staan steeds in die q, in die ry, ‘n gerug
doen die rondte, dis lunchtyd & als
is van lyn af, vir ewig, in die hemel, die hel,
& in die straat
vir die staat is ‘n dag nie lank nie
nouliks tyd om ‘n proklamasie uit te vaardig
‘n rewolusie in die kiem te smoor, ‘n nuwe angle
op ou strydlyne, in die ry my besigheid gedoen
want, nee, vir my ook is die dag
nie lank nie
deurdat dit so gekom het, dat ek onsuksesvol was
met breakfast, is dit lunchtyd hier
vir ewig & ek
in die kamers van binnelandse goed
doen mammas sake, groet, gee tiet
aan die kleingoed van die platteland of die plathand aan,
mevrou getik met haar horlosie, in haar ore
wonder of sy nie in ag kom
vir special treatment, in die kamer
lui die handtelefoon, ‘n bejaarde wen roep sommer
nommer asseblief, gee een van die plaaslyn se hoese,
keer met die een hand weet nie wat
die ander een doen die rondte, ‘n gerug:
ek is hier, vir ewig
deurdat dit so gekom het, dat ek vir die dag te kort was
is die mens wat lief is vir my, & leef
in die ry, agter my lank, soveel langer as
ek, of die dag, soos die dood hang hy
op die vloer & ruk, ‘n epileptiek
met kwyl om die mond, op die tong, terwyl
die mooiste woorde, ruk
‘n hond grommend aan ‘n sterwende stuk stukkende heel
al, portrette in die gang, sak soos die mense, lief vir my,
in die gewelf met ‘n diepteperspektief wat gil,
van agorafobie, & van elke mens
‘n nommer om die groot toon, neem
‘n leeftyd, die dag & vir ewig plaas kiekies,
in die raam, in die gang, vir ewig
lunchtyd, ek is hier
(ag donder, ek het my toebies by die huis vergeet.)

