
Kranslegging
Pappa
jy het altyd gesê
mense sal na jou dood
spot
oor jy kranse by
ander se grafte gelê het
met
stukkende skoene
aan
Toe koop ek
met my
eerste salaristjek
vir jou
’n paar
volstruisleerskoene
Dit was vir jou
baie mooi
en jy het dit
trots gedra
Die enigste oorskot
na die
noodlottige ongeluk
was
’n skaapleervelletjie
in bloed
en ’n paar
blink gepoetste
volstruisleerskoene
Pappa
toe ek ’n krans
op jou graf
gelê het
was my skoene heel
maar
my hart stukkend

