ATKV-Woordveertjies 2013

  • 0

Die ontvangers van 2013 se ATKV-Woordveertjies op Vrydag, 13 September by D’Aria in Durbanville aangewys. Die Woordveertjies is vanjaar vir die sesde keer aangebied.

Sestien Woordveertjies is toegeken vir uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord.

Die gasvroue vir die aand was Ruda Landman en Suzaan Steyn.
Jaco Jacobs ontvang drie Woordveertjies vir sy kinderboeke by LAPA Uitgewers: Waarvoor is seerowers bang?,’n Kas vol monsters: Kinderspeletjies en Al die meisies hou van Divan Louw.
Janita Holtzhausen van Human & Rousseau neem Irma Venter se spanningslektuurprys – vir Skoenlapper – namens haar in ontvangs.
Derick van der Walt ontvang sy Woordveertjie vir Hoopvol (Tafelberg)
Illustreerder Chris Venter het twee Woordveertjies ontvang vir Waarvoor is seerowers bang? (LAPA Uitgewers) en Nina en die wacky hare (Tafelberg).
Illustreerder Alistair Ackermann het 'n Woordveertjie ontvang vir Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die seerower van watsenaam (LAPA Uitgewers).
Die Toekenning vir Leesbevordering in Afrikaans gaan vanjaar aan Valhalla Park Openbare Biblioteek.

In ’n gemeenskap waar geletterdheid swak is en talle leesuitdagings bestaan, het die Valhalla Park Openbare Biblioteek op die Kaapse Vlakte ’n beduidende verskil in die inwoners se lewe gemaak.  Hierdie biblioteek is ’n uitstekende voorbeeld van die rol wat ’n openbare biblioteek kan speel in die opbou en ontwikkeling van ’n gemeenskap deur middel van boeke, en dít maak die Valhalla Park Openbare Biblioteek ’n waardige wenner van die eerste AKTV-Woordveertjie vir Leesbevordering.

Die Woordwystoekenning vir Woordeboeke en Taalgidse is toegeken aan Longman-HAT Afrikaans Dictionary and Grammar for English Speakers (2012). Op die foto is uitgewer Jana Luther (Pearson).

Die beoordelaars was beïndruk met die vernuwende waarde van die woordeboek, asook met die besondere bruikbaarheid van die boek as ’n opvoedkundige hulpmiddel.

Die Prys vir Romanses se ATKV-Woordveertjie gaan aan:

Boks vol soentjies – Dina Botha (LAPA Uitgewers).

Die beoordelaars was dit eens dat hierdie boek met die ATKV-Woordveertjie moet wegstap. Die storielyn is nuut en opwindend.

Die Prys vir Dramateks is oorhandig aan Trippie – Nicola Hanekom.

Hanekom slaag daarin om die dramateks vir ’n mens ’n belewenis te maak, in so ’n mate dat jy totaal verplaas word, meegevoer, geroer en stil gelaat word by die lees daarvan – dit vir dae daarna nie uit jou kop kan kry nie – só ’n dramateks verdien bekroning.

In die kategorie Prys vir Liefdesroman is Eendagmooi bekroon – Kristel Loots (LAPA Uitgewers).

Die boek bevat al die elemente van ’n liefdesroman – ’n held en heldin, allermins perfek, ’n paar kinkels in die kabel, heerlike humor en dan, uiteindelik, ’n gelukkige einde.

Die Prys vir Poësie is toegeken aan Om die gedagte van geel – Petra Müller (Tafelberg).

Die digter slaag daarin om verskeidenheid en samehang onder die dak van een bundel saam te bring.  Lesers sal die bundel geniet vir die aardsheid en onomwonde blootsheid daarvan.

Japie Gouws is besturende direkteur van die ATKV-groep.
Die wenner van die ATKV-Prosaprys was Onse vaders – Karin Brynard (Human & Rousseau)

Die beoordelaars beskryf dié werk as ’n goed uiteengesette en ambisieuse roman wat tegelykertyd ook baie toeganklik, meesleurend en boeiend is.

Regisseur, Hennie van Greunen, het gesorg vir ’n unieke en vernuwende aanslag vir dié spesiale geleentheid. Daar was heerlike vermaak gedurende die toekenningsgeleentheid. Gedigte is voorgelees, gedeeltes van die dramastukke op die kortlys is opgevoer en hier is 'n musikant besig om meesleurend musiek te maak.

Teks: Die ATKV


Foto's: Izak de Vries

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top