Ek het jou hartseerbrief gelees. Nou vra ek myself hoe is dit dat een mens drie maal die verkeerde keuse maak? Jy sê jy glo aan God en al dié dinge. Ek aanvaar dit. My vraag aan jou is, beleef jy God as die Algenoegsame – ook as jy alleen en eensaam is? En indien jy doen, vra ek jou: Is jy dan rustig oor ’n nuwe lewensmaat? Met ander woorde, jy is rustig en veilig binne die Algenoegsame sodat jy nie desperaat is vir ’n nuwe man in jou lewe nie? En ek vra jou ook, as jy glo aan God en al dié dinge, beteken dit dat jy elke keer wanneer jy die egskeidingspad geloop het, jou hele wese en hart voor Hom uitstort en Hom vertrou om iemand in jou lewe te bring wat Hy weet volmaak by jou sal pas? Vas en bid jy totdat Hy duidelik aan jou gewys het hier is die een wat Ek vir jou geskep het? Of glo jy aan God en al die dinge, maar jy bepaal nog steeds jou eie lewe en as God nie vinnig genoeg na jou sin antwoord nie, dan maak jy maar self ’n plan en trou drie maal die verkeerde man? Dan kan jy mos nie huil nie.
Want om God te glo en al dié dinge, beteken om onder Sy wil en heerskappy te staan. En ek het geleer dat vir al die belangrike dinge in my lewe waarvoor ek vir God vir uitkoms en leiding vra, laat Hy my wag. En as ek nie wag nie, dan weet ek ek loop maar my eie pad. En het ek net myself te blameer as dinge soos altyd nie reg uitwerk nie.
Ek weet van ’n ander vrou wat ook nie wou wag nie – en dit nadat sy ’n duidelike belofte van God self (soos in persoonlik) gehad het dat Hy vir haar ’n seun sou gee. Haar naam was Sarai. Veertien jaar later, toe sy steeds kinderloos was, het sy haar slavin, Hanna, vir haar man gegee om ’n kind by te verwek. Die uiteinde was die geboorte van Ismael en vandag eeue later betaal die Bruid van Jesus (elkeen wat deel is van Sy Koninkryk) steeds die prys omdat die Moslems ons haat.
Ek vra weer: Jy sê jy glo aan God en al dié dinge en wil nie nog iets hiervan hoor nie, maar was jou drie verkeerde mans nie dalk al drie Ismaels in jou lewe nie? Was hulle die verkeerde mans of was jy Sarai?
My gebed vir jou is dat as ek weer van jou lees, jy nie sal sê jy glo aan God en al dié dinge nie, “maar nou ken ek God deur Sy seun Jesus Christus, en nou dien ek God deur Sy Heilige Gees en nou het ek uiteindelik die Isak in my lewe gevind waarvoor ek soveel jare gewag het.”
Baie sterkte.
Francónette

