
Omslag: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9781990973529
Bamboozled: In search of joy in a world gone mad
Melinda Ferguson
Melinda Ferguson Books, 2022
ISBN: 9781990973529
Outobiografieë is universeel gewild. Om eerstehandse inligting uit die perd se bek te hoor, kan vir ’n leser insig bied in iemand anders se leefwêreld wat heeltemal anders kan wees as die gewone vele “ware verhale”. Outobiografiese vertellings is meer vermaaklik en soms meer makaber as feitelike leesstof. Indien hierdie vertellings hardebaardtemas en/of elemente van grieselrigheid, misdaad en afsku bevat, is dit amper gewaarborg om meer gewild te wees. Ware misdaad (true crime) word wêreldwyd verslind, om verskeie redes. Een van die redes blyk die genot te wees wat dit verskaf om vanuit die veiligheid van mens se woning ’n voyeursblik te verkry in die rampspoed van ander, met die gepaardgaande vreugde dat dit nie jy is wat deurloop nie. ’n Vorm van schadenfreude dus. Hoe dit ook al sy, elke gesoute joernalis sal jou vertel dat bloed en derms die topverkoperlyste oorheers. “If it bleeds it leads” is daarom die motto van die meeste gewildste realiteitsreekse.
En Melinda Ferguson is só ’n gesoute en bekroonde joernalis wat boonop self ’n lewe van bloed en derms geleef het. Sy is ook ’n uitgewer.
Bamboozled is die vierde outobiografiese boek waar sy die leser in haar veelgeleefde lewe inlaat. Die voriges was Smacked (2005), Hooked (2010) en Crashed (2015). Soos die titels verklap, handel haar vorige werke meestal oor die rampspoed van haar verlede, en veral haar (uiteindelik suksesvolle) stryd teen dwelmmiddels. In Bamboozled draai sy weer eens nie doekies om nie, en haar eerlike en onverbloemde skryfstyl dans gemaklik met geharde onderwerpe soos verkragting, verslawing, verval in misdaad en die verlies van kinders.
..........
Soos die titels verklap, handel haar vorige werke meestal oor die rampspoed van haar verlede, en veral haar (uiteindelik suksesvolle) stryd teen dwelmmiddels. In Bamboozled draai sy weer eens nie doekies om nie, en haar eerlike en onverbloemde skryfstyl dans gemaklik met geharde onderwerpe soos verkragting, verslawing, verval in misdaad en die verlies van kinders.
.............
Daar is geen twyfel dat Ferguson behendig met die pen is nie. Sy skryf byvoorbeeld: “I eye the sizzling crack pipe. I fight the urge to leap from the couch and kill this motherfucker who won’t share the spoils, scored just hours ago in Joburg. After all, I was the one who lifted two purple notes from his mother’s crocodile-leather wallet.” Ferguson draai ook nie doekies om as dit kom by haar eie tekortkominge nie: “By the time I meet heroin and crack in my mid-20s in the early 1990s, my cunning brain, adept in deviousness, is never short of plans to steal, commit fraud, and finally, beg for the next fix. I have been wiring my deviant self since I was young. By 1995, I am a walking, talking con artist.”
Bamboozled bied genoeg van ’n samevatting oor haar memoires sodat die leser waarskynlik heel goed kan regkom sonder insig in haar vroeëre werke. Sy verdeel die boek in vier oorhoofse afdelings, en dit is veral in deel een (“A room of my own”) waar die leser ’n oorsig kry oor haar agtergrond en die grondpad wat sy gestap het. In hierdie eerste gedeelte word ’n aanvanklike spanningslyn geskep: Die skrywer verhuis na ’n veilige droomwoning naby Tulbagh, maar kort daarna word haar bure in dieselfde toevlugsoord vermoor. Haar mymeringe oor die impak hiervan en die temas van dood en sterfte lei tot herinneringe van haar eie pad met selfdood, wat sy vaardig vermeng met temas uit die lewens van Sylvia Plath en Virginia Woolf. Hiermee gaan sy in besonderhede en met interessante en verweefde uitbeeldings te werk. Die begintydperk van Covid gedurende 2020 word vervleg as ’n metafoor vir die gevangenskap van die mens, en meer in besonder met die emosionele gevangenskap van vroue.
............
Haar mymeringe oor die impak hiervan en die temas van dood en sterfte lei tot herinneringe van haar eie pad met selfdood, wat sy vaardig vermeng met temas uit die lewens van Sylvia Plath en Virginia Woolf. Hiermee gaan sy in besonderhede en met interessante en verweefde uitbeeldings te werk. Die begintydperk van Covid gedurende 2020 word vervleg as ’n metafoor vir die gevangenskap van die mens, en meer in besonder met die emosionele gevangenskap van vroue.
.............
In deel twee word die fokus vanaf gebeure verskuif na presies dit waarna die titel van hierdie onderafdeling verwys: “Magic”, in die vorm van psilosibien, wat deur sekere sampioene verskaf word. Deel twee is basies ’n ode aan die towersampioen. Dit is vaardig en ingelig geskryf. Sy doen moeite om navorsing aan te haal en probeer dit ook duidelik maak dat sy nie die heilige fungus noodwendig vir almal en alles aanbeveel nie. Daar word tog opgemerk dat die navorsing, asook wetenskaplike feite rondom die effekte van psilosibien, eensydig gedeel word, en beslis nie die volle prentjie beskryf nie. Mens verwag dit egter nie noodwendig van die verteller in hierdie geval nie, en die leser word nie met opset om die bos gelei nie. Ferguson se eie ervaring met psilosibien is insiggewend, en strook met wat deur navorsers in gekontroleerde navorsing waargeneem word. Mens kom egter agter dat sy uiteindelik in die bekende subjektiewe slagyster trap deur psilosibien onwillekeurig (en waarskynlik onbewustelik) as ’n wonderkuur, en daarom weer eens ’n objek van moontlike afhanklikheid, aan te bied. In deel twee vind ons ook uit van haar ontmoeting en interaksie met haar lewensmaat, wie sy gepas Soul-Mat doop.
Deel drie (“A tale of fear and revelation”) mag vele lesers met ’n vorm van ontevredenheid konfronteer. Daar kan tereg gevra word of hierdie onderafdeling nie maar liefs uitgelaat moes gewees het nie. Hierdie deel van die boek poog waarskynlik om ’n tydperk van kognitiewe dissonansie (bamboozlement) in haar lewe weer te gee en ’n innerlike soeke na betekenis uit te beeld. In stede daarvan lees dit meer soos ’n mymering oor ’n wêreldwye aanslag op privaatheid en menseregte, en ’n eensydige negatiewe blik op hoofstroom medikasie. Baie van haar sienings wat hier gedeel word, kan vir vele lesers gevaarlik naby samesweringsteorieë oorkom. Dit is seker die skrywer se reg om haar filosofiese wroeginge met lesers te deel, maar die relevansie in verhouding tot die hele teks, en die geloofwaardigheid van haar sienings, sal waarskynlik deur menige leser as effe te dik vir ’n daalder ervaar word.
In deel vier, getitel “In search of joy and freedom”, poog die verteller om terug te keer na die tema wat oorspronklik ingelei is met die moord op haar bure van Tulbagh. Hierin maak die leser kennis met Joe, die hond met terapeutiese waarde, en word die verteller weer eens in haar lewe met die tema van moederskap gekonfronteer deur ’n konfrontasie met haar (nou) volwasse kinders. Mens sou graag meer oor die dinamika tussen haar en Joe, die aanneemhond, wou lees. Psilosibien-geïnduseerde soma-reise word nogmaals as ’n proses van hoop aangebied, en individue soos Steve Jobs, Mike Tyson en Elon Musk word selfs vir oulaas opgeroep en aangehaal ter stawing van supersampioene as ’n bron van innerlike vrede.
Die subtitel van Bamboozled, “In search of joy in a world gone mad”, is kontemporêr relevant en die leser word nie toegelaat om te vergeet dat die wêreld op sy kop gekeer is nie. Dit is waar dat mense onnadenkend doen wat mense doen, en dit is so dat geld, mag en die manipulering van inligting van die vroegste tye af prominent in die mens se funksionering gefigureer het, en steeds figureer. Maar dit is te betwyfel of groot farmaseutiese maatskappye, of Big Brother, agter die ellende van die lewe sit. Die lewe is moeilik en verslawing, haweloosheid en swaarkry kan enigiemand oorkom. Die lewe is beslis nie vir sissies nie, en Melinda Ferguson is beslis geen sissie nie. Sy klim kaalvuis en onbeskaamd in haarself in, en neem die leser op vele insigvolle perspektiewe en roetes van haar deurwinterde en welbeskrewe ervaringe.
..........
Al loop die skrywer soms te koop met bedenklike teorieë en bevindings, is Bamboozled eerstens ’n outobiografiese roman, en behoort die ervaring, behendigheid en eerlikheid van Melinda Ferguson se skryfstyl vir die meeste lesers ’n positiewe leeservaring te bied.
..............
Al loop die skrywer soms te koop met bedenklike teorieë en bevindings, is Bamboozled eerstens ’n outobiografiese roman, en behoort die ervaring, behendigheid en eerlikheid van Melinda Ferguson se skryfstyl vir die meeste lesers ’n positiewe leeservaring te bied.