ATKV-Woordveertjies vereer talentvolle skrywers

  • 0

’n Boek is vir die siel soos wat ’n slypsteen vir ’n swaard is, en met die gehalte- Afrikaanse letterkunde wat elke jaar gepubliseer word, is dit vir die ATKV ’n reusevoorreg om talentvolle skrywers te vereer.

By vanjaar se ATKV-Woordveertjies is daar onder meer vir die beste skrywers, digters en dramaturge ’n klop op die skouer gegee vir hul enorme bydrae tot die letterkunde-landskap.

Dié geleentheid is op Vrydag 31 Augustus by die HB Thom-teater (waarvan die naam onlangs na die Adam Small-teaterkompleks verander is) in Stellenbosch gehou. Dit is vanjaar die 11de keer wat die ATKV-Woordveertjies aangebied word.

“Ons wil uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woord bekroon,” sê Nita Cronjé, bestuurder: kunste en produksies by die ATKV.

“Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum. Van woordeboeke tot prosawerke.”

Sy sê die hoofdoel van die toekennings is om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek.

“Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry. Dit is ook wonderlik om te sien hoe baie werk verlede jaar die lig gesien het.”

Volgens Nita het 12 digbundels vanjaar ingeskryf.

“Dit is verblydend om agter te kom dat so baie skrywers woeker met hul woorde as jy ook kyk na die 23 nuutgeskepte dramatekste wat ingeskryf het. Die ATKV-Woordveertjies moet skrywers motiveer om aan te hou om tot die Afrikaanse letterkunde-omgewing by te dra.”

Die ATKV-Woordveertjie vir Leesbevordering is ’n inspirerende kategorie wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes. Met PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop vir opgeleide honde voor en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.

Volgens Nita word hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie val.

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Hier volg die wenners van die ATKV-Woordveertjies 2018 en die beoordelaarsverslae volg direk daarna:

 

ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Beoordelaarskommentaar: ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Wat ’n verbluffende boek – in die letterlike en figuurlike sin van die woord. Hierdie roman staan kop en skouers bo al die ander benoemdes uit en een wat gemaklik sy plek kan volstaan op ’n wêreldverhoog.

Van Heerden is ’n meesterskrywer aan die woord. 

Die wêreld van Charlie Oeng is ’n komplekse, grootse roman en ’n waardige wenner van die ATKV-Prosaprys.

 

Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Irma Joubert is ’n uiters bekwame skrywer, nee, dalk eerder ’n towenaar.  Sy kry dit reg om gebeure uit die geskiedenis so eg en werklik te maak dat dit voel asof jy in tyd verplaas word.  Irma Joubert verdien waaragtig ’n pluimpie vir haar hoed.

 

Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Dit is ’n besonder indrukwekkende versameling gedigte dié wat omvang, diepgang en versvermoë betref.  Johan Myburg gaan ewe selfversekerd met vrye as met formele verse en prosagedigte om.

Uittogboek is die werk van ’n beleë digterskap en verdien om ernstig van kennis geneem te word.

 

Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Dit is ’n karakter en emosioneelgedrewe storie waarmee die leser kan identifiseer.  Alles werk!  Van die spanning en karakters tot by die navorsing.

 

Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Van Rensburg verdien vermelding vir die besonder behendige wyse waarop hy die uiteenlopende verhaallyne en aktuele vraagstukke in die roman tot oortuigende geheel saamsnoer.  Boonop slaag hy daarin om aan ’n oënskynlik voor-die-hand-liggende slot ’n heerlike (en oortuigende!) kinkel te gee.

Dit maak van hierdie roman ’n uitstekende keuse as die wenner van die Prys vir Spanningslektuur vir 2018.

Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

DEURnis, teater waar een akteur teenoor een gehoorlid speel in ’n spesiaal toegewysde ruimte, is ’n betreklik nuwe konsep in die Afrikaanse teater.

Dit is verbasend hoe groot impak dié stukke binne so ’n kort tyd het en hoe lank daarna die karakters en ’n mens se belewenis van hul situasie jou bybly. Dit dui onder meer op ’n besondere diepgang in die tekste, desondanks hul lengte.

 

Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

 Spertyd is ’n vars, eerlike, onverskrokke blik op die proses van oudword.  Die teks bied die perspektief van ’n deurwinterde woordsmid wat haar pen met gesag laat praat.  Die leser kan nie anders as om meegevoer te word op hierdie reis wat by tye skreeusnaaks, ander kere knop-in-die-keel hartseer, maar altyd meelewend is nie.  Hierdie teks verryk die Afrikaanse literêre landskap op elke moontlike gebied denkbaar.

 

Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Beoordelaarskommentaar: Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Aangesien daar ’n groot behoefte aan nuwe Afrikaanse vaktaalwoordeboeke is, is dit verblydend dat ’n woordeboek soos die Explanatory Dictionary of Politics/Verklarende Politieke Woordeboek deur Juta gepubliseer is – en juis nou terwyl die hoër funksies van Afrikaans onder druk is.

Hierdie woordeboek bied nie net terme en begrippe uit die politieke bestel nie, maar is ook leksikografies vernuwend omdat dit ’n vertalende én verklarende woordeboek is. Daarbenewens bevat die woordeboek afkortings, goeie definisies en talle resente terme.

Met sy professionele uitleg en gebruikersvriendelike leesbaarheid kan dié woordeboek met vrug gebruik word deur vakspesialiste, taalpraktisyns, politieke kommentators, rubriekskrywers en toespraakskrywers. Joernaliste by koerante, tydskrifte, die radio en televisie sal ook die woordeboek baie nuttig vind.

 

Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Beoordelaarskommentaar: Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Pets As Therapy (PAT) is ’n nie-winsgewende organisasie wat terapeutiese besoeke bring aan ouetehuise, skole en spesiale skole. In PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Die program is gebaseer op die READ (Reading Education Assistance Dogs)-program wat sy ontstaan in die VSA gehad het. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop voor vir opgeleide honde en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie. Kinders se leesvaardighede en -begrip verbeter sodanig met hierdie program dat hulle na ’n paar weke selfs beter vaar as wat van hulle vereis word. Hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig word reeds met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut val op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie sodat nog honde en hul eienaars opgelei kan word om in skole en gemeenskappe ’n leesverskil in kinders se lewe te maak.

 

ATKV-Kinderboektoekennings

Die wenners in die ATKV-Kinderboektoekennings het ook hul pryse tydens die ATKV-Woordveertjies ontvang. Dié kompetisie word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die boeke wat vir hierdie toekennings in aanmerking kom, word deur die kinders self beoordeel.

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top