf nie, veral nie as ek ouens soos Willem Anker en Henry Cloete se werk lees nie. 🙂

Ha! Wat ook al. Anyway, die Afrikaanse film- en televisietoneel is op ’n interessante plek in hierdie stadium – dit lyk of daar algaande ’n sterker fokus op waarlik goeie inhoud geplaas word. Is dit wel die geval? Wat dink jy is die lekker elemente van die Afrikaanse en die breër plaaslike toneel of bedryf, en in watter rigting wil jy dit sien groei? Wat is die haakplekke?

Ek dink tog jy's reg. As ek net kyk hoeveel minder plaaslike produksies ek deesdae voor skaam kry in vergelyking met ’n paar jaar gelede, dink ek daar is vooruitgang. Die lekker van die Afrikaanse bedryf is dat dit ’n baie lojale mark is. Die haakplekke is dat baie kunstenaars daai lojaliteit uitbuit en substandaard en onoorspronklike werk opdis omdat hulle weet die mark sal lojaal bly bloot omdat dit Afrikaans is. In daai verband is dit hartseer hoe min mense van my ouderdom plaaslike en/of Afrikaanse film en televisie ondersteun. Ons is gespeen op semigratis onwettige digitale kopieë van briljante oorsese films en televisie wat die plaaslike pogings geheel en al oorskadu. Die probleem is nie net dat ons minder geld het nie, maar dat ons nie genoeg moeite doen met veral die skryf en ontwikkeling van oorspronklike inhoud nie. Mens hoor te gereeld iets soos: "Dis die eerste Afrikaanse dit of dat." Maar Afrikaans is nie ’n genre nie. Om bloot die eerste Afrikaanse zombiefliek of eerste Afrikaanse sekskomedie te maak, is nie genoeg nie. Dit moet ook oorspronklik en gegrond wees in iets unieks van ons tyd en plek en kultuur. Ek voel ons films en televisie is effens agter ons toneel en literatuur, maar dat ons binnekort voet in die hoek gaan sit en inhaal.

Om voltyds skrywer te wees, kom natuurlik met talle uitdagings. Hoe hou ’n mens moed wanneer dinge minder vlot verloop, en wat sou jou raad wees aan jonges wat hoop om hulle in hierdie rigting te bekwaam en dit voltyds te doen?

Goeie vriende en goeie kuns. My "loopbaan" is die afgelope paar jaar gereeld deur vriende en geliefdes gered wat my in donker (lees: bankrot) tye ondersteun en/of werk gegee het. Ek het ook baie amper opgegee op die idee van filmmaker wees, maar het toe een aand by die Neelsie-bioskoop in Stellenbosch ’n laataandvertoning van Tim Burton se Ed Wood gekyk. Dis die absurde, maar ware, verhaal van een van die swakste filmmakers van alle tye, Ed Wood, wat ook toevallig ’n transvestiet was. Sy films word tot vandag toe gereken as van die swakstes wat ooit gemaak is, maar sy onwrikbare liefde en byna idiotiese passie vir films het my diep geroer en laat besef ek moet aanhou en deurdruk en dit weer begin geniet. Daar is baie ander flieks wat my uit terneergedrukte tye gekry het. (Kontak my gerus vir ’n volledige lys moedbouers: beer@dpk.co.za.)

Kuns gaan altyd moeilik wees, maar ook ongelooflik lonend. Die enigste raad wat ek kan gee, kom uit persoonlike ondervinding, en dit is: die punt van opgee is gewoonlik net so ’n paar meter voor die deurbraak waar dit skielik lekker word. Om te skep, is so naby as wat ons kan kom aan ’n goddelike daad en ons almal het die vermoë, maar ons het nie almal die deursettingsvermoë nie. Omring jouself met ander kreatiewes en raak deel van hulle prosesse. Gee eerlike kritiek en aanvaar kritiek met ’n oop gemoed. Moenie jaloers wees nie. Bestudeer die meesters, maar mik vir jou eie stem. Skryf eerlik en lees jou woorde hardop vir jouself en mense wat jy vertrou. Skryf en herskryf en herskryf dan weer. Wees lief vir jou woorde, maar moenie verlief wees op jou woorde nie. Moenie net skryf nie, lewe ook, anders het jy niks om oor te skryf nie. Gaan gereeld buite jou gemaksone, want niks is verveliger vir ander mense/lesers as jóú persoonlike gemaksone nie. Moenie te veel geld verwag nie, maar moenie toelaat dat jy uitgebuit word nie. Almal kan skryf, so maak seker jy kan beter skryf.

Buiten die afronding van Buurtwag, wat hou die nabye en verre toekoms in vir Beer Adriaanse, in so verre jy dit kan beheer?

Ek het verleer hoe om vir langer as vyf minute op ’n stoel te sit, so dis my nuwe uitdaging. Daar is ’n ideeboks vol konsepte waarvan ek een of twee moet kies en probeer mak maak. Ek wil aanhou skryf tot ek iets het waarvan ek weer die regie kan doen. Hopelik ’n vollengtefilm in die nabyerige toekoms. Ek moet ’n nuwe kar koop, so dit behoort my vir so twee jaar besig te hou.

Wat is die sin van die lewe?

Watervalle.

Beergroot1

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top