As jy ’n ster sien verskiet
Maya Fowler
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624052869
Prys: R120.00
’n Nuwe jeugboek is altyd goeie nuus, sê die uitgewers, want jeugboeke en jeugboekskrywers is skaars in Suid-Afrika. Heeltemal te dun gesaai.
As jy ’n ster sien verskiet van Maya Fowler (met ’n baie mooi omslag deur Michelle Staples) is boonop welkom omdat dit ernstige kwessies onder die soeklig plaas. Vigs, misdaad, ’n ma met ’n drank- en dwelmprobleem, en ’n motorongeluk waarin die hoofkarakter betrokke is en wat tot lewensverlies lei, is van die sake wat aan bod kom. En daar word nie doekies omgedraai om die werklikhede hiervan vir die leser voor te hou nie.
Die hoofkarakter is die veertienjarige Riekie Taylor, wat pas uit die skool geskors is omdat sy haar hare sonder toestemming gekleur het en iets heelwat sterker as sigarette op die skool se dak gerook het. (Dis ’n prestasie waarop Riekie se onkonvensionele ma trots sou gewees het as sy daarvan geweet het. Dagga is goed vir die gemoed, veral as jy soos dié gesin deur ’n moeilike tyd gaan, glo die ma.)
Dan is daar ’n broer wat sterwend aan Vigs in een van die gesin se kamers in hulle huis in Graaff-Reinet in die Karoo lê.
Die ma is al ’n slag vir die drankprobleem behandel, maar die sukses hiervan was van korte duur. Sy gee kunsklasse om die karige bydrae van ’n afwesige pa aan te vul.
Maar die boek se sterk punt is juis dat daar oor dié gewigtige sake met ’n goeie skoot humor geskryf word. Die volgende oor die broer se begrafnis, vroeg in die boek, illustreer dié punt:
Ek onthou niks van die begrafnis nie, want Ma het my ’n pienk pilletjie aangebied, en ek het omtrent vier gevat. Blykbaar het ek my naam ’n bietjie geruk, glad amper in die graf geval, maar daar was min mense om te sien. En dié wat gesien het, het dit aan smart toegeskryf en my verskoon.
Dié deel volg op ’n roerende (maar knap onderspeelde) toneel waar Riekie die grafgrawers op die dorp help om haar broer se graf te grawe.
Riekie vat uiteindelik die pad op soek na die pa wat sy nooit geken het nie en beleef die winkende wêreld op die horison duskant haar tuisdorp ook maar as onvolmaak en vol ellendes.
Op reis leer sy ook dat mense eintlik goed is. Daar is heelwat barmhartige samaritane wat haar pad kruis. Vreemde mense ontferm hulle oor haar na die motorongeluk waarin sy betrokke is en neem haar na die naaste dorp. Lance waag sy lewe om haar van ’n aanrander in ’n stegie te red en Riekie kry onverwags "onwettige" huisvesting in ’n huis op die dorp van Snoekie, ’n uitgeslape sakevrou maar met ’n groot hart, nadat sy ’n paar dae in ’n openbare toilet op Laingsburg ’n heenkome moes vind.
’n Mens sou meer van die ma wou weet wat net ’n randfiguur in die storie bly. Met haar vreemde uitrustings en verdagte gewoontes kon dit ’n interessante karakter gewees het. Maar sy is immers afwesig en dit regverdig waarskynlik haar gebrek aan teenwoordigheid in die storie.
Plek-plek pla woorde en uitdrukkings wat ’n mens vermoed nie in ’n jongeling se verwysingsraamwerk tuis sou wees nie, soos: “Ek's nie lus om my in mense vas te loop wat hulle oor my wil verknies nie” (40); “bande met die verlede breek” (92), ens.
Riekie se vreemde avonture en waagmoed hou die leser geboei en vir tieners behoort dit lekker, vinnig en avontuurlik te lees. Die leser ervaar die storie nie as swaarmoedig nie, maar eerder as een waarin ’n bietjie hoop deurentyd op die einders wink, hoe gering ook al.


Kommentaar
Waar kan ek hierdie boek vir my klas se kinders bestel?
Hallo! Die boek word uitgegee deur Tafelberg-uitgewers, so klop gerus aan by NB-Uitgewers. Hier is 'n skakel na hul webwerf: https://www.nb.co.za/. Hul kontakbesonderhede is ook daarby. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder