Louise is ’n Stellenbosse nooi, weggevoer na ’n pragtige kloof in die Laeveld waar haar kinders kaalvoet tussen hoenders, ganse, honde, drie perde en makadamiabome grootword. Sy het onderwys studeer, enkele jare formeel skoolgehou en daarna die voorreg gehad om ’n tutor-pad te stap met die bure se seuntjie. Hierdie ervaring het vir haar die pad oopgebreek na ’n ander manier van kyk na leer en skool en die lewe. Haar gesin stap nou ’n ongekarteerde pad en moedig die kinders aan om hulself te leer ken en te ontdek waar hulle passies lê. Onlangs het Louise self ou drome en liefdes begin afstof, en met baie aanmoediging van haar man weer begin skryf: “Vroeër was woorde net my manier om sin te probeer maak van diep verlies, en soms vreugde. Met wankeltreë begin ek sien hoe dit ook ’n stem na buite kan word.”