Anti(e) al die -ismes: Lisba Vosloo oor Olive Schreiner op kykNET

  • 2
Foto: Lisba Vosloo

 

Op Dinsdag 8 Mei om 19h30 het kykNET ’n dokumentêre program oor Olive Schreiner uitgesaai as deel van hul Formidabele Vroue-reeks. Naomi Meyer het Lisba Vosloo van Salvo Films oor die program gevra.

 

 

Hallo Lisba, dankie vir die geleentheid tot gesprek oor die program oor Olive Schreiner op kykNET. Interessant dat daar ’n Afrikaanse dokumentêr oor hierdie vrou se lewe gemaak is. Dis alombekend dat Olive Schreiner vir die regte van minderheidsgroepe soos Afrikaners geveg het, maar hoekom ’n dokumentêr – en hoekom nou?

 

 

Met Olive Schreiner moet ’n mens altyd versigtig wees om haar nie te wil eien vir groepsbelange nie. Haar morele kompas was ingestel om teen enige vorm van onreg of onderdrukking te baklei (vir die Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog, vir swart regte tydens Uniewording, of vir vrouestemreg.) Sy was behoorlik anti al die -ismes. Haar ondersteuning van die Afrikaners se saak was terselfdertyd ’n vurige betoog teen Britse imperialisme, teen kapitalisme en sterk teen die ganse oorlogspoging.

 

Hoekom nou?

 

Formidabele Vroue is ’n reeks wat kykNET tans aanbied oor merkwaardige vroue wat ’n invloed op die verloop van die geskiedenis en op die Afrikaanse kultuur gehad het. Olive Schreiner was een van die beroemdste vroue wat Suid-Afrika nog opgelewer het – kampvegter vir menseregte, feminis, pasifis en skerpsinnige kommentator. Gelukkig kry Olive Schreiner se storie nou ’n platform om spesifiek deur Afrikaanssprekendes gesien en gehoor te word, waar veral haar bydrae met betrekking tot die Anglo-Boereoorlog weer na waarde geag kan word.

 

Om Olive Schreiner in ’n blik te probeer druk ...

 

Die aanpak van ’n dokumentêre program oor dié befaamde skrywer is ietwat van ’n mal perd om op te saal – veral sonder ’n internasionale begroting. Die aanloop tot hierdie projek was soos ’n legkaart, stukkie vir stukkie oor ’n aantal jare versamel. Hier ’n paar skaars foto’s in ’n argief, daar ’n boek wat uit druk is, verskeie verkenningstogte na die Oos-Kaap op Schreiner se spoor af. Ek verstaan nou baie goed hoekom daar tot dusver nog nie ’n omvattende dokumentêr oor Olive Schreiner se lewe en werk gemaak is nie – dit speel af teen ‘n besonder wye agtergrond met talle rolspelers.

 

’n Lang storie …

Sy het oor twee eeue (1855-1920) tussen twee kontinente (Suid-Afrika en Engeland) en tussen twee oorloë (die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog) geleef. Haar lewensverhaal strek kruis en dwars oor die land, gevolglik moet ’n mens jou fondse ewe ver strek om haar voetspore oor die groot afstande te kan volg. Haar biografie kan nie liniêr vertel word nie – persoonlike besonderhede, soos haar gesondheidsprobleme, en veranderende omstandighede wat haar familie en skryfwerk betref, maak dit soms te gekompliseerd om te verduidelik hoekom sy is waar sy is. Olive het feitlik al die rolspelers van die tyd geken, en hulle moet bekendgestel word. Die agtergrond tot die oorlog vreet verder waardevolle programtyd op. Dan is daar die huidige Schreiner-roete, Schreiner-huise met interessante inwoners en die onlangse Gees van Schreiner-skrywersfees wat ’n kontemporêre toepassing en relevansie aan haar lewe gee vandag – om nie van haar ongewone graf te praat nie – maar dit kan nie alles in een program nie!

’n Liefdestaak ...

Historiese programme bly ’n moeilike genre. Fondse vir dokumentêre is beperk en geniet nie altyd prioriteit nie en die opspoor van foto’s en argiefmateriaal is ’n tydsame en dikwels duur onderneming. Die belangstellende gehoor is dikwels kleiner, hoewel meer genuanseerd, en ouer.

Ek sou nie die program kon gemaak het sonder die hulp van NELM (die Nasionale Engelse Literêre Museum), Schreiner-entoesiaste soos Jeremy Fogg en die nimlike Basil Mills nie. Ons sou nie sonder sy hulp die kameraspan veilig tot bo-op die berg Buffelskop en terug kon gekry het nie. Die besonderse gasvryheid en hulp van mense soos Sandra Antrobus en haar dogter Lisa van die Tuishuise, en die souskluitjies en skaaptjops by die vriendelike boere van Cradock en al die interessante inwoners van die Schreiner-huise maak dié liefdestaak die moeite werd.

 

Foto: Lisba Vosloo

 

Ek wonder of ’n figuur soos Olive Schreiner nie dieselfde soort posisie onder Afrikaanse mense beklee as iemand soos Nadine Gordimer nie: mense weet van haar, maar hulle neem nie notisie nie (want sy was Engelssprekend, ongeag of sy kritiek teen Britse imperialisme uitgespreek het). Vooroordele strek diep. Hoekom sou ‘n Afrikaanse persoon met hierdie soort gedagtes dit geniet om ’n program soos dié te kyk?

 

Dit is tog interessant dat twee toonaangewende boeke oor Olive Schreiner uit die pen van Karel Schoeman, een van ons grootste Afrikaanse skrywers, kom: Olive Schreiner – ’n lewe in Suid-Afrika is die mees omvattende biografie oor haar vroeë lewe en werk tot op hede, en dit is opgevolg deur Olive Schreiner, Only an anguish to live here, oor haar lewe tydens die Anglo-Boereoorlog.

 

Olive Schreiner se lewe het wel talle raakpunte met ’n Afrikaanse gehoor. Een van die belangrikste is haar verknogtheid aan die Suid-Afrikaanse landskap, veral die Karoo. Story of an African Farm is geskryf toe sy ’n jong goewernante by boeregesinne in die Karoo was. Later, as wêreldbekende skrywer, word haar lewe onlosmaaklik verbind met die lyding rondom die Anglo-Boereoorlog. Olive Schreiner en haar man se pogings om die oorlog af te weer, en haar persoonlike uitsprake tydens die oorlog, haar huisarres in Hanover en die Nienaber-insident, asook haar uitsprake ná die oorlog oor onder meer die taalkwessie, moet nog die nodige blootstelling kry en erkenning geniet.

 

‘n Interessante brokkie inligting word deur Petronella van Heerden bevestig (in 1915), naamlik dat Olive Schreiner Afrikaans kon praat: “Ek en Olive sit op die bus en ons praat Afrikaans.”

 

Foto: Lisba Vosloo

 

Ten spyte van vooroordele en stereotipes sal die gemiddelde Suid-Afrikaner darem gewis The Story of an African Farm ken. Trouens, in die inset van kykNET meen Louise Viljoen dat die meeste mense waarskynlik slegs hierdie boek ken as daar na haar verwys word. Watter ander aspekte van Olive Schreiner se lewe of skryfwerk is vir jou interessant, of iets waarvan jy nie bewus was tot mens navorsing begin doen nie?

 

Olive Schreiner se politieke geskrifte het my veral uitgeboul. Dis jammer dat haar Thoughts on South Africa uit druk uit is – maar veral in haar boekie Closer Union sien ’n mens die skerp, geartikuleerde Schreiner as politieke kommentator met ’n insig en toekomsvisie vir ’n nierassige Suid-Afrika wat lees asof dit vandag geskryf is. (“That which South Africa has to fear is the corrupting, corroding, enervating power of wealth in the hands of unscrupulous men ...”) President Thabo Mbeki verwys in sewe van die elf bladsye van sy toespraak by Kliptown in 2005 na Olive Schreiner en haar toekomsvisie.

 

Ek was ook nie daarvan bewus hoe ’n militante pasifis Olive tydens die Eerste Wêreldoorlog was nie. Daar is nie tyd in die program om daarop in te gaan nie, maar sy het blykbaar selfs vir Emily Hobhouse en Mahatma Gandhi aangevat omdat hulle nie volslae teen die oorlog geagiteer het nie. Dit het haar baie ongewild en ongeliefd gemaak – ’n eensame tyd in London tot gevolg.

 

Olive Schreiner se briewe aan ’n wye versameling vriende en korrespondente is die naaste wat ’n mens aan haar “stem” of persoonlikheid kom. Hier sien mens haar eiesoortige sin vir humor, haar teleurstelling in die politiek, belangstelling in die alledaagse (soos byvoorbeeld ’n resep vir sosaties) en haar besorgdheid oor haar medemens – dikwels alles in een brief vervat.

Vir my kan Olive Schreiner se buitengewone karaktereienskappe as vrou en skrywer – haar morele oortuiging, onverskrokke uitsprake en onstuitbare beywering vir reg en geregtigheid gesien word as sentraal tot haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

 

Formidabele Vroue, Dinsdagaand 19:30 op kykNET

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top