Babalela by Momentum Beleggings Aardklop: ’n resensie

  • 0

Die rolverdeling van links: Stephan Louw, Anina Oberholzer, Jana Eloff, Soné Pieterse (Bron: EnterActive Productions Facebook)

Babalela
Deur Martie Preller
Verwerk deur EnterActive Productions
Met Jana Eloff, Anina Oberholzer, Soné Pieterse, Stephan Louw
Regie en ontwerp deur Dulinda Pieters
Musiek deur Sean Butler, Dulinda Pieters
Tydsduur 45 minute

Hierdie verhoogproduksie is gebaseer op die geliefkoosde Babalela-kinderboeke geskryf deur Martie Preller.

In hierdie vertoning van Babalela ontsnap hy uiteindelik uit die kloue van die skurke wat hom gevang het, en vlieg terug bos toe. Toe hy daar aankom, is almal onrustig. Knortand wil Wrrrumpie se pootjies afbyt, dié twee se bakleiery versteur die Fripperwakkies se nes, Potifant word uitgeskel omdat hy “kyk waar hy loop, maar nie loop waar hy kyk” nie en selfs Meermoskat kom aangehop om te kyk wat aangaan. Wrrrumpie besluit dat hy, nes Babalela, op ’n avontuur buite die bos wil gaan. Hy en die ander bosdiere eindig in die stad op. Wanneer Babalela wakker word, besef hy dat sy maats weg is. Hy besluit om hulle te gaan soek.

Dink net hoe verbaas ek was toe ek besef dat die vertoning nie dieselfde storielyn volg as wat op Aardklop se aanlyn feesprogram geadverteer is nie. Volgens die program word Babalela en sy bosmaats gedreig deur ’n reuse-stootskraper wat die bome in die bos omstoot en uitruk. Hulle moet ’n plan maak voordat daar niks van die bos oorbly nie. Teen R100 ’n kaartjie verwag ’n ouer om te sien waarvoor hy/sy betaal het. Dit was egter nie ’n probleem vir die jongspul nie en hulle het hulself gate uit geniet met die storie wat aan hulle voorgehou is.

Met eerste oogopslag is die stel taamlik beskeie: Drie geverfde agterskerms (twee van die bos en een van die stad), ’n boomstomp en ’n paar materiaalblare/-grassies op die verhoogvloer. Toe die indrukwekkende poppe uiteindelik verskyn, het die kinders se ogies in verwondering vergroot. Al ses poppe word deur die akteurs gespeel - ’n groot taak vir vier jong akteurs. Alhoewel die vokale karakterisering suksesvol is, is die poppespel dikwels oneffektief. Dit was duidelik dat die akteurs in sommige tonele gesukkel het om al ses poppe op een slag te beman.

Die musiek het my teruggeneem na my kinderdae en die kinders in die gehoor het vrolik saamgesing. Gedurende die vertoning het dit egter voorgekom asof die tegniese cues nie mooi ingeoefen is nie. Daar is dikwels dooie stiltes tussen die spreekbeurte van die karakters en die speel van die opnames van die verteller. Ten spyte van die tegniese foute, het die akteurs voortgestu.

Alles in ag geneem, het hierdie interaktiewe vertoning die jongspul waarlik vermaak. Dit is hartroerend om te sien dat Babalela steeds, 23 jaar ná die oorspronklike publikasie van die eerste boek, goed deur kinders ontvang word. Hierdie storie is werklik tydloos.

EnterActive se produksies van Babalela kan op hulle Facebook-blad gevolg word. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top