ATR reik uit na skool in KZN

  • 0

ATR reik uit na skool in KZN

Bonfa Dlamini is ‘n Afrikaansonderwyser wat met sy passie vir Afrikaans ‘n verskil maak. Dit was duidelik te sien in die getal leerders wat sy vak neem toe die ATR (Afrikaanse Taalraad) by sy skool opgedaag het.  As deel van hul bydrae tot Madiba-dag het ‘n afvaardiging van die ATR op 17 en 18 Julie die Sekondêre Skool Dundee in KZN op uitnodiging van mnr Dlamini besoek. Mnr Dlamini se geesdrif vir die taal werk aansteeklik in op sy kollegas, die beheerliggaam, die skoolhoof, mnr TM Mahaye, en die leerders.

Dit was 'n pragtige en ontroerende ervaring – eintlik onvergeetlik. Sowat 200 kinders (swart en bruin en wit ) was by die geleentheid aanwesig. 'n Seun het gebid; 'n koor het opgetree en ses kinders het Afrikaanse tekste voorgedra. Die ATR se uitvoerende hoof, prof Jacques van der Elst, en ondervoorsitter, me Alana Bailey, het boeke oorhandig en ATR-penne persoonlik aan elke matriekkind wat Afrikaans as vak neem, gegee. Aan die presteerders is ATR-hemde oorhandig. Die kinders het sommer die hemde aangetrek en vir ‘n foto geposeer.

Woensdagaand het die afvaardiging die lede van die Dameskring, ATKV en Dames Aktueel toegespreek by 'n vergadering wat in die dienssentrum op Glencoe gehou is. Die ATR het vir die sop en sjerrie gesorg. Lede van die Dameskring het die afvaardiging die volgende dag vergesel na die skool, waar 'n baie geesdriftige mnr Dlamini ons ontvang het. 

Toe hy twee jaar gelede by die skool aangekom het, was die slaagsyfer vir Afrikaans 50 persent. Dit was einde verlede jaar 74 persent – en hy mik nou vir 100 persent, sê hy. Die ATR het ook 'n stel Afrikaanse eindeksamenvraestelle vir matriek aan die skool oorhandig.

Foto: die leerders het dadelik hul ATR-hemde aangetrek. Agter staan mnr Dlamini, me Alana Bailey en prof Van der Elst.

 

Die voorsitter van die ATR, dr Michael le Cordeur, het by navraag gesê: “Die ATR beskou dit as deel van sy kernfunksies om op ‘n gereelde basis uit te reik na afgesonderde Afrikaanse gemeenskappe om ‘n boodskap van bemoediging oor te dra. Verlede jaar is gemeenskappe in die Suid-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap en Atlantis besoek. Vroeër vanjaar het die ATR Eersterust in Pretoria besoek. Ons glo dat die ATR-besoeke 'n slag slaan vir Afrikaans. Die welwillendheid waarmee ons ontvang is, was ongelooflik. Op dié manier probeer ons die voetspoor van Afrikaans uitbrei.

Foto: Mnr Bonfa Dlamini en die viseprinsipaal van die Sekondêre Skool Dundee, mnr Mbatha

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top