............
As jy dus die eerste halfuur van hierdie epos oorleef, mag die res van dié drie uur lange rolprent jou in ’n koffieperkoleerder werp en fynmaal. En dis geen hiperbool nie. Feite is feite.
..............
Beau is afraid
Met Joaquin Phoenix en Amy Ryan
Regisseur: Ari Aster
Beau is afraid skop af met die kyker in ’n baarmoeder, en neem hom/haar dan deur ’n pynlike geboorteproses tot in ’n verblindende hel in.
Hierna volg daar ’n herhaaldelike vergestalting van Beau se vrese. Dit voel asof jy jouself voor ’n steenkooltrok gewerp het en vermink na die gevolge staar. Jy lê in ’n verminkte beswyming tussen êrens en nêrens, vasgevang in ’n doodsbaadjie (straightjacket). Dit is ’n ervaring wat jou fliekpsige sal verbrysel voordat dit in bensien geweek en gebraai word. Nie eers Ari Aster se vorige uittartende Hereditary en Midsommar kom naby hierdie stuk verbystering nie.
Enersyds ruk dit ’n flieklewe, vermoeid ná ondergemiddelde of voorspelbare pleegsels soos Beautiful disaster, terug na ’n absurd-bedwelmende hede. Andersins mag hierdie rolprent jou so ontstig en verbrysel dat jy vir maande deur nagmerries geteister sal word. Kortom: Jy het nog nooit so iets gesien nie.
Die opsomming is bedrieglik eenvoudig. ’n Neurotiese, paniekbevange individu (onvergelyklik dapper en goed gespeel deur Joaquin Phoenix) is op soek na sy ma en probeer sy bes om by haar uit te kom. Maar dit kon net sowel Waiting for Godot as ’n slapstick-komedie gewees het. Dit is asof Jean-Paul Sartre en Albert Camus piekniek met kerriefrikkadelle in die Johannesburgse middestad hou en jou saamnooi. Die kyker word oorbluf, selfs verwond gelaat. Daar is iets bekend aan die beelde, maar dit vibreer tog ook in ’n ander werklikheid.
As jy dus die eerste halfuur van hierdie epos oorleef, mag die res van dié drie uur lange rolprent jou in ’n koffieperkoleerder werp en fynmaal. En dis geen hiperbool nie. Feite is feite.
Berei jou dus voor op ’n onthutsende ervaring wat min mense tot die einde sal laat deursit. Sommige mag dit as die grootste meesterstuk van die jaar beskou. Ander mag uitroep: “Wat de hel?”
Ari Aster flankeer hier met surrealisme en die donkerste hoekies van ’n neurotiese, geskende onderbewuste. Dit grawe diep in Freud se teorieë oor ’n seun wat obsessief is oor (verlief is op?) sy ma. Tog vrees hy haar ook soveel dat hy sy lewe waag om haar (of wat van haar oorgebly het!) te bereik. Hy bad in die eksistensialisme van sy bestaan.
Drogbeelde, gitswart bloedkomedie waar die brein vol wanbeelde en grusame ervarings gespat word, en karakters so gefolter dat hulle die Spaanse Inkwisisie na Rooikappie se mandjie laat lyk, is aan die orde van die dag.
Maar hoekom so obsessief oordadig raak? Erger as Oliver Stone se Natural born killers of enige David Cronenberg-nagmerrie soos Naked lunch? Omdat Aster ons na ’n wêreld neem waar alle moraliteit oorboord gegooi is. Daar is geen rede meer om hier te bestaan nie. Die strate lyk na ’n Hillbrow dekades nadat Ralph Rabie nostalgies daaroor gesing het. En andersins na ’n kleurvolle sprokie waar iemand Singin’ in the rain sing op pad na ’n tsunami.
Die alledaagse maak plek vir die absurde. ’n Maaltyd wat in ’n mikrogolfoond opgewarm word, of senuweepille wat nie sonder water afgesluk mag word nie, verander in ’n Wagneriaanse opera. Laat daar vloeistof vir Beau wees!
Niks in hierdie rolprent neig eers na die sogenaamde normale nie. Absurditeit en ’n Kafka-wêreld waar hy met kakkerlakke flankeer, is mak teen wat Aster hier in visuele wanklanke opdis. So komplementeer Mariah Carey se musiek ’n weergalose toneel kundig om die absurditeit en ironie verder te verhoog, terwyl sielkundige teistering en emosionele trauma die kyker verder in ’n bokskryt werp. Jy word met mening gemoker dat jou brein spat.
Daar word selfs met animasie en ’n kitsch Wizard of Oz-styl geëksperimenteer. Hoe dieper Beau in sy grusame onderbewuste wegsink en dan in sy eie werklikheid verdrink, hoe wreder word die rolprent. Dis is asof Federico Fellini ’n koorsdroom gehad het sonder die groot regisseur se empatie vir die swakheid en weerloosheid van die mens.
Die tonele waar Beau by ’n egpaar opdaag wat hom versorg, herinner aan Hereditary wanneer “doodgewone” vroom mense in monsters verander. En dit maak nie saak hoe ver hy vlug nie, hy loop hom telkens te pletter teen verskeie weergawes van homself.
’n Oproep van ’n ma af raak byvoorbeeld skrikwekkend dreigend. Jy sal nooit weer na ’n selfoon kyk wat lui met “Ma” daarop en dieselfde dink voordat jy dit beantwoord nie.
As jy probeer sin maak uit hierdie resensie, is dit dalk ’n aanduiding dat hierdie drie uur lange Dante-reis-na-die-hel intellektueel stimulerend en uitdagend mag wees.
’n Mens kry die indruk dat Aster met homself en sy eie intellek stoei in ’n poging om van persoonlike demone te ontsnap of sy verbeelding uit te sorteer. Dit mag egter ’n wanvoorstelling wees, want vir Aster is daar niks vreemd aan die rolprent nie, soos hy in sy onderhoude bevestig. Hy klink na ’n doodgewone, visionêre regisseur, en erken dat hierdie storie hom al in vele gedaantes by hom aangemeld het. Hiérdie is nou sy finale weergawe daarvan.
Dink aan Paul Thomas Anderson wat in roereiers beland het, of Wes Anderson wat die kluts kwyt geraak het. Selfs Oliver Stone op ’n dwelmreis en ’n filmvlug dieper as ooit tevore in die absurde in.
Hou verby of ervaar dit in al sy afskuwelike en absurde waanskoonheid. Want dit vereis meer as een besoek, en elke fliekganger (wat bly sit!) sal iets anders hieruit kry.
Dit is nie vir sissies nie! Slegs in enkele uitgesoekte teaters.


Kommentaar
Dankie Leon. Ek was ook uiters negatief oor hierdie lang uitgerekte film. Uitmergelend.
http://joanhambidge.blogspot.com/2023/05/film-beau-is-afraid-2023.html
"You had me at Joaquin Phoenix!" Ek's 'n groot aanhanger, ek't "The Joker" en menigte van sy flieks verorber! Ek's net nie 'n bloed en derms mens nie, maar ek's te nuuskierig om dit mis te loop!