Ek is gebore in dieselfde jaar wat John F Kennedy as president verkies is in Amerika.
My geboortedorp is die Vrystaatse dorp Koffiefontein, wat bekend is vir sy interneringskamp, diamante, ’n bekende skrywer, ’n koffieketel by die ingang van die dorp, en helaas ’n liedjie.
Op die ouderdom van twee het ons Pretoria toe verhuis, en is ek en my twee ouer susters eers Laerskool Pretoria-Oos toe, en toe na Afrikaanse Hoër Meisieskool. My matriekklas van 1977 het hierdie jaar ons 40-jaar-reünie gehad, en ek is ’n trotse oud-Affie, asook oud-Tukkie.
Ons huis was oorkant die straat van die universiteit, en klasdraf was op hoëhakskoene.
Ek het biblioteekkunde studeer, maar dit was lank gelede, voordat dit inligtingstegnologie geword het.
Ek en my seuns het vir vyf jaar in Hoedspruit gebly, en die bosveld het my inspireer tot my eerste skryfwerk, 20 jaar gelede. My seuns is volwasse, en ek is dankbaar dat hulle albei uit die nes is en vlieg.
Dit is vir my goed om te skryf.
Ons het in ’n huis grootgeword waar woorde waarde gehad het, en woordeboeke ’n plek.