ATKV-Onderwyskonferensie: 3 Mei 2017, Spier

  • 0

Jayson George lyk soos ’n prokureur in sy netjiese donker pak. Hy praat soos ’n prokureur; sy woorde is goed gemoduleer en hy straal selfvertroue uit. ’n Tipiese UK-student? Ja, hy is. Tog, albei sy ouers is werkloos en hy kom nie uit een van die privaatskole van ons land nie. Nee, hy was in Glendale High, ’n skool in Mitchell’s Plain.

Jayson George

Jayson is selfs by UK ’n leier. Al is hy maar nog in sy derde jaar, is hy reeds die akademiese voorsitter van die Studenteraad vir Regstudente.

Woensdag 3 Mei 2017 het Jayson ’n ATKV-Onderwyskonferensie op Spier toegespreek om te vertel hoe Glendale High vir hom die deure oopgemaak het na sukses. Die kurrikulum kan jou nie voorberei vir die harde werk in die regskool nie, was sy boodskap; dit was deur blootstelling aan die werklikheid en die geleentheid om op skool reeds deur buitemuurse aktiwiteite te leer hoe om sy tyd te spandeer dat hy sukses kon behaal op universiteit.

LitNet het tevore al berig: “Een van die kernprobleme van Suid-Afrika is mense se sosio-ekonomiese omstandighede. Die situasie van minderbevoorregte jongmense as leerders speel ’n rol in hoe hulle presteer. Omstandighede kan nie noodwendig verander nie, maar denkwyse rondom die omstandighede kan wél” (http://www.litnet.co.za/meneer-ek-wil-net-iets-word).

Die inhoud van hierdie artikel het sigself weer aangemeld terwyl Jayson George vertel het hoe hy op skool reeds geleer het hoe om netwerke op te bou. Dit was sy onnies wat vir hom geleenthede geskep het, vertel hy. Sy omstandighede was benard, maar die onderwysers het hom anders na die lewe laat kyk.

Nog ’n student, Natheem Capaima, het ook vertel dat dit sy onderwysers was wat hom die geleenthede gegee het om bo die armoede uit te styg. Hy is die heel eerste persoon in sy hele familie wat matriek kon slaag, en nou is hy reeds ’n tweedejaarstudent in sielkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Natheem Capaima en Ruschda O’Shea

Vir hom was sy onnies by Tafelsig High soos ekstra ouers. Hy kon sien hulle gee om vir hom, daarom het hy baie hard gewerk om hulle nie teleur te stel nie. Ruschda O’Shea, die skoolhoof, hou steeds kontak met hom en steun hom steeds.

Die tema van Woensdag se konferensie was “Skoolleierskap en skoolbestuur – ’n strewe daarna om ’n kultuur van uitnemendheid in onderwys te bewerkstellig”.

Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-groep, het in sy openingsrede gesê dat daar in alle gemeenskappe skole is wat uitstyg. Die ATKV het ’n pad met daardie skole begin stap.

Die hoofrede by die konferensie is gelewer deur Muavia Gallie, ’n spesialis om skole wat sukkel, weer reg te kry. Hy is die besturende eienaar van Education Moving Up en ’n direkteur van die School Turnaround Foundation.

Muavia Gallie

Hy het praktiese bewyse gelewer van arm skole wat uitstekende resultate behaal. In daardie skole is daar talle kinders met fetale alkoholsindroom en in al daardie skole is die leerkragte se houding: Gee ons ’n probleem, ons skep ’n oplossing.

Hoe doen hulle dit? Hy het een skool as gevallestudie gebruik: Zwelethemba High by Worcester is in ’n brandarm buurt, maar vir elke kind in elke graad is daar ’n teiken: Wat gaan jou punte wees in hierdie vak en hoe gaan ons – jy, die leerder en ons, die onderwysers – saam werk om dit te laat gebeur? En hierdie teikens is nie laag nie; die gemiddelde weerspieël dit wat net in Suid-Afrika se beste skole gebeur.

Die skool sluit eers 16:00 – Maandag tot Vrydag. Daar is nie huiswerk nie, want die leerders en die onderwysers werk saam om seker te maak dat elke kind se teikens in die skooldag bereik word.

Die skool het ook nie selfone verbied nie, want ’n leerder wat kan navorsing doen, vaar beter.

Verskeie ander hoofde van skole het die konferensie toegespreek. Dit is mense uit arm buurte wat goeie resultate kry. Die boodskap was uiteindelik duidelik: ’n leier in die skool wat departementshoofde motiveer en verantwoordelik hou, ’n hoof wat nie in ’n kantoor sit nie, maar aktief met die leerders en hulle ouers omgaan, en goeie beplanning, dit is wat ’n verskil maak.

Die sluitingsrede is gelewer deur Gabrielle Wills, ’n onderwysekonoom en postdoktorale genoot van Research on Socio-Economic Policy [ReSEP] in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Gabrielle Wills

Sy het ook verwys na arm skole wat ver bo die gemiddelde presteer. Haar span gaan soek nou daardie skole om uit te vind waarom hulle beter vaar.

Haar pleidooi was dat daar sterk gefokus moet word op die eerste drie jaar van onderrig. Ons is almal bekommerd oor matriek, maar as ons nie by die begin begin nie, gaan die probleem net aanhou. Haar voorstel is dat die regering ’n beleid moet instel dat elke kind aan die einde van graad 3 funksioneel moet kan lees en verstaan wat hulle lees – in hulle moedertaal en in Engels. As ons dit kan regkry, gaan die res van die onderwys outomaties beter raak.

Foto's en teks: Izak de Vries

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top