My noemnaam is Marietjie Warrington, maar ek is gedoop Maria Catharina Fredericka. In 1965 matrikuleer ek in Johannesburg en kwalifiseer hierna in 1968 as taalonderwyseres aan die destydse Pretoria Onderwyskollege met Engels, Bybelkunde en Drama- en Spraakopleiding as hoofvakke. Tydens my loopbaan was ek ’n joernalis, teaterresensent en rubriekskrywer. My eerste rubriek het in die vroeë tagtigs in die Pretoria-Ooskoerant onder die opskrif "Van Rose en Turksvye" verskyn. My laaste standplaas as joernalis was by die Servamus, die SA polisiëringstydskrif. My mees onlangse publikasie was op afrikaans.com – blog van die week: "Die Kleintjie Willemse-storie" wat op 1 Julie 2019 verskyn het. My liefde vir Afrikaans is aanvanklik deur my moeder, Dolly Pieterse, geprikkel. In plaas van Rooikappie en Sneeuwitjie het ma saans met slapenstyd uit CJ Langenhoven se Versamelde Werke voorgelees. Ek sal graag alvorens ek by die "goue hekke" aanmeld ’n bundel met my kortverhale wil publiseer. My geliefkoosde skrywers is Johan Bakkes, Margaret Bakkes, Koos Kombuis, Andre P Brink, PG du Plessis en Lina Spies. Ek woon tans in Linden, Johannesburg, saam met my broer.