lx fun sale

lx fun sale is aan die verkeerde kant van die spoorlyn gebore, die jongste van 21 kinders. Van kleinsaf reeds het sy artistiese talent geblyk, toe hy ’n karige inkomste verdien het met tekenwerk – muurskilderye meesal. Ten spyte hiervan, ly hy sy lewe lank aan die ongeneeslike melankolie. As kind het hy dikwels uitgebreek in welluidende huilbuie, maar word toe goddank stom op die ouderdom van 6. Op die ouderdom van 9 het hy verskeie gedigte gepubliseer in koerante en tydskrifte.

Na ’n uitval oor hoe sy karige inkomstetjie tussen sy 20 broers en susters verdeel moes word, trek hy sy skouertjies op, loop van die huis af weg en word ’n harlekyn in ’n rondreisende sirkus. Hierna dwaal hy doelloos van werk na werk en dien in die oorlog wat op die revolusie gevolg het. Hy is in ’n Franse koloniale gevangenis opgesluit vir beweerde subversiewe aktiwiteite. Tydens sy vonnis pen hy ’n weergawe van sy laaste paar jaar in die tronk, ’n verhaal wat hom afspeel sonder enige bitterheid. Met sy vrylating word hy verban, maar keer terug toe sy land onafhanklik word. Aangevuur deur sy kriminele verlede, begin hy in die regte studeer, maar los dit vir ’n belowende loopbaan as speurverhaalskrywer. As ’n homoseksueel lewe hy hierna hoofsaaklik in die buiteland wat hom in ’n goeie posisie plaas om die gebeure van sy tyd op te teken. Sy lewe bestaan uit ’n wilde gekuier, konstante finansiële probleme en skitterende sukses, ten spyte van sensuur. Deur sy ganse loopbaan het hy sy vryheid en vooruitgang aan belangrike patrone te danke. 

Onder die Portugese staan hy as ‘boca do inferno’ [die duiwel se bek] bekend en in Sjina word hy beskryf as ’n man van ‘guicai’ [dit beteken: deksels talentvol], vermoedelik oor hy sy verse gekomponeer het op sy perd se rug deur enkele lyne neer te skribbel tussen die galop deur en die strokies dan in ’n gehekelde sakkie te plaas en dan ’n voltooide gedig aanmekaar te slaan die aand saam met aandete. 

In sy werk beskou hy die lelike realiteite van moderne lewe in die lig van die ewigheid. Hy vier natuurlike fenomene en abstrakte idees soos dood en geregtigheid. Hy veg vir ’n naturalistiese religie van seks en/of voortplanting.

Bowe als ’n kunstenaar, beskryf hy homself as ’n jagter van beelde. Teen die einde van sy lewe het hy alle kontak verbreek met die literêre establishment, na wie hy op daardie stadium as ’n spul $$%^&&’s verwys het, en trou toe met ’n vroom onintellektuele vrou, genaamd Wouter. Teleurgestel deur hierdie romanse, toenemend vervreemd van alledaagse realiteit en sonder ’n visa om sy groot reis voort te sit, eindig hy sy dae in ’n motel op Upington.

staan steeds in die q

lx fun sale 2007-02-06 staan steeds in die q, in die ry, ‘n gerug doen die rondte, dis lunchtyd & als is van lyn af, vir ewig, in die hemel, die hel, & in die straat vir die staat is ‘n dag nie lank nie nouliks tyd om ‘n proklamasie uit te ...

Die lone ranger sien sy gat

lx fun sale 2006-12-13 Jy’t geval van jou perd vul die landskap met kneusplekke die speechbobbel wat sweef bo jou kop soos ‘n ekstra persoonlikheid ...

vanoggend stap ek langs die see

lx fun sale 2006-11-14 vanoggend stap ek langs die seemet my stetoskoop en my scalpelkrap ek al die rofies af van die dagom te kyk hoe die wondjies bloeiwat bloei, lewe ’n joggie hop oor ’n riool stroompie en kyk op, kind se vinger streel ’n treurende ...
Top