|
Te oordeel aan die aantal kerke in Europa en selfs in Suid-Afrika wat lidmate verloor, blyk dit dat die tradisionele Christelike teologie sy geloofwaardigheid onder sekere groepe verloor het en nou plek maak vir die rede. Die rede het alle mitologieë verdryf en die siel uit die wetenskap uitgesluit, om self later as god na vore te kom. Tans is daar ’n soeke na ’n nuwe mite of waardesisteem (vMEME). Volgens Walsh (2007) en Campbell (2008) het die mites wat voorheen ’n rigsnoer vir menslike optrede was, nou irrelevant geword. Ons het ’n nuwe mite nodig, een wat die verhaal van die kosmos kan verenig. Films het vir baie mense die Bybel as morele gids vervang en die skeppers van mites is vandag filmmakers wat hulle skeppings gebruik om die deur na die “ander kant” vir kykers oop te maak. Mites het mistieke, kosmologiese, sosiologiese en psigologiese funksies en beskryf die “reis van die held” om die “skat” te vind en na die mense terug te bring. Wanneer ’n rolprent soos Avatar die verbeelding van mense regoor die wêreld aangryp en mistieke elemente bevat, dan moet daar iets in die rolprent steek. Dit kan nie as “Dances with wolves in die ruimte” afgemaak word nie. ’n Avatar is die manifestasie of inkarnasie van die goddelike op aarde, spesifiek die Hindoe-god Wisjnoe in menslike vorm, soos Rama of Krisjna. Die tema van die film is juis dat die mens ’n manifestasie van die goddelike is. James Cameron, die regisseur en draaiboekskrywer, het ’n nuwe mite geskep en hierdie artikel ondersoek mites en analiseer Avatar om aan te toon dat films inderdaad nuwe mites kan skep wat mense daartoe kan bring om self-verwerkliking te oorweeg.
Avatar: A mythology for our time
Taking into account that many churches in Europe and even in South Africa are losing members, it seems as if the traditional Christian theology has lost its credibility within the ranks of certain groups and had to make room for reason. Reason pushed all mythologies out the window and locked the soul out of all scientific discussions, only to become god itself. Today, there is a quest for new mythologies, or value systems (vMEME). According to Walsh (2007) and Campbell (2008) the myths that previously provided the guidelines for the conduct of life, are irrelevant today and we therefore need a new myth – a grand, unifying story of the cosmos. Films have replaced the Bible as the moral guide for many people and the myth-makers of our time are the film-makers, who use their art to open the door to the “other side”. Myths have mystical, cosmological, sociological, and psychological functions and depict a “journey of the hero” to find the prize and bring it back to the group. When a film like Avatar grabs the attention of people worldwide and the content has a mystical slant one can assume that we have something special. It cannot be dismissed as a “Dances with wolves in space”. An avatar is a manifestation, or the incarnation,of the Divine on earth – particularly the Hindu god Vishnu in a human form like Krishna or Rama. The theme of the film is exactly that of mankind being a manifestation of the divine. James Cameron, the director and scriptwriter, has created a new myth and this article looks at myths and films to analyse Avatar in order to illustrate that films can indeed create new myths that can move people to consider self-realisation.
1. Tradisionele teologie, rede, mite en siel
Die tradisionele Christelike teologie in die Weste se geloofwaardigheid en relevansie het sedert die Aufklärung, oftewel, die Verligting, stadig maar seker afgeneem. Terwyl die kerklike teologie gefokus is op ’n Bybelse teïsme, is daar Christene wat nie meer tuis voel in die tradisionele verstaan van die Bybel of in die kerklike praktyk van Sondag- aanbidding van ’n transendentale God nie (Avis 2003:50-81; Riggs 2003:9). Marion, ’n integrale teoloog, maak die volgende stelling:
Many Christians are questioning the credibility of the basic Christian myth – that the Son of God came down from heaven to save us from sin by dying on a cross. Many are even questioning the existence of God. All this has resulted in a profound spiritual crisis throughout the West, a crisis compounded by moral scandals in some parts of the Church. (2004:xiv)
Een van die redes vir die bevraagtekening van die bestaan van God is die opkoms van rasionaliteit as die enigste bron van kennis. Abrams (2009:158) haal Adorno en Horkheimer aan wanneer hy na die spanning tussen mitologie en die rede verwys: “Myth is narrative, the stories we tell about our origins, stories about seemingly uncontrollable nature, wild and filled with spirits and gods. Reason, by contrast, controls these dark forces and overcomes the gods.” Abrams (2009:160) wys daarop dat die rede die gode van die mitologieë vervang het en self god geword het: “Reason had always defined itself in relation to – and against – mythology. And now, with no mythology left, reason goes searching for a new target, and (finding nothing) eventually it turns upon itself.”
Die tradisionele teologie se verknogtheid aan die transendente God bedreig die voortbestaan van die kerk. Harpur (2004:7) sê dat die kerk vandag by ’n kruispad staan: “Many of its best thinkers are warning that it may have only one more generation before extinction because of its failure to communicate meaningfully with a postmodern age.”Keller, ’n proses-teoloog, som die dilemma soos volg op:
Nothing more surely characterizes our era, which we might as well call postmodern, than awareness of multiplicity. […] This plurality sends some running back to the security of some absolute: nulla salvus extra ecclesiam – “No salvation outside of the church”. And it dissipates others in a global marketplace of options.” (2008:21)
Gelowiges van alle godsdienste staan dus voor die keuse: veiligheid en sekuriteit in die tradisie of die onsekerheid van postmodernisme.
Diegene wat na die “global marketplace of options” gaan, is op soek na ’n nuwe mitologie, soos die psigoanalis May beweer:
[T]here is an urgency in the need for myth in our day. Many problems of our society, including cults and drug addiction, can be traced to the lack of myths which will give us as individuals the inner security we need in order to live adequately in our day. (1991:9).
Walsh (2007:58) stem saam:
Throughout human history, myths have provided guidelines for the conduct of life. Only in our own time have so many cultures lacked a coherent myth – a grand, unifying story of the cosmos. Indeed, this lack of meaningful myth may underlie much of the fragmentation and alienation that haunts our lives and our future may well depend on our ability to create a new, life affirming myth that gives coherence and common meaning to our modern world.
Campbell (2008:334) neem die argument verder:
The problem of mankind today, therefore, is precisely the opposite to that of men in the comparatively stable periods of those great co-ordinating mythologies which now are known as lies. Then all meaning was in the group, in the great anonymous forms, none in the self-expressive individual; today no meaning is in the group – none in the world; all is in the individual. But there the meaning is absolutely unconscious. One does not know toward what one moves.
Dit lyk asof die vind van ’n hedendaagse mitologie wat vir individue betekenis kan gee, een van die oplossings vir die vervreemding kan wees. Verby is die dae egter dat daar een universele mite kan wees. Die “absolute onbewustelikheid” by die individu is die gevolg van die verlies aan betekenis wat die gemeenskap aan die siel toeken. Plotkin, ’n ekopsigoloog, spreek sy kommer so uit:
Contemporary society has lost touch with soul and the path to psychological and spiritual maturity, or true adulthood. Instead, we are encouraged to create lives of predictable security, false normality, material comfort, bland entertainment, and the illusion of eternal youth. (2003:1)
Dit is die “droommaker”, naamlik die siel, wat die ego wil help om volwassenheid te bereik en te transformeer (Plotkin 2003:140), maar sonder die erkenning van die siel kan groei nie plaasvind nie.
Moore (1992:ix) erken dat dit onmoontlik is om die siel te definieer, aangesien definisies intellektuele ondernemings is. Die siel, daarenteen, verkies beelde. Dan sê Moore (1992:ix): “We know intuitively that soul has to do with genuineness and depth.” Tog is daar ’n “verlies van die siel” omdat mense dit onderdruk, en wanneer dit gebeur, is daar probleme. Moore waarsku egter: “When soul is neglected, it doesn’t just go away; it appears symptomatically in obsessions, addictions, violence, and loss of meaning” (1992:ix). Daarom probeer hy om na die siel om te sien; nie om dinge wat pla, uit te sny nie, maar eerder om agter te kom wat die siel wil hê.
Tolle, die bekende skrywer en spreker oor die mistieke, sluit hierby aan en stel een van die moontlike redes vir die vervreemding van die mens van die siel: “The ego creates separation, and separation creates suffering” (2005:112). Hy beskou die ego as die oorsaak vir al die menslike ellende en pyn in die wêreld: “The collective manifestations of the insanity that lies at the heart of the human condition constitute the greater part of human history” (2005:11). Die ego is dus agter die “insanity” wat die mensdom in ’n greep het. Tolle noem dat die meeste mense so met die stem in hulle koppe identifiseer – die aanhoudende stroom van geklets en kompulsiewe gedagtes en die gepaardgaande emosies – dat mens dit kan beskryf “as being possessed by their minds” (2005:59).
Die lewe nooi die mens uit om op verskillende maniere te groei: fisies, emosioneel, interpersoonlik, en geestelik. Vir Plotkin vind geestelike groei in twee rigtings plaas: een na die siel en die ander na die gees, wat hy soos volg definieer:
By soul I mean the vital, mysterious, and wild core of our individual selves, an essence unique to each person, qualities found in layers of the self much deeper than our personalities. By spirit I mean the single, great, and eternal mystery that permeates and animates everything in the universe and yet transcends all. Ultimately, each soul exists as an agent for spirit. […] Soul embraces and calls us towards what is unique in us. Spirit encompasses and draws us towards what is most universal and shared. (2003:25)
Alhoewel die tradisionele Christelike teologie onder verdenking is, is daar tog nietradisionele teoloë wat verder as die obsessiewe ego dink. Die kern van Marion se teologie is die “Koninkryk van God”, maar nie soos dit tradisioneel gesien is nie. Die Koninkryk is vir Marion nie die plek waarheen gelowiges na hulle dood gaan nie, maar die hoogste vorm van die ontwikkeling van die mens se bewussyn:
The nondual consciousness that is the vision of the Kingdom of Heaven is the highest stage in the growth of human consciousness from infancy to full spiritual maturity. By the process of inner growth in spiritual awareness, a path of constant inner realization, we gradually come to see our own union with God in Christ so that, at the final stage of nondual awareness, God alone and his Kingdom remain. We see, when we realize the vision of the Kingdom of Heaven, that we, like Jesus, are not mere human beings after all, but are now, and always have been, nothing less than immortal, unlimited, divine Spirit. (2000:13–4)
Marion (2000:183) toon aan, met verwysing na verskeie Christen-mistici, hoe die pad na die Koninkryk loop en wat die Christen behoort te doen om daar uit te kom. Soos later in die artikel uiteengesit sal word, is die reis van die held ’n reis van ontwaking vanaf ’n ego-gedrewe ingesteldheid na hierdie hoëre bewuswording.
Cortright, ’n professor in psigologie en direkteur van die Integral Counseling Psychology Program aan die Kaliforniese Instituut van Integrale Studies, wys daarop dat die lewe ’n geestelike avontuur is. Hy stel die doel soos volg:
The goal is to wake up to our deeper identity so we can align with this larger, Divine movement of love and delight. Life is a spiritual adventure in the evolution of consciousness. Spiritual embodiment is the goal, not a disembodied transcendence. For this we need to discover our soul, our psychic centre, which is the evolutionary principle in us. (2007:4)
Paul, ’n Hindoe-Christen, stel die roeping van menswees onomwonde:
Every member of our species is invited to be a mystic, a seeker of truth, a lover of the ecstatic. We are all called to Spirit. The Divine is always whispering its invitation to us in the innermost space of our hearts. The voice is always there, but it is easily drowned out by the hubbub of our lives. (2009:1).
Die tradisionele Westerse mitologie is deur die rede verwerp en daardeur het die klem weg van die siel en die gees verskuif na ’n ego-gedrewe beheptheid met materiële dinge. Daar is tans by baie mense ’n soeke na ’n integrale perspektief op menswees, om siel, liggaam (Natuur1), verstand en Gees met mekaar te verenig. Watts het gewaarsku:
If Christian groups cannot or will not provide mystical religion, the work will be (and is already being) done by Hindus, Buddhists, Sufis, unaffiliated gurus, and growth centers. Churchmen can no longer afford to laugh these things off as cultish vagaries for goofy and esoteric minorities – as if any intensive practice of religion had ever, anywhere at any time, been of interest to the majority of people. (1971:xxi)
Bostaande uiteensetting van die soeke na mites, die opkoms van die moderne rede, en die verlies aan betekenis van die siel, asook die strewe na die mistieke, dui daarop dat dinge besig is om te verander. Aan die een kant het wetenskaplike materialisme die werklikheid tot die uiterlike gereduseer, en aan die ander kant het die tradisionele teologie prerasionele geskrifte en denke tot goddelike uitsprake verhef. Wilber (2000d:23) noem hierdie verenging van die werklikheid “flatland”. Filosowe het vroeër die verstaan van die werklikheid in wetenskap, kuns en moraliteit, oftewel, die objektiewe, die subjektiewe en die intersubjektiewe, verdeel. Wat wetenskaplike materialisme gedoen het, is om kuns en moraliteit (subjektiewe) uit die verdeling te skop en wetenskap tot die absolute te verhef. Soos later in die artikel duidelik sal word, wanneer ons Wilber se AQAL-model bekyk, word die uiterlike bo die innerlike verhef.
Die Westerse wêreld, en veral Afrikaners, beleef tans ’n oorgangsfase van een waardesisteem na ’n ander. Die term wat Beck en Cowan vir die sisteme gebruik, is value meme (waarde-meme), wat soos volg geskryf word: vMEME. Hulle omskryf dit so: “Such a vMEME reflects a world view, a valuing system, a level of psychological existence, a belief system, an organizing principle, a way of thinking or a mode of adjustment” (2006:4). Dit verteenwoordig ’n kern-intelligensie, het ’n invloed op alle lewenskeuses, kan in gesonde en ongesonde vorme voorkom, is ’n diskrete struktuur vir denke en kan verhelder of verdof na gelang lewensomstandighede verander. Dikwels is mense onbewus van hulle eie waardesisteme totdat hulle waardesisteem met ander bots. Dink maar aan die skok wat die Amerikaners ervaar het met die aanval op die World Trade Center in New York op 11 September 2001. Die meeste Amerikaners was salig onbewus dat hulle fundamentalistiese kapitalisme radikale Islamitiese groepe geaffronteer het. Wanneer so ’n waardesisteem verabsoluteer word en dus ’n ideologie word, soos wat met tradisionele teologie en wetenskaplike materialisme gebeur het, ervaar individue en gemeenskappe ’n verlies en ’n leemte.
Ek verkies om die term mitologie eerder as vMEME te gebruik, maar is deeglik bewus van die term en die betekenis daarvan en gebruik die twee terme nie as sinonieme nie.
Maar waarheen gaan mense om aan nuwe insiggewende mites of vMEME blootgestel te word of om die mistieke weg te ondersoek? Na aanleiding van die lokettrefferfilm Avatar, wat tot op hede meer as 2,7 miljard dollars wêreldwyd verdien het, wil ek in hierdie artikel die moontlikheid ondersoek dat films soos Avatar aan al die vereistes van mitologieë voldoen wat kykers in die skep van nuwe mites kan ondersteun.
2. Reikwydte van films
Die visuele media is belangrik vir die siel, want soos Plotkin (2003:139) dit uitwys: “The soul speaks primarily in images. Dreams are one example.” Campbell (2007:212) sê in hierdie verband: “Dreams are our personal myths; myths, the general dream.”
Bordwell (2006:24) haal Carrol aan wat daarop wys dat vir die nuwe geslag filmmakers en kykers sedert die jare Sestig, “cinema would replace the Bible and literature as a cultural reference point.” Johnston vertel ’n anekdote om die verskuiwing te illustreer:
Garrison Keillor once remarked: “If you can’t go to church and, for at least a moment, be given transcendence; if you can’t go to church and pass briefly from this life into the next; then I can’t see why anyone should go. Just a brief moment of transcendence causes you to come out of church a changed person.” Commenting on this observation, Ken Gire writes, “I have experienced what Garrison Keillor described more in movie theatres than I have in churches. Why? I can’t say for sure … movies don’t always tell the truth, don’t always enlighten, don’t always inspire. What they do on a fairly consistent basis is give you an experience of transcendence. They let you lose yourself in somebody else’s story”. (2007:137)
Johnston (2007:13, 26) herinner die leser aan die krag van films en film se rol in die gemeenskap:
Movies function as a primary source and meaning for people throughout the world. Along with the church, the synagogue, the mosque, and the temple, they often provide people stories through which they can understand their lives. […] There are, of course, places of worship that are vibrant and meaningful. But people both within the church and outside it recognize that movies are also providing primary stories around which we shape our lives. […] Presenting aspects of our daily lives both intimate and profound (real and imagined), movies exercise our moral and religious imagination. Movies remain in the twenty-first century our primary storytelling medium, interpreting reality for us and acting as a type of cultural glue. Given its importance as a means of cultural communication, the cinema has become a significant contemporary language in need of understanding and explication.
Hierdie uitsprake van Johnston kan tradisionele teoloë laat regop sit. “Hoe kan wêreldse vermaak die rol van die kerk oorneem?” is seker ’n vraag wat hierdie teoloë kan vra. Tog gebeur dit. Daarom is dit belangrik dat ons die reikwydte van films bestudeer.
Na aanleiding van my studie van film2 en boeke oor film soos dié van Block (2008), Bordwell en Thompson (2004), Pramaggiore en Wallis (2008), Boorstin (1995), Murch (2001) en ander tekste maak ek enkele opmerkings oor film.
Die meeste narratiewe films het ’n begin, middel en einde, met Full metal jacket (1987) as een van die bekende uitsonderings. (Dit het ’n begin, die opleiding van die soldate in die VSA, en ’n einde wat in Viëtnam afspeel.) Breedweg gesien is die kleinste eenheid van ’n film ’n skoot wat saam met ander skote opgebou word tot ’n toneel; ’n aantal tonele bou op tot ’n sekwensie; en ’n aantal sekwensies vorm ’n bedryf wat die begin, middel of einde van die rolprent kan uitmaak. Elke skoot, toneel, sekwensie en bedryf het ’n begin, middel en einde, of ’n begin en middel, of ’n middel en ’n einde. Natuurlik is daar ook uitsonderings, maar siende dat dit nie die fokus van die artikel is nie, kan ons hiermee volstaan. Visuele beelde het egter min betekenis sonder konteks en daarom is redigering - die opbou van skote in tonele, van tonele in sekwensies en sekwensies in bedrywe - nodig om die verhaal visueel te laat vloei. Indien ’n regisseur saam met die redigeerder drie skote het om ’n toneel saam te stel – een skoot van twee naakte mense wat in die bosse kafoefel, een skoot van ’n vrou wat deur die bosse aangestap kom, en een waar die vrou deur die bosse loer, dra die plasing van die skote die gewig. Indien die regisseur spanning by die kyker wil wek, sal hy/sy die skote in die bogenoemde volgorde plaas. Die vraag wat by die kyker opkom is: “Gaan die vrou die paartjie op heterdaad betrap?” Plaas ons eers die skoot van die vrou wat deur die bosse loop, dan die vrou wat deur die bosse loer en dan die paartjie, skep dit verwagting en verrassing: “Waarheen is die vrou op pad en wat sien sy?” Voeg die regisseur klank, dialoog, toneelspel, stelinkleding, spesiale effekte ensovoorts by, dan sal die toneel meer betekenis dra. Indien die regisseur dramatiese musiek by die toneel plaas, verhoog dit die spanning verder. Sou daar opgewekte musiek wees, sal die kyker die humor van die twee mense se indiskresie amusant vind.
Monaco (2009:176) wys op die bekende uitdrukking: “A film is difficult to explain because it is easy to understand.” Soos die voorbeeld hier bo aantoon, is dit egter nie so eenvoudig om films te verduidelik nie. Monaco (2009:178) merk op dat films op twee maniere betekenis kommunikeer: deur denotasie, wat beteken “dit is wat dit is en ons hoef nie na diepere betekenis te soek nie”, en konnotasie, wat dui op die rykdom van betekenisse wat aan ’n beeld verleen kan word. Kykers maak dikwels die fout om te dink dat alle visuele beelde dieselfde is (denotasie) en dus dieselfde geïnterpreteer kan word. Die rose in American beauty (1999) het visueel ’n ander betekenis (konnotasie) as byvoorbeeld in The godfather (1972). Hoe die kyker die betekenis van ’n roos sou bepaal, hang natuurlik af van die genre, die mise-en-scène (dit wil sê, alles wat op die skerm gebeur: die akteurs, die kamerahoek, die stelinkleding, en selfs die komposisie van die skote), montage, redigering, klank, musiek en die konteks.
In Von Trier se AntiChrist (2009) dui die eerste swart-wit skote van water wat in baie stadige aksie val, op ’n ander betekenis as die stort-/moordtoneel in Psycho (1959). Alhoewel beide tonele in ’n stort afspeel en al twee oor die dood handel, verskil die konnotasie. Die meegaande musiek in AntiChrist dui op ’n religieuse dodemars (requiem), terwyl die musiek in Psycho ’n angswekkende gevoel by die kyker aanwakker. Die kyker moet met AntiChrist meer na betekenis in skote gaan soek as in Psycho. Ongelukkig verwar kykers denotasie en konnotasie met mekaar. Dis hoekom sekere seks- en geweldstonele vir kykers steurend kan wees. Maar indien die kyker ook die konnotasie van tonele ernstig opneem, sal die fliekervaring soveel genotvoller wees.
Film, as grotendeels ’n narratiewe medium, kommunikeer dus eerstens visueel met die gehoor. Soos reeds vermeld is, kommunikeer die siel met beelde, en daarom is film geskik as kommunikasiemedium vir die siel en mitologie.
3. Mitologie
Lank voor die ontwikkeling van die filmkuns het gemeenskappe metafore en beelde in hulle mites gebruik om dieper geestelike waarhede te kommunikeer. Dink hier aan die hiërogliewe en beelde van Egipte, die friese in die Griekse en Romeinse tempels, en selfs die teken van die vis en kruis as heenwysing na die Christus. Deur middel van hierdie beelde het kunstenaars die mitologieë van hul tyd saamgevat. Aan die hand van afdrukke van ’n aantal antieke papirusuitbeeldings en reliëfs verduidelik Campbell (1974:21-31) die mite van hoe Osiris onwetend by sy broer Set se vrou geslaap het en die kind Anubis verwek het. Set was woedend en het Osiris vermoor. Isis, die suster en eggenote van Osiris, het na haar geliefde gesoek en uit haar gemeenskap met die dooie Osiris hul seun Horus verwek. Die Egiptenare kon dus hierdie mite visueel lees en verstaan, net soos ons vandag films kan ervaar om nuwe mites te ontgin. Die kruks van hierdie artikel is die beantwoording van die vraag: Wat is mite en hoe voldoen die rolprent Avatar aan die eienskappe van ’n mite?
Die meeste mense beskou ander mense se godsdienstige verhale as mites, en dus “leuens”, maar hulle eie verhale as feitelike waarhede. Soos ons later in die artikel sal sien, beskou Christen-, Joodse en Islamitiese fundamentaliste wat op die Mities Letterlike-fase van ontwikkeling is, hulle heilige tekste as die enigste feitelike openbarings van God. Hulle aanvaar nie dat hulle “waarhede” ook mites is nie. Campbell (2001:1-2), ’n kenner van wêreldmites, definieer mites soos volg: “No, myth is not a lie. A whole mythology is an organization of symbolic images and narratives, metaphorical of the possibilities of human experience and the fulfillment of a given culture at a given time.” Hy verduidelik verder: “Mythology is a system that endows the mind and the sentiments with a sense of participation in a field of meaning” (2001:8). Dit beteken dat mense vanuit hulle omgewing stories skep om sin van hulle lewens en ervarings te maak, om te ervaar dat hulle lewe. Mense wat in die reënwoude bly se mitologieë is anders as dié van nomadiese veeboere of landbouers van Afrika. Hulle verhoudings met die Natuur en gode sal ook verskil. Die mites hang ook af van op watter vlak van ontwikkeling die gemeenskap is.
Campbell gebruik die term metaphorical in sy definisie. Die mens kan slegs deur metafore oor die Onsienlike praat. McFague verduidelik metafoor soos volg:
Metaphor always has the character of “is” and “is not”: an assertion is made but as a likely account rather than a definition. That is to say, “God is mother”, is not to assert identity between the terms “God” and “mother”, but to suggest that we consider what we do not know how to talk about – relating to God – through the metaphor of mother. (1987:33-4)
Die Christelike kerk het egter die metafoor direk gaan vertaal, wat eintlik ’n verwarring tussen denotasie en konnotasie is. Campbell (2002:53) betreur dit. Wanneer mitologie verkeerdelik as direkte geskiedenis of wetenskap gelees word, verander simbole in feite, metafore word dogma, en kerkgroepe baklei onder mekaar omdat hulle verkeerdelik hulle eie simboliese tekens as die hoogste werklikheid verstaan.
Dit is egter nie net kerke wat baklei vir hulle waarhede nie; dink maar aan die stryd tussen Islam en Judaïsme, Sjinese Imperialisme en Tibettaanse Boeddhisme, Islam en Christene. Mense is bereid om dood en vernietiging te saai ter wille van hulle sogenaamde “feite”.
Ek kon min of geen wetenskaplike kritiek op Campbell se sienings van mitologie vind nie, behalwe van Christene wat die Bybel as “enigste Woord van God” verdedig. Daar is egter geen gespreksmoontlikheid met sulke mense nie. Die enigste kritiek wat relevant vir hierdie ondersoek is, kom van Wilber (2000a:250), soos later in die artikel duidelik sal word.
(Campbell 2001:5) beklemtoon die funksies van mites in die meeste van sy werke. Hy som die vier funksies soos volg op:
-
- Die metaforiese of mistieke funksie – om verwondering vir die lewe – goed of kwaad – te skep waardeur die mens op drie maniere kan deelneem: deur van die lewe te onttrek, deur deel te neem, of deur iets te doen om die situasie te korrigeer.
- Die kosmologiese funksie – om ’n bestendige beeld van die wêreld voor te stel wat sin maak vir mense van hulle tyd. Die Bybelse kosmologie is sonder die insigte van die hedendaagse wetenskap en maak dus vir die moderne mens nie sin nie.
- Die sosiologiesefunksie – om ’n spesifieke morele orde te bevestig en te ondersteun. Alle mites kom uit sekere kulture en moet in die taal en simbole van die kultuur praat. Die mense word ook gevorm deur rites wat ’n uitlewing van die mites is.
- Die psigologiese (pedagogiese) funksie – om die individu deur die verskillende fases van die lewe te vergesel: “to help persons grasp the unfolding of life with integrity”.
In sy navorsing oor die Primitiewe, Oosterse, Westerse en kreatiewe mitologieë het Campbell agtergekom dat die verhale meestal handel oor ’n held wat op reis gaan, op soek na ’n “skat” wat hy of sy tot almal se voordeel na die stam, volk of die wêreld kan terugbring.
Soos die meeste stories het die held se reis ook ’n begin, middel en einde. Campbell (2008:28-9) verdeel die reis in drie dele. Die eerste deel is verwydering of vertreken het vyf stasies:
- die oproep tot die avontuur, of die tekens van die held se roeping
- die weiering van die oproep, of die nadele van die vlug weg van die gode of opdrag, soos Jona weg van Jahwe se opdrag gevlug het
- bonatuurlike hulp – onverwagse hulp aan die een wat die avontuur onderneem
- die oorsteek van die oorgang
- die maag van die walvis, of die reis in die nagtelike ruim – dink aan Jona in die maag van die vis.
Die tweede seksie, die teenslae en oorwinnings van inisiasie, het ses stadia:
- die toetse onderweg, of die gevaarlike aspekte van die gode
- die ontmoeting met die godin (Magna Mater), of die vreugde van verlore jeug
- die vrou as verleidster, of die erkenning en pyn van Oedipus
- versoening met die Vader
- apoteose, of die verhoging tot goddelike status
- die Groot Skat.
Die derde deel, die terugkeer en herintegrasie met die gemeenskap, sluit af met ses stasies:
- weiering om terug te keer, of om die wêreld te ontken
- die magiese vlug, of die ontsnapping van Prometheus
- redding van buite
- die oorsteek van die oorgang, of die terugkeer na die gewone lewe
- die Meester van twee wêrelde
- vryheid om te lewe, die Natuur en funksie van die “Groot Skat”.
Vogler, ’n Hollywood-draaiboekkonsultant, het ’n groot verskeidenheid draaiboeke ontleed en die held se reis soortgelyk aan Campbell se struktuur in baie films raakgesien:
In psychological terms, the archetype of the Hero represents what Freud called the ego – that part of the personality that separates from the mother, that considers itself distinct from the rest of the human race. Ultimately, a Hero is one who is able to transcend the bounds and illusions of the ego, but at first, Heroes are all ego; the I, the one, that personal identity who thinks it is separate from the rest of the group. The journey of many Heroes is the story of that separation from the family or tribe, equivalent to a child’s sense of separation from the mother. The Hero archetype represents the ego’s search for identity and wholeness. (2007:29-30)
Om die “Self” te vind beteken om die ego te verloor, of om die ego af te sterf om sodoende die “Groot Skat” (jou siel) te ontdek en terug te keer met nuwe kennis, tot voordeel van die groep. Dit is wat meester Eckhart, volgens Fox se vertaling, die gelowiges geadviseer het om hulleself van alles te ontledig:
That is to say, empty yourself of your ego and empty yourself of all things and of all that you are in yourself and consider yourself as what you are in God. God is a being beyond being and a nothingness beyond being. Therefore, be still and do not flinch from this emptiness. (Fox 1980:104)
Walsh (2007:39) wys daarop dat die held begin as ego en eindig deur een met alles te word. Die kyker identifiseer met die held en beleef plaasvervangend saam met die held hierdie ontlediging van die ego en die eenwording met “nothingness”.
Mens kan sê dat mites ’n narratiewe struktuur van betekenis is en dat mense mites skep om hulle te help om sin van hulle bestaan te maak asook om die betekenis wat dit aan die lewe gee, te verklaar.
Die Higginbothams het in hulle navorsing oor bewussynsontwikkeling van mense gevind dat daar groei is in hoe die mens, of die self, mites verstaan asook, in die sorg wat mense aan ander gee: “If the self’s moral span expands from caring only about itself to caring about all creatures, then how does this process impact the story it adopts about how the world works?” (Higginbotham en Higgenbotham 2009:143). Die verhouding met die mites bepaal ook watter mites ’n mens sal aanhang.
Hulle het gevind dat die self (mens) deur ses verskillende verhoudings met mites ontwikkel. Hulle het nie ’n vroeë stadium (net na geboorte) nie, aangesien babas nog nie ’n verhouding met mites kan hê nie, of waarvan ons kennis dra nie. Hulle benoem die aard van die verhoudings soos volg:
-
- Mities tasbaar: Die self leer in hierdie verhouding van sy identiteit in die familie, die groep of nasie en ervaar alles deur die sintuie. Die mites verklaar hoekom dinge gebeur en ook die kragte agter die gebeure. Indien jy goed doen, sal goeie dinge met jou gebeur; indien nie, sal die slegte jou oorval. Die self ervaar alles konkreet en sorg net vir die eie ek en is egosentries.
- Mities letterlik: Op hierdie vlak word die self bewus daarvan dat daar agter die heilige tasbare items ’n storie is wat vertel dat die items heilig is. Die storie word beklemtoon. Die self bestudeer die storie en voel dat dit nooit die diepte van die mite kan deurbreek nie. Siende dat die godheid die mite aan die mens gegee het, word gevoel dat die reëls van die verhaal streng nagevolg moet word. Die self is nou deel van ’n groter groep en sorg net vir diegene wat streng volgens die letter van die wet lewe. Hulle is etnosentries.
- Mities rasioneel: Hier ontdek die self dat die letterlike interpretasie van die mite nie teen rasionele ondersoeke kan staande bly nie. Die self vind dat daar agter die mites ’n doel lê wat die fokus van hierdie vlak word. Die self besef dat sekere universele waarhede op almal betrekking het en nie net op die klein groepie nie.
- Mities globaal: Wanneer die mens (self) die universaliteit van die mites besef, is die self in staat om meer perspektiewe te handhaaf en kan dan insien hoekom vroeëre vlakke dinge glo en doen. Die persoon mag op hierdie vlak wêreldgodsdienste bestudeer en ontdek dat alle mites min of meer dieselfde storie vertel.
- Mities argetipe: Op hierdie vlak word die storie minder belangrik en onderliggende patrone kry die klem. Die self “may identify spiritual realms where beings or elements of consciousness exist. It may form relationships with these spiritual realms or beings” (146). Die self beweeg buite die mitiese struktuur en betree die Wesens direk. Dit word vir die mens (self) moeilik om woordelikse uitdrukking aan die ervarings te gee. Verder voel die mens nie net dat hy/sy deel van die kreatiewe proses ís nie, maar ook dat hy/sy die kreatiewe proses wórd.
- Mities avatar: Die finale verhouding met mites is wanneer die self nie langer in terme van argetipiese konsepte dink nie: “Here the self realizes that myth is a vehicle whose purpose is not to describe something external to people (such as God, angels, ethical rules, and so on), but to stimulate internal transformation3by directing people’s attention to some truth about themselves or reality” (147). Mense op hierdie vlak wil ander mense help om hulle bewussyn te transformeer om hulle ware Natuur in die goddelike te realiseer. (Higginbotham en Higginbotham 2009:143-7)
Die Higginbothams verwys na Wilber as inspirasie vir hulle eie navorsing (Higginbotham en Higginbotham 2006:xiv, xv). Wilber, ’n integrale filosoof, het ’n kaart van die werklikheid ontwikkel en noem dit AQAL – alle vlakke, alle kwadrante, alle lyne, ensovoorts. In sy navorsing (Wilber 2000a) het hy agtergekom dat die navorsing op die menslike ontwikkeling in vier dele verdeel kan word: ’n innerlike enkelvoud en meervoud en ’n uiterlike enkelvoud en meervoud (kyk grafiek hier onder). Die innerlike verteenwoordig kuns en moraliteit, terwyl die uiterlike wetenskap voorstel. Wilber (2000b:51) noem die linkerkantste pad die eerstepersoon-enkelvoud- of die ”Ek”-ontwikkeling. Dit fokus op die fenomenologiese en die strukturele aspekte van die ontwikkeling van die mens se individuele bewussyn. Die innerlike meervoud, die kwadrant links onder, die ”Ons”, fokus op die kulturele en die groep se etiese ontwikkeling en dus die hermeneutiese aspekte van die menslike bewussyn. Regs bo is die individuele uiterlike, of “Dit”, wat die sigbare optrede en aspekte van die individu ondersoek, terwyl die kwadrant regs onder die sosiale aspekte van die mensdom verteenwoordig – die “Ditte”.
In een van sy werke deel Wilber (2000b:51) die navorsers wat aan die verskillende kwadrante gewerk het, soos volg in:
Die navorsers in die individuele linkerkantste subjektiewe kwadrant is Sigmund Freud, Carl Jung, Jean Piaget, Sri Aurobindo, Plotinus en Gautama Boeddha.
In die kollektiewe linkerkantste kwadrant is navorsers soos Thomas Kuhn, Wilhelm Dilthey, Jean Gebser, Max Weber en Hans-Georg Gadamer. Hierdie kwadrant konsentreer op verskynsels waaroor Wilber (2000b:50) skryf: “These shared values, perceptions, meanings, semantic habits, cultural practices, ethics and so on, I simply refer to as culture, or the intersubjective patterns in consciousness.” Hierdie kollektiewe kwadrant, wat die meervoud-intern verteenwoordig, dui die kulturele/morele vlak van ontwikkeling aan. Dit is argaïes, animisties-magies, mities, wetenskaplik-rasioneel, pluralisties, holisties tot geïntegreerd, en is intersubjektief.
Die linkerkantste subjektiewe kwadrant verteenwoordig die ontwikkeling van die enkeling se binneste, die instinktiewe, magiese, egosentriese, mitiese, rasionele, pluralistiese, holistiese tot die niedualistiese vlakke. Die eerste drie vlakke is prerasioneel, dan volg rasioneel, en die laaste vlakke is postrasioneel. In die grafiese voorstelling volg ek Higginbotham en Higginbotham se vlakke soos hier bo uiteengesit.
![]() ![]() |
---|
Grafiek: Voorstelling van Wilber se aangepaste AQAL-kaart van die werklikheid4 |
Volgens Wilber (2000b:50) het die intersubjektiewe patrone objektiewe korrelate wat empiries nagevors kan word. Die kollektiewe uitwendige kwadrant is die sosiale strukture van oorlewingstamme, etniese groepe, feodale ryke, vroeë nasies, korporatiewe state, waardegemeenskappe, holistiese en geïntegreerde groepe. Navorsers en teoretiese raamwerke op hierdie gebied is Talcott Parsons, August Comte, Karl Marx, Gehard Lenski, sisteemteorie en die ekologiese Web van die Lewe. Wilber noem dit die sosiale sisteem. Die eksterne individuele kwadrant is die uiterlike fisiese ontwikkeling van die individu. Navorsers en teoretiese raamwerke in hierdie kwadrant is B.F. Skinner, John Watson, John Locke, empirisme, behaviorisme, fisika, biologie, neurologie, ensovoorts.
Wilber se vier kwadrante is nou verwant aan Campbell se vier funksies van mitologie, alhoewel hy dit ten sterkste ontken: “Mythology has no special claim whatsoever on the four quadrants; mythology is simply one particular instance of the four quadrants (mythology is the four quadrants conceived as conformop)” (Wilber 2000a:250). Dit bly een van Wilber en die integrale beweging se tekortkominge.
Wilber verstaan nie die skepping van mites nie, want hy beweer: “And these great myths, laid down 3 000 years ago, could never be created today, not because humanity has no imagination, but because everybody has a video camera. Just let Moses try to claim he parted the Red Sea and see how far he gets” (2006:192).
Wilber verwar mites met geskiedenis.
Volgens Beck en Cowan (2006:274-5) is Graves se uitspraak van “a momentous leap which takes us over from First Tier Subsistence Levels to the Second Tier’s Being levels”, waar mense vir die eerste keer alle perspektiewe kan raaksien en waardeer, hier ter sprake. Diegene op vlakke voor die Mities Argetipe-vlak kan slegs hulle eie vlak raaksien en beskou al die ander vlakke as verkeerd en vyandig. Dit is eers op die Tweede Laag (Second Tier) dat mense alles in plek sien val. Wilber merk op dat met hierdie Tweede-laag-bewussyn die mens vertikaal en horisontaal kan dink en beide hiërargieë en heterargieë gebruik; en vir die eerste keer “vividly grasp the entire spectrum of interior development,5 and thus see that each level, each meme, each wave is crucially important for the health of the overall spiral” (2000c:51). Die mense op die Eerste Laag (First Tier) kan nie ander vlakke verstaan nie.
Integrale Christenskap onder die invloed van vader Thomas Keating kan ook nie van die dogma van die kerk ontsnap nie. Jesus bly ’n historiese persoon wat deel van die Drie-Eenheid is. Keating het kontemplatiewe gesentreerde gebed (centering prayer) gepopulariseer en hy benoem drie teologiese beginsels waarop gesentreerde gebed gebaseer is, naamlik dat die bron Trinitaries is, die fokus Christologies, en die effek ekklesiologies, wat almal tot die Mistieke Liggaam van Christus en die hele mensdom verbind (2004:148). Dit klink teologies suiwer, maar dit is die taal van mense op die Mities Letterlike vlak. Op die mistieke vlakke, naamlik Mities Argetipe en Mities Avatar, val dogma weg en kom patrone en transformasie na vore. Jung het volgens Campbell (2001:60) gesê: “Religion is a system to defend us against the experience of God.” ’n Mens moet eers jou godsbegrip verloor voordat jy die volle ervaring van die Grondbeginsel van Alles, wat mense God noem, kan beleef, of die inkarnasie van God in jou kan uitleef.
Die waarde van Wilber se AQAL-kaart vir film is dat dit ons ’n model gee waarvolgens ons die film as geheel kan beoordeel. Ons kan die narratiewe tegnieke van film soos skote, spesiale effekte, redigering, rolverdeling, toneelspel, mise-en-scène – met ander woorde, die uiterlik-sigbare elemente van film – beoordeel. Dit val in die kwadrant regs bo – uiterlik enkelvoud. Ons kan ’n film in die kollektiewe meervoud, die kwadrant regs onder, volgens genre, konvensies, ikone, ensovoorts indeel.
Die linkerkantste, of die innerlike, het meer met die filosofie, etiek en spiritualiteit van die betrokke film te doen. Hierdie dimensie word dikwels deur resensente en kritici geïgnoreer. Dit is seker een van die redes hoekom baie kritici nie die betekenis van Avatar gesnap het nie.
’n Belangrike aspek van die ontwikkeling is dat daar verskillende lyne van ontwikkeling is: kognitiewe, morele, emosionele, interpersoonlike, behoefte-, self-identiteits-, estetiese, psigoseksuele, spirituele en waarde-lyne. Iemand kan byvoorbeeld kognitief op die argetipe-vlak wees, maar emosioneel op die letterlike vlak. Dit is belangrik om daarop te let dat die vlakke, binne en buite, individueel of groepe, in die vier kwadrante korreleer. Iemand wat in die interne individuele kwadrant op die Mities Letterlike vlak is, se moraliteit sal deur die etiek van die premoderne mitiese orde bepaal word, wat uiterlik deur die sosiale orde van die landbou en tuinbou van die vroeë nasies verteenwoordig word. Hoe hoër die individu se ontwikkeling, hoe kleiner word die groep, maar hoe groter die perspektiewe wat die persoon kan akkommodeer. Dit beweeg van egosentries na etnosentries na wêreldsentries na kosmossentries (Wilber 2007:51). Elke mens begin op die onderste vlak en beweeg dan boontoe. Dit is ook die roete en ontwikkeling wat die mensdom in die geheel tot op hede gevolg het. Enige relevante mitologie moet die hele spektrum van ontwikkeling akkommodeer.
4. Avatar as mitologie vir ons tyd
Die beste genre om moderne mitologie oor te dra is seker wetenskapsfiksie. Pramaggiore en Wallis (2008:287) definieer wetenskapsfiksiefilms soos volg:
Science fiction films explore the potential of human ingenuity and ponder the spiritual, intellectual, and/or physical costs of technological development. They suggest that technology alone is important, or worse, destructive, unless its development coincides with an expansion in the human capacity for creativity, empathy, and/or humility.
Met wetenskapsfiksie kan die filmmakers nuwe wêrelde met nuwe simbole skep wat die gehoor in verwondering na hul asems laat snak. Dit is die eerste funksie van mites. Dit is makliker om met simbole en metafore in wetenskapsfiksie met die gehoor se innerlike self te kommunikeer as byvoorbeeld deur middel van melodrama, film noir en aksie-avontuur-rolprente. Alhoewel film noir tematies en stilisties geskakeerd is, is dit nogtans beperk.
Aanhangers van wetenskapsfiksie is nie passiewe kykers nie. Volgens Sanders (2009:13) daag wetenskapsfiksie die kyker uit om in gesprek met die film te tree:
Normally when one watches a science fiction film, one takes notice of its style and themes. One makes connections, formulates hypotheses, seeks meanings, and asks oneself questions about what will happen next. Far from being passive, watching a film typically involves attentiveness.
Vir voorbeelde van hoe wetenskapsfiksie diep filosofiese en teologiese vrae oor menswees, bewussyn, tydreise en die siel stel, kan ons na die ses Star war-films(1979-2005), die vier Alien-films (1979-1997), die Matrix-trilogie (1999-2003), Dark city,(1998)die vier Terminator-films (1984-2009), Strange days (1999), AI: Artificial Intelligence (2001), Minority report (2002), 12 Monkeys (1995), Blade runner (1982), 2001: A space odyssey (1968)en vele meer verwys.
Die titel van ’n rolprent is dikwels die sleutel om die konnotasie van die film te ontsluit. Dink hier aan Jaws (1974), Shakespeare in love (1999), The matrix (1999), en selfs Stagecoach (1939).
Avatar (2009) is geen uitsondering nie. ’n Avatar is, volgens Feuerstein (1997:44), ’n manifestasie, of inkarnasie, van die goddelike op aarde, spesifiek die Hindoe-god Wisjnoe in menslike gedaante soos Krisjna of Rama. Dit is eers aan die einde van die film Avatar dat die volle betekenis van die naam duidelik word.
James Cameron, die draaiboekskrywer en regisseur, skep met Avatar vir die kyker ’n geloofbare en asemrowende wêreld van Pandora, ’n maan met ’n aardgelyke omgewing wat ’n reuse-gasplaneet genaamd Polyphemus in die Alpha-Centaurus-A sisteem, 4,4 ligjaar van die Aarde af, omwentel. Die verhaal speel af in die jaar 2154, en die verwondering wat Jake Sully en die kyker saam ervaar, laat die ego sonder woorde na die asemrowende beelde kyk. Dit is die eerste funksie van die mite – verwondering. Die planeet/maan se lae swaartekrag het lang inwoners, genaamd die Na’vi, tot gevolg. Die atmosfeer is dodelik vir mense, en om op Pandora te funksioneer het wetenskaplikes ’n hibriede wese, die vermenging van Na’vi-DNS met dié van die mens, geskep. Die Na’vi noem hierdie wesens “sleepwalkers”, droomwandelaars. So ’n wese word ’n avatar genoem wat as ’n voertuig vir menslike bewussyn gebruik word. Die program is daarop gemik om die Na’vi te verstaan en te oorreed om ’n kosbare mineraal, Unobtainium, wat onder hulle “Hometree” is, prys te gee. Die naam van die metaal, Unobtainium, wys daarop dat dit waarna die ego soek, onbekombaar is, maar dit sal nie die ego verhinder om alles in sy/haar vermoë te doen om dit te probeer verkry nie. Die woord droomwandelaar is ook ’n goeie beskrywing van die menslike toestand: ons is salig onbewus van ons ware aard, soos deur Meester Eckhart (Fox 1980:104) verwoord, en ons is dus metafories aan die slaap. In kontras hiermee herinner die Na’vi-groet, “Ek sien jou”, sterk aan die Hindoe-groet “Namaste”, wat beteken: “Die godheid in my erken die godheid in jou.” Dit is ’n verklaring dat die ander persoon ook ’n manifestasie van die goddelike is en daarom met respek behandel behoort te word.
Hierdie gedetailleerde uiteensetting van die wêreld Pandora is, hoewel nuut vir die kyker, noodsaaklik, want dit maak Pandora ’n oortuigende wêreld. Dit is die tweede funksie van mites, naamlik dat die kosmologie in Avatar deeglik geskep is. Die Bybelse kosmologie is die hemelkoepel waaragter God skuil, die aarde waarop mens en dier lewe, en onder die aarde, waar die hel is. Mense in die Mities Letterlike fase aanvaar hierdie wêreldbeeld as die waarheid. Die Na’vi se kosmologiese beskouing is nader aan dit waarvan Almaas (1988:475) melding maak:
The world is perceived, in some sense, as alive and living, as one infinite and boundless organism of consciousness. It is not merely the presence of Being or consciousness; this dimension of Being is experienced as a living organism, boundless and infinite.
Hierdie siening verteenwoordig die beste in die mens en iets waarna gestrewe moet word.
In Avatar beweeg die kyker saam met Jake Sully om Pandora, die nuwe wêreld van die film, van nader te bewonder. Tydens die openingskoot hoor ons ’n manstem wat vertel hoe hy dikwels droom dat hy vlieg, terwyl die kamera oor ’n oerwoud beweeg. Onmiddellik plaas die regisseur die kyker midde in ’n mite, want soos ons reeds gesien het, kan drome en mites met mekaar verbind word (Campbell 2007:212). Drome is nie die plek van die ego nie, maar die setel van die siel (Plotkin 2003:140). Die ongerepte oerwoud is in skrille kontras met wat die kyker weet van tropiese oerwoude wat daagliks uit hebsug deur mensgemaakte brande vernietig word. Dan sien ons ’n oog wat oopgaan en die held, Jake Sully, se gesig wat met ’n ligte blou kleur verlig is. Hierin is klaar ’n verwysing na Jake se nuwe geboorte as ’n Na’vi, wanneer sy oë aan die einde van die film oopgaan. Die Engelse woord sully beteken “besoedel, besmet, bevlek en beklad” (Pharos 2005). Dit verwys seker na die Katolieke dogma van die Oersonde wat deur Jesus se bloed met die doop skoon gewas word. Soos ons sal sien, gaan dit in Jake, en dus die kyker, se geval nie oor uiterlike verlossing nie, maar oor die ontwaking tot die ware self. Freke en Gandy (1999:66) verwys na “heidense godsdienste” in hul definisie van oersonde: “The Mysteries taught that the original sin was separation from God.” Die woord avatar beteken juis die eenheid met God, dus ’n opsegging van die verwydering van God. Jake se verhaal wys hoe hy van verwydering na eenheid beweeg.
Die kyker hoor gou dat Jake ’n voormalige seesoldaat en ’n parapleeg is wat sy dooie tweelingbroer, die wetenskaplike, se plek in die avatar-program moet inneem. Dit is die held se gewone wêreld en die oproep tot die avontuur. As soldaat, wat “eer en diens” vooropstel, kom Jake gou onder die invloed van kolonel Miles Quaritch, die bevelvoerder van Secops, ’n privaat-sekuriteitsmag, wat die vuis van die Mities Rasionele Resources Development Administration (RDA) verteenwoordig. Die kolonel stel die slegte raadgewer vir Jake voor. As teenvoeter ontmoet Jake ook die avatarprogramleier, Grace Augustine, gespeel deur Sigourney Weaver.
Grace Augustine se naam is belangrik: Augustinus was ’n invloedryke vroeë kerkvader wat die liggaamlike seksuele drange en die vrou as boos beskou het. Feuerstein lewer kritiese kommentaar op Augustinus: “It was, however, St. Augustine who must bear the greatest historical blame for the victory of sex-negativity in Christianity” (2003:104). Haar voornaam, Grace, beteken “genade”, en dit kan beteken dat die liggaam genade ontvang deur die inwoning van die goddelike as avatar. Die volledige eenwording in die verhaal is nie Grace beskore nie, alhoewel sy as wetenskaplike botanis die konneksies tussen die godin Eywa en die Natuur wetenskaplik op Pandora waargeneem het. Terwyl sy nie haar wonde oorleef nie, verenig haar siel met die “Boom van Siele”.
Jake se eerste kennismaking as ’n avatar met Pandora stel hom onmiddellik in groot gevaar. In sy vlug van die sesbenige roofdier, ’n thanator, beland hy in water, simbolies van die onderbewuste en een van die natuurelemente. Terwyl hy ’n trop glibberige wolwe, die viperwolves, met vuur (nog ’n natuurelement) beveg, kom die “godin” Neytiri, ’n Na’vi-vrou, tot sy redding. Sy het vroeër, toe sy hom wou doodmaak, gesien hoe ’n klein swewende jellievisagtige tentakel op die punt van haar pyl sit. Dit was ’n teken van Eywa dat Neytiri Jake geen leed moet aandoen nie. Later, toe sy hom wegjaag, kom ’n hele swerm van die tentakels, wat die Na’vi Atokirina, die saad van die heilige Boom van Stemme, oftewel Utraya Mokri, op Jake sit. Die Atokirina, wat ’n belangrike rol in die “siel” van die reënwoud speel, word Jake se “bonatuurlike hulp” of bondgenote. Toe Jake Neytiri later vra hoekom sy hom nie doodgemaak het nie, het sy gesê: “You have a strong heart. No fear … Come.”
Jake word deur die Omaticaya-stam verwelkom as die eerste avatar-kryger en Mo’at, die sjamaan of Tsahik, gee aan haar dogter, Neytiri, opdrag om Jakesully6 in hulle weë op te lei. Mo’at gee Jake ’n nuwe naam, want sy beskou hom nie meer as “besoedel” nie. As Tsahik of sjamaan is Mo’at die skakel tussen die Eywa en die Na’vi.
Walsh (2007:14-5) definieer sjamanisme soos volg:
Shamanism can be defined as a family of traditions whose practitioners focus on voluntarily entering altered states of consciousness in which they experience themselves or their spirit(s) interacting with other entities, often travelling to other realms, in order to serve their community.
Ingerman en Wesselman (2010:1) noem die volgende:
The word “shaman” comes from the language of the Evenki peoples, a Tungusic tribe in Siberia. […] In shamanic cultures, the word “shaman” has come to mean “the one who sees in the dark” or “the one who knows”.
Campbell (1991:122-3) tref ’n onderskeid tussen ’n priester/predikant en ’n sjamaan:
A priest is a functionary of sort. The society worships certain deities in a certain way, and the priest becomes ordained as a functionary to carry out that ritual. The deity to whom he is devoted is a deity that was there before he came along. But the shaman’s powers are symbolized in his own familiars, deities of his own experience. His authority comes out of a psychological experience, not a social ordination.
Vandag is daar weer ’n oplewing van sjamanisme om hierdie persoonlike ervaring met God te beleef en nie op tussengangers soos dominees en professore staat te maak vir hulle “kennis” (gnosis) van God nie.
Jake se versoek om van die Na’vi te leer word positief beantwoord slegs nadat hy erken het dat sy beker leeg is. Suzuki (2006:1) gee ’n kort verduideliking van die betekenis van ’n vol en leë beker: “In the beginner’s mind there are many possibilities, but in the expert’s there are few.” Die beginner, of dit in die vegkuns of in Zen-meditasie of die weë van die Na’vi is, weet niks nie en is oop vir enige nuwe inligting. Kenners is so vol van hulself dat hulle alle nuwe inligting deur ’n sif van hulle opgehoopte kennis laat wegspoel. Daarom is dit makliker om ’n beginner se “beker” te vul as ’n kenner s’n.
Dan bring Mo’at die fokus van die verhaal van alle helde van mites en elke kyker na vore: “Then we will see if your insanity can be cured.” Dit verwys na wat Tolle (2005:112) oor die “malligheid” van die ego-gedrewe lewe te sê het: dit kan alleen genees word indien die persoon ontwaak tot die ware self en wat Jake stelselmatig gedurende sy opleiding beleef. Die kyker ervaar hierdie opleiding en ontwaking saam met die held. Jake word sistematies in die Na’vi-gemeenskap ingewy totdat hy een met die Na’vi en Pandora is. Campbell (2001:2-5) noem die inisiasie-deel van die vierde funksie van mites die psigologiese aspek.
Maar Jake het ’n dubbele rol: hy moet as ’n spioen vir kolonel Miles Quaritch onder die Na’vi optree. Hierdie rol simboliseer die mens se ego wat teen die ware self gekant is. Paulus praat in Romeine 7:19 (Die Bybel 1983) van die stryd tussen die goeie wat hy wil, maar nie doen nie, en die slegte wat hy nie wil nie, maar doen. Jake ondergaan ’n transformasie van spioen vir die RDA tot ’n kryger en bevryder van die Na’vi.
Campbell (1991:28) sluit by die noodsaaklikheid van ’n integrale kosmologie in mites aan wanneer hy sê: “The only mythology that is valid today is the mythology of the planet – and we don’t have such a mythology.” Avatar se kosmologie is op die inwonende teenwoordigheid van die Moedergodin Eywa gerig, en daarom is die Na’vi se verhouding met die Natuur een van respek. In teologiese taal staan dit bekend as panenteïsme – God is in alles, alles is in God, maar God is groter as alles. Cooper (2006:27) verwys na die generiese definisie: “The Being of God includes and penetrates the whole universe, so that every part exists in Him, but His Being is more than, and not exhausted by, the universe.” Dit beteken dat God en die wêreld ontologies verskillend is, en dat God die wêreld transendeer, maar die wêreld is ontologies in God. Campbell (1991:99) wys op wat die Westerse benadering tot die Natuur is, wat Wilber se uiterlike twee kwadrante voorstel, naamlik ’n “Dit”: “You can address anything as a ‘thou,’ and if you do it, you can feel the change in your own psychology. The ego that sees a ‘thou’ is not the same ego that sees an ‘it’.” Met ’n God, soos Jahwe, wat buite sy skepping staan, sal die volgelinge van hierdie Joods-Christelike mitologie nooit die Natuur as “U” kan aanspreek nie (kyk White 1996:3-14). Die natuur is vir die Westerling iets om tot eie gewin aan te wend. Avatar bied die kyker ’n alternatief.
Een van die belangrike visuele simboliese verbintenisse tussen die Na’vi en die Natuur is die haarstuk, of tsaheylu, die bandwat die Na’vi met beide hulle “perde”, genaamd Direhorses, en die gevlekte Banshees vorm. Maar voordat die versmelting tussen Jake en die “perde” kon plaasvind, word hy deur albei afgegooi. Dit dui daarop dat die ego eers onttroon moet word voordat die eenheid tussen liggaam en siel, mens en Natuur, kan plaasvind. Na elke inisiasie is Jake een stap nader aan eenwording - om ’n avatar, ’n manifestasie van God, te word.
Plotkin (2008:45-7) onderskei tussen sielsentriese en egosentriese samelewings. Wesens in ’n sielsentriese gemeenskap lewe vanuit hulle diepste wese en is ook ekosentries. Die Na’vi verteenwoordig die sielsentriese. ’n Egosentriese gemeenskap lewe weer op die oppervlak, net vir die “eie ek”, wat ver van die Natuur verwyderd is. Die mense wat Pandora beset, verteenwoordig egosentrisme.
Plotkin (2008:47) som dit soos volg op: “A partnership with soul, spirit, and nature is the heart of any culture and of each of its members. The egocentric society cuts out its own heart and attempts to live without it.” Quaritch lewe sonder ’n hart, terwyl Plotkin aan die kant van die Na’vi sou wees, want vir hom moet die mens eers die siel binne-in homself ontdek om een met die Natuur te wees. Soos Graves (Beck en Cowan 2006:286) aantoon, kan die Mities Rasionele, wat op die eerste laag is, nie die Mities Argetipe, wat op die tweede laag is,verstaan nie, nog minder diegene wat op die Mities Letterlik-vlak is.
Die sosiale struktuur van die Na’vi (die derde funksie en AQAL se onder-regterkantste kwadrant) asook die kulturele struktuur (onder-linkerkantste kwadrant) is stamgebonde en wanneer die twee bemindes, Jake en Neytiri, die huweliksgebruike verbreek deur gemeenskap te hê, lui dit die begin van ’n nuwe era in. Neytiri was reeds aan iemand anders belowe.
Dit wil voorkom asof die Na’vi ’n Mities Letterlike sosiale struktuur het en die hebsugtige mense, of “sky people”, soos die Na’vi hulle noem, ’n rasionele selfsugtige uitkyk. Wanneer Jake ná die aanval op die Na’vi se Tuisboom deur Neytiri verwerp word, gebruik hy sy rede om Toruk, ’n Leonopteryx, die koning-predator van die hemelruim, te vang en om op sy rug ’n onvergeetlike, amper apokaliptiese verskyning te maak om sodoende weer aansien by die stam te kry.
Die Na’vi, sonder Eytukan, die stamhoof, het na die eerste aanval biddend by die Boom van Siele op oplossings gewag. Toe Jake met Torukdaar aankom, was hulle gereed om hom te volg, want nou is hy nie meer net Jakesully maar Toruk Macto, Ruiter van die Laaste Skaduwee. Volgens Na’vi-oorlewering het dit slegs vyf keer in die verlede gebeur dat ’n Toruk Macto na vore gekom het om al die stamme in Tye van Verdriet te verenig. Die tweestryd tussen ego en siel in Jake is verby en nou is hy gereed om as ’n ontwaakte met ’n suiwer siel die Na’vi tot oorwinning te lei.
Wilber (2000a:210-3) is krities oor denke wat die prerasionele met die postrasionele verwar net omdat die twee nie rasioneel is nie. Gewoonlik is dit postmoderne pluraliste, of mense op die Mities Globale vlak wat die “noble savage” tot die postrasionele verhef, en dis wat Cameron met die Na’vi doen. Nêrens verabsoluteer of romantiseer Cameron die Na’vi sonder om hulle etnosentriese beperkthede uit te wys nie. Wilber se kritiek op pre-/trans-valshede is geldig, maar die wêreld waarin ons vandag leef, het nog geen voorbeeld van hoe gemeenskappe op die Mities Argetipe- of Avatar-vlakke funksioneer nie. Al wat ons het, is om die beste uit die verlede te neem en dit te vermeng met die beste van die hede om vanuit die mistieke ’n nuwe kosmologie, sosiologie en psigologie te ontwikkel.
Cameron is gekritiseer dat hy ’n wit man gebruik het om die inheemse bevolking van vernietiging te red. Dit is egter ook deel van die struktuur van mites – die redding kom van buite – maar belangriker, om in jou verhouding met mites te ontwikkel, het die mens ’n inspuiting van buite jou gemaksone nodig. Jake is ook deur Neytiri gered en wanneer Jake letterlik en figuurlik die “ou mens” afsterf, word hy deur Eywa, die godin, “gered” deur volledig in ’n Na’vi te verander.
Die gevegstonele aan die einde tussen die RDA-magte onder aanvoering van Quaritch en die Na’vi kan in twee gedeel word. Die eerste lugaanval op die Tuisboom laat die onvoorbereide Na’vi verstom en verpletter, ten spyte van Jake en Grace se waarskuwings. Dit is die simboliese vernietiging van die Na’vi se prerasionele naïwiteit en die begin van ’n nuwe orde. ’n Mens kan nie ’n probleem oplos met dieselfde gesindheid wat die probleem veroorsaak het nie. Die Na’vi moes eers uit hulle eie “veiligheid” wakker geskud word voordat hulle na die volgende vlak kon beweeg.
Die finale veldslag het in die lug en op die grond plaasgevind – masjien teen Natuur. Jake het voor die geveg by die Boom van Stemme vir Eywa om hulp gevra, maar Neytiri het hom daarop attent gemaak dat Eywa net in die ewewig van alles belangstel. Toe die diere deel van die geveg word, het Neytiri opgewonde uitgeroep: “Eywa has heard you!”
Jake se geveg met Quaritch is simbolies van Jake se breuk met die verlede van “eer, lojaliteit en diens”. Toe Quaritch Jake se “kokon” vernietig, was dit Neytiri wat die “man/masjien” uitwis en Jake se lewe red. Die liefde is sterker as die dood – soos Trinity in The matrix Neo met ’n soen uit die dood opgewek het, soen Neytiri die “ou mens” Jake en hy word as ’n volledige geïnkarneerde Na’vi wakker. Dit is ’n omgekeerde Slapende Skone-verhaal.
Soos met The matrix het kritici ook probleme met die uitgerekte oorlogstonele in Avatar. Dit het egter alles met die struktuur van mitologie te doen. Hoe groter en belangriker die doel wat die held moet bereik, hoe moeiliker word dit om die taak te voltooi. Herkules moes twaalf take uitvoer; Ulysses het jare lank rondgeswerf voordat hy weer tuis kon kom; en Jesus is bespot, geslaan, gemartel en gekruisig – alles ter wille van dit wat verkry is. In Avatar en The matrix gaan dit oor die grootste doel van alles: om te ontwaak tot die ware self. Dit is die moeite werd om daarvoor alles op te offer, selfs jou lewe. Jesus het tog gesê: “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind” (Die Bybel 1983: Matteus 10:39). Bowendien gee die ego nie sonder ’n gestoei sy selfgemaakte illusie prys nie. Visueel is die gevegstonele ’n tour de force in filmtegnologie, met asemrowende rekenaargegenereerde beelde en kragtoere in toneelspel.
Jake inkarneer aanvanklik in die hibried of avatar deur sy bewussyn vanuit sy gewonde liggaam. Aan die einde wanneer Jake die mens/ego afsterf om in ’n ware Na’vi te verander, is die mite en Eenwording voltooi. Ons het gesien (Paul 2009:1; Marion 2000:13–4) dat die Gees alle mense oproep om een met alles te word deur ons intieme ervaringsverhouding met die goddelike – of ons dit Jahwe, Jesus, Allah, Gaia of Eywa noem, maak nie saak nie. Avatar, die film, en Jake se verhaal, kan die kyker blootstel aan die behoefte om ’n eie bevredigende mitologie te skep sodat die kyker self daardie transformasie kan ondergaan.
5. Ten slotte
Ek is oortuig dat Westerlinge se soeke na ’n eenheid van siel, liggaam en Natuur in ’n integrale mitologie een van die redes is hoekom Avatar so ’n groot lokettreffer is. Mense kan die flou storielyn en die uitgerekte oorlogstonele aan die einde kritiseer. Soos aangedui, is die verhaal nie vlak nie, maar het dit juis baie dimensies wat mense bewustelik of onbewustelik aanspreek. Avatar moes Oscar-toekennings vir die beste draaiboek, regie en rolprent ontvang het.
Postmoderne westerlinge en Afrikaners het nuwe mitologieë nodig wat op Mities Argetipe- en Mities Avatar-vlakke funksioneer en wat ’n sinvolle kosmologie, sosiologie en psigologie voorstel – ’n mitologie wat die inkarnasie van God in alle mense (mistieke) ernstig opneem. Die inhoudelike en visuele rykdom van Avatar het hopelik ’n mitologiese kiem by baie kykers geplant. Die kerk sal nou meer as net die spreekwoordelike haas uit die hoed moet gaan haal om sinvol met die postmoderne mens te kan kommunikeer.
Bibliografie
Abrams, J.J. 2009. The dialectic of enlightenment in Metropolis. In Sanders (red.) 2009.
Almaas, A.H. 1988. The pearl beyond price: Integration of personality into Being. An object relations approach. Boston en Londen: Shambhala.
Avis, P. 2003. A church drawing near: Spirituality and mission in a post-Christian culture.
Londen: T&T Clark.
Beck, D.E. en C.C. Christopher. 2006. Spiral dynamics: Mastering values, leadership, and
change. Malden: Blackwell Publishing.
Block, B. 2008. The visual story: Creating the visual structure of film, TV and digital media. Burlington: Elsevier Inc.
Bordwell, D. en K. Thompson. 2004. Film art: An introduction. 7de uitgawe. New York: McGraw-Hill.
Bordwell, D. 2006. The way Hollywood tells it: Story and style in modern movies. Berkeley: University of California Press.
Campbell, J. 1974. The mythic image. Princeton: Princeton University Press.
—. 1991. The power of myth with Bill Moyers. New York: Anchor Books.
—. 2001. Thou art that: Transforming religious metaphor. Novato: New World Library.
—. 2002. Flight of the wild gander: Explorations in the mythological dimension.
Novato: New World Library.
—. 2007. The mythic dimension: Selected essays 1959-1987. Novato: New World Library.
—. 2008. The hero with a thousand faces. Novato: New World Library.
Cooper, J.W. 2006. Panentheism: The other God of the philosophers. From Plato to the present. Grand Rapids: Baker Academic.
Cortright, B. 2007. Integral psychology: Yoga, growth, and opening the heart. Albany: State University of New York Press.
Die Bybel. Nuwe vertaling. 1983. Goodwood, Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Feuerstein, G. 1997. The Shambhala Encyclopedia of Yoga. Boston: Shambhala.
—. 2003. Sacred sexuality: The erotic spirit in the world’s great religions. Rochester: Inner Traditions.
Fox, M. 1980 (vertaler). Breakthrough: Meister Eckhart’s creation spirituality in new
translation. Garden City: Image Books.
Freke, T. en P. Gandy.1999. The Jesus mysteries: Was the original Jesus a pagan god? Londen: Element.
Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.). 1996. The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athens: The University of Georgia Press.
Harpur, T. 2004. The pagan Christ: Recovering the lost light. New York: Walker Publishing Company, Inc.
Higginbotham, R. en J. Higginbotham. 2006. Pagan spirituality: A guide to personal transformation. Woodbury: Llewellyn Publications.
—. 2009. ChristoPaganism: An inclusive path. Woodbury: Llewellyn Publications.
Ingerman, S. en H. Wesselman. 2010. Awakening to the spirit world: The shamanic path of direct revelation. Boulder: Sound True.
Johnston, R.K. 2007. Reel spirituality: Theology and film in dialogue. Grand Rapids: Baker Academic.
Keating, T. 2004. Intimacy with God: An introduction to centering prayer. New York: The Crossroad Publishing Company.
Keller, C. 2008. On the mystery: Discerning God in process. Minneapolis: Fortress Press.
Marion, J. 2000. Putting on the mind of Christ: The inner work of Christian spirituality. New York: Dell Publishing.
—. 2004. The death of the mythic God: The rise of evolutionary spirituality. Charlottesville: Hampton Roads Publishing Company, Inc.
May, R. 1991. The cry for myth. New York: Dell Publishing.
McFague, S. 1987. Models of God: Theology for an ecological, nuclear age. Philadelphia: Fortress Press.
Monaco, J. 2009. How to read a film: Movies, media and beyond. 4de uitgawe. New York: Oxford University Press.
Moore, T. 1992. Care of the Soul: How to add depth and meaning to your everyday life.
Londen. Piatkus Books Ltd.
Murch, W. 2001. In the blink of an eye: A perspective on film editing. 2de uitgawe. Beverly Hills: Silman-James Press.
Paul, R. 2009. Jesus in the lotus: The mystical doorway between Christianity and yogic spirituality. Novato: New World Library.
Pharos. 2005. Afrikaans-Engels English-Afrikaans Woordeboek/Dictionary. Kaapstad: Pharos Woordeboeke.
Plotkin. B. 2003. Soulcraft: Crossing into the mysteries of nature and psyche. Novato: New World Library.
—. 2008. Nature and the human soul: Cultivating wholeness and community in a fragmented world. Novato: New World Library.
Pramaggiore, M. en T. Wallis. 2008. Film: A critical introduction. Londen: Laurence King Publishing Ltd.
Riggs, J.W. 2003. Postmodern Christianity: Doing theology in the contemporary world.
Harrisburg: Trinity Press International.
Sanders, S.M. (red.). 2009. The philosophy of science fiction film. Lexington: The University Press of Kentucky.
Suzuki, S. 2006. Zen mind, beginner’s mind. Boston en Londen: Shambhala.
Tolle, E. 2005. A new earth: Awakening to your life’s purpose. Londen: Penguin Books.
Vogler, C. 2007. The writer’s journey: Mythic structures for Writers. 3de uitgawe. Studio City: Michael Wiese Productions.
Walsh, R. 2007. The world of shamanism: New views of an ancient tradition. Woodbury: Llewellyn Publications.
Watts, A. 1971. Behold the Spirit: A study in the necessity of mystical religion.
New York: Random House.
White, L. The historical roots of our ecological crisis. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.
Wilber, K. 1996. Up from Eden: A transpersonal view of human evolution. Wheaton: The Theosophical Publishing House.
—. 2000a. The collected works of Ken Wilber. Volume 6: Sex, ecology, spirituality. Boston en Londen: Shambhala.
—. 2000b. A theory of everything: An integral vision for business, politics, science and spirituality. Boston en Londen: Shambhala.
—. 2000c. Integral psychology: Consciousness, Spirit, psychology, therapy. Boston en Londen: Shambhala.
—. 2000d. The collected works of Ken Wilber. Volume 8: The marriage of sense and soul. Boston en Londen: Shambhala.
—. 2006. Integral spirituality: A startling new role for religion in the modern and postmodern world. Boston en Londen: Integral Books.
—. 2007. The integral vision. Boston: Shambhala.
Eindnotas
1 Wanneer ek Natuur gebruik, dui dit op veel meer as net die sigbare uiterlike natuur.
2 Die artikelskrywer was vir 20 jaar ’n televisieregisseur en sedert 1982 ’n filmresensent.
3 Beklemtoning in die oorspronklike teks.
4 Grafiek geskep deur Hennie Hartman.
5 Beklemtoning in die oorspronklike teks.
6 Volgens die byskrifte vir gehoorgestremdes op die DVD van Avatar (2010) verander die spelling van Jake Sully se naam na Jakesully.