
Overgeset synde:
- In Engels: When pigs fly; of: When hell freezes over.
- In plein Afrikaans: As die perde horings kry; of: As die kapaters lam en die uile preek; of sommer net: As die kiepersolle amandels dra.
- Met ander woorde: Nooit as te nimmer nie kon hierdie huwelik hou!
Dít is vir seker die vreemdste invalshoek om oor enige huwelik te praat. Maar terugskouend was die vreemde aanloop na my troudag tóg die spreekwoordelike “skrif aan die muur”.
Laat ek voor begin. Kerk, predikant en orrelis is fluks vasgemaak vir die groot dag iewers in Oktober. Huweliksooreenkoms geteken en gebooie geloop.
Die eerste probleem was die troukoek.
- Ek was weke vooraf by die bakker met mý foto’s en idees. En tog, die dag toe hy my laat weet “Kom kyk!” was die hele kontrepsie wat voor my ten toon gestel is, allesbehalwe. Ek het die drietoringstellasie met die klassieke bruid-en-bruidegom-poppies só gekyk, gesê “Nee” en uitgeloop. Ek het in my kar gehuil.
- Die koekpetalje was die gevolg van inmenging deur ’n ma vir wie my troukoek, ’n eenvoudige liggeel vierkant met die bossie Afrika-hondrose op die een hoek, beslis nie aangestaan het nie. Dus het sy die sakie agter my rug met die bakker gaan “regstel”. Sy was nie ’n biétjie vies toe ek met leë hande by die huis opdaag nie! Hoe gaan dit nou lyk sonder ’n troukoek? wou sy weet. Daar moet altyd ’n behoorlike troukoek wees, het sy gekerm. “Watch my!” het ek teruggekap, my trourok se lap en patroon gaan uitlê, en begin knip.
Toe is dit die gastelysnagmerrie.
- Ek en my verloofde het die troue gefinansier en ons moes alles fyn bestuur om sake te laat klop. Ek het min besef hoe ernstig my aanstaande skoonfamilie sou wees oor die “suster-van-Sarie-se-tante” wat ten alle koste die gastelys moes haal! Met ons brieke op net 60 gaste vir ’n intieme troue vs die lys soos verbeel deur die aanstaande skoonmoeder se droom vir haar enigste seun ... My skoondogterkoeël was toe net daar deur die kerk. Ek het viervoet vasgesteek met die getalle en afgesit Checkers toe. Daar was baie mooi skryfblokke en bypassende koeverte. Ek koop toe twee pakke en leen ’n tikmasjien, toe sê ek vir die families: “Bring daardie gastelyste, mét hul posadresse!” En ek tik.
- Die gort was goed gaar toe aanstaande skoonma ’n pak uitnodigings kry om te pos. (Ek het mos nie begroot vir al hierdie papierwerk en seëls nie.) Daar was handevol uitnodigings vir die kerkdiens. Onderaan het duidelik gestaan: “Geen onthaal.”
- “Jy kan nie dit doen nie!” het die geween opgegaan. Ek het my doof gehou en my trourok se soom loop insit.
- Die twee families reël toe inderhaas elkeen hul eie gesellighede. Koek en tee by my ouerhuis. ’n Boerebraai by die aanstaande skoonfamilie. Ek onthou hoe ek wrang in my binneste geglimlag het, want ek het vir seker ’n lat vir myself gepluk wat familieverhoudings betref.
- My ma het die tuisnywerheid en ’n paar kerktannies opgekommandeer vir koeke en terte. By die ander huis was dinge in rep en roer om te red wat te redde was. Skaap vir die spit, slaai, pap-en-sous en gebakte poeding, ook baie geskinder oor hierdie vreemde vrou wat eersdaags “skoondogter” gaan word.
Toe kom my ouma inspeksie hou van die patroon en lapgoed waarmee ek besig was om my eie trourok te maak. “Jinne kindjie, só ’n eenvoudige ou rokkietjie darem?” Gmff, het ek in my binneste gesnork. As sy maar net kon geweet het:
- Dié “ou rokkietjie” se patroon en materiaal het my baie ure se soek gekos, want dit was die tyd van oordadige valle en kant en lint. Nie my styl nie.
- Die dag toe ek die Dior-patroon raaksien met sy netjies pasmaakbostuk en lang moue, die gevormde klokromp en gewaterde tafsylyfband, het ek net gewéét, ditsem!
Ouma moes nie nou kom sukkel het met my nie.
Die troudag:
- Ek trek by ’n vriendin se huis aan, want my ma was moeilik oor die huis reeds so omgedop was.
- ’n Vriend het al die pad van Nelspruit gekom om troukar te ry. Heeltemal te vroeg vir die kerkdinge gaan parkeer die man toe mos met troukar en al voor die Coco Pan, ’n kafee voor en steakhouse agter. Daar sleep ek toe deur die kafee met trourok en al en kry my sit saam met die troukarman en sy vrou en my aanstaande. Ons bestel bier. Dit was Barberton in Oktober – hoe dan anders?
- Soos dit ’n goeie bruid betaam, het ek vyf minute laat by die kerkdeur my staan gekry. Net om te hoor ek moet net so ’n bietjie wag, die orrelis is soek. Hulle het hom gekry, langs die dorp swembad. Skoon vergeet van sy afspraak. Met ’n leenhemp en -baadjie oor sy bont swembroek het hy inderhaas op die galery aangetree om, goed ’n halfuur laat, die eerste note van die troumars in te sit.
- So het ons eers gekoek-en-tee by die een huis, en toe ’n stukkie braaivleis gaan eet by die ander huis.
- Ons is nege-uur die aand in gietende reën uit die dorp op pad Kosibaai toe vir tien dae se wittebroodkamp. Na net vyf dae was ons terug met ’n sopnat tent en krapperige gemoedere.
Toe dinge eers só begin het, het die kiepersolle daardie jaar in die Laeveld reeds swaar begin dra aan al die amandels.
Ek het lank geoes aan daardie amandels, tot die laaste kiepersol hom, so skuins oor die dertig jaar later, dood gedra het en ek my naam onderaan die skeibrief teken.

