As maar net ...

  • 0

Foto: Canva

As maar net ...

Hoekom kan hy dit nie net vergeet nie? Homself net oortuig dat dit nooit gebeur het en daarmee klaarkry nie?

Kadmiel vee met sy hand oor sy gesig. Wat help dit dat hy nog daaroor dink? Dit krap. Soos ’n dorinkie onder sy vel wat hy nie kan uitkry nie. Hy weet hoekom.

Maar dit was al jare terug. Vyf jaar. Vyf jaar vandat hy ’n jong vrou se lewe verwoes het in die geheim. En toe weggehardloop het soos ’n hond, stert tussen die bene. Weggehardloop het en gehoop het sy slegte besluite sal haar nie meer seer maak as wat dit toe al het nie. En hy weet dit kon, sou ...

“Kadmiel,” raas hy met homself, en sy stem klink onnodig hard in die stilte van sy huis.

“Jy kan nie so oor die verlede tob nie. Jy het ’n magdom foute gemaak, groot foute. Maar dit is nou op en klaar. Niks wat jy nou daaraan kan verander nie.”

Maar sy kop luister nie. Die skuld sit styf oor sy bors. Swaar.

Koeie kosgee ...

“Die koeie,” beveel hy homself. “Jy moet die koeie gaan kosgee.”

Kadmiel staan op van die bankie voor die kaggel waar hy besig was om te kerf aan ʼn stuk hout. Dit is ’n klein pop vir ’n dogtertjie. Die son vat nog liggies aan die westelike horison, nog nie seker of sy al uit die donker komberse van die nag wil opstaan nie. Hy moes baie vroeër wakker geword het as wat hy gedink het. Of sy gedagtes in sirkels gejaag en ’n uur 10 gemaak. Nie een klink reg nie.

Sy koeie het ten minste ’n rustiger nag as hy gehad. Daisy en Faith is albei rustig en besig om te herkou toe hy die skuurdeur oopstoot en inkom met die melkemmer. Daisy moe lui-lui vir hom wanneer hy gaan sit om haar te melk. Die emmer word geleidelik voller en teen die tyd dat hy Faith ook gemelk het, was die emmer omtrent driekwartvol. Hy sit die emmer melk buite die deur voordat hy die hooivurk beetkry en oggendete by die stalle inskep. Al die tyd voel dit verkeerd. Hy hou die vurk te styf vas, hy kap te hard teen die krip se rand. Skuldgevoelens. Wat-kon-gewees-het. As sy emosies en drang net nie te sterk was nie. Eintlik as hy nie homself toegelaat het om sulke sterk, verkeerde emosies te voel nie.

Ag tog, wat is dit nou met hom? Genade ... hy skud sy kop en gaan aan met die ander werk rondom sy huis en werf. Hoe vinniger hy sy gedagtes van dooie koeie in hulle slote af weg kan kry, hoe beter. Dalk is dit tyd om ’n dag dorp toe te gaan. Ja, hy sal die bakkies en lepels en speelgoed wat hy gekerf het voor die kaggelvuur op winterdae, vandag gaan verkoop. En dan sommer ’n bietjie sy vriende opsoek. En hy het boonop koring en olie nodig; dit is ’n ruk vandat hy laas sy koskas volgemaak het.

Die pad na die dorp is nou nie juis ’n hoofpad met ontelbaar baie voete nie. Nee, hy bly op ’n klein plaas tussen nêrens en ’n dorpie van ongeveer ’n honderd mense altesaam.

Te klein vir ’n ordentlike naam, al noem die inwoners dit “Haramere” of “Mikrahaven”.

Hy stap. Hoor nie die voëls nie. Nie die briesie nie. Net sy voetstappe. En daardie vraag wat aanhou kom: Wat as sy voor jou opdaag? Wat as sy hom ’n tweede kans gee?

Hy wil nie – durf nie – daaraan dink nie. Sal dit nie net ou sere oopkrap nie? Wel, hy is mos al klaar besig daarmee.

Wel, hy sou haar inneem. As sy vrou vat. Dit is tog net reg om ten minste sekuriteit en stabiliteit aan haar te bied. 

Maar dit is jare later. Sy het seker nou ’n man. Iemand wat weet. Of nie weet nie.
Wat ook al sy sou kies. Of vir haar gekies is ...

“Jy’s net besig om jouself miserabel te maak,” sê hy hard. “Dink aan iets anders.”

En toe sien hy die dorp voor hom.

Dit gaan vinnig op die plein. Sy handewerk is bekend; alles word gou-gou opgekoop. Groet hier, geselsie daar. Dit hou sy gedagtes ’n rukkie besig. Hy verkoop nie die speelding wat hy die oggend sit en kerf het nie.

“Hei, Kadmiel! Dis goed om jou te sien, broer. Waar was jy die laaste paar weke? Na daai sneeustorm het ek amper ’n reddingsending gestuur.”

Kadmiel trek ’n skewe gesig. “Ek was maar meestal besig met kerfwerk en my koeie aan die lewe hou. Die alleenheid het te veel geword, toe kom ek bietjie rondkuier.”

Sy vriend lag. “Dan moet ons vir jou ’n vrou kry! Wat van ons bespreek jou opsies oor middagete? Ek sal betaal.”

“Ek sal dit waardeer.” Hulle het nooit oor die kwessie van ’n vrou gepraat nie. En voor hy dit weet, is die son al weer op pad na haar huis in die weste en moet hy die pad terug na sy huisie in die woud aandurf.

***

Die son se strale begin al weer vat-vat aan die horison voordat Kadmiel weer terug op die paadjie na sy eie huisie stap. Dit is doodstil, behalwe vir die af en toe geknars van stokkies en ou blare onder sy skoene, of die getjank van ’n jakkals in die verte. Hy kan nie onthou dat alleenwees ooit so ... leeg gevoel het nie.

By die huis maak hy ’n groot, gesellige vuur in die kaggel en het net besluit om ’n lekker groot stuk wildsvleis gaar te maak vir aandete, toe hy ’n klop op sy huisie se voordeur hoor. Kadmiel byt sy tong om nie iets kwyt te raak nie en maak die deur op ’n gleufie oop.

Buite staan ’n pragtige vrou. Een met donker hare en wimpers waarvan die gefladder hom sy hart laat verloor het, en wat hy gedink het hy in die verlede gelos het. Maar hier is sy. In lewende lywe.

“Emmery?”

“Hallo, Kadmiel. Ek het ... jou gesoek,” sê sy sag. Skielik glad nie meer so selfversekerd soos ’n oomblik terug nie.

Kadmiel sê niks. Hy wag net. Sy het nie so ver gekom vir niks nie. Ag, laat haar tog net vrá!

“Kan ... kan ons vanaand by jou oorbly?” vra sy versigtig. Kadmiel se hoop sak tot in sy skoene.

“Ons?” Sy oog vang ’n bol goue hare agter Emmery se rok uitsteek, en sy hart begin te galop soos ’n gemsbok op die grasvelde van Weldana. Hy soek in Emmery se oë vir enige teken van bedrog, maar vind net eerlikheid. Dan buk hy af om hierdie jong dogtertjie oog-tot-oog te kan sien. Sy het sy hare en haar ma se oë. Haar velletjie is lig soos syne op plekke, maar bruingebrand van in die son speel en lang trekke se stap op stowwerige paaie op ander. “Jy lyk soos die man in Mam se hangertjie,” bring die kind se klein stemmetjie hom terug aarde toe. Die groot bruin ogies bestudeer hom nuuskierig.

“Wat is jou naam, dogter?” vra Kadmiel saggies.

Sy begrawe haar gesig in die voue van haar ma se rok. Emmery stel haar gerus en por haar aan om te antwoord.

“Flen,” antwoord sy skaam.

Kadmiel sluk. Kyk eers na die kind, toe na Emmery en weer terug na die kindjie se skaam, maar nuuskierige oë.

“Hallo, Flen. Mag ... mag ek jou pappa wees?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top