As jy van moord droom deur Deborah Steinmair: ’n resensie

  • 0

Foto van Deborah Steinmair: Leane Spangenberg

As jy van moord droom
Deborah Steinmair
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799399240

Deborah Steinmair is ’n bekende en gerespekteerde stem in die Afrikaanse boekwêreld. Hoewel sy met ’n Engelse digbundel gedebuteer het, het sy daarna in Afrikaans gepubliseer en ook die Jan Rabie-Rapport-prys vir haar debuutroman Marike se laaste dans verower.

Marike se laaste dans het Steinmair alreeds as ’n skrywer met ’n unieke styl en ’n sekere wrang sin vir humor getipeer. Werklikheid en fantasie vloei naatloos saam om ’n storie te vorm wat jy graag sou wou glo.

Poppekas is goed ontvang, maar het hierdie leser laat besluit die sogenaamde raaiselroman is nie vir haar nie. Die magies-realistiese drieluik Die neus, Wenkbrou en Moestas het dus by my verby gegaan, waarskynlik tot my eie skade.

Steinmair se artikels in Vrye Weekblad het egter ’n weeklikse hoogtepunt geword. Met fyn woordkeuse, unieke segging en ’n aweregse blik op die wêreld bied sy met elke artikel aan boekvrate ’n oase in ons barre pandemie-geteisterde landskap.

As jy van moord droom het die twyfelagtige voorreg gehad om net voor inperking te verskyn en waarskynlik deel te wees van die hartverskeurende statistiek oor boekverkope in die eerste helfte van 2020, soos dit onlangs in die pers verskyn het.

Inperking was in sekere opsigte vir ware boekvrate ’n uitkoms, na gelang van hulle voorraad en hulle huislike omstandighede. Ek was een van dié wat nie betyds voorsiening vir genoeg leesstof gemaak het nie en my tot ongewone keuses moes wend. En so beland ek kop en pootjies in Erin en Maryna se storie. Die e-boek is verslind en toe die papierboek later in my hande beland, het die verhaal nog niks van sy bekoring verloor nie. Inteendeel, dit was ’n ekstra lekkerte om die storie op papier te herbesoek.

Hierdie ervaring strook ook met die verskynsel dat die papierboek geensins voor e-boeke geswig het soos ’n aantal jaar gelede voorsien is nie. Uit onderhoude met uitgewers blyk dit ook dat die verkope van e-boeke tydens die (belaglike) verbod op die verkoop van papierboeke gestyg het, maar nie noodwendig dramaties nie, en ook weer gedaal het toe papierboeke beskikbaar word.

As jy van moord droom word as domestic noir getipeer. Julia Crouch, aan wie se werk dié term in 2013 toegedig is, : “In a nutshell, Domestic Noir takes place primarily in homes and workplaces, concerns itself largely (but not exclusively) with the female experience, is based around relationships and takes as its base a broadly feminist view that the domestic sphere is a challenging and sometimes dangerous prospect for its inhabitants …”

Vir Erin as die ma van ’n ontvoerde dogtertjie word haar huislike lewe inderdaad uitdagend, gevaarlik en uiteindelik so onhoudbaar dat sy alleen deur drome en fantasie kan oorleef. Wanneer haar kind ná 20 jaar as ’n amper groteske, enigmatiese figuur by haar aangebring word, is daar niks van die allesoorheersende vreugde waaroor elke ouer van ’n verlore kind seker droom nie. Daar is trouens geen herkenning nie en wanneer herkenning tog intree, is dit ’n trekkie van haar gemene skoonma wat Erin in die slapende Maryna se gesig raaksien. Die afstand tussen hulle word skreiend onderskryf deur Erin wat aanvanklik aan die logge, bot jong vrou as “die Maryna” dink. Daar is geen konneksie nie.

Spoedig bevind Erin haar egter in die situasie waar sy hierdie steeds-verlore kind van haar se lewe in haar hand hou. Terwyl Maryna verbete swyg, moet Erin vinnige besluite neem en dit met groot risiko uitvoer. Die tempo van die verhaal versnel en die spanning bou geleidelik op. Daar is moorde en vlugtogte, ’n ontvoering en ’n ontsnapping, alles vertroude bestanddele van ’n goeie misdaadroman.

Die unieke bekoring van hierdie boek lê egter vir my op die emosionele vlak. In wese is As jy van moord droom die verhaal van die herontwaking van die liefde tussen ’n ma en haar kind. Beide is diep verwond en nie een van hulle aanvanklik in staat of selfs gretig om die bande weer op te tel nie. Erin sien haarself in elk geval nie as ’n natuurlike ma nie en was in hulle dae as ’n gesin die doener, die “harder” ouer, terwyl haar man, Bert, die sagter, emosionele een was wat oënskynlik met gemak ’n innige verhouding met sy dogtertjie gevestig het. Maryna se weiering om te kommunikeer vind ook in Erin weerklank. Sy was nooit ’n groot prater nie, veral nie oor emosies nie, en ná die opbreek van haar huwelik het sy volkome in haarself gekeer.

Die verhaal vra by monde van Erin verskeie vrae; vrae waarop daar nie duidelike antwoorde verskaf word nie. Is die liefde tussen ouer en kind werklik onvernietigbaar? Wie se benadering was die beste – Bert, wat ná maande se soektog oënskynlik aanvaar het sy kind leef nie meer nie en in ’n nuwe huwelik in ’n nuwe land vir homself ’n nuwe lewe geskep het? Of Erin, wat nooit aanvaar het haar kind is dood nie, wat verdwaald geraak het tussen drome en voorgevoelens en die fantasie dat haar kind ’n suksesvolle geoktrooieerde rekenmeester in die Kaap is wat bloot te besig is om bande met haar ma te behou? Moet ’n mens werklik grawe na die detail van wat met Maryna gebeur het? Is dit nie beter om eenvoudig die verlede agter te laat en vorentoe te beur nie?

Uiteindelik moet Erin ‘n skrikwekkende moontlikheid in die gesig kyk. Kan moederliefde teen hierdie vreesaanjaende moontlikheid staande bly? En kan die onreg teen ’n kind ooit vergewe word? Móét ’n slagoffer enigsins probeer om te vergewe? Op hierdie vrae kry Erin op haar eie unieke manier haar antwoorde. Die leser kan dalk selfs nie noodwendig dieselfde antwoorde kry nie.

Die intrige van die verhaal is fyn uitgewerk en die spanningslyn bly snaarstyf tot aan die einde, maar dis die subtiele verskuiwings in die verhouding tussen Erin en Maryna wat van die skrywer se grootste vaardigheid getuig. Daar is geen resepmatigheid of onsubtiliteit in die aanbieding van die emosionele groei van die karakters nie. Elke oomblik van konneksie is ’n klein juweel wat die leser, soos Erin, soos houtkrale aan ’n snoer wil ryg.

Die mannehater Erin se wêreld is ironies gevul met mans. Daar is Bert, haar gewese groot liefde en daar is Francois, haar jeugliefde en die een wat sy eintlik gebruik het om haar huwelik finaal te vernietig toe dit vir haar onhoudbaar geword het. Daar is ook teenpole; sisteme wat hoofsaaklik deur mans onderhou word. Erin vind teen haar sin dat haar lot keer op keer aan ’n man verbind word.

As jy van moord droom is veel meer as ’n misdaadroman. Dis ’n ode aan die krag van ’n ma se liefde en ’n bevestiging van die uiterstes waartoe die moederdier sal gaan om haar kind te beskerm.

As jy van moord droom word sterk aanbeveel vir lesers wat nie net aksie soek nie, maar ook bereid is om op ’n emosionele vlak uitgedaag te word.

As jy van moord droom: ’n onderhoud met Deborah Steinmair

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top