vanoggend stap ek langs die see

  • 0

vanoggend
stap ek langs die see
met my stetoskoop en my scalpel
krap ek al die rofies af van die dag
om te kyk hoe die wondjies bloei
wat bloei, lewe

’n joggie hop oor ’n riool stroompie
en kyk op, kind se vinger streel ’n treurende vlieër
en toe teen alle verwagting
merk ek op
die strand is ’n toneel van die een of ander massa slagting
kyk hoe spuug dit dooie dinge
uit die branders klim die lyke van swemmers
’n pop se arm hier ’n oog ’n kop
’n vin van ’n uitroepteken
’n anatomies-obskure iets
’n senuwee ’n fetus
’n skaaptjop
ander dinge (ek sidder om
te dink wat)  so

ek moet
mooi trap of ek loop die een of ander kadawer raak
die skedel oopgespoel die oë in postmoderne blokke
dan moet ek seker weer groet
chit-chat maak
daarvoor het ek fokkol lus

selfbewus dans ek ’n chaplin-dansie tussen die tande deur
ek sal hulle almal ignoreer
hulle het geen besigheid hier nie
hierdie is verdomp private eiendom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top