ATR reik uit na Eersterust in Pretoria

  • 0
Van links: Ds Goeiman, oud-ouderling Titus, mev Goeiman, ds Leew en dr Michael le Cordeur (voorsitter, ATR)

 

Op Saterdagoggend is ’n konsert aangebied vir die inwoners van die Lodewyk P Spies-tehuis vir bejaardes in Eersterust. Hier het prof Jacques ’n reuse-rol gespeel en ons bedank hom daarvoor. Les Javan, Riku Lätti, Anthony (Speedo) Wilson en Timothy Johnson het die oues van dae vermaak met musiek, vers en kabaret, sodat almal teen die einde saamgesing het: “Afrikaners is plesierig”! Foeitog, en die ouma wat met ’n klokhelder stem ingesit het, is blind, maar met haar gees skort daar niks nie!

Les en Jimmy

Saterdagaand het die dieselfde kunstenaars opgetree, sowel as Esperance en Jackie M.  Speedo se poësie was ’n hoogtepunt en die gehoor van ongeveer 60 mense het hulle verluister aan die musiek en lirieke van Riku en Les. Ek het my toespraak gemaak en almal het saamgekuier rondom lekker wyn en kos. Die ATR-Koker is daar versprei. Baie dankie aan prof en tannie Betsie, Karel en Dioné, Anne-Marie en die verteenwoordigers van die Dameskring wat goeie ondersteuning gebied het. Ds en mev Colin Goeiman van die VGK in Eersterust was ook teenwoordig. Sondag se diens in Eersterust was ’n openbaring. Ons almal, asook die kunstenaars, het nagmaal geniet saam met ds Goeiman se gemeente en die ATR en veral oud-ouderling Danny Titus is spesiaal verwelkom. Ek was werklik aangedaan – die mense ervaar soveel ontberinge en tog maak hulle tyd vir ons. Een van die moeders het vertel hoe haar kinders die afgelope week die slagoffers van gewapende roof was, en tog verloor hulle nie moed nie.

Die kinders het die diens vir ’n wyle verlaat sodat Les en Riku ’n kinderkonsert vir hulle kon aanbied. Na die tyd is ballonne met boodskappies van hoop  vrygelaat en is ons getrakteer op warm vetkoek en sop. Lekker!

 

Michael le Cordeur

 

Ons dank aan André Reyneke en David Maenaut, wat ons vennote was in hierdie projek, asook die sangers Les Javan, Anthony Wilson, Timothy Johnson, Riku Lätti, Esperance Grobler wat ingekoop het in die projek. Pierre Breytenbach van TV-Proesstraat-faam en talle ander TV-produksies was Saterdagaand die seremoniemeester en het gesorg dat die ATR goed gefigureer het.

Gesellige samesyn van Eersterustgemeente

Met hierdie uitreikaksie het die ATR die hele spektrum van die Afrikaanse gemeenskap bereik. Oud en jonk en oor kultuurgrense heen. By die tehuis vir bejaardes in Eersterust is daar oues van alle kulture, bruin, swart en wit. Daarna by die klub vir die volwassenes wat ernstig is oor Afrikaans, maar tog ook kan plesierig wees, en die volgende oggend in die kerk kon ons aanbid, uit die Bybel lees en sing in Afrikaans, en natuurlik daarna, die konsert vir die kinders met vers en musiek saam met Janneman in die Diereryk. Terloops, Riku se nuwe CD oor Janneman in die Diereryk is gratis aflaaibaar van die internet. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top