Aspoester se paleis, die prinses se titel en die huwelik

  • 4

Soms word sprokies waar...

In België word ’n vrou oornag amptelik ’n prinses en in Suid-Afrika wen Aspoestertjie die reg om vir haar prins se paleis te baklei. Twee onverwante stories uit twee kontinente het vandeesweek die begrip huwelik onder die loep geneem.

Sprokies word soms waar. In België gebeur dit; in Suid-Afrika ook.

Beide sprokies het regspresedente tot gevolg. En dit het uitdagings vir ’n nuwe geslag teoloë. Lees gerus hierdie artikel op deur Ian Nell op LitNet Akademies.

’n Buite-egtelike kind word prinses

Daphne Boël, vandag Daphne, prinses van België (Foto: Luc Van Braekel | Commons Wikimedia)

Daphne Boël, vandag bekend as Delphine Michèle Anne Marie Ghislaine van Saksen-Coburg, prinses van België, is in 1958 gebore. Haar ma was Sibylle de Seys Longchamps, ’n bloubloed van Belgiese afkoms.

Sibylle se pa was ’n graaf en ook die Belgiese ambassadeur in Griekeland.

Die jonge Sibylle het haar minnaar van baie jare, toe nog prins Albert met die amptelike titel Prins van Liège, by ’n diplomatieke funksie ontmoet. Hulle was vir minstens 18 jaar daarna nog “bymekaar” – al is albei later getroud.

Albert is getroud met Paola, ’n bloubloed uit Italië. Hy het koning geword.

De Seys Longchamps is getroud met Jacques Boël.

Die huwelik in die paleis het drie kinders gebaar, die ander geen. Dié gebrek aan kinders het De Seys Longchamps laat vermoed dat sy nie kinders kon kry nie; sy en Albert het dus geen voorsorg getref nie. Daphne is gebore en Jacques Boël is as haar pa geregistreer.

In 2013 het Albert geabdikeer en sy seun is nou koning in België. Dit het gemaak dat Albert nie meer verhewe was bo die reg nie en Daphne Boël het hom gedagvaar – sy wou op daardie stadium bloot hê dat hy haar moes erken as sy kind. Hy het geweier en uiteindelik het ’n Belgiese hof hom gedreig met ’n boete van 5 000 euro per dag as hy sou aanhou weier om DNS te skenk vir ’n vaderskapstoets.

Albert II van België (Voka Kamer van Koophandel Limburg | Commons Wikimedia)

Die toets is uiteindelik gedoen, die verwantskap is bewys, en die voormalige koning het amptelik vir Daphne as sy vierde kind erken. Hy het haar ook so in sy testament ingeskryf.

Verlede week, op 1 Oktober 2020, het dit bekend geword dat ’n Belgiese hof beslis het dat Daphne haarself ’n prinses mag noem en ook haar pa, Albert, se van mag aanneem.

Dít is interessant, want verskeie adellikes sou in die verlede hulle buite-egtelike kinders nog privaat erken, maar sulke kinders het nooit aansprake gehad op amptelike titels nie.

Vir diegene wat ’n baie toeganklike boek oor hierdie onderwerp sou wou lees, kan ek Lucinda Riley se The shadow sister aanbeveel. In dié boek leer die leser die buite-egtelike dogter van Edward VII, koning van die Verenigde Koninkryk, ken.

Edward was bekend vir sy talle affairs, en een van sy minnaresse was die ma van Vita Sackville-West. Hy was ook deurmekaar met Camilla Parker-Bowles se oumagrootjie. Parker-Bowles was vir jare lank prins Charles se minnares, ook, skynbaar, tydens sy huwelik met Diana. Hulle het intussen getrou.

Edward se affair wat die langste gehou het, was met Alice Keppel, wat ook by sy sterfbed was. Riley neem die leser in Keppel se huishouding in. Die boek lees heerlik.

Van belang was dat nie een van Edward se buite-egtelike kinders ooit amptelik erken is nie, hoewel hy hulle skynbaar nie-amptelik wel finansieel gehelp het.

Meer nog, kinders wat buite die huwelik verwek is, het in die onlangse verlede nie geredelik koninklike titels gekry nie, hoewel daar verskeie Britse troonopvolgers in die verlede was wat buite ’n huwelik gebore is.

Dalk is tannie Liz vir die eerste keer dankbaar dat Brexit haar en haar landjie nog verder gaan isoleer.

Aspoestertjie se paleis

’n Dag later word nóg ‘n sprokie se einde waarskynlik geskryf.

Jane Bwanya, ’n toenmalige bediende, het die reg verkry om haar minnaar se bates te erf, al was hulle nie getroud nie. Van die bates in die boedel is ’n huis in Kampsbaai en ’n woonstel in Seepunt.

Kampsbaai, speelplek van die rykes. Jane Bwanya is nie ’n openbare persoon nie. (Foto: Izak de Vries)

Sou ’n mens hierdie storie voorlê aan ’n uitgewer, sou die antwoord waarskynlik wees dat dit té onwaarskynlik is.

Jane Bwanya het skynbaar in Februarie 2014 by ’n bushalte gestaan toe Anthony Rush, ’n ongetroude sakeman, by haar stop. Hy het haar stasie toe geneem en daardie aand het hulle saam uitgegaan.

Vier maande later het sy by hom ingetrek.

In 2016 was hulle aan die beplan om saam na Zimbabwe te reis sodat hy lobola kon betaal, maar hy is oorlede voor hulle kon gaan.

Ten tye van sy oorlye het Rush se testament verklaar dat al sy bates na sy ma moes gaan, maar die ma is toe ook al oorlede, wat Rush intestaat gemaak het. Daar was geen ander lewende familie wat opgespoor kon word nie.

Bwanya het aansoek gedoen om as erfgenaam geregistreer te word, maar Rush se eksekuteur het dit nie goedgekeur nie, omdat hulle nie getroud was nie.

Regslui van die Legal Resources Centre het Bwanya se aansoek ondersteun. Die Women’s Legal Centre en die Kommissie vir Geslagsgelykheid is ook as vriende van die hof toegelaat. Hulle het aangevoer dat dit ongrondwetlik is om ongetroude genote in heteroseksuele verhoudings uit te sluit van die beginsel van die wet wat voorsiening maak vir agtergeblewenes (Maintenance of Surviving Spouses Act, 1990), aangesien dié wet wel voorsiening maak vir genote van dieselfde geslag.

Op 2 Oktober 2020 het regter Penelope Magona, ’n regter in die Wes-Kaapse Hooggeregshof, bevind dat dit ongrondwetlik is om teen mense in heteroseksuele verhoudings te diskrimineer.

Magona se uitspraak sal nou deur die Konstitusionele Hof bekragtig moet word, maar intussen het Aspoestertjie ’n stappie nader gekom daaraan om haar eie paleis te besit.

Die huwelik as “slagoffer”?

Dit sal interessant wees om regslui en teoloë se uitspraak hieroor te hoor, aangesien die huwelik vir baie jare deur die reg én die kerk as ’n amptelike band gesien is.

Deur saamblygenote te laat erf sonder ’n testament maak skielik ’n regsdeur oop wat maak dat mense sal wonder oor die noodsaak van ’n huwelik.

Jane Bwanya moes natuurlik voor die hof kon bewys dat sy wel in ’n genootskap met Rush was – iets wat vir haar redelik maklik was, omdat Rush se vriende bereid was om oor die twee se mooi verhouding te getuig. ’n Stuk papier sou haar die probleme gespaar het.

Die kerk is lank reeds besig met ’n selfondersoek. Ons sien nie meer die haatlike sensuur wanneer mense “oor die tou trap” nie, en lees ’n mens Cas Wepener se Ongekaart, is dit baie duidelik dat talle dominees lank reeds besef het dat seks nie ingeperk moet word deur ’n stuk papier nie.

Keer ’n oomblik terug na die prinses van België, dan word ook hier duidelike vrae gevra oor die huwelik. Dit is geen geheim dat adellikes, veral dan troonopvolgers, se huwelike meestal politieke alliansies is en met die liefde niks te make het nie.

Paolo van België (Foto: Die regering van Indië | Commons Wikimedia)

Albert en Paolo, die toenmalige koningspaar van België, het saam drie kinders verwek, maar verder was hul huwelik ’n klug.

Charles se huwelik met Diana was ’n klug, want hy wou trou vir liefde, maar hy kon nie.

Phillip, Charles se pa, het skynbaar ook maar lekker die katte buite die paleis geknyp – beide in Brittanje en tydens sy reise na die buiteland.

Wanneer die huwelik aangegaan word suiwer om regsredes en nie vir liefde nie, word dit ’n teologiese vraagstuk. Of nie? In die ou Testament was daar nie een negatiewe verwysing na mans wat seks gehad het met prostitute nie – solank hulle nie aan ’n afgodetempel verbonde was nie – en slavinne was alledaagse gebruiksitems – wat ook seks ingesluit het. Wat die Ou Testament uitdruklik verbied het, was seks met ’n ander man se vrou en sý slavinne. Hoekom? Hy het vir hulle betaal; hulle was sy eiendom.

Die kerk het aanbeweeg en sien gelukkig nie meer vroue as die eiendom van mans nie, hoewel ’n mens steeds sidder elke keer as ’n outydse dominee die ou formulier oprakel dat die man oor sy vrou sal heers. Die kerk in die breë het ook al lankal aanvaar dat maagdelike huwelike nie meer nodig is nie, en dat huwelike van dieselfde geslag ook binne kerkverband mag plaasvind. (Daar is natuurlik individue in die kerk en sekere kerkgroepe wat nie saamstem nie.)

Cas Wepener se Ongekaart wil dit moontlik maak vir individue en die kerk om ook iemand se “swerfgenoot” (sy woord) met liefde te omarm.

Dit wil voorkom of kerk en staat die reg van die individu begin raaksien as verhewe bo ’n stuk papier. ’n Mens wil wonder hoe huwelike in die toekoms sal lyk.

Ons weet dat huwelike in die verlede dikwels op papier gestaan het, maar dat liefde nie daaraan gekoppel was nie, ook dat sprokies vir prinsesse én aspoesters waar kan word, die huwelik ten spyt.

Lees ook:

Postkoloniale leierskap? Die uitdagings vir ’n nuwe geslag teoloë

LitNet Akademies: Volledige joernaaluitgawes

Ongekaart. Ongeloof(lik). Nuwe bediening.

  • 4

Kommentaar

  • Baie interessant! Die huwelik as instelling gaan waarskynlik nie die Christelike kerk as instelling oorleef nie.

  • Trouens, Izak, die Here het vir Hosea opdrag gegee om met 'n "hoervrou" te trou! Heerlik om jou artikel te lees: interessante onderwerp, verwysings en skakels wat jy saambind. Doe zoo voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top