Persvrystelling deur die ATKV
“Die nuus oor Afrikaans by die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria is nie goeie nuus nie, maar hoe hanteer ons dit vorentoe?” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep.
Die ATKV erken veeltaligheid en die dringendheid om addisionele kapasiteit vir tersiêre onderrig te vestig, maar dit is verkeerd om bestaande kapasiteit te verander en dit maar net met Engels te vervang. Afrikaans se hoër funksies bly in die slag en die bevordering van ander inheemse tale bly in die meeste gevalle, net lippediens. Afrikaans is ʼn belangrike opleidingstaal en die verdere inkorting daarvan ontneem opleidingsgeleenthede vir baie Suid-Afrikaners. Dit beïnvloed uiteindelik die regering se doelwitte om werk te skep en kundighede te ontwikkel.
Gouws sê dat die ATKV vroeër die week gesprek gevoer het met die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, prof Wim de Villiers asook prof Nico Koopman, viserektor.
“Prof De Villiers het verduidelik dat die nuwe taalbeleid in twee woorde saamgevat kan word, naamlik toeganklike veeltaligheid. Hy het verduidelik dat dit beteken dat, waar daar aanvraag is vir studies in Afrikaans, die beleid ten doel het om dit dan aan te bied,” het Gouws gesê. “Dit beteken dat die Universiteit Stellenbosch steeds ʼn Afrikaanse aanbod sal hê terwyl daar ʼn aanvraag daarvoor is.”
Die vraag wat dus gevra moet word, is hoe Afrikaanssprekendes met hierdie aanbod gaan omgaan? Die Universiteit Stellenbosch, by wyse van sy rektor, is steeds toeganklik vir Afrikaanse (en isiXhosa) onderrig en Afrikaanssprekende en isiXhosa studente moet hierdie geleentheid aangryp. Die ATKV glo steeds dat moedertaalonderrig ʼn sleutel tot sukses is en daar is baie studies wêreldwyd gedoen om dit beaam.
Gouws het ʼn beroep gedoen om van die Afrikaanse aanbod by die Universiteit Stellenbosch gebruik te maak deur studente daar in te skryf vir onderrig in Afrikaans.
“Proff De Villiers en Koopman het tydens ons gesprek onderneem om verdere gesprek te voer oor hoe instansies soos die ATKV en die universiteit kan saamwerk om veeltaligheid, moedertaalonderrig, taal- en kultuuraspekte en nasiebou gesamentlik te bevorder,” het Gouws gesê. “Die ATKV is van mening dat die hele taaldebat by universiteite uitgeloop het op verdeeldheid as gevolg van onvoldoende kommunikasie. Ons moet die beste daarvan maak om vertroue te herstel en te werk om bogenoemde doelwitte te bereik tot voordeel van alle diverse gemeenskappe in Suid-Afrika.”
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.



Kommentaar
Gouws laat hom te maklik paai en mislei. Gaan die geskiedenis van hierdie taalsage na. Daar behoort geen sprake van die herstel van vertroue en gedienstige samewerking met die US te wees nie. 'n Polities gedrewe universiteit is 'n euwel wat bestry en getransformeer moet word.
Dit is baie jammer dat Afrikaans as onderrigmedium by die Universiteit van Stellenbosch, my Alma Mater, soos dit vir my lyk, geleidelik uitgefaseer word. Daar is mos genoeg Engelsmediumuniversiteite in die Wes-Kaap. Wat 'n kwade proses. Dit is jammer dat daar nie destyds tydens die onderhandelinge ooreengekom is op een Afrikaanse universiteit in die noorde en een in die suide nie, of dan ten minste 'n parallelmediumuniversiteit vir die noorde en een vir die suide nie. Ek het iewers gelees of gehoor dat daar op 'n stadium sprake van so iets was ('n verslag waarby prof Jakes Gerwel glo betrokke was), maar dat die histories-Afrikaanse universiteite se rektore nie ooreen kon kom oor watter universiteite dit sou wees nie. Maar hieroor is ek nie seker nie. Miskien is dit net 'n storie. En nou: Wat nou? Hoe nou? Dit is vir my swaar, want ons as familie het 'n lang vebindtenis met die Universiteit van Stellenbosch. My eerste gradeplegtigheid het ek as seuntjie van so ses of sewe jaar in die Stadsaal bygewoon toe een van my neefs 'n graad ontvang het. My ouers het sy ouers na die gradeplegtigheid geneem. Vir 'n klein seuntjie was dit 'n lang sittery. Later het een van my neefs rektor geword en hy het die proses help lei om die universiteit oop te stel, iets waarop ek trots is. Maar ai, dat Afrikaans nou so bietjie, bietjie by die agterdeur uitgevee word is swaar om te aanvaar. Wat moet ons doen? Dit lyk vir my al genade is dat ons as Afrikaanssprekendes ons kragte en hulpbronne ten bate van Solidariteit se Akademia aanwend. Dit het die potensiaal om 'n wêreldklasuniversiteit te word met satelietkampusse in al die groot sentra, hopelik ook in Namibië. Ek wil Afrikaanssprekende donateurs en testateurs aanmoedig om hul posisies te heroorweeg.
Daar was vyf Afrikaanse universiteite (PU, RAU, UP, US, UOV) en twee tweetalige universiteite (UPE en UWK). Laasgenoemde twee is lankal verengels. Die RAU is in die UJ getransformeer en grootliks verengels. Die UP en UV gaan eersdaags heeltemal verengels. Die PU is in die UNW getransformeer en al drie kampusse (Potchefstroom, Mafikeng, Vanderbijlpark/Vaaldriehoek) gaan vereenders (dus grootliks verswart en verengels) word. Net die US het die potensiaal gehad om ten minste gelykberegtiging aan Afrikaans te laat geskied. Maar Afrikaanssprekende blankes (soos Chris Brink, Anton van Niekerk en Wim de Villiers) het aan die US (soos aan die ander eens Afrikaanse universiteite) die voortou in die afskaling en uiteindelike vernietiging van Afrikaans geneem. Willie Esterhuyse kan aanspraak maak op die twyfelagtige eer dat hy die vernietigingsproses van Afrikaanse universiteite begin het met sy artikel "Can South Africa afford five Afrikaans universities?" (The Times Higher Education Supplement, 24.02.1995 - beskikbaar op die internet).
Hoofsaaklik blanke belastingbetalers en donateurs het die eens Afrikaanse universiteite moontlik gemaak. Dit is Afrikaanse blankes wat hierdie universiteite oor baie dekades tot akademies voortreflike inrigtings uitgebou het. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat daar nou aan al hierdie inrigtings voorkeur aan Engels en swart studente gegee word en dat die belange van Afrikaans en blanke studente geminag word. Dit is onbillik om te verwag dat blanke belastingbetalers nou elders met eie middele 'n universiteit tot stand moet bring; 'n onbetaalbaar duur onderneming wat moeilik met die gevestigde universiteite sal kan meeding. Daarom is my standpunt dat Afrikaners nie moet toelaat dat hulle by al die gevestigde universiteite ontwortel word nie; dat hulle moet vasstaan en teen die vertrapping van hulle belange (bv kultuur, insluitende taal) moet veg.
Publiseer 'n lys van name van diegene uit die Afrikaanse gemeenskap wat primêr vir die afskaffing van Afrikaans by die onderskeie universiteite verantwoordelik is/was, en verewig dit op 'n gedenksteen vir kennisname deur die nageslag.
Wat baie interessant sal wees om te weet is hoeveel Afrikaanssprekende studente aan tradisionele Afrikaanse universiteite vandag kies om in Engels te studeer en hul eksamens in Engels af te lê. My eie dogters het as mediese studente gekies om hul eksamens, mondelinge en skriftelike toetse en eksamens, in Engels af te lê aangesien die meeste handboeke Engels is en dit 'n onmoontlike taak is om al die werk te vertaal.