Bargoens

  • 2

“Bargoens” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Bargoens

Daar is nie sin te maak van klein Claude Beaufort se krabbelinge nie. Dis ’n roesemoes van krulle, kurwes en spirale. Soos ’n bondel gekoekte vislyn. Of ’n geplunderde voëlnes. Van voor tot agter word stapels oefenboeke en rieme papier daarmee gevul.

Soms loop die gekrabbel oor tot op sy kamermuur, rank dit oor die pleisterwerk, of stort dit uit oor die tafelblad waar hy sit, sodat sy moeder hom al op ’n keer betrap het waar hy ’n laaste skribbeling teen ’n tafelpoot maak.

Ook sy gebrabbel is onverstaanbaar. Dis ’n luide gelal, ’n stotterende staccato van klepperende klanke en onverfynde, glottale woorde: “Gluip, glunder, ganna, gorra, gops ...”

Hy is ’n verleentheid vir sy vader, vir eerwaarde Antoine Beaufort. Wanneer die gesin op Saterdae Oliphantshoek se markplein besoek, skrou klein Claude soos ’n vasgekeerde varkie, gooi hy woeste draaie tussen die stalletjies; pyl af op waentjies gelaai met groente en geroosterde kastaiing, en duik onderdeur tafels gepak met maas, wrongel en kaas. ’n Alewige kwylsel op sy ken.

Daarna verdwyn hy tussen die bondels viswywe, wasvroue, slawe en bandiete waar hulle ’n entjie weg op ’n lappie gras oor balies wasgoed, of vaatjies kariemoer, of kratte mossels en kreef, op mekaar staan en skel.

Hier druk een van hulle nou en dan ’n froetang of uintjie in klein Claude se kies, net om hom stil te kry. Partymaal word hy selfs ’n soplepel karie ingejaag.

Wanneer hy dan eindelik vuil en effens hoenderkop terugkeer na sy moedelose moeder, kom daar nogmaals ’n oneindigende dribbeling van onsin uit sy slobberende mond: “Krakeel, alras, basta, aia, andoelie, bokkom, mok.”

Sondae in die kerk sing hy sy eie gesange in die agterste bank. ’n Gesketter van voëlgeluide. Skreeuende meeue, snaterende eende, blasende ganse en krysende kraaie, afgesluit met: “Voertsek, voertsek, voertse-e-ek!”

Al wat hom stilkry, is water. Daarom, wanneer sy gekweel te lastig raak daar in die verheerlikte ruimte van die kerk, beduie sy stroewe vader dat die oppasser hom rivier toe moet neem.

Dié sit hom neer op die Bergrivier se oewer waar die sand sag is, op ’n dassiekaros, want die sand en gras laat hom gril.

Die oppasser se naam is Jamila en sy ruik na boegoe, muskaat en skaapvet. Eers sit sy en klein Claude net na die water en kyk. Vir ure lank. Dis water wat sonder haas afloop see toe. Waters waar rus is.

Hoe langer hy na die stroom kyk waarop herfsblare dryf en spikkels lig weerkaats, hoe sagter praat hy, en hoe minder word die stortvloed van woorde, asof hy ’n opwenspeelding is wat stadig afloop.

Nou smeer Jamila hom in met boegoesalf – sy hande, bene en poffervoetjies. Aanvanklik wou hy niks weet van aanraking nie, het hy ’n vreeslike keel opgesit as sy hom wou vashou, maar nou laat hy haar begaan.

Nadat sy hom ingesmeer het, voer sy hom ’n mootjie molsvleis wat hy met dikmelk afsluk, want dis die enigste kos wat hy kan inkry. Van patats, eendvleis en pampoen wil hy niks weet nie.

Dan kyk hy op na haar, vat sy oë hare vas, gaan daar eindelik ’n lig daarin op, en lispel hy: “Aai, Siela, aai!”

“Siela” is sy spesiale naam vir Jamila. Wanneer sy vir hom ’n bakerrympie sing, krul hy hom teen haar op, en raak daar langs die rivier aan die slaap.

Sodra dit warm word, begin die sonbesies skree, dan ruk klein Claude knieserig wakker en druk hy sy ore toe. Ook die son raak te skerp vir sy oë, al is dit ’n najaarson.

Jamila sit haar strooihoedjie op sy kop, lei hom langs die kuil terug deur ’n laning populiere wat net-net begin vergeel. Heeltyd, terwyl hy sy koddige treetjies gee, sing hy: “Oor die see, oor die see, oor die eiland en die see ...”

Toe hulle by die huis aankom, vlieg die woorde weer soos ’n swerm bye uit klein Claude se mond: “Sjou, lommerd, moggel, baroe, basel, belialskind!”

 

Die volgende jaar, kort voor klein Claude se sewende verjaardag, stuur sy ouers hom kosskool toe, met die hoop dat iets in sy breinlobbe sal vassteek. Alles tevergeefs. Die skoolmeester is radeloos. Klein Claude blyk niks te verstaan van rekene, lees of skryf nie.

Oopmond staar hy by die klaskamervenster uit na stapels wolke, of waar naaldekokers deur die lug flits, of waar doudruppels soos kwik op ’n kappertjieblaar wiebel, onbewus van wat om hom aangaan.

Net in die musiekklas is dit asof rimpels lewe deur hom gaan wanneer die juffrou die klavichord of harp bespeel. Dan word hy deur ’n soort ekstase oorval, ’n euforie waarin niemand kan deel nie, waarop daar weer eens ’n swetterjoel woorde uit sy mond spoel: “Doepa, banja, maskie, nonna, tjap, kwê-kwê!”

Die prinsipaal roep sy ouers in. Iets ernstigs skort met julle kind, deel hy hulle mee. Klein Claude maak die ander kinders bang. Hy kry maniese lagbuie. Hy kan nie brood eet soos ander kinders nie. Al wat hy wil hê, is boeljon, waarvan hy aljimmers buikloop kry.

Daar is niks wat die skool vir hom kan doen nie. Hy benodig ’n priester, nie ’n leermeester nie. Hy is seer sekerlik met sewe duiwels besete. Hy praat in vreemde, diaboliese tale. ’n Onaardse koeterwaals. ’n Soort bargoens wat net demone sal verstaan.

Onwillig neem klein Claude se ouers hom na die katolieke priester wat die prinsipaal aanbeveel. Hy bly langs die see, daarom neem dit hulle twee dae om per koets daar te kom.

In ’n verweerde huisie met stukkende ruite en ’n skewe deur kry hulle die priester waar hy by sy tafel sit en moutbier drink.

Hy lig sy bokaal in ’n groet, nooi hulle in, tap vir die grootmense elkeen ’n beker bier. Klein Claude kry karringmelk waarin ’n eetlepel melasse geroer is. Met beide hande om die fles gevou, drink hy diep en met vinnige asemteue.

Orals lê hopies sand in die huis, soos dit oor die jare by die stukkende vensters ingewaai het. Ook nou, terwyl die Beauforts en die priester daar sit, gier die wind om die huisie. Klein Claude neurie saam met die wind. “Hoe-hieeee,” lamenteer hy. “Hoe-hieeee.”

“Ons kind is besete,” sê sy droewe moeder toe sy haar leë beker neersit.

Die priester staan langsaam op, vat klein Claude aan die skouers en betrag hom.

Klein Claude gooi sy kop agteroor, skater hartlik, sê dan in ’n grafstem: “Kanalla, pienang, jamboe, ramkie, tjoema, darra, tjakkie-tjakkie.”

Weer neem die priester sy plek by die lendelam tafel in. Vir lank is dit stil, is die enigste geluid die loeiende wind en die branders se aanslag teen die rotse.

Dan sê die priester: “Klein Claude is ’n slim jongetjie. Maar hy kry nie sy woorde op ’n ry nie. Sy mond kan nie sê wat sy kop wil nie.”

Sy ouers kyk na mekaar, sprakeloos.

“Hy het ’n geweldige woordeskat vir so ’n jong kind, hy moet net leer om dit ordelik soos krale op ’n stuk gare in te ryg.”

“Maar ons kan niks daarvan uitmaak nie, vader Fernandes.”

“A! Julle kind praat die taal van matrose, boewe en slawe.”

Weer kyk die twee na mekaar. Dié keer of hulle Jobstyding ontvang het.

“Kombuistaal?” kry die moeder dit eindelik uit, haar mond vertrek asof die bier se bitterheid steeds in haar kiewe sit.

Die priester breek ’n wind op, tap nog ’n beker dunkel.

“Met die nodige aandag en stimulering kan hy regkom.”

Net toe begin klein Claude te brabbel: “Seroet, nôi, koerang, tamaai, pondok, kramat, koejawel, sies!”

Die moeder spring op, gryp klein Claude aan die arm en storm na buite waar die koetsier op hulle wag.

 

By die huis aangekom, gaan boender sy vir Jamila uit die bediendekwartiere, gee haar opdrag om haar goed te pak en te trap.

“Jou merrie,” tier sy. “Jou agterbakse merrie! Hoe durf jy my kind beheks met jou platvloerse tongval en jou Slamse slenters?”

Vir klein Claude gaan sluit sy in die studeerkamer toe. Terwyl hy diergeluidjies maak, gaan krap hy ’n stukkie houtskool uit die kaggel waarmee hy krabbelinge teen die muur maak. Krulle, golfies en spirale klim soos dooie wildebrame oor die pleisterwerk.

Teen die aand hoor hy Jamila se stem buite die venster. Sy staan daar tussen die wingerdstokke, onder ’n gerfie sterre. Sy wink hom nader. Op haar rug is ’n bondel klere en stukkies huisraad: tonteldoos, ketel, slagmes, braaipan, teeblik, kooigoed en watersak. Ook ’n kardoesie growwesout, droëvrugte, tabakrolle, bokkoms en ’n boesel broodmeel.

Klein Claude skuif die ruit oop, klim na buite en stap saam met Jamila die nag in.

Toe hulle verby die pruimboord loop, haak sy ’n bokooi los wat sy vroeër die aand aan ’n tak vasgemaak het.

Hulle stap rivierlangs, tussen erikas, heuningbos, vleirose, kruiphout en fluitjiesriet. Vanuit die palmiet klink ’n paddakoor op. Daar is die geritsel van nagdiertjies, van krimpvarkies, aardwolwe en veldmuise.

“Bê-ê-ê!” kla die bok.

“Bê-ê-ê!” koggel klein Claude. “Bê-ê-ê!”

Vir baie lank stap hulle onder ’n sekelmaan, omgewe deur die geur van suikerkanne en wildesalie. Ver weg klink die geluid van naguiltjies en dikkoppe op.

Dan loop hulle berg-op.

Toe die môrester oor die kruin skyn, kom hulle by ’n grot aan. Dis ’n plek wat Jamila van haar kleintyd af ken, die plek vanwaar haar magoed kom. ’n Plek waar wildeheuning, dassies, bergpatats en wildeaspersies volop is.

Jamila maak vuur, sit kookwater vir bossietee op. Sy stop haar pyp, steek dit op en teug behaaglik daaraan.

Ligdag, terwyl Jamila die bok melk, krap klein Claude iets teen die grotwande. Kronkels en krulle.

Jamila gaan kyk van naderby. Dis woorde: Bombarie, boernoes, klapper, boen, sosatie, mambang, amok, borrie, paljas, pamperlang. Geskryf in Arabiese skrif, soos sy dit vir klein Claude geleer het en soos wat sy dit weer by haar pa in die moskee geleer het.

“My klong,” sê sy toe sy vir hom ’n beker melkerige tee aangee. “Ons gaan dit nog ver bring.”

*

Bargoens: 1. soort geheimtaal van misdadigers 2. onverstaanbare taal 3. mengeltaal. (Kernwoordeboek van Afrikaans)

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 2

Kommentaar

  • Roela Hattingh

    Hierdie storie se kinkels en klanke is verrassend! Dromerig mooi. Baie dankie dat jy dit geskryf het, Gerda!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top