Baaikaap

  • 1

Die woord bicarb (bicarbonate of soda) het met so ’n lekker Amerikaanse inslag uit my Kapenaar-pa se mond gerol. 

Mammie het dit laat klink soos die koebaai-woorde van iemand wat oorsee vertrek vanaf Cape Town International-lughawe: "Baai Kaap!"

Daar was altyd baaikaap in die huis. Pa het sy eie spesiale boksie gehad. Hy het saans sy skoene bestrooi, want Mammie het gesê sy voete vrot soos ou kaas omdat hy nooit sy voete lug gee nie. 

Sondae het Pa dit gesluk vir sy sooibrand en om sy hele konstitusie te overhaul, want weer was dit Mammie: "Môre issit skool en djy ruik nog soos ’n kantien op wiele!"

Opgeklits met suiker en asyn was die konkoksie nét so effektief soos Eno’s Fruit Salts.

Mammie se boksie was vir haar doekpoeding – ’n sinsbegogelinglekker affêre vol dadels. Eenmaal ’n maand is die yskas daarmee uitgewas of het sy ons skoolhemde se krae met ’n pasta ingevryf en uitgeborsel. 

Dis pay-dag. Pa kom eers skemeraand huis toe met sy onderwyspelle. "Daa' kom hulle nou, Mammie!" Eks vroeër aangesê om wag te hou. Mammie wag die groepie in met hande op die heupe soon ’n grênd suikerpot.

Sy begin praat in tale. Pa se smile is windskeef. Hy hou ’n pakkie uit na haar, maar sy ignoreer dit. Mnr Middleton lig sy hoed en sê: "Hi there, Ray. As prepossessing as always!"

"Man, hou djou jawbreakers en djou joeniwaasitie-gedagtes vi' djouself! My moer is nou só suur – ’n hele pakkie baaikaap sillie eers help'ie!"

"University, Mammie!" probeer ek help, maar haar oë flits blou soos ’n poeliesvên se ligte. "Hou djy djou bek. Ék het djou nog laas leer praat!"

In die pakkie op die dressing table was nie baaikaap nie, maar ’n boksie Black Magic tjoklits.

Pa was weer safe tot die volgende pay-dag.

Wanneer ek koeksoda opklits bruis die verlange na ’n tyd wat was.

  • 1

Kommentaar

  • Nooit geweet daars nóg mense wat baai kaap met suiker en asyn gebruik as eno nie ... ek noem dit 'n "spons" ... resep van my oorle ma gekry. Dit werk soos 'n bom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top