Theo Neethling

Theo Neethling is tans ’n senior dosent in politiek en globale politiek aan Akademia (Paarl-kampus), asook ’n navorsingsgenoot in politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy was vanaf 1 April 2009 tot 28 Februarie 2026 ’n professor in die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het van 2009 tot 2020 ook as hoof van die departement gedien. Hy het in 1989 ’n MA-graad van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) verwerf en in 1992 ’n DLitt et Phil-graad van die Universiteit van Suid-Afrika ontvang, albei in internasionale politiek. Ná ’n dienstydperk van ses jaar in die destydse Departement van Staatkundige Ontwikkeling in Pretoria het hy by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde (Militêre Akademie) aangesluit, waar hy as senior navorser in die Sentrum vir Militêre Studie aangestel is. In 2002 is hy aangestel as medeprofessor in politieke wetenskap en in 2005 tot professor bevorder. In dié verband het hy ook van 2003 tot vroeg-2009 gedien as voorsitter van die Departement Politieke Wetenskap (Mil) in die Fakulteit Krygskunde, totdat hy by die Universiteit van die Vrystaat diens aanvaar het.

Neethling is die skrywer, en medeskrywer in enkele gevalle, van meer as 150 gepubliseerde uitsette in wetenskaplike en populêr-wetenskaplike publikasies, waaronder 70 artikels in geakkrediteerde wetenskaplike joernale en 24 hoofstukke in vakkundige boeke. Dié publikasies het in Suid-Afrika, Australië, Duitsland, Ethiopië, Hongarye, Indië, Kanada, Pakistan, Pole, die Russiese Federasie, Singapoer, Slowenië, Switserland, die Tsjeggiese Republiek, die VSA, die VK en Zimbabwe verskyn. Hy het ook reeds meer as 80 navorsingsvoordragte by nasionale en internasionale konferensies, kongresse en byeenkomste gelewer. In dié verband het sy projekte hom na regerings- en akademiese instellings in al vyf Afrika se streke, Asië, Australasië, Europa en Noord-Amerika geneem. Hy het ook in die buiteland as besoekende dosent by akademiese instellings opgetree, waaronder, mees onlangs, die Osaka-Universiteit in Japan se Skool vir Internasionale Openbare Beleid. Hy dien in die redaksionele rade van vier akademiese publikasies, naamlik Scientia Militaria: South African Journal of Military Studies, Cyber, Intelligence and Security (Israel), Ante Portas – Security Studies (Pole) en London Security Policy Study: Middle East Tracker, asook voorheen die Journal of Contemporary History / Joernaal vir Eietydse Geskiedenis. Hy geniet sedert 2009 erkenning van die Nasionale Navorsingstigting as ’n gegradeerde navorser en sy velde van belangstelling en spesialisasie is veral Afrika se internasionale verhoudinge, veiligheidsaangeleenthede in Afrika en Suid-Afrika se buitelandse verhoudinge.

China’s first overseas military base in Djibouti: A contextualisation of the objectives, political interests and future prospects

Theo Neethling Academic research 2019-09-25

“This article touches on the features of China’s military base in Djibouti and what some observers regard as the newly created Chinese gateway to Africa.”

China se eerste oorsese militêre basis in Djiboeti: ’n kontekstualisering van die oogmerke, politieke belange en toekomsmoontlikhede

Theo Neethling LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) 2019-09-25

“Diplomatieke bande tussen China en Djiboeti bestaan reeds sedert 1997, maar dit was eers meer onlangs dat China sy voetspoor in dié klein Afrikastaat verdiep het.”

An overview of the problems concerning the modernisation of the SANDF for participation in multinational peace support operations in Africa

Theo Neethling Academic research 2017-07-11

"This article revisits the reasoning of authoritative defence analysts that a too heavy focus on the primary function of the SANDF has not facilitated or enabled the execution of the secondary or non-traditional tasks – tasks which the SANDF increasingly had to assume as a foreign-policy instrument after 1994."

’n Oorsig van die problematiek rakende die modernisering van die SANW vir deelname aan multinasionale vredesteunoperasies in Afrika

Theo Neethling LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) 2017-07-11

"Uiteindelik is die vraag of die SANW beter befonds kan word om dit in ooreenstemming te bring met die blywende verwagting dat die SANW ’n rol in vredesteunoperasies in Afrika sal speel, asook om ’n sleutelrol in die verwagte Afrika-bystandsmag te vervul."

Top