Asteroid city
Met Jason Schwartzman en Scarlett Johansson
Regisseur: Wes Anderson
..........
Om ’n Wes Anderson-rolprent te probeer ontleed en verstaan, is soos om sin uit die beurtkragskedule te maak of die verskonings oor hoekom daar nie krag is nie, te glo. Daar is doodeenvoudig nie ’n antwoord, of dan ’n régte antwoord nie.
............
Om ’n Wes Anderson-rolprent te probeer ontleed en verstaan, is soos om sin uit die beurtkragskedule te maak, of die verskonings oor hoekom daar nie krag is nie, te glo. Daar is doodeenvoudig nie ’n antwoord, of dan ’n régte antwoord, nie.
Anderson laat ’n mens dink aan ’n seuntjie wat nooit grootgeword het nie en skielik ’n trommel vol Lego-blokkies gekry het. Hy erf dan ’n paar miljoen dollar en ’n reusespeelpark waarin hy met sy blokkies kan maak presies wat hy wil. Sommige blokkies is stukkies stories (in die tradisionele sin van die woord, maar nie soos lesers dit noodwendig verstaan nie); sommige blokkies is karakters, of dan simbole van tipes of stereotipes, en die res is flambojante tegnieke.
Gooi dit almal saam, plaas die hele spulletjie in die middel van die woestyn, laat die seuntjie toe om met sy speelgoed te speel, en jy het Asteroid City. Vele fliekgangers, veral diegene wat verslaaf is aan kultusrolprente, sal juigend aan die voete van dié rolprent-Gamaliël sit en dit gulsig opslurp, soos vele buitelandse resensente wat die rolprent 100% gegee het. Maar dan is daar ander, dikwels ook Anderson-fundi’s, wat kla dat hy dié slag te ver gegaan het.
Hy is bekend vir briljante, eksentrieke flieks soos Rushmore (1998), die briljante The Royal Tenenbaums (2001), en (sy beste) The Grand Budapest Hotel (2014), en my persoonlike gunsteling, Isle of Dogs (2018). Maar Asteroid City, waar ’n asteroïed 5 000 jaar gelede geval het en ’n reusekrater gelaat het, tel nie onder hulle nie.
’n Mens bewonder die rolprent se eksentrisiteite, ongelooflik indrukwekkende visuele styl, sy (non)karakters en kinematografie wat meestal verblindend helder voorkom soos in ’n sepie-ateljee, maar andersins eensklaps na wit en swart oorskakel.
Laasgenoemde is ’n aanduiding dat dit onder andere hulde bring aan, of eksperimenteer met, 1950’s-wetenskapfiksieflieks soos The day the earth stood still (1951) en The thing from another world (1951).
Losweg handel Asteroid City oor die volgende: ’n Selfbewuste, gefolterde geniale skrywer “pleeg” ’n storie as ’n verhoogstuk, as ’n televisieproduksie, as ’n ruimtefantasie, kompleet met ’n stroewe verteller, titelkaarte wat aandui watter toneel in watter bedryf nou volg, en ’n wipplankspringery tussen prentjiemooie kleur na wit en swart.
Die vreemdste groep mense (?) sedert The Royal Tenenbaums daag by ’n simmetriese 1950’s-motel op langs ’n sogenaamde diner in ’n wêreld wat lyk asof dit uit ’n destydse Amerikaanse televisie-advertensie geleen is.
Hulle kom kyk sterre. Dan daal ’n ruimteskip neer; ’n buiteruimtelike wese (’n alien) daag op, leen die meteoriet wat die krater veroorsaak het, en gaan mediteer daaroor. Die reaksie van ’n kaboedel vreemdsoortige mense vorm die kern van die rolprent. Eintlik het die wese meer persoonlikheid as die mense!
Die film het my inderdaad laat dink aan die sogenaamde B-movies van die jare toet toe ons nog elektrisiteit gehad het. Minderwaardige of swak flieks soos die Hammer-rillers (Edgar Allen Poe en kie se stories) of ander bedenklike produkte vorm dan die tweede helfte van ’n rolprentprogram. Die eerste fliek sou gewoonlik ’n lokettreffer gewees het, terwyl die ondersteunende B-rolprent die res van die program daarna sou vul. Met ander woorde, almal wat in die inrye wou agterbly om ’n bietjie te vry alvorens hulle met Pa of Ma se motor terugkeer, kon dan hierdie fliektyd gebruik om romanties te verkeer.
Anderson bring beslis ook hulde hieraan, veral wanneer ’n Joan Crawford-agtige rolprentster (uitstekend en baie selfbewus gespeel deur Scarlett Johansson) bloedrooi lippies tuit en dikwels vanuit ’n venster na ’n venster in die motel oorkant haar staar na ’n aantreklike fotograaf wat graag foto’s van haar neem.
Intussen verdwaal die televisiegasheer soms in skote, draf die energieke rolprent/TV-regisseur Schubert Green (Adrien Brody speel vir ’n Oscar!) op die stel rond, terwyl ander oorblufte karakters in die woestynagtige landskap ronddwaal. En dan is daar drie weeskinders wat lyk na ’n jonger weergawe van Macbeth se drie hekse, ’n oorlede vrou se as wat in ’n Tupperware-bak begrawe word, ’n uitdrukkinglose Tom Hanks, Tilda Swinton wat haar lot, omdat sy nie kinders gehad het nie, in ’n Arnold Schwarzenegger-stem bekla, en Jeffrey Wright as generaal Gibson wat, nou ja, toesig hou. .
Die dorp en omgewing word onder kwarantyn geplaas (eggo’s van Covid?) en die kamera neem die skouspel gierig waar. Dán is daar statiese vierkantige skote soos uit die jare vyftig se helderbeligte televisie-advertensies, dán is daar gesplete doeke waar twee tonele tegelyk afspeel, en dan skuif en draai die kamera weer na ’n ander stel toe. Dit voel of jy in ’n ideologiese 1950’s volmaakte Amerikaanse kammalieliewêreld verdwaal het. Jy verwag enige oomblik ’n blinkbekmeisietjie wat ’n yskas gaan adverteer.
Kortom, daar is geen manier om sin te probeer maak uit hierdie rolprentspeelgoedland nie. Sommige kykers mag driftig gehipnotiseer word deur Anderson se unieke styl, en ander mag halfpad uit die teater vlug, maar Anderson-slawe sal tog enduit sit om óf daaroor te juig, óf saam te stem dat ’n regisseur nooit te selftevrede met sy eie skepping moet raak nie. Of hul eie teorieë daaroor vorm.
Interessant om na te kyk, lekker om oor te debatteer, koel om as ’n meesterstuk te bestempel, maar vreemd, man, vreemd.


