Athlete A, ’n resensie

  • 0

Athlete A
Met: Maggie Nichols, Rachael Denhollander en ander
Regisseurs: Bonni Cohen en Jon Shenk
Resensent: Leon van Nierop

Die name is gepubliseer, alhoewel die dade en die detail daarvan dikwels meer sensasionele aandag geniet as die oortreder se foto. En ons het talle van hulle bleekgesig in die hof verskrompel sien sit, of met slinkse-onderduimse blinkgesig miljardêr-prokureurs wat hulle kliënte voorlopig laat vrykom het voordat die lang arm van die wet dekades te laat ’n einde gemaak het aan die piekniek wat hulle onder hul studente of aktrises gehou het.

Harvey Weinstein, sliertige koning van Hollywood, massering en oopgevlekte kamerjasse, sneesdoekies en al, Collan Rex van Parktown Boys’ se onderwatermanewales (pas in boekvorm gepubliseer as Brutal school ties) en nou Larry Nassar van die Amerikaanse gimnastiekvereniging in sy ondersoekkamer, waar hy beseerde dogters moes behandel. Sy “masserings” en “aandag aan hul beserings” was later so eksplisiet dat van die meisies erken het dat hy met die een hand ’n besering genees het en met die ander hand tussen hul bene gevroetel het terwyl niksvermoedende ouers in die ondersoekkamer teenwoordig was!

Dit is waaroor hierdie skokkende en bekende Netflix dokumentêr, Athlete A, handel. Ook oor die dapper, vasberade joernaliste van The Indianapolis Star wat dokter Larry Nassar van die Amerikaanse gimnastiekvereniging se seksuele vergrype ontbloot het. Daar word beraam dat hy meer as 500 meisies gemolesteer het. Die ondersoek eindig by die president van die Amerikaanse gimnastiekvereniging, Steve Penny, wat jare lank hiervan moes geweet het, maar soos die graf geswyg het en met ’n glimlag so breed soos die N1 verkondig het hoe goed die meisies en sy vereniging is.

Sy stilswye het veroorsaak dat nog ’n paar honderd meisies deur Nassar se gierige vingers, besmet met wellus en genotvolle rondsoekery, beseer of verneder is. Hy, beweer die dokumentêr, met sy selfvoldane gesig en vet glimlag, is net so skuldig soos Nassar. En al het hy die tronk aanvanklik ontglip, is hy uiteindelik aangekeer. Die dokumentêr is witwarm van woede oor veral Steve Penny.

Maar hoekom het dit so lank geneem om die skuldige(s) aan te keer? Dit is wat hierdie nugter, op die man af, feitelike dokumentêr met ’n kil woede aan gehore blootlê.

Dit word op ’n slim manier vertel, want die byna volmaakte bewegings van die jong dogters in die gimnastieksaal word gedurig gejukstaponeer met hul grusame herinneringe en vertellings, nou as volwassenes, oor wat Nassar onder hul broekies gedoen het. Hoe hy vir jare, dekades, voorgegee het dat vaginale penetrasie deel was van die genesingsproses.

Maar die ergste is wanneer die ouers van die kinders ook strak hieroor praat. Hulle het nooit besef wat aangegaan het nie, met die gevolg dat die meisies hierdie gevroetel later as “normaal” beskou het en as deel van die ondersoek en behandeling aanvaar het.

Dit is ondenkbaar dat hierdie vergrype reg onder die neuse van die owerhede gebeur het, en dat letterlik honderde meisies en vrouens klagtes by die owerhede gelê het wat bloot onder die mat ingevee is. En steeds het die seksuele molestering en teistering van dogtertjies voortgegaan. Soms het die beskuldigdes grootmeneer in die hof verskyn met nuwe haarsnitte en blink pakke, later in loopringe (Weinstein) of bleek geskrik (Nassar), terwyl die owerhede of organiseerders en hoofde van die organisasies waarvoor hulle gewerk het in die hof vrygekom het met die woorde (en ek parafraseer): “Dis my reg om nie te antwoord en myself te inkrimineer nie.”
Maar iewers, íéwers slaan ’n vals noot en word die vergrype meedoënloos blootgelê sodat hierdie verraderlike jagters uiteindelik by die punt van die lekker gekom het.

Dit is hartverskeurend om hierdie geniale jong meisies op hul beste te sien. Hulle het dikwels met geweldige pyn, beserings en stres opgetree, net om daarna deur Nassar gemolesteer te word. Asof die spanning van die optrede nie erg genoeg was nie, was die nagevolge ondenkbaar en veel erger.

Onderhoude word afgewissel met Nassar se “simpatieke” en “bekommerde” uitdrukking in video-opnames en effense glimlag terwyl hy veral beserings aan bobene behandel het net om sy gierige hande kans te gee om blitsvinnig hoër op te beweeg en hul teiken telkemale te tref.

En die ergste is: Hoeveel kinders loop nie steeds onder monsters soos dié deur nie? Prokureurs gee hul opinies in die reeks, selfvoldane grootkoppe en geldbase trek hul skouers op, Nassar glimlag simpatiek, dogters lê klagtes, maar die molestering gaan voort, tot ’n paar van die meisies uiteindelik die moed gehad het om veral Nassar in die openbaar aan te kla, maar selfs daarna het hy nog vir maande lank vrygekom.

Kykers moet weet dat ’n hulpelose woede jou beetpak as betrokke toeskouer van die wandade en die ontboesemings. Dis nie maklik om te sien nie. Maar ’n dokumentêr soos dié verdien pryse. Nassar het 37 000 pornografiese foto’s van klein dogtertjies op sy rekenaar gehad – sommiges was veel jonger as 13.

Die ergste is die pyn en vernedering van die dogters wanneer hulle agter mikrofone in ’n koue hof staan en moet vertel wat gebeur het terwyl slinkse prokureurs hulle (die slagoffers) as die skuldiges uitbeeld.

Athlete A is ’n rateltaaie dokumentêr op Netflix wat jou sal gru en skok. Wees gewaarsku. Maar in sommige gevalle wys dit pertinent dat die wet vir jare lank gesloer het tot die skuldiges aangekeer is. Maar nog erger: Jy kan die vurige pyn en foltering waardeur hierdie meisies gegaan het steeds as volwassenes op hul gesigte sien. En orals kraai geld, omkopery en stilswye koning.

Het jy genoeg moed om te kyk?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top