
https://pixabay.com/illustrations/flasks-chemicals-science-beaker-4693772/
The healing effects of balneotherapy in a wide range of diseases are well described, however, the exact mechanism of the healing spa cure is completely unknown, at least its relationship to the presence of certain chemical ingredients (Varga 2010:1260).
Opsomming
Geotermiese mineralewater wat ontspring uit natuurlike fonteine, word allerweë as ’n belangrike produk beskou. Benewens ’n wye spektrum potensiële gebruike (byvoorbeeld aanwending in die kosmetiese bedryf, akwakultuur, asook die landbou-industrie), speel die moderne spa ’n onmisbare rol in die toerismebedryf. Die warmbronwaterkuur, soos Booyens (1981) verduidelik, het oor dekades heen ’n belangrike funksie in die tradisionele geneeskunde vervul.
.............
Geotermiese mineralewater wat ontspring uit natuurlike fonteine, word allerweë as ’n belangrike produk beskou. Benewens ’n wye spektrum potensiële gebruike (byvoorbeeld aanwending in die kosmetiese bedryf, akwakultuur, asook die landbou-industrie), speel die moderne spa ’n onmisbare rol in die toerismebedryf. Die warmbronwaterkuur, soos Booyens (1981) verduidelik, het oor dekades heen ’n belangrike funksie in die tradisionele geneeskunde vervul.
................
In aansluiting hierby word in hierdie artikel ’n poging aangewend om addisionele vrae te beantwoord soos in watter opsig verskil hidroterapie van balneoterapie, wat die chemiese klassifikasie van termiese fonteinwater behels, en op watter wyse navorsing oor die uitkoms van balneoterapie as ’n nie-farmakologiese behandelingstrategie vir verskillende siektetoestande gedoen word. Enkele gevolgtrekkings en aanbevelings word op grond van hierdie ontleding gemaak.
Inleiding
Warmwaterbronne (of termiese fonteine) en die benutting van mineralefonteinwater vorm reeds sedert die vroegste tye ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis. Booyens (1981:14) noem dat ene JG Grevenbroek gedurende 1695 in ’n brief aan ’n Amsterdamse predikant melding maak van die warmwaterbron wat aan die Swartberg (by die huidige Caledon) geleë is. Grevenbroek laat ook deurskemer dat die warmbron op daardie stadium in ’n erg-verwaarloosde toestand verkeer en dat hy die owerhede aan die Kaap daarvoor verantwoordelik hou.
Olivier en Jonker (2013) wys in ’n verslag van die Waternavorsingskommissie van Suid-Afrika daarop dat hier te lande ongeveer 74+ gedokumenteerde termiese fonteine bestaan. Hiervan is ongeveer 50% as ontspannings- en vakansieoorde ontwikkel, terwyl die res onontwikkeld bly voortbestaan.
Warmwaterbronne is deur die eeue heen vir godsdienstige en medisinale doeleindes benut. Die geneeskundige waarde van die mineralewater was aanvanklik ’n grysarea wat uiteenlopende deskundige standpunte en menings ontlok het. Die uitgangspunt was dat die terapeutiese effek van die geotermiese water direk verband hou met die chemiese samestelling van die water (Van Wyk 2013). Sekere siektetoestande sou dus meer of minder effektief op die blootstelling aan geotermiese water reageer.
.............
Warmwaterbronne is deur die eeue heen vir godsdienstige en medisinale doeleindes benut. Die geneeskundige waarde van die mineralewater was aanvanklik ’n grysarea wat uiteenlopende deskundige standpunte en menings ontlok het. Die uitgangspunt was dat die terapeutiese effek van die geotermiese water direk verband hou met die chemiese samestelling van die water (Van Wyk 2013). Sekere siektetoestande sou dus meer of minder effektief op die blootstelling aan geotermiese water reageer.
..............
In November 1940 het die redaksie van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Geneeskunde ’n spesiale volume onder die opskrif Balneologie Uitgawe: Ons Warm Minerale Fonteine die lig laat sien. Die outeurs het bekende medici en akademici ingesluit soos W Darley-Hartley, HL Heiman, C Louis Leipoldt en M Rindl. In die voorwoord het die redakteur tot die volgende versigtig-optimistiese slotsom gekom:
“There is perhaps a tendency on the part of some of us to regard balneotherapy either as a fad, or as a highly specialized branch of medicine that needs particular experience and extraordinary apparatus for its proper practice. That however, is by no means the case. The perusal of the older articles that we republish in this number, will show how the ordinary practitioner can make use of our thermal springs for the alleviation of many disorders” (South African Medical Journal, 1940:2).
Definisies
Balneologie (of badgeneeskunde, balneo: bad in Latyn) is ’n vertakking van die mediese wetenskap wat ondersoek instel na die chemiese samestelling en geneeskundige invloed van termiese water op die organisme (Schoonees, Toerien, Van Blerk, Wessels, Snijman, Schoonees en Swanepoel 1970). Balneoterapie verwys na die terapeutiese gebruik van natuurlike termiese fonteinwater teen temperature van minstens 20°C en met ’n minimum mineraleinhoud van een gram per liter. Hidroterapie daarenteen maak gebruik van gewone koue water (met ander woorde nie noodwendig natuurlike warm fonteinwater nie) as ’n medium vir behandeling van pasiënte en die uitvoering van addisionele fisioterapeutiese intervensies (Varga 2010).
In sekere lande (byvoorbeeld die VK en VSA) word balneoterapie en hidroterapie as komplementêre en alternatiewe geneeskundige praktyke geklassifiseer, terwyl in Duitsland hierdie metode steeds deel uitmaak van die tradisionele hoofstroom-mediese prosedures (Pittler, Karagülle, Karagülle en Ernst 2006).
In Suid-Afrika vorm hidroterapie (ook genoem akwaterapie) deel van die formele opleiding van fisioterapeute en ná afloop van professionele registrasie kan fisioterapeute lede word van die Akwaterapie Belangegroep.
Chemiese klassifikasie van geotermiese mineralewater
Tradisioneel word termiese water in die Europese literatuur in 10 kategorieë (volgens chemiese eienskappe) verdeel. Die kategorieë van die Europese indeling sluit die volgende watertipes in (Varga 2010:1261): Eenvoudige termiese water; eenvoudige gekarboniseerde suurwater; alkaliese water; kalsium-magnesium bikarbonaatwater; gechloreerde water; ysterhoudende water; swawelagtige (sulphuric) water; gesulfateerde (sulphated) water; gejodeerde-gebromeerde water; en radioaktiewe water. In sekere Europese lande word die klassifikasie van termiese water amptelik gereguleer. Volgens die regulasies van die Sentraal en Oos-Europese lande (byvoorbeeld Hongarye, Roemenië en Slowakye) word ten minste een enkele chemiese analise vereis om termiese water as “mineralewater” te verklaar. Mediese waarnemings en navorsing word verder vereis voordat termiese water as “medisinale water” beskryf kan word. Die terapeutiese effek van die water moet by wyse van deeglik-gekontroleerde navorsing bevestig word, veral deur die resultate van vergelykende studies met vergelykbare eksperimentele- en kontrole- of placebo-groepe en dubbelblind- en/of drievoudig-blinde-ontwerpe.
Medisinale water moet dus terselfdertyd ook mineralewater wees, terwyl alle mineralewater nie noodwendig as medisinaal klassifiseerbaar is nie.
Volgens Olivier en Jonker (2013) word verskillende stelsels gebruik om Suid-Afrikaanse termiese water te klassifiseer. Rindl het aanvanklik gefokus op die verband tussen chemiese elemente en die medisinale waarde daarvan, en het die eerste balneologie-klassifikasie in Suid-Afrika saamgestel. Die chemiese klassifikasiestelsel van Bond (Olivier en Jonker 2013: 25) word egter meestal plaaslik gebruik. In hierdie stelsel word termiese water in vyf kategorieë verdeel: hoogs gemineraliseerde chloried-sulfaatwater; effens gemineraliseerde sout-chloriedwater; tydelike harde-karbonaatwater; alkaliese-/natrium-/karbonaatwater; asook “suiwer water” met ’n Totale Oplosbare Vastestofindeks van <7.1.
Boekstein (2014) verwys na die werk van Kent wat die bekende termiese fonteine in Suid-Afrika volgens die chemiese samestelling van die water ingedeel het. Hiervolgens word die Goudini Bad byvoorbeeld as “eenvoudig termies” geklassifiseer, met ander woorde die water bevat klein hoeveelhede oplosbare vastestowwe met geen dominante mineraal nie. Ysterhoudende water (chalibiet) is kenmerkend van die Caledonse bron. Tshipise se fonteinwater is oorheersend alkalies van aard. Die res van die kategorieë is: sulfaat-, sout-, drievoudige-, silika-, litium- en swaelwater.
Medisinale water
Olivier en Jonker (2013) bespreek die verwantskap tussen die chemiese samestelling van termiese water en die geneeskundige effekte daarvan. Verskeie aansprake en waarnemings word deur die skrywers gemaak, maar die aard en kwaliteit van die navorsing waarop die aansprake gebaseer word, vorm nie deel van hul navorsingsprojek nie.
Die terapeutiese effek van termiese water is eerstens geleë in die waarneming dat die hittegraad en dryfvermoë (buoyancy) van die water spierpyne verlig. Warmwater stimuleer die liggaam om endogene biochemikalieë soos endorfiene en die hormoon kortisoon af te skei wat inflammasie en pyn verminder. Water wat hoë ladings van mineralesoute bevat toon chemiese reaksies met siektes deur middel van die opname van mineralesoute deur die vel. Karboliese water het ’n positiewe uitwerking op bloedsomloop- en hartsiektes. Gesulfateerde water word in verband gebring met die herstel van lewertoestande (hepatiese wanfunksionering), en bikarbonate word aanbeveel as ’n terapie vir gastro-intestinale siektes, asook hepatie en jig.
.............
Die vraag ontstaan egter in watter mate word hierdie algemene aansprake deur die bevindings van goed-gekontroleerde en eweknie-geëvalueerde navorsing bevestig of weerlê?
................
Die vraag ontstaan egter in watter mate word hierdie algemene aansprake deur die bevindings van goed-gekontroleerde en eweknie-geëvalueerde navorsing bevestig of weerlê? O Surdu, TV Surdu, M Surdu, Stanciu, Marin, Demirgian en Profir (2014) wys op die verskillende vlakke van uitnemendheid op grond waarvan balneoterapeutiese uitkomsstudies beoordeel word. Vlak I verteenwoordig navorsing waartydens ten minste een deeglik-ontwerpte proef of eksperiment, wat terselfdertyd gekenmerk word deur goeie kontrole van ewekansigheid (randomization), uitgevoer word. Vlak II-1 verwys na deeglik-bewese navorsingsontwerpe, maar sonder dat kontrole van ewekansigheid ’n wesenlike kenmerk van die ontwerp is. Vlak II-2 dui op navorsing op grond waarvan inligting uit goed-gekontroleerde gevallestudie-analises verkry en terselfdertyd deur navorsers, verteenwoordigend van verskillende navorsingsentra, uitgevoer is. Vlak II-3 sluit in meervoudige tydreeks-eksperimente met of sonder intervensies. Vlak III maak voorsiening vir menings van gerespekteerde deskundiges, gebaseer op kliniese ervaring, beskrywende studies, sowel as verslae saamgestel deur deskundige komitees.
Vir verdere besprekingsdoeleindes in hierdie artikel is vyf navorsingstudies as voorbeelde gekies wat aan die Vlak I-kriteria volgens Surdu ea (2014) voldoen. Die doel is dus nie om hier ’n oorsigartikel van alle beskikbare impakstudies oor balneoterapie te skryf nie.
Voorbeelde van uitkomsgebaseerde navorsingstudies
- Uysal en Ozkuk (2018) wat verbonde is aan die Departement Mediese Ekologie en Hidroklimatologie, Universiteit van Istanbul, ondersoek die effek van balneoterapie op pasiënte wat met primêre knie-osteoartritis gediagnoseer is. Die deelnemers (van beide geslagte) was tussen 50- en 75-jaar oud met simptomatiese kniepyn vir ’n tydperk wat oor drie maande strek. Uitsluitingskriteria het onder ander die volgende ingesluit: rugpyn, pyn in die heup en/of enkel, orgaanswakheid, en knie-operasies ontvang gedurende die afgelope ses maande.
Die pasiënte is in twee groepe verdeel. Die balneoterapie groep het balneoterapie ontvang terwyl ’n vergelykbare kontrolegroep slegs mediese behandeling ontvang het. Eersgenoemde het 24 balneoterapie-sessies ontvang (twee maal per dag vir ses dae per week tussen 08:00–09:00 en 16:00–17:00 in watertemperature tussen 37–38°C). Elke badsessie het 20 minute geduur met ’n ruspouse van 30 minute daarna. Die bloeddruk en harttempo van elke pasiënt is voor en ná afloop van die badsessie gemeet.
Die kontrolegroep is as buitepasiënte opgevolg en parasetamol is voorgeskryf soos benodig.
Die deelnemers het ’n pyn-, osteoartritis-, en ’n algemene gesondheidsvraelys voor en ná afloop van die eksperimentele prosedure voltooi, asook ’n 10-trap-leerklimtoets en ’n 15-meter-staptydtoets afgelê. Die metings is ná 14 dae weer herhaal.
Statistiese ontleding van die resultate het gedui op ’n betekenisvolle afname in pynervaring en gewrigstyfheid, asook ’n verbetering in algemene gesondheid, leerklim- en stapaktiwiteit by die eksperimentele groep oor die kort- en langtermyn. By die kontrolegroep is geen beduidende verbetering op enige veranderlike waargeneem nie.
Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat balneoterapie onder bepaalde omstandighede ’n effektiewe metode is om pynverligting, sowel as die funksionele status van pasiënte met knie-osteoartritis te bevorder.
- ’n Groep Franse medici (Peultier-Celli, Mainard, Wein, Paris, Boisseau, Ferry, Gueguen, Chary-Valckenaere, Paysant en Perrin 2017) doen navorsing oor die effek van balneoterapie op knie-onstabiliteit wat verband hou met beserings aan die agterste kruisligamente van die knie. Hierdie beserings word normaalweg chirurgies behandel.
Portuur-evaluering van die studie is gedoen deur verteenwoordigers van die Biomediese Navorsingstigting van die Akademie van Athene, Griekeland, sowel as die Staatsuniversiteit van Athene.
Die effek van ’n innoverende rehabilitasieprogram (met ander woorde balneoterapie gekombineer met konvensionele mediese behandelingsmetodes) is vergelyk met ’n konvensionele behandelingsprogram in terme van kinetika, die ontwikkeling van proprioseptiewe vaardighede, en funksionele verbetering van die knie.
67 pasiënte tussen die ouderdomme van 18–49 jaar (almal amateur of professionele atlete) is op ’n ewekansige wyse in twee groepe verdeel. Groep 1 het bestaan uit 35 atlete en het die konvensionele rehabilitasieprotokol gevolg. Groep 2 (n=32) het die innoverende protokol gevolg. Die pasiënte is voor chirurgie geëvalueer, asook ná twee weke, een maand, twee maande en ses maande ná afloop van chirurgie. Die evaluering het posturografie, spierkrag, stapprestasie en propriosepsie ingesluit.
Groep 2 het ná ses maande (postoperatief) meer op somestese staatgemaak as Groep 1 om dieselfde kwaliteit van posturale beheer te handhaaf. Minder lateralisasie het by Groep 2 voorgekom aan die kant aangrensend aan waar die chirurgie plaasgevind het ná afloop van die rehabilitasie periode. ’n Groter mate van spierkrag in die dyspier en vierkopspier (quadricepts), soos gemeet met behulp van die isokinetiese toets, is waargeneem by Groep 2 (in vergelyking met Groep 1), ná twee maande en ses maande postoperatief. Groep 2 kon ’n groter stapafstand as Groep 1 ná een maand sedert die operasie aflê en het versnelde verbetering in proprioseptiewe funksies van die geopereerde knie oor die eerste twee maande ná die operasie getoon.
Die pasiënte by wie balneoterapie addisioneel in hul behandelingsprogram ingesluit is, het vinniger herstel en kon gouer na hul sosiale, professionele en sportaktiwiteite terugkeer. Vinniger herstel van die kniefunksie voorkom eerstens die korttermynrisiko van verdere beserings aan die gesonde knie weens oorkompensering en tweedens die langtermynrisiko van chirurgie weens moontlike osteoartritis.
- Die navorsingsgroep onder leiding van Koyuncu, Ökmen, Özkuk, Taşoğlu en Özgirgin (2016) is verbonde aan die navorsings- en opleidingshospitale in Ankara, Bursa en Bolu, Turkye.
Die doel van hierdie studie was om die doeltreffendheid van balneoterapie, wat bykomend tot fisioterapie toegepas word, in die behandeling van chroniese nekpyn te ondersoek. Sestig pasiënte met chroniese nekpyn is in ’n studiegroep (n=30) en ’n kontrolegroep (n=30) verdeel. Al die pasiënte in beide groepe is behandel met ’n 15-sessie standaard fisioterapieprogram, bestaande uit ’n warm pak, ultraklank en elektriese stimulasie. Die pasiënte in die studiegroep het ook ingeskakel by ’n 15-sessie balneoterapie-program vir 20 minute per dag bykomend tot die standaard fisioterapieprogram. Die Visuele Analoogskaal, ’n gewysigde nekletselindeks, en die Nottingham Gesondheidsprofiel is op drie verskillende tye as evaluasies toegepas, naamlik voor behandeling, direk ná behandeling en drie weke ná behandeling. Daar was geen statisties-betekenisvolle verskil tussen die kliniese en demografiese kenmerke van die pasiënte in verskillende groepe voor behandeling nie. Intragroep-analise het statisties-beduidende verbetering op alle parameters vir beide die groepe oor alle tydintervalle getoon. Intergroep-analise het die superioriteit van die studiegroep duidelik aangedui. Volgens die resultate van hierdie studie is balneoterapie in kombinasie met fisioterapie ’n beter behandelingstrategie as fisioterapie alleen, veral wat betref die vermindering van pyn en die verbetering van die funksionaliteit en lewenskwaliteit van pasiënte met chroniese nekpyn.
- Die doel van Hahn, Serog, Fauconnier, Batailler, Mercier, Roques en Blin (2012) se studie was om die doeltreffendheid van blootstelling aan ’n balneoterapie-program op die gewigsverlies van ’n groep oorgewig of vetsugtige pasiënte te bepaal.
Die pasiënte is deur hul algemene praktisyns aan die navorsingsprogram voorgestel. Die metodologie van Zelen is gebruik om die deelnemers op ’n ewekansige wyse aan een van die volgende groepe toe te wys: slegs balneoterapie; balneoterapie plus dieet- motiveringsonderhoude; gewone mediese ondersteuning (usual care) alleen; en gewone mediese ondersteuning insluitend dieet-motiveringsonderhoude. Alle pasiënte is op basisvlak ná sewe maande- en weer ná 14 maande-tydsintervalle deur dieselfde algemene praktisyns opgevolg.
Die balneoterapie-program het bestaan uit 18 daaglikse sessies wat oor ’n periode van drie weke aangebied is. Dit het bestaan uit: bad in geotermiese water teen 37⁰C vir ’n periode van 10 minute; mineralewater-massering vir 10 minute; aanwending van modderpak (42⁰C) vir 10 minute; spesiale oefening in die mineralewater vir 15 minute; en die daaglikse inname van die oord se mineralewater.
Ná afloop van die program het die gemiddelde liggaam/massa-indeks ’n beduidende verlies (p<0.001) ten gunste van die balneoterapie-groepe aangedui. Die gemiddelde verskil was 1.91 kg/m² vir die balneoterapie-groepe, teenoor 0.20 kg/m² vir die groepe wat nie balneoterapie ontvang het nie.
- Volgens Mazzulla, Nicoletta, Perrotta, De Stefano en Sesti (2013) is psoriase ’n chroniese inflammatoriese en snel-ontwikkelende siektetoestand van die vel, waarvan die oorsake steeds onduidelik is. Resente navorsing dui op die moontlikheid dat disfunksionering van die immuunsisteem, teen die agtergrond van ’n genetiese predisposisie, betrokke is by die ontstaan van die siekte. Die behandelingopsies hang af van die intensiteit van die siekte en sluit middels in wat direk op die vel aangewend word (soos velroom en -salf, swaelspaterapie en fototerapie), asook sistemiese middels wat mondeling of direk op die vel toedienbaar is.
Die doel van hierdie studie was om die meganiese eienskappe van die vel waar te neem soos dit presenteer in psoriatiese letsels of skubbe voor- en ná afloop van die blootstelling aan swaelterapie.
Die studie is uitgevoer met 10 pasiënte wat binne die normale gewigsgrense val, en met ’n gemiddelde ouderdom van 47 jaar. Die deelnemers het almal skubagtige psoriaseletsels onder lede gehad. In totaal is 20 psoriatiese letsels op ’n meganiese wyse met behulp van ’n velmeter in vivo ondersoek. 10 psoriatiese letsels was op die arms van die pasiënte versprei en 10 op die boonste gedeelte van die rug. 10 vergelykbare gesonde persone sonder psoriaseletsels, met ’n gemiddelde ouderdom van 50 jaar, is as ’n kontrolegroep gebruik.
Die mineralebronwater van die Luigiane Spa (geleë in Acquappesa, Italië) is vir die doeleindes van hierdie studie gebruik. Die water is afkomstig van twee sout-bromiede-jodium-swaelagtige, hipertermiese en termiese fonteine. Die watertemperatuur is onderskeidelik 43˚C en 22˚C. Die hipertermiese bronwater bevat uitsonderlike hoë swaelladings (173 mg/l). Hierdie water word aangewend vir onderdompeling, modderbehandeling, inaseming, en is effektief in die behandeling van velsiektes, respiratoriese probleme, ortopediese toestande en osteoartritis. Die terapeutiese siklus van balneoterapie bestaan uit ’n daaglikse onderdompeling in ’n individuele bad vir 20 minute teen 35˚C oor ’n periode van 12 dae.
Ná afloop van die behandelingsperiode is bevind dat swaelbadterapie ’n betekenisvolle herstel van die elastiese en visko-elastiese komponente van die vel tot gevolg gehad het. Balneoterapie word dus deur die navorsers vir pasiënte met psoriase as ’n natuurlike behandelingsmetode aanbeveel.
Algemene gevolgtrekkings
Dit blyk dat balneoterapie as ’n nie-farmakologiese metode belofte inhou as ’n suksesvolle behandelingstrategie vir spesifieke siektetoestande. Beide farmakologiese en nie-farmakologiese behandelingsprogramme beskik oor sekere voor- en nadele, en dit word aanvaar dat medici sowel as die komplementêre geneeskunde vanuit ’n etiese invalshoek die nodige sensitiwiteit hiervoor aan die dag sal lê.
............
Dit blyk dat balneoterapie as ’n nie-farmakologiese metode belofte inhou as ’n suksesvolle behandelingstrategie vir spesifieke siektetoestande. Beide farmakologiese en nie-farmakologiese behandelingsprogramme beskik oor sekere voor- en nadele, en dit word aanvaar dat medici sowel as die komplementêre geneeskunde vanuit ’n etiese invalshoek die nodige sensitiwiteit hiervoor aan die dag sal lê.
...............
In sekere gevalle, veral wanneer balneoterapie as ’n addisionele behandelingsprogram in samewerking met ’n konvensionele behandelingsprogram aangebied word, herstel die pasiënt vinniger oor die korttermyn, en kan die ontwikkeling van ernstiger toestande selfs voorkom word en die langtermynrisiko vir chirurgie beperk word.
In samewerking met fisioterapie en deeglike monitering deur die mediese professie vorm balneoterapie (en hidroterapie) ’n uitstekende kombinasie en lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die suksesvolle behandeling van spesifieke siektetoestande.
Die beperkte getal impakstudies in verband met balneoterapie waarna in hierdie artikel verwys word, lewer aanvaarbare en selfs baie goeie bewyse van die effektiwiteit van dié metode. Onder sekere omstandighede weeg die voordele van balneoterapie swaarder as die beperkings daarvan. Omdat hier net enkele studies geselekteer is, wat aan sekere spesifieke kriteria voldoen, word aanbeveel dat ’n volledige sistematiese literatuuroorsig gedoen word om hierdie loodsstudie se bevindings te bevestig of te verwerp.
Eindnota
Die skrywer het geen formele belangebotsings om te verklaar nie. Hy is ’n onafhanklike navorser en geen finansiële ondersteuning of toekenning van enige aard is ontvang tydens die skryf van hierdie meningsartikel nie. Tydens die skryf van hierdie artikel is in geen opsig gebruikgemaak van die kletsbot ChatGPT of enige ander taalverbeteringsmodel wat op kunsmatige intelligensie berus nie.
Bibliografie
Boekstein, M.S. 2014. Healing waters: Balneological classification of thermal springs in South Africa. African Journal for Physical, Health Education, Recreation and Dance, 20(2):557–568. file:///G:/Balneology%20Boekstein%202014.pdf.
Booyens, B. 1981. Bronwaters van genesing. Die tradisionele warmbron-waterkuur in ons volksgeneeskunde. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Hahn, T., P. Serog, J. Fauconnier, P. Batailler, F. Mercier, C.F. Roques en P. Blin. 2012. One-year effectiveness of a 3-week balneotherapy program for the treatment of overweight or obesity. Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine, (5):1–7. doi:10.1155/2012/150839.
Koyuncu, E., B.M. Ökmen, K. Özkuk, Ö. Taşoğlu en N. Özgirgin. 2016. The effectiveness of balneotherapy in chronic neck pain. Clinical Rheumatology, (35):2549–55. doi: 10.1007/s10067-016-3199-8.
Mazzulla, S., V. Nicoletta, I. Perrotta, S. de Stefano en S. Sesti. 2013. In vivo study of biomechanical properties in psoriasis vulgaris: Effectiveness of sulphur spa therapy. Open Journal of Molecular and Integrative Physiology, (3):15–2. http://dx.doi.org/10.4236/ojmip.2013.31003.
Olivier, J. en N. Jonker. 2013. Optimal utilisation of thermal springs in South Africa. Pretoria: Water Research Commission, Report No. TT 577/13. https://www.wrc.org.za/wp-content/uploads/mdocs/TT%20577-13.pdf.
Peultier-Celli, L., D. Mainard, F. Wein, N. Paris, P. Boisseau, A. Ferry, R. Gueguen, I. Chary-Valckenaere, J. Paysant en P. Perrin. 2017. Comparison of an innovative rehabilitation, combining reduced conventional rehabilitation with balneotherapy, and a conventional rehabilitation after anterior cruciate ligament reconstruction in athletes. Frontiers in Surgery, (7):1–10. https://doi.org/10.3389/fsurg.2017.00061.
Pittler, M.H., M.Z. Karagülle, M. Karagülle en E. Ernst. 2006. Spa therapy and balneotherapy for treating low back pain: meta-analysis of randomized trials. Rheumatology, (45):880–4. doi:10.1093/rheumatology/kel018.
Schoonees, P.C., M.F. Toerien, N. van Blerk, A.C. Wessels, F.J. Snijman, L.J. Schoonees en C.J. Swanepoel. 1970. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Eerste Deel A–C. Pretoria: Die Staatsdrukker.
South African Medical Journal. 194O. Our warm mineral springs. Balneological number, 14(22):431.
Surdu, O., T.V. Surdu, M. Surdu, L.E. Stanciu, V. Marin, S. Demirgian en D. Profir. 2014. Evidence-based medicine for balneotherapy – from scientific approach to methodolatry. Balneo Research Journal, 5(2):9. doi: http://dx.doi.org/10.12680/balneo.2014.1067.
Uysal, B. en K. Ozkuk. 2018. Effectiveness of balneotherapy in knee osteoarthritis. Experimental Biomedical Research, 1(2):46–54. doi:10.30714/j-ebr.2018237496.
Van Wyk, D. 2013. The social history of three Western Cape thermal mineral springs resorts and their influence on the development of the health and wellness tourism industry in South Africa. MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
Varga, C. 2010. Health problems with classification of spa waters used in balneology. Health, 2(11):1260–3. doi:10.4236/health.2010.211187.


Kommentaar
Weereens 'n baie aktuele onderwerp en die skrywer beveel aan "... dat 'n volledige sistematiese literatuuroorsig gedoen word om hierdie loodsstudie se bevindinge te bevestig of te verwerp".