The tragedy is not that things are broken. The tragedy is that things are not mended again. - Alan Paton
Op hoeveel maniere het die government die pot mis gesit met die Suid-Afrikaanse publiek en die internasionale gemeenskap die afgelope tyd? Let me count the ways ... Fifa, Nkandla, e-tolls, Eskom ... maar beslis was die laagtepunt van die afgelope ruk die Al-Bashir-sage.
Die ongeërgdheid waarmee staatsamptenare en politici die nienakoming van ’n hofbevel afskud, is asembenemend. Boonop groei die stertjies soos wat die dae aangaan: Suid-Afrikaanse soldate was aangehou in Darfur; Zuma het sy persoonlike versekering gegee dat Al-Bashir nie gearresteer sal word nie; Mugabe kon die versoeking nie weerstaan om invloede van buite te blameer nie (waarskynlik koloniaal, alhoewel hy homself genoeg kon beteuel om dit nie hardop te sê nie).
Daar is egter twee refreine wat hard en met die meeste consistency deurkom.
Die eerste is dat Afrika-leiers deur die ICC (Internasionale Strafhof) geteiken word en onnodiglik streng hanteer word, terwyl Westerse leiers wat hulle aan dieselfde misdrywe skuldig maak, met ’n hop en skip vervolging ontkom. (Die statistieke van die ICC bevestig dit, so daar is waarheid in die bewerings.)
Die tweede is dat Suid-Afrika diplomatieke immuniteit aan Al-Bashir gegee het vir doeleindes van die AU-byeenkoms, dat hulle binne toepaslike wetgewing en regulasies opgetree het om dit te doen, en dit was voor die parlement gebring en niemand het beswaar gemaak daarteen nie. Dis ANC-speak vir: die EFF en DA is vas aan die slaap gevang.
Nie een van die twee argumente is geldig nie. Ek het nie een keer die afgelope paar dae ’n ontkenning gehoor dat Al-Bashir nie skuldig is aan die misdrywe waarvoor die ICC ’n lasbrief teen hom uitgereik het nie. Omdat een skuldige staatshoof wegkom met sy menseregtevergrype, maak dit nie die vergrype van ’n ander minder strafwaardig nie.
Dit verminder ook nie die verpligtinge van state wat vryelik gekies het om internasionale instrumente te onderteken en te bekragtig nie. En niemand het probeer argumenteer dat Suid-Afrika die Rome-statute met ’n rewolwer teen die kop onderteken het nie. Ons wou deel van die internasionale gemeenskap wees, ons wil ’n beduidende speler in wêreldpolitiek wees, en deel van die prys wat ons betaal, is om in te stem tot die reëls van die spel. Ons kan nie een stel wette gebruik om verpligtinge aan ’n ander stel te probeer ontkom nie, veral nie waar ons eie howe ’n baie duidelike beslissing gegee het in die saak nie. Ons kan nie nou pick en choose in watter omstandighede dit gerieflik is om ons verpligtinge na te kom en wanneer nie.
Ons leef, of ons glo ons leef, in ’n grondwetlike demokrasie. Die woorde “Magna Carta” is die afgelope paar dae deur almal rondgeslinger, van wie baie voor Maandag nog nooit eers daarvan gehoor het nie. Die basiese assumption waarop ’n grondwetlike demokrasie bestaan, is egter altyd dat die staat en die uitvoerende gesag die wette wat hulle goedkeur, en die howe wat oor daai wette besin, sal eerbiedig. Dis egter ’n foutiewe aanname in plaaslike konteks, soos wat ons hierdie week weer gesien het. Dit begin al meer lyk asof ons van wolf verwag om die skape op te pas.
Ons het die afgelope paar jaar oor en oor gesien dat die staat die regsprekende gesag in Suid-Afrika nie eerbiedig nie, dat hofbevele gesien word as vae aanwysings wat geïgnoreer kan word, dat die howe eerder gesien word as net nog ’n pion in ’n ingewikkelde politieke skaakspel.
So was dit weer hierdie afgelope week. Ons uitvoerende gesag het dit duidelik gemaak dat vriendskappe met ander staatshoofde in die AU (en saving face voor daai vriende) belangriker is as om ons eie howe in ag te neem. Dit is selfs belangriker as die beeld wat die res van die wêreld nou van ons het. Die res van Afrika is deel van die res van die wêreld, wat soveel joernaliste hierdie week gerieflikheidshalwe vergeet het. Dis nie net die Weste wat saak maak nie. Die vraag is egter: Watter boodskap word aan die burgers van ander Afrikalande uitgestuur as die regte van een bevolking so blatant geïgnoreer word? Het Suid-Afrika nie ’n verpligting, beide moreel en in reg, teenoor die burgers van Soedan wat gebuk moes gaan onder Al-Bashir se ingrype op hulle menseregte nie? Is ons nie veronderstel om die lig te wees wat vir die res van Afrika en die wêreld wys dat politiek en moraliteit nie mutually exclusive konsepte is nie? Dit gaan om baie meer as net een vliegtuig wat toegelaat was om te vertrek in weerwil van ’n hofbevel, of een lasbrief wat nie uitgevoer kon word nie.
As ons eie howe, ons eie wette, en die internasionale instrumente wat ons vrywilliglik onderteken het, lukraak ignoreer kan word sodat ons politici grootmeneer kan speel in die AU, waar laat dit ons op ander kwessies? Wat maak ons dan van Mugabe se stelling dat ’n beperking van twee termyne vir presidente ’n Westerse (en dus per implikasie slegte) instelling is? Geen besluit was daaromtrent gemaak nie, en die indruk was gelaat dat dit net ’n throwaway remark was wat in elk geval verlore gegaan het in die groter furore rondom Al-Bashir se uittog. Ek wonder egter of dit nie met groter erns bejeen moet word nie. Hoe lank voordat Zuma, of iemand anders, besluit dat hulle lewenslank wil regeer? Die presedent word alreeds geskep dat die howe nie ernstig opgeneem hoef te word nie, en dat wette gebuig en gebreek kan word na wil. Dis net ’n kort sprong van daar na ’n posisie dat die grondwet ook maar net woorde op papier is.
Mugabe se stelling dat die nieregeringsorganisasie South African Law Centre, wat die aansoek voor die hof gebring het, noodwendig as pion deur ander gebruik is, blaas weer vuur op ’n ander ou chestnut, dat NGO’s altyd dekmantels vir covert operasies van ander regerings is, en dat alle NGO-werkers noodwendig spioene is. Hoe gaan dit uitspeel in die weke en maande wat kom, wanneer NGO’s hulp probeer verleen in Soedan, of Nigerië, of Zimbabwe of enige ander land behorend tot die AU? Die verhouding tussen NGO’s, die lande waarin hulle werk en die donateurs wat hulle werk befonds, is kompleks genoeg sonder dat vastelandpolitiek en Napoleonkomplekse ook nog tot die mengsel toetree.
Waar laat dit ons gewone Suid-Afrikaners? Daar is toenemende bandeloosheid, misdaad, vreemdelinghaat en ’n wantroue in die regering. Die regering, op hulle beurt, wys ’n arrogante middelvinger vir die burgers wie se belange hulle moet beskerm. Dis ’n perfekte resep om sekere segmente van ons bevolking nostalgies te maak vir ’n pre-1994-regering, toe die oranje-blanje-blou nog gewapper het, en k****rs en h****ts hulle plek geken het. Ons sien al meer berigte van die oranje-blanje-blou wat by ons universiteite wapper. Daar was selfs hierdie week ’n massamoord in Suid-Karolina waar die beweerde moordenaar met die ou Suid-Afrikaanse vlag pronk as simbool van wit weerstand (al is hy eers ná demokrasie gebore en nie ’n Suid-Afrikaner is nie).
Wat ons leiers nie verstaan nie, of nie voor omgee nie, is dat mense laer trek wanneer daar ’n persepsie is (ten regte of nie) dat hulle taal, hulle kultuur en hulle way of life bedreig word, veral as daar weggespring word met ’n aanname van een ras as meerderwaardig oor ’n ander. Of die persepsie geldig is of nie, is vir doeleindes van hierdie argument buite rekening gelaat. Sit aan die ander kant van die equation ’n groep wie se verwagtinge van ’n beter lewe keer op keer platgeslaan word, voeg bietjie gliserien by en ons het die begin van ’n plofbare situasie. En daar is oorgenoeg wat maar te gretig is om ’n vuurhoutjie te trek, consequences be damned. Anargie is lankal nie meer ’n middel tot ’n doel nie, dit is nou ’n doel op sigself.
Die tragedie is nie dat ons land enige morele grond verloor het, en deurlopend voortgaan om dit te verloor nie. Die ware tragedie is dat dit so maklik reggestel kan word maar dat die politieke wil daarvoor ontbreek.

