Arthur Nuthall Fula (1908–1966)

  • 0

Gebore en getoë

Arthur Nuthall Fula is op 16 Mei 1908 in Oos-Londen gebore. Die gesin het in 1910 na die Rand getrek en het na ’n paar omswerwinge op George Goch in Johannesburg gaan bly. Fula het in hierdie gebied in aanraking gekom met ’n stadsomgewing wat veeltalig was, maar nog belangriker, met Afrikaans.

Hy het sy eerste skoolopvoeding aan die Siemert School for Coloureds gekry en het aldaar sy vorm IV-eksamen geslaag.

Verdere studie en werk

Ná sy skooljare het hy verder studeer aan die Eurafrican Normal College, maar sy familie het geldelike probleme ondervind en hy is as gevolg daarvan  genoodsaak om sy studies te staak.

Hy het dus in 1925 as ’n klerk in die hospitaal van die Wolhuter-goudmyn begin werk en het later ’n mynarbeider geword.

Die werk het hom egter nie geval nie en Fula het besluit om ’n ambag as meubelmaker te loop. Ná ’n opleiding van twee jaar het hy vir 15 jaar as ’n meubelmaker gewerk, maar ongelukkig het hierdie besigheid finansieel nie die paal gehaal nie. Hy het daarna sy eie besigheid begin, maar dit het ook nie die pyp gerook nie.

Op die skutblad van Jôhannie giet die beeld word vertel dat Fula se “belangstelling in die welvaart van sy medemens en sy begeerte om hulle lyding te versag” hom daartoe dryf “om weer te begin studeer”. Hy het deur middel van die St John-organisasie begin studeer en het sertifikate in huisverpleging, eerstehulp en die voorkoming van ongelukke verwerf.

Vanweë die uitsonderlike talent en aanleg wat hy vir tale getoon het, kan hy beskryf word as ’n poliglot. Hy het Frans by die Alliance Française geleer en benewens Frans en Xhosa (sy moedertaal) was hy ook Afrikaans, Engels, Zoeloe, Sotho, Tswana en Pedi magtig.

Ná die ongelukkige afloop van sy meubelbesigheid was Fula vir ’n wyle werkloos. Hy het egter daarna as ’n tolk in die Johannesburgse landdroshof begin werk – meer spesifiek in die egskeidingshof. In Volksblad van 25 Mei 1966 het ’n hooftolk by die hof gesê dat Fula hom altyd van die ander tolke afgesonder het en nooit saam met hulle kaart gespeel of gedobbel het nie. "Hy is ook beskou as een van die beleefdste Bantoetolke in die gebou, asook ’n besonderlike mens. Hy was baie belese en het vir my dinge wat in die wêreld aangegaan het, vertel waarvan ek self nie geweet het nie."

Gedurende etenstyd in die hof kon jy gereeld vir Arthur Fula in ’n leë kamertjie in die hof kry waar hy op sy siter musiek gemaak en gesing het van "Pola Sitandwa", van ’n ou man wat op ’n jong meisie verlief geraak het, asook van "Tandiwe", van ’n meisie wat haar geliefde afgesê het. Hy het as jong man die siter by sy huis leer speel en het self die liedjies gekomponeer. (Die Transvaler, 11 Oktober 1955)

In Mei 1966 sterf Arthur Fula in Johannesburg na ’n beroerte-aanval. Hy laat ’n vrou en vyf kinders agter.

Fula skryf aanvanklik in Engels, maar kry nie ’n uitgewer vir sy werk nie. Hy het egter vas geglo in en vertrou op sy skryfwerk en dít nieteenstaande sy eie swaarkry en die spot van die "baie geleerde Bantoes" wat weet te vertel het dat "die Boere tog nooit iets sal laat druk wat ’n Bantoe geskryf het nie". Dit was ook nie sy rasgenote wat hom aangemoedig het om te skryf nie. Wat hy nie in Engels kon regkry nie, het toe in Afrikaans gebeur toe Jôhannie giet die beeld in 1954 deur die Afrikaanse Persboekhandel uitgegee is.

Die roman het onmiddellik aandag getrek en heelwat bespreking in die dagpers sowel as in populêre en literêre tydskrifte uitgelok. Fula se uitgewer het die volgende redes gegee vir die opgewondenheid rondom hierdie “unieke” teks: “1) Dit is deur ’n Bantoe geskryf; 2) Dit is in Afrikaans geskryf en 3) Dit staan op ’n redelik hoë peil … Dis ’n roman wat die blanke leser nooit sal vergeet nie – ’n roman deur ’n Bantoe in Afrikaans!”

Ten spyte van hierdie gloeiende voorspelling het die naam van Arthur Fula ongelukkig in vergetelheid verval. (Hein Willlemse, Stilet, September 1992)

Jôhannie giet die beeld vertel die verhaal van twee jong mans, Maringo en Karlos, wat na Johannesburg (Jôhannie) kom om in die myne te werk. Hier kom hulle in aanraking met en ontmoet verskeie persone wat die uiteenlopendheid van die stadslewe uitbeeld: Khaifasi, godsdienstige leiers; Herculano en Mronga, toonbeelde van sukses wat oneerlik behaal is. Aanvanklik word Maringo en Karlos verlei deur Herculano en Mronga se sukses en Karlos beland in die tronk, terwyl Maringo terugkom van die dwaalweë af, hom na die Khaifasi wend en ’n voorbeeldige lewe lei.

Volgens Hein Willemse in sy artikel “‘Mens sou nie ’n Bantoe as skrywer vermoed nie’ of Arthur Fula se welwillende Afrikaans: ’n Eerste verkenning van Jôhannie giet die beeld” in Stilet van September 1992 skep Fula ’n “geïdealiseerde romanwêreld – ’n woordwêreld waarin tydgenootlike sosiale behoeftes, die sosiale uitreiking en die politieke onderstrominge resoneer of wat simboliese oplossings vir sodanige strydvrae bied. Aanvanklik word die resepsie van Jôhannie giet die beeld as ’n Afrikaanse roman en betekenis wat aan dié gegewe geheg word, ondersoek; daarna word die roman bespreek in dialogiese verhouding tot ander soortgelyke romans en die belang van aspekte van die spesifieke subgenre soos 'die stad', 'Christene' en sosiale magverhoudinge tussen wit en swart mense.”

In Die Huisvrou van 17 Augustus 1954 skryf Kobus van Zyl: “Hoewel dit geen letterkundige werk is nie, behoort dit gewild te wees as ’n avontuurverhaal met ’n goeie strekking. As sodanig kan ’n mens dit effens bo die gemiddelde Afrikaanse boek van sy soort plaas. Fula is ’n goeie verteller en daar is min vervelige oomblikke in sy storie.”

In Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1954 skryf Abel Coetzee soos volg oor Jôhannie giet die beeld: “[Ons het] hier ’n gevormde Bantoe, wat na rype oorleg besluit het om sy verhaal juis in Afrikaans te skryf. Deur daardie bewuste keuse van medium het Fula hom gerig, nie tot die buiteland waar tans ’n soort sentimentele belangstelling in rasseverhoudings gebotvier word nie, en ook nie tot dié deel van sy eie stam wat nog in die stamgebiede woon en nie die probleme en die vreemde taal ken nie, maar regstreeks tot alle Afrikaanssprekendes. Maatskaplik is dit ’n oorweging van die grootste betekenis: ’n Bantoe wat hom oor sy eie volk wend tot die Afrikaner. … Plaas ons dan die roman binne die raamwerk van die Afrikaanse romankuns, waar dit tuishoort, dan vind dit sy eweknie onder dié romans wat meer as ’n geslagtydperk gelede geskryf is met die boodskap: Terug plaas toe! In die stad lê die verval! En ons dink aan JJ Lub en GR von Wielligh. Die verskil is egter dat ons hier te doen kry met ’n goed gevormde Afrikaans en ’n mensbeelding waar die didaktiese nie so swaar opgeplak is nie. Daarby moet egter gesê word dat Fula romantegnies tot voordeel in die leer kan gaan by sy Afrikaanse tydgenote, en dat sy Afrikaans, as beeldende stylmiddel, nog heelwat aan soepelheid mis in vergelyking met byvoorbeeld die taalaanwending van PJ Schoeman en GH Franz – almal punte wat in ’n tweede en derde en volgende roman bygewerk kan word. Hoofsaak is hier dat ons ’n roman het waarvan die Afrikaans keurig versorg is, en wat ons ’n goeie insig gee in die maatskaplike probleme van ’n groep tyd- en landgenote waaraan ons ons gewoonlik weinig steur. Dat Fula ons oë oopgemaak het vir hierdie probleem, is ongetwyfeld die grootste verdienste van sy werk.”

Na sy debuutroman publiseer Fula ongereeld gedigte en kortverhale. In 1957 verskyn sy tweede roman, Met erbarming, o Here, ook by Afrikaanse Persboekhandel. In 1956 word Jôhannie giet die beeld in Duits gepubliseer as Im Goldenen Labyrinth, en in 1984 in Engels as The golden magnet, vertaal deur Carrol Lasker. Van sy gedigte is in Duits en Russies vertaal en opgeneem in ’n bloemlesing getiteld Südafrikaner Erzählen. Daar is ongeverifieerde berigte dat daar nog manuskripte van Fula bestaan.

Hein Willemse skryf in sy artikel dat Jôhannie ook in Sotho en Zoeloe vertaal is, maar hy kon dit ook nie verifieer nie.

Peter Sulzer het in 1965 in ’n ongepubliseerde manuskrip geskryf dat nog ’n roman van Fula, Dogter van die Zoeloe, en twee kortverhale, "Matsiliso van Phomolong" en "Ulindipisi" ("Runderpes”), in manuskripvorm bestaan, terwyl ’n ander verhaal, "Dominee Kalashe", alleenlik in die Duitse vertaling beskikbaar is.

Volgens ’n brief wat Arthur Fula op 26 Februarie 1957 aan mev JP van der Merwe geskryf het, was daar nog twee werke van hom, Die lotgevalle van ’n naturelle-skrywer, en in Xhosa, Lahliwe, maar Willemse kon dit ook nie verifieer nie.

Met die publikasie van Jôhannie giet die beeld het SJ Marais van APB aan The Star (15 Januarie 1954) gesê: "The work is something of a literary sensation. Critics to whom we sent the manuscript end proofs in all parts of the country hail it as a rare and remarkable event in Afrikaans literature.

"It is a powerful story of contemporary native life written in a rich and compelling Afrikaans which is well above the average Afrikaans even of European writers."

Arthur Fula het self aan dieselfde verslaggewer verduidelik: "My people must get back to the country. There is only tragedy for them here in the city.

"If the Afrikaans-speaking people are to learn to know and understand us – we black people – then our writers must write in Afrikaans. For years I have been waiting for the 'big ones' of my people – the men with titles who are better educated and better situated than myself – to do this. I have waited in vain.

"I saw that I myself must start the ball rolling. A year ago I began to write this book. Jôhannie is Johannesburg, the mould from which the natives who are drawn by its glitter emerge as men, or are broken. Too many are broken. My people must go back to the land."
 
Met erbarming, o Here wat in 1957 verskyn, handel oor die lewe in ’n swart nedersetting naby Johannesburg en ’n toon van naïewe idealisering word bespeur. Hierdie roman gebruik realisme om die lewe van die armes in die stad vas te vang en die haglike sosiale en geestelike toestande waaronder hulle leef en werk uit te beeld.

In Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1958 skryf Abel Coetzee oor dié roman: “[Daar is] letterkundig ’n hele aantal verdienstelikhede wat geroem moet word: die dood nugtere manier waarop die verhaal openbaar word deur die karakters self; die afwesigheid van ’n gedwonge poging om ’n verhaal te skep met allerlei kunsmatige spanningelemente, maar in pleks daarvan die nabeelding van ’n stuk lewe uit die bestaan van die stedelike Bantoe; die hoë idealisme wat die klaarblyklike dryfveer van die skrywer is. Mens herken in die werk van Fula ’n dubbelganger van die Afrikaanse roman van so ’n kwarteeu gelede wat betref die verborge geestelike bronne waaruit dit spruit. Vergelyk mens dit met die skrywer se eersteling […] dan is daar ’n duidelike vooruitgang te bespeur, nie net wat betref die geredeliker waardigheid met die woord nie, maar veral om die groter ongestremdheid, die natuurliker toon waarin alles uitgebeeld word. Plek-plek slaan die opsetlike propaganda te erg deur, maar om die groter gaafheid vergeet mens dit gou. As kuns is dit verdienstelike werk en as sodanig word dit verwelkom. Om maatskaplike oorwegings is dit ’n werk wat eintlik gerig is tot die blanke leser om die Bantoe se verstedelikte bestaan aan ons te toon. Vergelyk ons die suiwer literêre en die maatskaplike waardes, dan sou ek sê op hierdie stadium oorweeg die tweede waarde. Juis in ons huidige tydsgewrig verdien Fula se tweede roman […] ’n ruim leserskring.”

JM de Vries skryf in Zuid-Afrika van April 1958 oor Met erbarming: “Het verhaal heeft dus veel wat het de moeite waard maakt en toch heeft deze tweede roman van Fula ons enigzins teleurgesteld. Er zijn verschillende Afrikaanse schrijvers, zoals Franz en Schoeman, die in hun boeken veel gebruik maken van de wijze van spreken, die de Bantoes eigen is: wijdlopig en kleurrijk. Fula probeer dit ook te doen, maar het heeft niet de overtuigende kracht van Franz en Schoeman: vooral in de beschrijvende gedeelten is deze wijdlopigheid enigszins onnatuurlijk en soms zelfs hinderlijk langdradig. […] Ons belangrijkste punt van kritiek is echter dat de hoofdpersoon, Naledi, in het boek niet helemaal tot leven komt, in tegenstelling tot de oudere Bantoes, die door Fula zeer gaaf beschreven worden. Naledi blijft enigermate irreëel: ze is alleen maar helemaal goed. […] Samenvattend zou wij willen zeggen, dat Met erbarming, o Here niet volledig aan de verwachtingen, door Fula’s eerste boek gewekt, voldoet, maar dat we in ieder geval een interessant document hebben, waarin een schat van oude volksgebruiken en andere Bantoekenmerken is vastgelegd.”

 

Publikasies:

Publikasie

Jôhannie giet die beeld

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Duits, Im Goldenen Labyrinth
Engels, The golden magnet, vertaal deur Carrol Lasker

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Met erbarming, o Here

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Bronne:

  • Willemse, Hein. 1992. "’n Mens sou nie ’n Bantoe as skrywer vermoed nie" of Arthur Fula se welwillende Afrikaans: ’n eerste verkenning van Jôhannie giet die beeld. Stilet, September.
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top