
Links: Albumopslag van Vaalrivier (2023) | Regs: Kunswerk (linodruk) deur Ronel Kellerman
Ek het vroeg in Januarie by Bacchus Nel en sy geliefde, die skilder Ronel Kellerman, op hulle stoep in Capital Park, Pretoria gekuier en ’n glasie geskink op die vrystelling van Vaalrivier, Bacchus Nel se vyfde en langverwagte album.
Vaalrivier (2023) sluit aan by Bacchus Nel se meesterlike debuutalbum In die arms van die nag (2005) wat sy loopbaan in musiek formeel afgeskop het. 18 jaar ná hierdie vrystelling kyk hy terug na sy jeug en die oorgang van die dae van onrustige vryheid en die huidige uur. Vaalrivier gaan oor ’n tydperk vóór sy debuut, en so word ’n sirkel voltooi. Die kenmerklike aardsheid van sy stem is nog daar, dog voller van ervaring, ryk van gees en herinner aan sang uit die maag van die Karoo, of selfs aan die oeroue stiltes wat ’n Mediterreense koorgesang omvou, daar waar kontinente ontmoet. Soos hy self sê, stilte dra die note. En met die fyn skakerings van ’n bokskitaar, ’n kontrabas, ’n klavier en ’n blaasinstrument wat die stilte begelei, hoor ’n mens die deurgaanse Africana wat sy oeuvre definieer. Ons kan dit as wêreldmusiek beskou.
Bacchus Nel se groei getuig van ’n lewensles wat hy, toe ék die ouderdom was wat hy moes gewees het in die dae dat hy en sy vriende elke dag langs die Vaalrivier gesit het, eendag vir my vertel het: “Die lewe is nie net picnic en poetry nie.”
***
Vaalrivier simmer al vir ’n wyle – en nou’s hy hier. Waarom het jy hierdie keer ’n bietjie teruggehou voordat jy die album vrygestel het?
Ons het vuur en vlam voor Covid begin en almal was vol energie. Dit het my lank gevat; ek het dit in die studio geskryf en dit was die eerste keer wat ek iets geskryf het, só, waar ek myself record het, songs ge-rework het, teruggeluister het en dit oorgeskryf het en oorgeskryf het.
Tydens en na Covid was dit moeilik om die hele ding aan die gang gekry; almal het hulle voete probeer vind in hulle eie lewens.
Jy het hierdie hele opname saam met jou medemusikante self behartig. Wie het saam met jou op Vaalrivier gespeel?
Ons het die album in Capital Park in my voorhuis opgeneem; ons het spottenderwys daarna verwys as Capital Park Records. Dit was ’n groot voorreg om saam met al hierdie talentvolle mense te werk: Rynier Prins (kontrabas en elektriese kitaar), Rian Britz (klavier en trekklavier), Loandi Boersma (agtergrondsang en mondfluitjie), Lebo Mabe (trompet en tromboon), Murray Theron (saksofoon), Wynand Bothma (mandolien) en Jaco Mans (pedal steel-kitaar). Ek is geweldig dankbaar vir die tyd wat hulle hieraan toegewy het.

In Bacchus Nel se ateljee, Capital Park Records: Rian Britz (trekklavier), Rynier Prins (kontrabas), Bacchus Nel (sang en kitaar), Lebo Mabe (tromboon), Murray Theron (saksofoon)
Het jy ’n artistic intent gehad met die musikante wat jy gekies het om op Vaalrivier te speel, byvoorbeeld die blaasinstrumente, ens. Of was dit ’n organiese proses?
Bacchus: In terme van die fyner dinge, soos die blaasinstrumente, meng ek nie regtig in met wat mense speel nie. Verstaan, ek voel almal voel die song soos hulle dit voel. Mens lewer maar insette, maar daar is ouens soos Rynier Prins wat baie meer musikale kennis het, teoretiese kennis, so as Lebo nou gekom het om trompet op te neem, sou hulle tussen die twee van hulle die lines en die harmonies uitwerk.
Wat is die storielyn agter Vaalrivier?
Bacchus: Dit gaan oor ’n baie spesifieke tyd in my lewe. Daar is ’n deurlopende tema en daar is heeltyd verwysings na die rivier, na die brug en na die treinspoor, wat alles ’n metafoor is om weg te kom uit ’n plek uit: die rivier gaan see toe, die trein gaan iewers anders heen en die brug gaan om êrens uit te kom.

Albumopslag van Vaalrivier (2023), foto deur Hein Nel en ontwerp deur Dominique Dicks
Jy sing ook van jou ma se kruietuin in “Gooi my”.
Bacchus: In die winter gaan alles dood in Standerton, die dorp waar ek grootgeword het. Elke jaar begin my ma van voor af om hierdie beautiful tuin te maak en elke winter gaan alles dood en elke lente begin sy net weer oor. My ma het eendag vir my gevra wat om te doen eendag as ek sou moes sterf, en ek het gesê: “Gooi my in jou kruietuin”, en toe antwoord sy grappenderwys: “Ek hoop die blommetjies sal opkom.”
Jy het al in die verlede gesê dat jou wens is dat jou musiek nie as Afrikaanse musiek bestempel word nie, maar eerder as wêreldmusiek.
Bacchus: Ek het ’n baie sterk gevoel daaroor. Ek sien die album is as “Afrikaans” op die platforms gelaai. En dis fine, dit is Afrikaans, want dit is in Afrikaans. Ek dink net die term Afrikaanse musiek is ’n bietjie breed. Dit sluit álles in wat in Afrikaans gedoen word, waar ek voel mens moet so ’n bietjie meer onderskeid tref. En ek dink nog steeds musiek in Afrikaans kan mos wêreldmusiek ook wees. En natuurlik is daar tog genres elders soos Americana, en as mens praat oor Franse musiek byvoorbeeld is daar sekerlik goed wat oppop wat spesifiek bestempel word as Franse musiek. Maar mens moet ’n bietjie wegbeweeg van Afrikaanse musiek. Ek sê dit is musiek ín Afrikaans. Die taal wat jy praat, is mos bloot oor waar jy gebore is. As ek elders gebore is en ek het musiek gemaak, het ek musiek in ’n ander taal gemaak.
........
Ek dink die term Afrikaanse musiek is ’n bietjie breed. Dit sluit álles in wat in Afrikaans gedoen word, waar ek voel mens moet so ’n bietjie meer onderskeid tref. Ek sê dit is musiek ín Afrikaans. En ek dink musiek in Afrikaans kan mos wêreldmusiek ook wees.
........
As ’n musikant wat sing in jou moedertaal, is daar ook ’n “alternatiewe boeremusiek”-aanslag in die klank- of musikale stylkeuses, sonder dat dit jou volgens daardie genre beperk.
Ronel: Sy musiek het ook gegroei van die vorige albums af.
Bacchus: Ek dink dit is inevitable – dat mens beter word, dat mens beter leer speel en skryf. Ek het geen formele musiekkennis nie en dis nie noodwendig dat ek so hard dink dat dít is hoe ek wil skryf nie.

Loandi Boersma in die ateljee (Capital Park Records). Foto: Rian Britz
Wat is jou liedjieskryfproses?
Bacchus: Ek speel maar baie kitaar en as daar ’n idee opkom, dan begin ek maar rondspeel daarmee en dan groei dit organies totdat dit soos iets klink wat ék voel klink vir my mooi.
Daar is ’n sekere braafheid wat met die weerloosheid kom om musiek of skryfwerk vry te stel, of hoe?
Bacchus: Ek dink niks is ooit klaargeskryf nie. Dit is die nice ding van live speel, dat jy die geleentheid het om dit te verander. Die basiese struktuur is daar, die woorde is nog steeds daar, maar daar is steeds ruimte om te beweeg en dit anders te speel, waarskynlik met die kennis of die vermoë wat jy nou het. Op die ou einde sou mens seker alles wou oordoen. Dis nie altyd so lekker om te luister wat jy gedoen hét nie, maar aan die ander kant, as jy die musiek vrystel of voor ’n gehoor speel, voel ek dit behoort nie meer aan jou nie, as mense genot daaruit kry en dink dit is mooi – al kan ek dink dat ek dit anders sou gedoen het.
Dit is ’n lewende ding.
Bacchus: En partykeer is daar ’n recording wat net so mooi is dat jy dit nie live kan recreate nie. Ek kan nie in daai spesifieke oomblik ingaan nie. Soms is daar opnames wat mooier is as wat jy dit ooit weer sou kon doen. Jy sal dit net nooit weer so kan doen nie, want op daardie oomblik op daardie tyd het alles net so mooi in plek geval en dit is onmoontlik om dit weer so te doen.
“Oppieplaas” is ’n song wat mense baie lief voor is. Hoe voel jy oor die song nou?
Bacchus: Ek is dankbaar vir die song. Mens moet die konteks verstaan in terme van wanneer dit uitgekom het. Dit was toe MK groot was en die video wat Neil Sandilands gemaak het, het gereeld gespeel en ek het ’n groot gehoor in ’n kort tydjie bereik met daai song, so ek verstaan hoekom dit gebeur het. Ek verstaan daar is verskillende maniere hoe mense daarmee kan vereenselwig. Vir party mense is dit die woorde plaas en boer [lag] – wat eintlik verwys na die polisie – die Boere. Die konteks is jonkwees. Ek was 23 toe ek dit geskryf het. Verstaan, jy is uit jou ma se huis uit en het hierdie hippie-bestaan gevoer saam met ’n klomp vriende in hierdie huis waar ons vir die eerste keer vry was van die dorp, en dit was buite die dorp. Die mense wat dit rêrig verstaan, verstaan dit daarvoor. En ek is verbaas, daar is jong mense, matriekkinders wat dit luister, en nóg jonger wat dit ontdek en luister en kan relate. Ek dink dit is die tema van vryheid waarby mense aanklank vind.
Ek het al gesien wanneer jy in Melville speel en die jong hipsters kom daar aan, en ek wonder of jy bewus is van jou “status”?
Bacchus: Ek dink die song het definitief ’n bietjie van ’n cult status, maar ek voel ek is meer as dit [lag].
Jou eerste album In die arms van die nag is nou 18 jaar oud. Hierdie album bevat natuurlik “Oppieplaas”, “Herfsman” en “Raam dit met die son”.
Bacchus: Ja, dit is ongeveer 18 jaar terug wat Piet [Botha] my een Februarie in Miems in Pringlebaai genader het toe ons vir hom daar geopen het. Ná die gig het hy my genooi na sy huis as ons terug in Pretoria is om die album te kom maak, wat ons toe daardie April gemaak het.
Elke album het ’n spesifieke klank, maar hoe sou jy jou musiek beskryf?
Bacchus: Die kort en die lank van musiek is as mens genoeg toer en vir verskeie gehore speel, dink ek dis anders as jy ’n household name is en mense koop vooraf kaartjies om vir jou te kom kyk, dan is jy gedefinieer volgens jou gehoor – die middelklas Afrikaanse mense met baie geld; dit sê ek net byvoorbeeld. As jy die land toer en jy speel kleiner dorpies en kleiner gigs, weet jy nie altyd wie of wat jou gehoor gaan wees nie. Dan is die terugvoer altyd interessant. Dan kry jy terugvoer van Engelse mense wat sê: “I don’t understand a word what you’re playing, maar ek kan dit vóél.” Verstaan? En dit is vir my meer belangrik as – nie om die fans van die musiek af te skryf nie, ek is dankbaar – maar dit is lekker terugvoer van mense wat dit nog nooit gehoor het nie.
Ek het juis ’n vriend uit Frankryk na een van jou optredes geneem en hy het vir my gesê dis vir hom so mooi, hy spoor toe jou musiek op Spotify op en laat weet my hy sit in Frankryk en luister daarna. Dit is interessant vir my hoe mense aanklank by die songs kan vind bloot gebaseer op die emosie daarvan, en dan is die lirieke nog op ’n ander vlak ook.
Myns insiens is jy vandag een van die heel beste liriekskrywers in Afrikaans, omdat jy dinge somtyds in kort versreëls wat rym, met min woorde geweldig baie kan sê. Mens kan vir lank daaroor agterna dink, maar daar is ’n eenvoud in die lirieke wat ongelooflik gewig dra. Dit is ’n skill wat min mense het, so ’n soomlose omgang met die taal, en dit is verlore op sommige. Hoe voel jy daaroor?
Bacchus: Ek dink ek hoor wat jy sê. Ek dink ek skryf uit wat ek weet. Iemand het onlangs vir my gesê die lirieke is snaaks [lag], en dit is tong-in-die-kies.
Ronel: Maar jy ís snaaks. Baie van jou wese kom deur in jou lirieke, oor hoe jy dit skryf, hoe jy jou woorde struktureer en waar jy vandaan kom.
Jou lirieke is visueel beskrywend.
Bacchus: Die prentjie is iemand anders s’n. Kom ek stel dit so: As jy die musiek luister en ek beskryf iets – hoe ook al dit sy – jy is presies so blind as wat ek is. Jy kleur die prentjie self in; ek gee vir jou die buitelyne en jy kleur dit self in. Jy hoef mos nie daar te gewees het nie. Ek self dink nie so daaraan nie. Ek skryf net. Ek dink nie noodwendig so hard daaraan nie.
Ronel: Jy skryf beslis beskrywend. Met Vaalrivier is die woorde meer emotief as visueel.
In “Spring van die brug af” [vrygestel as “Ek het jou alles gegee”] is daardie lirieke nie net beelde nie, maar in terme van taalgebruik is daar sekere woorde wat spesifieke, uitkenbare beelde dra. Dit is waar die gift lê om met klank en taal die woorde en die taal te omvou in klank…
Bacchus: Die taal het tog ’n natuurlike ritme, en ek voel altyd – dis dalk iets waaraan ek dink – dat dit belangrik is om te bly by die ritme van hoe ek praat en hoe ek sing. Ek wil nie woorde opbreek nie, hulle het ’n plek en as hulle almal daar is, vorm dit ’n ritme. Ek hou daarvan. Baie keer as mens – en hierdie sê ek maar net – as ek iets hoor in Afrikaans, wil ek nie wonder in watter taal dit is nie. Moenie woorde buig en breek om êrens in te pas nie. Moenie dit daar inforseer nie. Daar’s plek.
Ronel: Jy kan die dubbel-nie gebruik.
Bacchus: Ja, jy kan – definitief!
Ronel: Ek sien hoe sit hy elke dag daar en dít uitwerk.
Dit is soos ’n beeldhouer wat uit ’n stukkie hout met ’n beiteltjie skaaf.
Bacchus: Dit is presies wat dit is.
Hoe jy ’n hele wêreld in min woorde vasvang en dan rym dit ook nog, is ’n achievement.
Bacchus: Ek dink die minimalisme kom ook waarskynlik omdat ek alles moet onthou. Ek skryf nie op papier nie, ek skryf in my kop. Op die ou einde moet ek dit alles onthou. Waarskynlik is dit moerse structured; my songs is seker verskriklik gestruktureer en dit is dalk net ’n natuurlike manier vir my om dit te onthou.
Ronel: Ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Dit is interessant; daar leer ek iets nuuts van jou.
Daar is hierdie mite van ’n skrywer wat ’n notaboekie moet hê. Maar mens kan notas in jou geestesoog neem.
Ronel: Met hom is daar baie herhaling en herhaling. Ek bewonder jou dat jy die idee in jou kop kry en jy begin dit skryf. As ek in my studio sit en hoor hy speel ’n nuwe song, dan sal ek dit los en dan later vra: “Waarmee is jy besig, kan ek dit hoor?” Of hy sal na my toe kom en vra: “Wil jy my song hoor?” Natuurlik is dit dan ’n work-in-progress. En dan net soos wat ek gewoond geraak het aan hierdie tune, het hy dit alweer heeltemal verander. Hy speel konstant, hy speel elke dag.
Bacchus: Mens sit nie die heeltyd en dink “ek moet iets skryf” nie. Dit kom maar na jou toe.
Is daar ’n balans tussen dissipline en kreatiewe tye?
Ronel: 90% van die tyd sit hy op die bank en oefen. Op ’n gewone dag, in die middel van die maand, is hy besig daar op die bank. Of om ou songs te jol, of nuwe songs te skryf.
Bacchus, somtyds speel jy alleen, somtyds met ’n kitaarspeler, somtyds met ’n hele orkes. En daar vind uiteraard improv plaas.
Bacchus: Ons rehearse nie verskriklik baie nie. Mens kan nie vir te lank gaan sonder ’n rehearsal nie. Partykeer moet mens bietjie werk, maar nie om dit perfek te kry en te sê “dít is hoe dit gaan klink wanneer ons dit speel nie”. So, ons almal ken die song, en nou kan almal daarmee doen wat hulle wil. Dan kan ons mekaar voel, jy weet, jy kan ’n solo voel kom. Ek is nie ’n perfeksionis nie; ek voel nie persoonlik goed moet perfek wees nie. Dit hou dit lewendig.
Geniet jy dit om jou songs in ander musical expressions te hoor?
Bacchus: Ja, definitief, want dan het ék dit ook nog nooit gehoor nie! Verstaan, hoe lekker is dit nie? Hoe lekker is dit om iets te speel wat jy nog nooit gehoor het nie – dan kry jy mos verskriklik baie joy daaruit.
So jy is nie heilig oor jou songs nie?
Bacchus: Nee. Mens moet dit net nie opfok nie! [lag]
Waaroor kan ek jou nog vra?
Bacchus: Kom ek gee vir jou ’n breë verduideliking. As jy op die platteland grootword, is daar nie movies of ’n ice rink nie, so wat het mense gedoen? En ek sê ook nie almal nie, maar dis maar die jong mense wat op die fringe van die dorp is – en, for that matter, die samelewing – die jong mense wat anders gedink het. Dit was ons ding: Ons het by die rivier gaan sit. Dit was ons plek gewees, of dit nou op ’n Sondagmiddag of ’n Vrydagaand was. Ons het baie tyd daar spandeer. Daar was ’n tipe desperaatheid gewees om uit dit uit te kom, omdat jy nie inpas nie. Jy is deel van hiérdie ding wat baie klein is, en jy het geweet daar is ’n groter wêreld daarbuite. Op ’n manier is jy trapped en het jy altyd geweet jy wil weggaan, maar jy het ook betekenis daaruit geskep.
Gaan die album oor verganklikheid?
Bacchus: Nie noodwendig nie, maar definitief óók. Mens is tog bewus daarvan – dit is wegkom, weggaan, teruggaan.
Dit kom uit ’n lang tyd terug, so dit is die backdrop, jy weet. Ek dink tog die gevoel is universeel. Dit is geskryf uit mý spesifieke ervaring uit. As jy nie daar was nie, sal jy nog steeds kan relate daarmee.
Hierdie is jou vyfde album, reg? Daar is artists waarna ek luister wat teruggaan na waar hulle vandaan kom – ek neem aan dit is ’n natuurlike proses. Daar is dít wat verbygegaan het en dit wat kom – dis ’n mooi tydkapsule.
Bacchus: Ja, ek het mos gesê dit moes my eerste album gewees het [lag]. Maar ek kon dalk vir lank nie die beauty daarvan gesien het nie, van waar ek vandaan kom en alles wat dit gehou het, want daar was maar baie turmoil.
Dit was die eerste keer dat ek geskryf het waar ek binne die studio is en terugluister en kan dink dis [nog] nie ’n song nie. Gewoonlik skryf ek maar net op die bank, maar dis anders as jy dit [jou eie opnames in die studio] so hoor, en hoor jy kan beter doen.
Al is die album rou, het jy dan tog baie fyn daaraan geskaaf.
Bacchus: Dit was lekker gewees. “Wat gedoen is, is gedaan” is die eerste song wat ons seker 10 keer opgeneem het. Maar ek is bly ons het dit gedoen.
En toe is dit gedaan! As mens nou iets skryf – wat nie vir musikale uiteindes is nie – is dit ’n redelike solitary onderneming.
Bacchus: Ek het ongelooflike respek vir mense wat iets anders as songs kan skryf.
Ek het nou weer baie respek vir mense wat songs kan skryf.
Bacchus: Daar is ’n sekere skill daaraan – dit is amper die maklikste manier. Om ’n kortverhaal of ’n boek te skryf – selfs om ’n gedig te skryf – is ’n totaal en al ander dissipline. Jy moet baie meer gedissiplineerd wees. Ek het al dinge so geskryf, maar dit is moeilik.
Sou jy daarin belangstel om kortverhale of poësie te skryf?
Bacchus: Eerlikwaar voel ek nogal geïntimideerd deur iets soos poetry of kortverhale. En mens moet seker nie eintlik so voel nie – dit voel vir my of dit ’n wêreld is waar daar baie meer kritiek is as in ’n wêreld waar jy musiek maak, waar niemand jou noodwendig só scrutinise nie. In songwriting kan jy met baie meer wegkom. Daar is min mense wat… Ek dink daar is twee: Gert Volk Nel skryf poetry en hy sing poetry. Valiant skryf poetry; ek is miskien a layman’s poet.
Jy mag dalk so dink, maar wat jy vasvang – wyshede en waarhede in min woorde, jou kwinkslae – wel, jy ís ’n digter.
Ronel: Veral op die nuwe album. Met Vaalrivier, as jy woorde daarvan net so sou neerskryf, is dit ’n poem.
Bacchus: Dis ’n vers.
Ronel: “Spring van die brug af” [“Ek het jou alles gegee”] is ’n gedig.
Bacchus: OK, dáái kan deurgaan as ’n gedig.
***
Ek staan nou hierbo op die ou die ysterbrug
soos ’n die spook in die oggendmis
My gedagtes swem soos ’n stroomop vis
terug na die oorsprong toe dit alles nog mooi wasHier is ek geplant en hier moes ek groei
En hier’s ek gebuig en hier’s ek gesnoei
En hier moes ek leer hoe om te bloei
En om op te staan as die wind my wil omwaai
Vandat ek kan ek onthou, het ek geweet ek moet weggaan
Vandat ek verstand het, het ek dit verstaan
Alles wat mooi is, het ek saam my gevat
Alles wat mooi is, hier diep in my hart
En ek mis jou
En ek mis jou
deesdae eintlik glad nie meer nieUit die titelsnit, “Vaalrivier”
Vaalrivier is opgeneem in Bacchus Nel se studio, Capital Park Records, in Pretoria.
Musikante op die album:
Bacchus Nel (sang en kitaar), Rynier Prins (kontrabas en elektriese kitaar), Rian Britz (klavier en trekklavier), Loandi Boersma (agtergrondsang en mondfluitjie), Lebo Mabe (trompet en tromboon), Murray Theron (saksofoon), Wynand Bothma (mandolien), Jaco Mans (pedal steel-kitaar).
Luister Vaalrivier hier:
Kommentaar
Pragtig...