Die klipharde en ongewone rockgroep Beast – wat onder meer rol met twee baskitare en geen ander kitare – het pas ’n nuwe album, Bardo, bekendgestel. Louis Nel, een van die basmonsters, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Louis. Hoe's dinge?
Heel lekker, dankie. Die lang Paasnaweek was goed.

Die omslag van Bardo
Geluk met die vrystelling van Beast se nuwe album, Bardo. Soos ek verstaan, het julle ’n interessante roete gevolg met die opneem en vrystelling van die album. Hoekom het julle besluit op die crowdfunding-roete, en hoe het dit verloop? Sal jy dit in die algemeen vir bands – hetsy onbekend of gevestig - aanbeveel, of hoekom het dit spesifiek vir Beast gewerk hierdie keer?
Ons het besluit op crowdfunding omdat ons nie eintlik ’n ander keuse gehad het nie. Ons wou bitter graag ’n album vervaardig, maar ons het geen budget gehad nie. ’n Lening by die bank was ook buite die kwessie. Crowdfunding het aan ons die “angle” gebied om die album te “pre-sell” aan fans nog voordat dit opgeneem was. Die campaign was baie insiggewend gewees. Ons het nie ons groot target gemaak nie, maar was baie gelukkig om hulp te kry van ’n private beleggerr. Hy het dit moontlik gemaak dat ons die album kon opneem in ’n baie lekker studio. Maar toe moes ons self mix en produce! Ek is nie seker of die average Suid-Afrikaanse music fan al gereed is vir die hele crowdfunding idee nie, maar ten minste weet ons nou presies wie ons grootste en mees lojale fans is.
Bardo is die tweede album van Beast (Smoke, Swig, Swear is destyds besonder goed ontvang) – het julle daai sogenaamde druk van die sophomore album ervaar, om seker te maak die tweede een top die eerste een, al is almal in die band gesoute musikante? Of hoe het julle Bardo anders probeer benader as Smoke, Swig, Swear?
Sjoe, ek dink dat Smoke, Swig, Swear nie eers in enige van ons koppe was toe ons met Bardo begin het nie. Beast is die tipe projek wat nie eintlik omgee oor die tradisionele aspekte van die musiekbedryf nie. Ons doen wat ons wil. Ek dink nie daar was enige druk gewees in terme van acceptance nie. Maar Rian het wel ’n bietjie druk gevoel met die mixing van Bardo. Dit was sy heel eerste keer. Maar ek dink hy het ’n fantastiese job gedoen.
Dit voel werklik met Bardo asof daar ’n soort abandon is met dit wat julle doen ... bedoelende, al die lede van die band (jy en Rian met Taxi, Inge met Lark en Werner met KOBUS!) is al etlike jare lede van suksesvolle musiekgroepe, en dit voel of julle die vryheid van ’n nuwe projek deeglik omarm. Die feit dat daar met sulke bravade op twee baskitare gebliksem word, pleks van die meer tradisionele bass-guitar-combo, voel of dit oorspoel na die vocals en die tromme en daar ’n soort alles-se-moer-hierdie-is-wat-ons-wíl-doen-aanslag is. Luister ek reg, of is daar inderwaarheid veel meer berekendheid agter die klipharde, soms chaotiese aanslag as wat mens dink?
Wow! Dis asof jy geweet het wat ek gaan antwoord in vraag 3! Ja, jy is heeltemal reg. Ons omarm die vryheid. Beast het begin as ’n eksperiment, en ek dink na drie jaar volg ons nog steeds daardie etos. Niks is ooit vir ons te vreemd om te probeer nie.
Gepraat van die ander projekte ... Hoe hoop julle om dit te balanseer met die werk wat daar ingaan? Taxi stoom steeds voort na al meer as tien jaar, Lark en KOBUS! is stiller, maar hoe prioritiseer ’n mens in hierdie soort geval? Is daar genoeg aanhang vir Beast om dit eerste prioriteit vir almal te maak, of hoe benader julle dit? Dis nou wat skryfskedules, opnames en toer betref.
Al die lede het baie besige lewens, maar deeglike time management is al wat werk. ’n Mens kan nie eintlik prioritiseer nie, want as dit kom by iets soos bookings, hanteer ons dit maar op ’n “first-come-first-served” basis. Dit is hoekom dinge soos shared calendars tussen al die bands en lede noodsaaklik is.
Terug by Bardo: Die aanslag op ’n mens se ore is genadeloos, op ’n uiters welkome manier! Hipnotiserend, amper, meesleurend. Hoe werk die skep- en afrondingproses binne Beast, om op die ou end te besluit nie net hoe ’n spesifieke song moet klink nie, maar ook wat die balans van die album betref? Daar's uiteenlopende agtergronde binne Beast - is daar ’n soort sinergie of gesonde konfrontasies oor aanslag, of hoe gebeur hierdie dinge vir julle?
Dis maar baie organies. Partykeer kom Inge na my en Rian met ’n vaste melodie, dan werk ons uit wat om daaronder te speel. Dan neem ons dit na Werner. Ander kere bring ek of Rian ’n idee na Inge en Werner, en dan bak ons die koek saam. Wat baie gehelp het met die afrondingsproses, was die feit dat ons pre-production gedoen het saam met George by Kill City Blues. Dit maak die wêreld se verskil om als te record voordat jy studio toe gaan om die album te vervaardig. Op dié manier kan jy na jou songs terugluister, vinnige veranderinge maak, en dan weer opneem tot dit reg klink. Pre-production is baie belangrik. Nie net help dit jou met die afronding van jou produk nie, maar dit bespaar vir jou baie tyd in die studio. Studiotyd is nie goedkoop nie.
Die launch-toer-planne vir Beast moet omtrent nou afgehandel wees, of dis naby aan klaar, as ek die kalender so kyk ... Hoe is die ontvangs van die nuwe tunes? Kry julle nog butterflies oor hoe aanhangers en kritici gaan reageer op ’n nuwe release, of is julle al gewoond genoeg daaraan dat dit nie saak maak nie? Hoe dink jy moet kunstenaars - en vernaam mense wat die grense push, soos Beast - daardie verhouding benader, tussen bloot skep en gooi wat ’n mens wil, versus dit wat sal beïndruk en onmiddellik geld maak en al daai?
Ja, die launch-toer is nou verby. Splashy Fen was die laaste show in die reeks. Ag, ek weet nie. Dis ’n moeilike een. Ek dink ons doen hierdie musiek-ding nou al so lank dat ons so half weet wat om te verwag. Ons het ’n goeie idee waarvan die fans hou, so dit bly in die agterkop. En gelukkig hou ons ook waarvan die fans hou! Maar ons is nie vreeslik gepla oor die kritici nie, tensy iemand soos Josh Homme of Dave Grohl iets oor sê.
Op Facebook word die band-lede gelys as: Simply the Beast (bass), OBEAST (bass) en High Beast (vocals). Waar kom hierdie name (en hiërargie?) vandaan? En is die drummer nog ’n aspirant-beast?
Hahahaha! Ons moet daardie lys eintlik verander. Dit was maar grappe wat aan die heel begin gemaak was. Dis nou al ’n bietjie oud.
Jy is, as lid van Taxi Violence en Beast, nou al baie jare op rockverhoë oor die land heen, of dit nou agter die tromme of met die bass in die hand is. Enige spesifieke oomblikke wat jy nie sal vergeet nie? Of plekke waarheen jy eerder nie sal wil terugkeer nie? Hoekom?
Jissie, nou voel my geheue ewe skielik bietjie sleg. Ek speel al in bands sedert 1994! Ek het ’n ongelooflike ride. Dis iets wat jy nie maklik kan beskryf nie. Die ding wat ek die meeste geniet, is die travelling. Ek sien en ervaar gereeld nuwe plekke en ontmoet nuwe mense. En discover cool nuwe bands! Ek het al onvergeetlike shows gespeel – ’n hoogtepunt was definitief Taxi se European tour.
Indien Beast ’n liedjie sou moes opneem wat as teenreaksie wou dien teen die Franse komiese rockgroep Inspector Cluzo se lied "Fuck the bass player", wat sou daardie lied se naam wees, en wat dink jy sou die chorus se lirieke wees?
Ek sou persoonlik nie ’n teenreaksie wou dien teen Inspector Cluzo nie. Ek is ’n groot fan.
Wat is die sin van die lewe?
Be nice and kick ass.

